Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ouers, raak betrokke

Omdat kinders weens die Covid-19-pandemie gedwing is om aanlyn te leer, het ouerbetrokkenheid weer onder die vergrootglas beland. En, skryf Jurie Joubert en Nico Venter, dis van deurslaggewende belang.

Ouers moet help toesien dat hul kinders huiswerk doen en aan die voorgeskrewe vereistes voldoen. Om jou kind se huiswerk vir hom te doen, help niemand nie. Foto: ISTOCK

Dit is ’n reuse-uitdaging vir die meeste skole om ouers by hul kinders se onderrig te betrek. Weinig skole kon nog daarin slaag om ’n doeltreffende strategie in dié verband te ontwikkel.

Dit is een van die aspekte van onderwys in Suid-Afrika waaraan te min aandag gegee word.

In hul handleiding Themes in South African Education skryf prof. Eleanor Lemmer en dr. Noleen van Wyk oor die voordele van “. . . die deelname van ouers aan skool- of tuis-aktiwiteite, waar die doelwit die ontwikkeling van ’n kind se sosiale, emosionele of kognitiewe vaardighede is”.

In wêreldwye navorsing is duidelik bepaal as jy ouerbetrokkenheid by die kind se leerproses verhoog, verhoog die kind se akademiese prestasie.

Die geskiedenis gee die erkenning aan Benjamin Franklin dat hy sou gesê het daar is twee sekerhede in die lewe, naamlik die dood en belasting.

Minder morbied, maar net so waar, is dat dit waarskynliker is dat die meeste Suid-Afrikaanse leerlinge suksesvol is, aangesien hul ouers betrokke is by hul onderrig én leer.

En die bedoeling is nie dat ouers hul kinders se skoolwerk vir hulle moet doen nie. Dis verkeerd en help die kind glad nie.

Meer as akademiese prestasie

Daar is werklik talle bewyse vir die positiewe invloed wat ouerbetrokkenheid op kinders kan hê – en dit strek verder as bloot akademiese prestasie. Dit sluit in:

  • Leerlinge wie se ouers by hul skool betrokke is, ervaar minder gedragsprobleme, behaal beter akademiese prestasies en is meer geneig om hul hoërskoolloopbaan te voltooi as leerlinge wie se ouers nie by hul skool betrokke is nie; en
  • Leerlinge met betrokke ouers – ongeag hul inkomste, agtergrond en kultuur – is meer geneig om beter uitslae te behaal, hulself in te skryf vir hoërvlak-programme, slaag hul eksamens, gaan gereeld skool toe, het beter sosiale vaardighede en voltooi hul naskoolse opleiding.

Die daaglikse huiswerk wat kinders kry, is waarskynlik een van die beste “oefenterreine” vir skole en ouers om te sien wat die uitwerking van ouerbetrokkenheid is. Skole het hier ’n verantwoordelikheid om ouers gereeld in te lig oor die kind se werk en hoe hulle kan help.

Hoe gemaak?

As die resultate dan so positief is, wat moet gedoen word om ouers betrokke te kry en te hou?

In die tegnologies gevorderde ruimte waarin kinders deesdae onderrig word, is daar heelwat kanale wat ouers toelaat om betrokke te raak en op die hoogte te bly van die vordering van hul kinders. Dis nou buiten die tradisionele metodes van foonoproepe, oueraande, korrespondensie en persoonlike kontak.

Ouers kan wel nie net die skool se opdragte uitvoer sonder dat hulle doeltreffend ondersteun word nie. Ouers moet betrokke wees, maar nie as onderwysers nie.

Indien skole die konteks vir goeie ouerbetrokkenheid verstaan, is dit ’n goeie vertrekpunt om ’n program te ontwikkel wat vir die skool en die ouers doeltreffend kan wees.

So ’n program sal berus op:

  • Die hoeveelheid tyd wat beskikbaar is om aan onderrig te bestee;
  • Die niekognitiewe vaardighede van die ouers;
  • Beskikbare hulpbronne – nie almal het byvoorbeeld toegang tot die beste aanlyn materiaal nie; en
  • Ouers se kennis – dit is moeilik om ’n kind te help om iets te leer wat jy as ouer nie self verstaan nie.

Onderwysers en ouers moet opgelei en ondersteun word om beskikbare materiaal doeltreffend te gebruik.

As ’n kind nie kan leer op die manier waarop onderrig gegee word nie, moet onderrig aangepas word by die manier waarop die kind wel kan leer.

Doeltreffende pedagogiek – die ontdekking van doeltreffende onderrig- en leerstrategieë – is nou belangriker as tevore.

Dis nie hoe baie jy gedoen kry nie, maar wát jy doen en vir hoe lank jy dit doen wat belangrik is. Onderrig in baie skole fokus vandag hoofsaaklik op onderwysers wat in klaskamers staan en inhoud uit handboeke voorhou, kinders laat memoriseer en inhoudstoetse laat aflê. Sulke skole raak toenemend uit pas met die wêreld om hulle.

Afstandsonderrig

Weens die Covid-19-pandemie het kinders se leerervaring drasties verander én die rol wat onderwysers speel. Ouers het nou meer as ooit tevore ’n kernrol te speel in die ondersteuning van hul kinders se leer en onderrig.

Kinders het weens die staat van inperking afstandsonderrig gekry en dié manier van onderrig het sedertdien vinnig deel geword van die onderwyslandskap.

Die uitdaging vir ouers is om te help om twee maniere van aanbieding – onderrig in die klaskamer en afstandsonderrig – naatloos te laat pas deur hul kinders te ondersteun in veral die voltooiing van huiswerk en opdragte.

Ouers het hier weer eens ondersteuning en leiding nodig van die onderwysers en skole met wie hulle in vennootskap staan.

Daar kan nie bloot ’n magdom van inligting op ’n webwerf geplaas word sonder ’n plan om ouers te help om kinders te help om deur die werk te kom nie.

Doeltreffende kommunikasie is hier van deurslaggewende belang, nie net ten opsigte van wat die kind moet bemeester nie, maar ook watter hulpbronne beskikbaar is vir die ouer en die kind in die leerproses.

Hoe sou so ’n plan van doeltreffende ouerbetrokkenheid lyk?

As ’n vertrekpunt kan skole hulself die volgende vrae vra:

  • Hoe kan hulle ouers suksesvol onderrig en ondersteun om hulle by hul kinders se skoolwerk te betrek?
  • Wat is die struikelblokke wat doeltreffende ouerbetrokkenheid in leer en onderrig by ’n skool verhinder? en
  • Hoe kan ’n program ontwerp word om ouers te betrek by hul kinders se skoolwerk?

Alle rolspelers moet gekonsulteer word in die samestelling van ’n program vir ouerbetrokkenheid.

’n Skool moet in dié opsig ook besef dat daar kennis in die ouergemeenskap is wat gebruik kan word.

Die inperking het ouers se betrokkenheid by hul kinders se skoolwerk baie vinnig en direk onder die vergrootglas geplaas. Ouerbetrokkenheid het oornag wêreldwyd een van die steunpilare van kinders se onderrig geword.

Die uitdaging is nou vir skole om hierdie betrokkenheid verder uit te bou.

Beginsels vir die samestelling en inwerkingstelling van ’n program vir ouerbetrokkenheid sluit in:

  • Die skep van geleenthede waar vennootskappe tussen ouers en die skool ontwikkel kan word;
  • Die skep van formele en informele geleenthede waar ouers en die skool kan kommunikeer; en
  • Die identifisering en gebruik van hulpbronne tuis en in die gemeenskap om leer en onderrig te bevorder.

Met hierdie padkaart kan ouers en die skool sáámwerk om die beste moontlike leeromgewing vir kinders te skep – in die klaskamer en by die huis.

Dr. Joubert is ’n onafhanklike opvoedkundige konsultant en dr. Venter­ is hoof van die Laerskool Outeniqua­ in George. Venter het sy tesis oor ouerbetrokkenheid gedoen.

Meer oor:  Leerders  |  Onderwysers  |  Leerkragte  |  Onderwys  |  Skole  |  Onderrig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.