Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ouerskap in ’n tyd van Covid-19

Baie werkende ouers se dae het in ’n tyd van Covid-19 skielik agt tot twaalf uur langer geword. Willemien Brümmer vra hoe jy vir ’n vierjarige moet verduidelik die lewe is skielik net ’n asem lank.

Die meeste werkende ma’s se dae het skielik agt tot twaalf uur langer geword. Grafika: Grafika24

Ek’s op deadline, met ’n klouerige vierjarige op my skoot.

Dis sowat ’n week voordat die land in ’n staat van totale inperking geplaas is. Teen hierdie tyd werk byna almal in ons maatskappy reeds van die huis af.

Paniekvlakke styg eksponensieel en die strate in ons buurt is so stil soos op ’n Nuwejaarsoggend.

Dis net snags dat die studente (dié wat nog nie huis toe is nie) goedkoop wyn drink teen die pyn, want hulle is jonk en hulle hormone is in hoogbloei. Dis ekstra joltyd in ’n land wat binne die bestek van twee weke onherkenbaar verander het na iets so na aan die apokalips as wat dalk in hierdie leeftyd gaan gebeur.

Ek moet dringend ’n storie oor Covid-19 wegstuur, maar my seuntjie klou asof die vagevuur reeds hier is.

Ek kry ’n haardroër om die toetsbord droog te blaas terwyl my seuntjie die hoeveelste vloermoer gooi van die oggend.

Net soos ek die “send” knoppie wil druk, stamp hy my botteltjie kombucha (die handelsmerk is “Happy Culture”) op my skootrekenaar om en al het ons ’n reël dat ons nie voor hom vloek nie, weergalm ’n kragwoord deur die lug.

Ek kry ’n haardroër om die toetsbord droog te blaas terwyl my seuntjie die hoeveelste vloermoer gooi van die oggend. Ek ignoreer dit (hy’s nie dood nie; sy stembande is nog kerngesond) en ek bid dat die swart toetsbord met die wit letters wat my lewenslyn-in-kwarantyn geword het tog net moet werk.

Vir werkende ma’s is dit nou die nuwe normaal noudat die meeste oppassers huis toe is en oumas en oupas hopelik teen hierdie tyd net op die skerm van ’n slimfoon verskyn. Dit is die probleem met hierdie virus: Hoe ouer en hoe sieker jy is, hoe gevaarliker is dit vir jou. By kinders is dit in baie gevalle ’n stil sluiper. Die meeste van hulle is asimptomaties of hulle het net geringe of matige simptome, maar dit beteken nie hulle kan nie ouer mense siek maak nie.

En hulle kan (vanselfsprekend) ook werkende ouers gek maak. Terwyl skole en dagsorgsentrums gesluit is, het werkende ma’s (en sommige pa’s) se dae skielik agt tot twaalf uur langer geword. In my veld het peuters en die nuus veral twee dinge in gemeen: Hulle glo in onmiddellike bevrediging en hulle is soos honger diertjies wat die heeltyd gevoer wil word.

Intussen het selfs my toetsbord die kluts kwyt geraak (ná die bottel kombucha natuurlik). Hy begin self dinge skryf, of hy probeer om ’n hele storie uit te vee. Dit terwyl my seuntjie die skuimrubber van die kos wat by ons afgelewer is ingepalm het en daarmee sy Kindermusik oefen. En ons senuweewrak-hondjie se veg-of-vlug-reaksie inskop en sy in ’n skril stemmetjie blaf asof die oordeelsdag reeds hier is.

Willemien Brümmer en haar senuweewrak-hondjie, Sussie Cordier. Foto: Liza van Deventer

Op sosiale media et al deel ander werkende ma’s wat nou al langer die gevolge van die pandemie moes dra hul raad. Enige iets van gratis luisterboeke tot goggas in die tuin jag tot om ’n tuisskool-program te volg deur die dag in stroke te verdeel. Nog iemand stel voor: “Wat van nog ’n klein hondjie?”

’n Ouer stuur vir my ’n foto aan van ’n slapende pa met drie kinders voor sy bed met die woorde: “Dad challenges kids to draw him so he can have a nap.”

Ander ouerpare wat albei van die huis af werk verdeel die dag in verteerbare twee-uur skofte. Terwyl die een vir twee ure lank werk, bak die ander twee (of vyf!) koekies (daar gaan nog der miljoene kolwyntjies gebak word hierdie winter) en probeer tussenin ook die skottelgoed was, die aartappels skil en die honde voer.

Tot Maandagaand was stap nog ’n opsie, maar die vooruitsig om van Vrydag af deur die Weermag voorgekeer te word terwyl ons stap na die spookhuis om die hoek, is skielik nie meer ’n opsie nie.

Ouerskap het skielik nuwe betekenis gekry in ’n tyd van Covid-19.Foto: Foto24

Party diere is meer gelyk as ander

Die probleem is dat baie ouers (soos ek) dit moeilik vind om hul paniek te verbloem, selfs al het jy skielik die gawe dat jy baie meer tyd met jou kind kan deurbring. My kind ken gelukkig genoeg van die mediese feite (“Mamma, dis nie so gevaarlik vir my as vir ouma Marianne nie”), hy weet as hy hande was vir 20 sekondes kry hy ’n koekie en hy weet dat hy hopelik eendag weer ’n verjaardagpartytjie sal kan hou.

Ons gemaskerde ma's kan nog met verbete uitdrukkings gaan paniek-speelgoedaankope doen by die naaste mall.

Maar selfs nou, voordat ons deur die baie werklike risiko van sterfte in die gesig gestaar hoef te word, is daar naastes en geliefdes wat dalk hul besighede moet sluit. 

Maar tot ’n mate is dit steeds “white people’s problems”, soos ’n vriend gesê het. Ons sal nog kan eet, ons huis het genoeg kamers dat elkeen van ons afsonderlik kan isoleer en ons het mediese fonds. Ons gemaskerde ma's kan nog met verbete uitdrukkings gaan paniek-speelgoedaankope doen by die naaste mall. 

Ons woon nie in ’n informele nedersetting of ’n township waar drie generasies soms in een vertrek woon nie. Ons het nie chroniese siektes nie en ons kan aanlyn inkopies doen met die klik van ’n muis.

En ja, natuurlik kan ons by ’n punt kom waar dokters, soos in sommige ander lande, moet besluit wie om te behandel vir Covid-19, want daar is nie meer hospitaalbeddens of ventilators of gesonde gesondheidswerkers nie.

Dié met geld sal nog steeds voorrang kry, want sommige diere (soos George Orwell gesê het) is meer gelyk as ander.

Ears-CoV-2(die naam van die virus wat Covid-19 veroorsaak) lyk dalk na ’n Kersversiersel, maar dit het die lewe soos wat ons dit ken onherroeplik verander.Foto: iStock

Die lewe is net ’n asem lank

Maar dit is nie die tyd vir ’n politieke preek nie. Dis ’n tyd vir ubuntu, ’n tyd vir dink aan gemeenskap in plaas van aan jouself en om ouerskap heeltemal nuut te verbeel.

Toe hy vanoggend wakker word, vertel ek hom dat pres. Cyril Ramaphosa die land nou gaan 'toesluit'.

Ek en my seuntjie het Sondag ’n groot pot vol boontjiebredie gemaak “om die mense wat siek word te help”. Wanneer ons snags stories vertel, stuur ons witbloed-soldaatjies uit om teen die virus te baklei en in plaas van ’n “bloedkankerdokter” wil hy nou ’n viroloog word.

En ja, dalk kyk hy ure en ure meer TV as gewoonlik, maar hy gaan reeds voordat hy eendag skool toe gaan leer die lewe is breekbaar en ontsettend kosbaar.

Toe hy vanoggend wakker word, vertel ek hom dat pres. Cyril Ramaphosa die land nou gaan "toesluit".

Hy vee die slaap uit sy oë, ’n bietjie knieserig soos altyd wanneer hy wakker word. Hy dink ’n oomblik na en vra: “Beteken dit hy wil mense red?”

“Hy wil ja,” sê ek.

“Beteken dit julle gaan nou meer met my speel?”

“Ons gaan probeer ja,” sê ek.

Maar ek weet steeds nie hoe om vir hom te verduidelik dat ons hom nou sal moet begelei deur ’n landskap waar die lewe net ’n asem lank is nie. En waar God oortyd gaan moet werk om Afrika te seën.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.