Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Overstrand smeul al lank

Hermanus se sakekern het onlangs tot stilstand geknars weens protesoptogte oor die gebrek aan behuising in Zwelihle, ’n swart woonbuurt naby die dorp. Bykans drie dekades gelede het presies dieselfde gebeur. Het niks dan verander nie? wonder MC Botha.

Inwoners van Zwelihle op 20 Februarie 1990 op pad na die landdroshof om ’n griefskrif oor die gebrek aan behuising te oorhandig. Foto’s: MC Botha

Zwelihle beteken “mooi plek” in Xhosa, en toe Nelson Mandela in September 1955 tydens ’n besoek aan die Kaap dié woongebied besoek het om plaaslike ANC-lede moed in te praat oor die stryd wat voorlê, wás dit sekerlik ’n mooi plek, heeltemal afgesny van die res van die vissersdorpie Hermanus.

Een van die grootste kusmelkhoutwoude in die land het as natuurlike beskutting gedien tussen die sproei van reusebranders aan dié deel van die kus, genaamd Schulphoek, en die paar honderd inwoners in die eintlike woongebied.

Vyf jaar later het die ANC-tak in Zwelihle aan die landwye Defiance Campaign deelgeneem in die eerste protesoptog tot nog toe na die “wit” dorp Hermanus om by die landdros beswaar te gaan aanteken oor die gehate dompasstelsel. Sy reaksie was om 27 van die opstandelinge ingevolge die Wet op Oproerige Byeenkomste skuldig te bevind en elkeen met £15 te beboet, nadat hy eers uit die Bybel aangehaal het om hul verset te verdoem.

Daarna sou Zwelihle, byna in na-aping van Hermanus, in ’n baie lang winterslaap verval – tot Dinsdag 20 Februarie 1990, om presies te wees. Asof die gode almal wou wakker skrik, bars daar dié oggend ’n wolkbreuk uit, net so ’n rare verskynsel as dit wat weldra sou volg: die tweede protesoptog in die dorp se geskiedenis.

Dié keer gaan dit oor klagtes rondom behuising, onder die vaandel van die nuut gestigte Hermanus Youth Congress wat ’n wegbly-aksie georganiseer het sodat feitlik die hele township aan die march kon deelneem.

So was daar ironies geen swart arbeiders beskikbaar om te help opruim aan die oorstroomde winkels in die middedorp, verstopte stormwaterdreine en oorspoelde strate nie.

1990: Inwoners van Zwelihle op 20 Februarie 1990 op pad na die landdroshof om ’n griefskrif oor die gebrek aan behuising te oorhandig.

Nee, nou marsjeer die swart werkerskorps jubelend, dreunsingend en vuis-swaaiend Hoofweg af, skaars bewus van die fyn reëntjie wat ná die donderstorm begin uitsak het.

“ANC Lives! ANC Leads!” lui van die plakkate. Wit inwoners het die slegte weer as verskoning gebruik om in hul huise te gaan wegkruip – die enigste samedromming van mense wat hulle immers kan hanteer, en ook maar net-net, is die massas besoekers op Grotto se swemstrand gedurende die Kersvakansie.

Toe was die optog vreedsaam, en het niemand nog aan geweld of die vernietiging van eiendom gedink nie, soos deesdae allerweë in Hermanus en omstreke die geval is.

In die aanloop tot demokrasie het sake egter ’n drastiese wending geneem. Instromingsbeheer is afgeskaf en die woord het vinnig versprei dat Hermanus ’n rykmansdorp is (dit is steeds), met die gevolg dat werksoekers veral uit die Oos-Kaap na die reeds piepklein Zwelihle gestroom het.

Die vliegveld wat Hermanus toe gehad het en pas verbeter en vergroot is ter wille van toerisme, het helaas die noordelike grens van die township gevorm.

Huishonger inwoners en “inkommers”, soos hulle genoem is, het die Hermanus-vliegklub plus ’n klompie loodse en vliegtuie aan die brand gesteek en op die vliegveld begin plak, waarop die plaaslike owerheid genoop was om die vliegveld prys te gee vir ’n laekoste-behuisingsprojek.

Terloops, presies in dié tyd het perlemoenstropery begin, en wat baie mense vandag gerieflikheidshalwe verswyg, is dat die voorbokke in dié onwettige bedryf wit inwoners van Hermanus ingesluit het wat tallose beskutte baaitjies al langs die kus van Quoin Point tot Rooiels leeg geplunder het. En net soos behuisingsprobleme het perlemoenstropery vandag feitlik onbeheerbaar uitgekring.

Inwoners van Zwelihle Maandagoggend in Hoofweg, Hermanus.

Wat die huidige behuisingskwessie betref, het die gooi van klippe, die brand van bande en beskadiging van eiendom al meer as twee maande gelede begin toe township-inwoners besluit het genoeg is genoeg.

Die polisie het oproeriges met traanrook en rubberkoeëls verdryf, ’n algemene verskynsel in die land al sedert die turbulente middel 1980’s, maar nóú vir die eerste keer in die reeds mondige nuwe Suid-Afrika eerstehands deur wit inwoners ervaar.

En hulle het omtrent in hulle G&T’s verstik, want terwyl baie dorpe in die res van die land in die gees van demokrasie nuwe swart name gekry het, het “hulle” Hermanus gedy as “Whale Watching Capital of the World”; tog wel was die walvisse ten tyde van die onrus veilig in Antarktika vir hul seisoenale verblyf.

Die skade wat in die onluste aangerig is, het in reële terme baie meer miljoene gekos as dié van die vernietiging van die vliegveld dekades vroeër, maar die gevolg was net dieselfde: Noodsamesprekings is gehou om die situasie te probeer ontlont.

Die enigste verskil tussen toe en nou lê in name: “Hermanus se stadsklerk” is nou “munisipale bestuurder van Overstrand-munisipaliteit”, Zwelihle se “Action Committee” is nou “Zwelihle Renewal”, en dan het daar nog ’n “Housing Task Team” bygekom, asook ’n “departement van menslike nedersettings”; laastens selfs die Menseregtekommissie.

Dié is nou nodig, want skaars het Zwelihle in die nuwe vlaag van geweld tot bedaring gekom ná beloftes dat inwoners wel mettertyd Schulphoek sal kry – amper soos ’n groepsgebied van ouds – of inwoners van die bruin woonbuurt Mount Pleasant langs Zwelihle sê húlle het net soveel aanspraak op Schulphoek.

2018: Inwoners van Mount Pleasant versper verlede Vrydag die besige R43-hoofroete met rotse en brandende bande.

Skynbaar het die beloftemakers ’n historiese feit uit die oog verloor, naamlik dat geslagte lank al – voordat Verwoerd nog aan die bewind gekom het – het Mount Pleasanters (soos hulle hulself graag noem) vakansies onder die bome op Schulphoek gaan uitkamp.

Daar was ’n veilige getypoel waarin ma’s met hul kinders kon baljaar, terwyl die manne vis en perlemoen vang om vanaand te braai.

Grotto se swemstrand was immers net vir wit mense.

Totdat – sedert omtrent tien jaar gelede – Schulphoek ’n de facto verbode gebied selfs vir Mount Pleasanters geword het weens misdadige elemente, van wie perlemoenstropers nie die minste is nie.

Wit mense waag dit lank reeds nie daar nie, en ’n kennisgewingbord by die enigste toegangspad na Schulphoek (direk langs Hermanus se rioolsuiweringsaanleg) waarsku besoekers inderdaad dat hulle die gebied op eie risiko betree, met ’n onheilspellende lysie noodnommers daarnaas.

Mount Pleasant het sy eie behuisingstekort, en gekoppel aan die moontlik permanente verlies van Schulphoek, het inwoners Vrydag 18 Mei – ’n dag nadat Zwelihle weer stil was – hul ontevredenheid te kenne gegee deur die besige R43-toegangsroete na Hermanus wat hul dorp middeldeur in Bo-Mount Pleasant en Onder-Mount Pleasant verdeel, met brandende bande en rotse te versper.

Inwoners van Hawston – ’n paar kilometer verder wes en ook ’n “bruin” dorp – het uit simpatie met hul bloedbroers en –susters dieselfde gedoen, sodat die R43-hoofweg ook dáár gesluit moes word.

Maar presies ’n week later, op 25 Mei, het Hawstonners die voortou geneem en van ligdag al die R43 deur Hawston op verskeie plekke met brandende bande versper, sodat polisielede tot die tande toe gewapen nog eens opgekommandeer moes word.

’n Wegbreekgroep swaai knopkieries en gholfstokke omhoog en toi-toi, maar anders as soortgelyke optogte die laaste weke word geen skade aan eiendom aangerig nie, soos 30 jaar gelede.

In ’n klagskrif eis inwoners nou dat die Valke ingeroep moet word om beweerde munisipale korrupsie in die toekenning van erwe in ’n behuisingsprojek tans in aanbou op Hawston, te ondersoek. Die vergadering wat dié dag in Hawston beplan is – in opvolging van die spoedvergadering wat die vorige Saterdag plaasgevind het om ook Mount Pleasanters te betrek ter wille van hul aanspraak op Schulphoek – kon klaarblyklik nie meer plaasvind nie.

Volgens die patroon is daar egter altyd tyd vir ’n volgende vergadering, al is dit met ’n paar nuwe rolspelers ingegooi . . . en hierdie woorde is skaars koud of motoriste word Maandagoggend by Stanford – 20 km verder oos – onder die klippe gesteek.

Die pad na Gansbaai moet gesluit word, en dáár dreig ’n groep om die polisiekantoor af te brand en grond te beset. Nou haas die Rooi Miere hulle soontoe.

Intussen is die soveelste wegblyaksie vir die derde week in ’n ry Maandag op Hermanus beplan. Swartdamweg onder in Zwelihle is die oggend vroeg met klippe en rotse versper, waarna duisende township-inwoners na die landdroshof op Hermanus opgeruk het om solidariteit te betoon met ’n gemeenskapsleier, Gcobani Ndzongana.

Hy word aangekla van openbare geweldpleging na aanleiding van die eerste onluste in Maart, maar die saak word tot 31 Augustus uitgestel.

Daarna keer die skare onder begeleiding van ’n Njala-pantservoertuig en ander polisievoertuie vreedsaam via Hoofweg en Swartdamweg terug na Zwelihle.

’n Wegbreekgroep swaai knopkieries en gholfstokke omhoog en toi-toi, maar anders as soortgelyke optogte die laaste weke word geen skade aan eiendom aangerig nie, soos 30 jaar gelede.

Só begin ’n nuwe week dan op Hermanus – een van hoop, onsekerheid of woede, afhangende van watter soort kanker, met ander woorde ras, aan jou vreet.

* Volgens die Overstrand-munisipaliteit se jongste Geïntegreerde Ontwikkelingsplan vir die volgende vyf jaar – dié dokument is gedateer 28 Maart 2018 – het die aantal wit mense, uitgedruk as ’n persentasie van die totale bevolking tussen 2001 en 2016, van 36% tot 28% afgeneem en bruin mense van 37% tot 29%, terwyl die aantal swart mense in dié tyd van 27% tot 43% toegeneem het.

  • Botha is ’n skrywer en fotograaf.
Meer oor:  Hermanus  |  Optogte  |  Behuising  |  Protes  |  Aktueel  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.