Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Pagad se spoor van terreur

Diegene wat opgewonde is  oor die feit dat ‘Pagad weer opstaan’ weet nie waarvan hulle praat nie, skryf

Eunice van Wyk.

Die gemeenskapsaktivis Kader Jacobs. Foto: Edrea du Toit

Hanlie Retief se onderhoud met die gemeenskapsaktivis Kader Jacobs – en sy versugting dat Pagad moet herleef – kan nie onbeantwoord gelaat word nie.

Jacobs se bekentenis dat hy “daar was” toe die bendeleier Rashaad Staggie in Woodstock aan die brand gesteek is, laat die vraag waarom hy nie na vore gekom het tydens die ondersoek na die moord nie. Hy was op die allerminste ’n ooggetuie, miskien selfs aandadig.

My kritiek gaan egter verder as dit. Enige versugting dat “Pagad weer opstaan”, in watter gedaante ook al, is nie net misplaas nie, dis uiters gevaarlik.

                                                                                ***

In Mei 1999 is ek deur die destydse nasionale direkteur van openbare vervolging, Bulelani Ngcuka, vir ’n maand uit Pretoria na Kaapstad gestuur om te help met die vervolging van mense betrokke by ’n reeks terreurdade – verbyrymoorde, pyp- en later selfs motorbomme.

Die maand het uiteindelik 20 jaar geword, waartydens ek te doen gekry het met letterlik tientalle dossiere en met honderde getuies gekonsulteer het. Uit my betrokkenheid by die ondersoeke, die vervolgings van Pagad-lede en die verhale van slagoffers weet ek waarvan ek praat as ek sê dat enige heimwee na die terugkeer van Pagad nie net ondeurdag is nie. Dis uiters ontstellend.

Soos Jacobs wel in sy onderhoud met Retief toegee, was Pagad aanvanklik ’n gemeenskapsorganisasie wat gekant was teen dwelms en bendes. ’n Misdadige element het egter baie gou oorgeneem. Die stigterslede, Farouk Jaffer en Ali Parker, is uiteindelik albei in ’n verbyry-skietery geskiet. Omdat die families nie bereid was om hul eie lewens verder op die spel te plaas nie, is niemand ooit skuldig bevind aan die moorde nie en het dit slegs uitgeloop op ’n geregtelike doodsondersoek.

Selfs geestelike leiers in die gemeenskappe is geteiken. Sjeg Achmat Sedick is by die Gatesville-moskee in Athlone aangeval en sjeg Abduraghman Gafeldien is in die gesig geskiet – net omdat hulle teen Pagad se geweld gekant was.

Drie weke later is Enous en sy vrou in hul ‘veilige huis’ doodgeskiet.

En elke keer die verskoning: Hierdie misdadigers is nie lede van Pagad nie, Pagad het nie eens ingeskrewe “lede” nie. Merkwaardig egter was dat die hofsaal tydens elke hofsaak van die moordverdagtes volgepak was met Pagad-ondersteuners. Tydens die borgaansoek van die leier van Pagad, Abdus Salaam Ebrahim, wat onder meer tereggestaan het vir die moord op Staggie, het sy ondersteuners gedreunsing: “One prosecutor, one bullet, one policeman, one bullet.” Dit is dieselfde Ebrahim wat nou, vertel Jacobs opgewonde aan Retief, uit die tronk uit is “en weer mobiliseer”.

                                                                                     ***

Ek is nie eens oortuig dat Pagad se teiken bendes en dwelmsmouse was nie. Die blote feit dat jy finansieel onafhanklik was, was dikwels genoeg om jou as dwelmhandelaar te verdoem. In Februarie 1997 verklaar Ebrahim in sy Eid oel-Fitr-boodskap wie almal “gangsters” is: Mense met politieke mag, moordenaars, aanranders, ondermyners van menseregte, die wat ander mense in die tronk laat beland, prostitute, eienaars van sjebiens en dobbelhuise, die wat aborsies uitvoer en hulle wat homoseksualiteit wettig. Met ander woorde: Byna almal van ons.

                                                                                     ***

Vandag vergeet diegene, soos Jacobs, wat na Pagad hunker gerieflikerwys dat 33 mense tussen Desember 1999 en November 2000 in sewe Pagad-bomaanvalle beseer en vermink is. Sommige het selfs ledemate verloor.

Op 3 November 2000 het die polisie ’n bom in die Kegg & Swann in Bellville gevind en onskadelik gestel. ’n Ondersoek het hulle gelei na die huis van Yusuf Enous. Enous en sy vrou (met hul drie weke oue babadogtertjie op die heup) het kort daarna in die landdroshof in Wynberg verskyn en hulle is in ’n getuiebeskermingsprogram geplaas in die hoop dat hulle teen hul Pagad-meesters sou getuig. Drie weke later is Enous en sy vrou in hul “veilige huis” doodgeskiet. Hul dogtertjie het die aanval oorleef – nadat sy vir ’n dag in haar ma se bloed gelê het.

Phadiel Orrie, die broer van die huidige “voorsitter” van Pagad, Haroon Orrie, dien steeds lewenslange gevangenisstraf vir die moorde uit.

Die Enous-egpaar was ook nie die enigste staatsgetuienis wat met hul lewe geboet het omdat hulle durf opstaan het teen Pagad nie. 17 ander moes op soortgelyke wyse met hul lewens boet.

’n Ander saak wat my bybly uit dié tyd, is dié van die moord op ene mev. Toffa.

Uit die getuienis wat in die streekhof in die Paarl gelei is – ’n saak waar feitlik die hele topstruktuur van Pagad op verskeie klagte tereggestaan het – het dit geblyk dat mev. Toffa, ’n enkelouer, alleen met haar kinders gewoon het. Haar jongste seun was nie ouer as tien nie.

Nietemin het lede van Pagad tot die oortuiging gekom dat sy ’n dwelmhandelaar was en besluit om haar “ ’n les te leer”. Hulle het ’n pypbom na haar huis gegooi waarna sy haar sig en haar seuntjie sy been verloor het.

Die seun moet vandag sowat 30 jaar oud wees. Dink jy die familie hunker na die wedergeboorte van Pagad?

                                                                               ***

In dieselfde tyd het twee Pagad-lede, Faizel Waggie en Ismail Edwards, ’n pypbom na die Lansdowne-polisiekantoor gegooi waar drie beamptes aan diens was. Twee van die polisiemanne het hulle te voet agterna gesit en in hegtenis geneem.

Waggie en Edwards is uiteindelik aangekla op drie aanklagte van poging tot moord. Gedurende die verhoor is die streeklanddros wat die saak verhoor het, mnr. Theron, in die oprit van sy huis doodgeskiet.

Die saak moes van voor af begin en ek het Waggie en Edwards hierdie keer van sabotasie (onder die ou Wet op Binnelandse Veiligheid) aangekla. Albei is skuldig bevind en vir onderskeidelik 45 en 35 jaar tronk toe gestuur.

Die vonnis is op appèl bekragtig.

Ongelukkig is dié tydperk ook gekenmerk deur die destydse polisiekommissaris Jackie Selebi (wat later self in die tronk geëindig het) se oorlog teen die Skerpioene. Die gevolg was dat die SAPD geweier het dat die Theron-moorddossier aan die Skerpioene oorgedra word, en sover my kennis strek is niemand ooit vir sy moord aangekeer of skuldig bevind nie.

Dink jy die Theron-familie is opgewonde oor die feit dat “Pagad weer opstaan”?

                                                                               ***

Gedurende die laat 1990’s het Pagad onbeskryflike pyn, hartseer en trauma vir duisende lede van die gemeenskap, staatsaanklaers en polisiespeurders veroorsaak. Doodsdreigemente was alledaags.

Een van die laaste bygewerkte hoflyste tot my beskikking wys dat ons uiteindelik 77 Pagad-lede aangekla het wat gevangenisstraf van net meer as 795 jaar opgelê is – plus 21 lewenslange vonnisse.

So nee, mnr. Jacobs. Geen regdenkende mens sal ooit weer vra vir die terugkeer van Pagad nie.

  • Adv. Eunice van Wyk (gebore Grey) was voor haar aftrede hoof van die vervolgingsgesag se eenheid vir stedelike terreur.
Meer oor:  Kaapse Vlakte  |  Dwelms  |  Bendes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.