Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Pandemie + kunste = ?
Fees in ’n tyd van pandemie . . . kunstenaars doen ’n opvoering in ’n gebou in Stellenbosch, terwyl die gehoorlede agter ’n glasvenster op die sypaadjie staan en kyk. Foto: toyota us woordfees

Die Toyota US Woordfees was verlede jaar die enigste van die groot ses Afrikaanse kunstefeeste wat soos beplan, kon plaasvind. Weens die pandemie moes dié fees ook nuwe planne bedink, skryf Saartjie Botha.

Toe pres. Cyril Ramaphosa verlede jaar op 15 Maart die eerste inperkingsmaatreëls aankondig wat die tradisionele aanbieding van ’n kunstefees onmoontlik maak, het die jaarlikse afsluitingsvertoning van die 21ste Woordfees pas begin. Kunstenaars wat steeds op die dorp was, het in die foyer van die Adam Small-teater by die Universiteit Stellenbosch (US) bymekaar gekom, onseker en bekommerd oor wat voorlê.

Die Klein Karoo Nasionale Kuns­tefees (KKNK) 2020 is reeds voor Ramaphosa se aankondiging gekanselleer. Daarna sou Innibos volg, asook die Vrystaatse Kunstefees en Aardklop. Die Suidoosterfees is aanvanklik met ses maande na September uitgestel en het uiteindelik in November plaasgevind in ’n hibriede model met, onder meer, “ ’n inryteater” op die spyskaart.

Aan die internasionale front is alle groot feeste gekanselleer. Meer as ’n jaar later is ons bedryf op sy knieë.

R990 vir ’n kaartjie?

In Suid-Afrika is kunstefeeste se finansiële modelle minstens gedeeltelik geskoei op kaartjieverkope. Om groot volumes kaartjies te kan verkoop het feeste ’n hoofverhoog of terrein-area waar duisende besoekers per dag saamkuier en fees.

Die uitsondering is die Suidoosterfees, wat in die Kunstekaap-kompleks aangebied word, en die Toyota US Woordfees, wat nie ’n terrein- en stalletjiekomponent het nie. Die Woordfees bied wel jaarliks die Woordfees WOW-karnaval en minstens een ander groot buitelugkonsert – beperk tot ongeveer 6 000 mense – aan. Die aangepaste kapasiteit sou in die verskillende vlakke van Covid-19-inperking wissel van nul tot 500, wat die finansiële haalbaarheid van so ’n onderneming kelder nog voor die eerste verhoogpen ingeslaan is.

Wat binnenshuise ruimtes betref, lyk die prentjie nog droewiger: ’n ruimte soos die Adam Small-ouditorium, met plek vir 324, kan met sosiale distansiëring slegs 49 gehoorlede akkommodeer.

Om dieselfde inkomste van ’n uitverkoopte vertoning soos voor Covid-19 te genereer, sou kaartjies met verminderde kapasiteit meer as R990 stuk moes kos. Inkomste uit kommersiële borgskappe, filantropiese donasies en ander inkomstestrome het weens die pandemie onvermydelik afgeneem en feeste se volhoubaarheid verder onder druk geplaas.

Kreatiewe tol geëis

Gister is Wêreldkreatiwiteit-en-innovasiedag gevier. In die lig hiervan moet dit weer beklemtoon word dat feeste nie net ’n bydrae tot maatskaplike impak en kohesie in Suid-Afrika lewer nie, maar ook ’n bepalende rol speel in die volhoubaarheid van die groter uitvoerendekunstebedryf.

Vir ons kunstenaarsgemeenskap het die pandemie nie net met ’n dramatiese verlies aan werkgeleenthede en inkomste gepaard gegaan nie. Dit het ook ’n noodgedwonge skeiding van die verhoogruimtes wat hul kreatiwiteit voed, teweeg gebring.

Geslote teaters en gekanselleerde kunstefeeste het kunstenaars ontneem van die seisoenale patrone wat hul lewensritmes bepaal en ’n mate van gemoedsrus verskaf het in ’n bedryf waarin onsekerheid ook in goeie jare ’n gegewe is. Fisieke inperking het dus sowel ’n finansiële as psigiese tol geëis. Die afsondering en skeiding van medekunstenaars het gevoelens van kommer en magteloosheid versterk en baie kunstenaars haweloos en ontredderd laat voel.

Sommige kunstenaars kon met wisselende sukses hul uitvoerende werk aanlyn skuif, maar vir die oorgrote meerderheid van die kuns­tenaarsgemeenskap was dit nie ’n werkbare alternatief nie. Dit het ook intussen duidelik geword dat aanlyn optredes en aanbiedings geen bevredigende, volhoubare oplossing is nie.

Stellenbosch se strate lééf

Sedert die staat van inperking ingestel is, het die Woordfeesspan verskillende alternatiewe modelle ondersoek om ’n bydrae tot ons beleërde kunstenaarsgemeenskap te lewer.

’n Teaterskryflaboratorium onder leiding van Janice Honeyman is aangebied waartydens 12 nuwe tekste ontwikkel is, en enkele bestaande teaterstukke is danksy kykNET en in samewerking met March Media in die Baxter-teaterkompleks verfilm.

Die mees ambisieuse poging tot dusver was die pas afgelope Toyota US Woordfees-kunstenaarsweek en die Flikker & Flash-opwipvertonings.

Die kunstenaarsweek wou vir kunstenaars ’n gemeenskap skep waarbinne hulle ’n gevoel van eiewaarde en selfvertroue in hul vaardighede kan herwin en ook nuwe idees kan ontwikkel en beproef. Dit wou vernuwende denke aanmoedig, kreatiwiteit stimuleer en deelnemers die kans gee om te herlaai.

Die week is deur nagenoeg 70 kunstenaars van oor die hele Suid-Afrika heen bygewoon en het bestaan uit ’n reeks werkswinkels, kreatiewe projekte en geleenthede tot selfondersoek en refleksie, aangebied deur agt fasiliteerders wat uit ’n breë spektrum van die Suid-Afrikaanse kunstegemeenskap gekies is. Streng Covid-19-protokolle is tydens die week gehandhaaf.

Kunstenaars moes gedurende die kunstenaarsweek ’n projekkonsep in samewerking met die ander deelnemers ontwikkel. Binne die bestek van net vier dae moes konsepte verfyn word tot vinjette en mini-aanbiedings met min tegniese ondersteuning en feitlik geen begroting nie, maar toegang tot die Woordfees-garderobe- en stelstoor.

Die eindbestemming vir die mini-aanbiedings was nie ’n veilige en konvensionele teaterruimte nie, maar 11 leë winkels en kommersiële eiendomme in die Stellenbosse middedorp.

Met Flikker & Flash wou die Woordfees nuwe lewe blaas in ’n dorp wat swaar deur die pandemie en die gepaardgaande verlies aan koopkrag en toerisme getref is.

Kunstenaars kon self besluit oor die opstel en benutting van die onkonvensionele teaterruimtes waarbinne hulle opgetree het.

Sommige het ’n beperkte getal gehoorlede binne die optreeruimte toegelaat; ander het ’n kombinasie van gehoorlede binne die ruimte en ook buite op die sypaadjie verkies, terwyl ander kunstenaars binne die ruimte was en deur ’n glasvenster van die gehoor geskei is, met klankversterking op sypaadjies.

Aanvanklik is beplan dat vertonings al om die halfuur sou plaasvind, maar die lang toue en groot aanvraag het meegebring dat kuns­tenaars soveel as moontlik vertonings probeer inpas het.

Toegang tot die vertonings was gratis, maar gehoorlede kon ’n donasie aan die kunstenaars maak of bydra tot die Tribuo-fonds, wat aan kunstenaars en ander medewerkers in die uitvoerendekunstebedryf finansiële ondersteuning bied.

Die optreeruimtes was naby genoeg aan mekaar dat gehore gemaklik kon stap tussen aanbiedings, en met goeie beplanning en ’n bietjie geluk ál 16 vertonings kon bywoon – amper soos met die jaarlikse Vensters by die US.

Die geroesemoes en opwinding in Stellenbosch se strate het ons stoutste verwagtinge oortref. Flikker & Flash wou kunstenaars sentraal plaas en op klein skaal kunstenaars en gehore byeen bring. Daar was skielik konneksie en saam met die konneksie was daar energie – daardie broodnodige katalisator vir toerisme wat feeste in gasheerdorpe inbring.

Veilig én volhoubaar

Intussen is die groter kunstebedryf op haar kop gekeer weens ’n gebrek aan artistieke visie, bedryfskennis en leierskap op regeringsvlak. As daar ooit ’n tyd was vir kunstenaars om eienaarskap van die bedryf te neem, is dit nou.

Die Woordfees bied graag ons beskikbare platforms aan en werk saam met vennote. Al was dit net ’n naweek lank, kon Flikker & Flash verligting bied van die knellende druk waaronder ons bedryf verkeer.

Die Woordfees-kunstenaarsweek was net moontlik danksy ruimhartige steun van ons borge: Toyota, die US, kykNET en die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi). Danksy steun van Visit Stellenbosch kon kunstenaars van elders gerieflik in gastehuise tuisgaan en Bolandse gasvryheid in plaaslike restaurante ervaar.

Besluite oor hoe die Toyota US Woordfees se aktiwiteite vir die res van 2021 en 2022 daar gaan uitsien, sal binne die volgende paar weke geneem en gekommunikeer word.

Dit sal in oorleg met rolspelers in die bedryf, borge, die gemeenskap van Stellenbosch en ons adviesraad geneem word.

Ons aard en wese is kuns en kultuur en ’n viering daarvan: Sonder ’n program is ons niks.

Ons kan egter net ’n fees aanbied indien ons die veiligheid van deelnemers en feesgangers kan verseker en die aanbieding ook finansieel haalbaar is.

Botha is die direkteur van die Toyota US Woordfees en WOW.

Meer oor:  Feeste  |  Veiligheid  |  Pandemie  |  Toyota Us Woordfees  |  Haalbaar  |  Kunsfeeste  |  Inkomste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.