Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Pandemie ’n fees vir pedofiele en ander misdadigers

Misdadigers en misdaadsindikate oor die wêreld heen het die Covid-19-pandemie as ’n geleentheid aangegryp om hul bedrywighede uit te brei en te verskerp, sê dr. Mark Shaw en Tuesday Reitano aan Murray La Vita.

Shaw, wat voorheen onder andere direkteur van die Sentrum vir Kriminologie aan die Universiteit van Kaapstad was, is die direkteur van die Global Initiative Against Transnational Crime in Genève. Reitano is assistent-direkteur. Hul boek Criminal Contagion: How Mafias, Gangsters and Scammers Profit from a Pandemic het pas die lig gesien.

Julle skryf die wêreld gaan gebuk onder twéé pandemies – die koronavirus en misdaad.

Ja, ons maak die punt dat onwettige markte sedert die begin van die nuwe millennium wêreldwyd gegroei het en dat dit besig is om die internasionale stelsels van regering, finansies en handel uit te kalwe en sodoende regerings te verswak en mense weerloos te maak. In sommige opsigte kom dit neer op ’n vroeër pandemie.

Die Covid-19-pandemie het hierdie patroon of neiging oor ’n wye verskeidenheid misdadige markte versterk. ’n Mens sou kon sê dit het ’n neiging wat reeds in die onderwêreld bestaan het, versnel.

Hoe en waarom het die onwettige ekonomie gedurende die pandemie in die digitale sfeer (aanlyn) gefloreer?

Hoofsaaklik omdat georganiseerde misdaad-groepe daarop ingestel is om inligtingsgapings sowel as ’n toename in aanvraag na skaars goedere, uit te buit. Albei dié toestande was eienskappe van die pandemie, veral in die beginstadium.

Gesinsgeweld het op baie plekke toegeneem. Foto: Unsplash

Die mees voor die hand liggende rede waarom misdaad in die kuberruim toegeneem het, is omdat mense baie meer tyd aanlyn deurgebring het en daar ’n skerp toename in aanlyn- kommersiële transaksies was. So, daar was eenvoudig net meer mense om te teiken; mense wat meer vrye tyd tot hul beskikking gehad het en meer ontvanklik was vir twyfelagtige aanlyn aanbiedinge.

Maar dit is nie die hele verhaal nie. Mense was ook meer weerloos – hulle het aanlyn na inligting of dinge soos beskermde drag, entstowwe of ander kure gesoek, en het nie ’n raamwerk van betroubare inligting gehad nie. Die feit dat baie mense sonder IT-steun van hul kantore was en op skakels geklik het wat gelyk het of dit van hul kantore kom, het ook tot hul uitbuiting bygedra. Ons beskryf in die boek talle voorbeelde hiervan. Misdadigers se vindingrykheid op dié gebied ken skynbaar geen perke nie.

Onder die kubermisdaad wat toegeneem het, tel die seksuele uitbuiting van kinders.

Wat ontstellend was, is hoe verveelde mense wat te veel tyd tot hul beskikking gehad het, aanlyn van hul mees afwykende voorkeure bevredig het. Die vorm van internetaktiwiteit wat verreweg die meeste op die donkerweb voorkom, hou verband met die seksuele uitbuiting van kinders en die verspreiding van uitbuitende video’s en foto’s.

Gedurende die eerste deel van 2020 het wetstoepassers ’n dramatiese toename in sulke bedrywighede aangemeld. Die aantal profiele of rekeninge wat geskep is, het toegeneem en daar was ’n 200% toename in bedrywighede op die forums waar hierdie foto’s en videos gedeel word. Die skeppers van hierdie verskriklike beelde het kinders geteiken wat ook meer tyd aanlyn deurgebring het. Hulle is bereik deur sosialemediaplatforms, aanlyn videospeletjies, selfs huiswerk-apps – dáár is hulle oortuig om foto’s van hulself te deel.

Facebook, ’n algemene poort na hierdie gemeenskappe, het al 15 000 van hul indhoudsmodereerders tydens die pandemie verlof laat neem ...

Baie van die groei in hierdie bedrywighede het voorgekom omdat sosiale distansiëring die vermoë van wetstoepassers en waghondagentskappe verminder het om sulke inhoud dop te hou en te verwyder aangesien hul personeel huis toe gestuur is of voorkeur moes gee aan pandemie-verwante bedrywighede.

Facebook, ’n algemene poort na hierdie gemeenskappe, het al 15 000 van hul indhoudsmodereerders tydens die pandemie verlof laat neem en op algoritmes staatgemaak om onwettige inhoud te identifiseer en verwyder.

In Suid-Afrika was daar ’n toename in gesinsgeweld tydens die inperking. Dít resoneer met jul waarneming dat “baie slagoffers van die handeldryf in mense – insluitend diegene wat in gedwonge huwelike vasgevang is en die slagoffers van gesinsgeweld – in ’n situasie was waar die inperkingsmaatreëls aan hul teisteraars selfs meer mag gegee het, veral waar slagoffer en teisteraar in dieselfde ruimte woon”.

Wat inperkings natuurlik wêreldwyd gedoen het, was om mense saam in te perk op ’n tydstip waar daar ook groot ekonomiese en sosiale stressors was. Dit was onafwendbaar dat dít ’n impak sou hê op die vlakke van geweld in die huis aangesien mense meer tyd daar deurgebring het.

In baie gevalle was dit nie moontlik om die spanningsvlakke te verlig deur doodgewoon die huis te verlaat nie. Die gevolg is dat gesinsgeweld klaarblyklik op baie plekke toegeneem het, hoewel die aantal gevalle wat aangemeld word nie verteenwoordigend is van die omvang van die probleem nie.

Dr. Mark Shaw Foto: Verskaf

Dit is belangrik om by te voeg dat die reaksie van wetstoepassers op gesinsgeweld (en op baie plekke op misdaad in die algemeen) afgeneem het aangesien hulle deur groter uitdagings – insluitend dat baie van hul lede ook besig was om siek te word – in die gesig gestaar is.

In sommige gevalle was dit die gevolg van beleidsbesluite wat daarop gemik was om die kontak tussen die gemeenskap en polisielede te verminder in ’n poging om koronavirusinfeksies te bekamp.

Julle ondersoek ook die baie ernstige gevolge van skoolsluitings en die feit dat baie leerlinge nooit weer na skole sal terugkeer nie.

Openbare skole, veral in baie gemarginaliseerde gebiede, is ’n noodsaaklike misdaadvoorkomingsinstrument – nie net op lang termyn nie, ook op kort termyn – aangesien dit kinders van die strate af hou en aan hulle sinvolle bedrywighede bied.

’n Onderbreking hiervan – soos deur die sluiting van skole gedurende die pandemie – lei daartoe dat baie kinders by ander bedrywighede betrokke raak. Dit is nie altyd onwettige bedrywighede nie, hoewel in bendegeteisterde buurte bied bendes aan die kinders ’n alternatiewe vorm van sosialisering. In sommige gevalle bied die aansluiting by ’n bende aan kinders ’n vorm van beskerming.

So, die ontwrigting van die skoolstelsel skep ’n poort na ’n alternatiewe stel strukture en bedrywighede wat, wanneer hulle eers daarin gevestig is, kinders nie na skole sal wil laat terugkeer nie.

Tuesday Reitano Foto: Verskaf

In Suid-Afrika was daar massiewe korrupsie met geld wat bedoel was om verligting te bring aan mense wat deur die pandemie geraak word. Julle beskryf in jul boek hoe sulke korrupsie oor die wêreld heen gebeur het.

Hoewel Suid-Afrika ernstige uitdagings met korrupsie ervaar, is die storie van hoe geld gedurende die pandemie wêreldwyd wanaangewend en/of gesteel is, net eenvoudig fenomenaal. In die boek kyk ons na talle gevalle van oor die wêreld heen en daar is baie gemene delers.

Die lande waar dit plaasgevind het, het dikwels ’n laer vlak van kapasiteit en integriteit in die stelsel gehad. Waar die ergste gevalle voorgekom het, was daar al voor die pandemie probleme met korrupsie en lae vlakke van deursigtigheid en verantwoordbaarheidsmaatreëls.

Maar baie van dié maatreëls is deur die bank weens die nood en krisisafmetings van die pandemie laat vaar in ’n poging om so gou as moontlik ondersteuningstelsels op dreef te kry en in basiese behoeftes te voorsien. Mededingende tenderprosesse is dikwels omseil en kontrakte is toegeken aan vriende van regerings of voorkeurverskaffers; sommige van hulle was allermins bevoeg om die dienste te lewer waarvoor hulle gekontrakteer is.

Baie slagoffers van die handeldryf in mense – insluitend diegene wat in gedwonge huwelike vasgevang is en die slagoffers van gesinsgeweld – was in ’n situasie waar die inperkingsmaatreëls aan hul teisteraars selfs meer mag gegee het. Foto: Unsplash

Nóg ’n kwessie was die enorme hoeveelhede geld wat vir noodleniging bewillig is – dít het die skelms en bedrieërs aangetrek. Daar is talle gevalle waar daar deur kuberkrakers op regeringswebwerwe vir die uitbetaling van maatskaplike toelae toegeslaan is of waar dié webwerwe gekopieer is sodat die geld in misdadige hande beland het eerder as by diegene waarvoor dit bestem was.

Ons moet ook nie die feit ignoreer dat individue en maatskappye bedenklik opgetree het deur die “maklike geld” wat die stelsel binne gevloei het te gebruik om winste te vergroot en dividende aan reeds welgestelde aandeelhouers te betaal eerder as aan hulle wat die reddingsboei werklik nodig het.

Jul navorsing oor vervalste medisyne en mediese disinformasie is besonder ontstellende leesstof.

Die gebrek aan inligting en ’n vrees vir die virus het waarskynlik die grootste geleentheid geskep wat deur georganiseerde misdaad uitgebuit kon word. Elke vorm van onwettige bedrywigheid het op een of ander manier daarmee verband gehou – die kubermisdadigers het webwerwe geskep waarop hulle beloof om binne dae beskermde drag, toetsstelle, entstowwe en wonderkure te verskaf.

Van hulle was bloot gek – byvoorbeeld “antivirus”-sagteware wat die internetgebruiker teen Covid-19 sal beskerm – maar ander was meer oortuigend. Die enorme globale bedryf wat fop- , bedrieglike en substandaard-medisyne produseer, het dadelik aan die werk gespring.

Onder normale omstandighede is die geskatte waarde van die globale bedryf waardeur vals medisyne – wat enigiets van antibiotika en malariamedikasie tot Viagra insluit – vervaardig word, $4,4 miljard per jaar. Dit word hoofsaaklik in Indië en China vervaardig en dan na die res van die wêreld versprei. Dit is baie min moeite om die verpakking van byvoorbeeld ’n pilhouer te wysig na iets pandemie-verwant.

Wat verder in die vervalsers se guns getel het, is die enorme hoeveelheid mediese disinformasie wat deur invloedryke figure – sowel politici as prominente sosiale media figure – versprei is. Toe die voormalige Amerikaanse president Donald Trump voorspraak gemaak het vir die gebruik van hidroksichlorokien as ’n moontlike teenmiddel of geneesmiddel vir die virus, het die prys van dié standaard anti-malariamiddel wêreldwyd geweldig gestyg soos wat die aanvraag daarna toegeneem het.

Madagaskar se president het op sy beurt byvoorbeeld ’n heeltemal ongetoetste kruiemiddel, “Covid-Organics” bevorder en begin om die uitvoer daarvan na ander lande te bemiddel.

Julle meen die pandemie “kan ’n geleentheid bied om te herbesin oor hoe onwettige markte gereguleer word; om meer doeltreffende instellings te skep om georganiseerde misdaad te beveg; en om die lewe en lewensmiddele van mense te verbeter wat dikwels in die web van misdadigheid vasgevang word”.

Dit is waarvoor ons hoop. Ons denke word deels gegrond op die aanname dat ’n enorme ontwrigting soos die Covid-19-pandemie die weg sal voorberei vir verandering. Dit word soms beskryf as ’n “plastiese periode” waarin nuwe idees moontlik word omdat so baie ander dinge bevraagteken word of prioriteite eenvoudig verander.

Die reaksie van wetstoepassers op misdaad het afgeneem aangesien hulle deur groter uitdagings in die gesig gestaar is. Foto: Unsplash

’n Herbesinning van hierdie aard kan lei tot lande wat ondersoek instel na hoe om die dwelmmarkte beter te reguleer – dekriminalisering en ’n beter gesondheidsreaksie is een voorbeeld. Ons het ’n hoofstuk oor bendes en misdadige bestuur: hoe kan legitieme vorme van bestuur bevorder word om die gapings te vul waar bendeleiers in baie stedelike gebiede beheer het.

Ons meen hierdie storie is nog in wording, dit word nog geskryf. Dit is duidelik dat ’n nuwe stel beleidsprioriteite skielik vorendag gekom het. Van hulle sal – indien hulle suksesvol is – reuse-implikasies hê vir georganiseerde misdaad.

Van die belangrikstes is belastingbeleid, optrede teen korrupsie, die stuit van die onwettige verspreiding van goedere, en ’n fokus op die befondsing van politieke partye.

Ons meen dus daar is rede om hoopvol te wees. Maar baie harde werk lê nog voor.

Meer oor:  Mark Shaw  |  Covid-19  |  Misdaadsindikate
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.