Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Pandemievoos of bloot net lusteloos? Dís wat makeer

Verlede jaar se staat van inperking het die meeste mense kwarantynvoos gehad. Vanjaar bly baie van ons egter lewensvoos. Ons is in ’n nuwe emosionele fase, skryf Jana Marx.

Daar is ’n naam vir daardie keelvol-en-lus-vir-niks-gevoel. Ons noem dit 'kwyning'. Foto: Unsplash

Jy is nie depressief nie, jy’s net . . . af.

As iemand vra hoe dit gaan, antwoord jy “oukei”.

Jy kan nie jou vinger daarop lê nie. Dit gaan beslis nie sleg nie. Jy is bevorder by die werk, jou gesin is gesond en jy het genoeg dinge om na uit te sien.

Maar jy voel ook nie baie goed nie. Jy het lanklaas uitbundig gelag en jy raak nie meer vreeslik opgewonde oor dinge nie.

Die braai by vriende klink lekker totdat jy in jou kar moet klim en gaan. Die meem op die familie-WhatsApp-groep is nie meer snaaks nie en die daaglikse geselsies het effens opgedroog. O, die entstof is (al weer) op pad? Jy sal dit glo wanneer jy dit sien.

Daar is ’n naam vir hierdie gevoel: Die Engelse noem dit 'languishing'. Afrikaanse sielkundiges noem dit kwyning, lewensvoosheid of afgeremdheid.

Sommige dae het jy genoeg energie om alles te doen wat jy moet doen. Maar meestal voel jy asof jy stagneer – asof jy nie uit die wegspringblokke kan kom nie.

Jy sukkel om te konsentreer. Jy weet jy moet vroeg gaan slaap, maar lê tot ná 23:00 en kyk misdaadreekse wat jy reeds gesien het.

Jou wekker gaan steeds 06:00 af, maar pleks daarvan om op die oefenfiets te spring, lê en kyk jy katvideo’s op Facebook tot ná 07:00. Frustrasie met jouself en die lusteloosheid laat jou óf in ander mense se kele afspring óf in jou dop kruip. Jy sit en verdrink in jou eie onvergenoegdheid.

As dit nie dringend is of geld inbring nie, haal dit doodeenvoudig nie die prioriteitslys nie.

Daar is ’n naam vir hierdie gevoel: Die Engelse noem dit languishing. Afrikaanse sielkundiges noem dit kwyning, lewensvoosheid of afgeremdheid. In lekker Afrikaans is dit sommer daardie keelvol-en-lus-vir-niks-gevoel, wat volg op die 2020-rillerjaar van angs en onsekerheid.

Kwyning

Foto ter illustrasie: Mense wat kwyn, besef dikwels hulle moet meer uitkom en beplan lekker dinge vir die naweek. Maar voordat jy jou oë uitvee, is dit Sondagaand en jy het net inkopies gedoen en Netflix gekyk. Foto: Unsplash

Verlede jaar het feitlik almal deur ’n moeilike tyd gegaan – al het jy in jou lewe nog nie met depressie gesukkel nie. Ons was kwarantynvoos. Ons het gesukkel met die “verlies” aan normaliteit en die inperking het ons lewe laat stilstaan. Spanning en onsekerheid het feitlik alle emosies oorheers.

Prof. Kobus du Plooy

Prof. Kobus du Plooy, buitengewone professor verbonde aan die Noordwes-Universiteit en senior lektor by die Universiteit van Otago in Nieu-Seeland se departement van psigologiese geneeskunde, het toe verduidelik mense het weens die onsekerheid van die pandemie in ’n veg-of-vlug-toestand ingegaan. Die brein het voortdurend chemikalieë soos die streshormoon kortisol en adrenalien vrygestel, wat beteken mense was die hele tyd gespanne.

Soos wat die pandemie voortgesloer het, die ekonomie weer stuk-stuk ontsluit het en ons nuwe spanning oor entstof, ’n nuwe variant en ’n nuwe aggressiewe tweede vlaag moes hanteer, het die vorige jaar se stres plek gemaak vir ’n nuwe toestand: kwyning.

Adam Grant, sielkundige verbonde aan die Wharton-skool van die Universiteit van Pennsilvanië en outeur van Think Again: The Power of Knowing What You Don’t Know, beskryf kwyning as die emosionele punt tussen depressie en florering.

Grant skryf in The New York Times dis ’n “vreugdelose en doellose leegheid” – asof jy “deur ’n toegewasemde venster” na jou lewe kyk.

As geestesgesondheid dus ’n skaal was wat van “negatief” tot “positief” strek, leun kwyning meer oor na die negatiewe kant, maar nog nie ver genoeg om ’n siekte genoem te word nie. Jy is dus nie op moedverloor se vlakte nie, maar jy is ook nou nie juis die toonbeeld van iemand wat goed voel nie. Jy funksioneer nie ten volle nie en dít demp jou motivering.

“Namate wetenskaplikes en geneeskundiges werk om die fisieke simptome van langtermyn-Covid-19 te behandel, sukkel baie mense met die emosionele impak op lang termyn. Dit het van ons onverwags getref, soos wat die erge vrees en rou van verlede jaar verbleek het,” skryf Grant.

Kwyning volg onder meer op die 'langdurige spanning van die pandemie wat sommige mense nou inhaal'.
dewald louw

Dewald Louw, sielkundige van Kaapstad, stem saam.

“Die simptome kan baie soos uitbranding lyk. Hoewel die mense nie aan die kliniese kriteria vir ernstige depressie voldoen nie, rapporteer hulle dat alledaagse take meer uitdagend voel. Op lang termyn sal so ’n persoon dus onderpresteer en dit verg meer energie as gewoonlik om jou kop bo water te hou.”

Hy wys ook daarop dat geestesversteurings “jou innerlike ervaring van jouself en die lewe beïnvloed” en jy “sukkel om genot uit die lewe te put”.

Volgens Du Plooy is daar legio faktore wat maak dat mense kwyning ervaar en een daarvan is die “langdurige spanning van die pandemie wat sommige mense nou inhaal”.

Hy verduidelik dit aan die hand van ’n model deur Elisabeth Kübler-Ross:

nnn

• Kommer oor kwyning

Dis dalk nie ’n noodtoestand nie, maar sielkundekenners is bekommerd oor dié verskynsel van kwyning of lewensvoosheid. Die wetenskap het bevind dat kwyning ’n groter gevaar vir ernstige geestestoestande soos depressie en angsversteurings in die toekoms kan inhou as ’n geskiedenis van byvoorbeeld depressie of angs.

Prof. Corey Keyes, sosioloog verbonde aan die Emory- Universiteit se Skool van Medisyne in Atlanta, Georgia, het kwyning as ’n amptelike begrip in die sielkunde gevestig. Keyes wou verstaan waarom sommige Amerikaners wat aan al die vereistes voldoen om gelukkig te wees, steeds doelloos deur die lewe gaan. Hy het agtergekom dat om goed te voel, nie genoeg is vir ’n mens om gelukkig te wees nie.

“Hoewel (’n persoon se) geestesongesteldheid in die verlede ’n goeie voorspeller van toekomstige geestesongesteldheid was, het ons bevindinge getoon dat matige geestesgesondheid byna net so ’n goeie voorspeller is en dat kwyning selfs ’n sterker voorspeller van toekomstige geestesongesteldheid is,” lui sy bevindinge.

Dewald Louw

’n Meer onlangse studie is verlede jaar oor gesondheidswerkers in Lombardye, Italië gedoen, waar Covid-19 erge verwoesting gesaai het.

In die studie is bevind dat kwyning ook posttraumatiese stressindroom (PTSD) in die toekoms kan veroorsaak.

Volgens Grant kom kwyning nou meer algemeen as erge depressie voor.

Louw sê hy het die laaste ruk ’n groot invloei gesien van nuwe gevalle by die psigiatriese kliniek waar hy werk, “wat hoofsaaklik deur die inperking en pandemie veroorsaak is”.

“Een van die redes waarom kwyning in ernstiger kliniese geestesversteuring kan ontwikkel, is juis omdat só ’n persoon begin onderpresteer. Wanneer jy nie meer alledaagse doelwitte kan bereik nie (of dit baie meer energie as gewoonlik verg), kan dit lei tot gevoelens soos mislukking of onbekwaamheid. Dit kan aanleiding tot depressiesimptome gee, soos gevoelens van hulpeloosheid en ’n lae selfbeeld. Kwyning ontwikkel oor ’n lang tyd (soms maande), daarom is dit moeiliker om te identifiseer omdat dit soms net soos die ‘nuwe normaal’ voel.”

• Hoe kom ek weer reg?

Kenners is dit eens dat kwyning nie “in jou kop” is nie. Dis nie iets wat jy oornag met ’n selfhelpboek en ’n vitamine B-inspuiting gaan “regruk” nie.

“Enige emosionele toestand is ’n innerlike ervaring en nie altyd sigbaar vir ander mense nie,” sê Louw.

“Die eerste stap sal wees om jou gevoelens en gedagtes ernstig op te neem en nie te ignoreer nie.”

Dit help om emosies ’n naam te gee sodat ons dit beter kan identifiseer en verstaan.
Dewald louw

Die psigiater Christine B.L. Adams word in Psychology Today aangehaal waar sy psigiese funksionering met ’n enjin vergelyk. Net soos ’n enjin brandstof benodig om sy doel te verrig, het mense sielkundige brandstof nodig om teen optimale emosionele vlakke te funksioneer, sê sy.

“Sielkundige brandstof kom van nuwe ervarings of rus – om niks te doen nie.”

Die pandemie het ons egter van dié brandstof gestroop.

• Wat jy voel, het ’n naam

Foto ter illustrasie: Mense kla dat hulle nie saans tot rus kan kom nie en soggens nie uit die bed kom nie. Jy is nie alleen nie! Foto: Unsplash

Daar is dinge wat jy kan doen om weer brandstof vir jou tenk te genereer.

“Dit help om emosies ’n naam te gee sodat ons dit beter kan identifiseer en verstaan. Dieselfde geld mediese toestande. Dit help om ’n spesifieke diagnose te hê eerder as om net ‘sleg’ te voel,” sê Louw.

“Om net emosioneel ‘sleg’ te voel is soms oorweldigend omdat ons nie die emosie verstaan nie. Maar wanneer ons dieper delf en oor ons emosies begin praat, voel ons meer in beheer en kan ’n plan beraam word vir hoe om met die negatiewe gevoelens te werk te gaan.”

Die skrywer Austin Kleon verkies om homself eerder “dormant” as kwynend of afgerem te noem.

“Ek kwyn nie, ek is dormant. Soos ’n plant of ’n vulkaan. Ek wag om geaktiveer te word,” skryf hy op sy webblad.

Hy reken mense het ’n wanbegrip dat dit altyd met hulle moet goed gaan.

“Dit lyk vir my soveel van ons voel asof ons wegkwyn omdat ons probeer floreer onder aaklige omstandighede.”

Hy dink nie dit is nou die regte tyd om te probeer floreer nie.

Die middernagtelike of vroegoggend-sloerdery het sy eie (Chinese) naam: “bàofùxìng áoyè”. Op Engels word dit as “revenge bedtime procrastination” of “retaliatory staying up late” vertaal. Die frase het verlede jaar soos ’n veldbrand op Twitter versprei nadat ’n joernalis getwiet het dis ’n fenomeen waar mense, wat nie beheer oor hul daaglikse lewe het nie, weier om vroeg te gaan slaap om as’t ware ’n sin van vryheid te kan geniet.

Of jy nou kwyn of dormant is of besig is met “bàofùxìng áoyè”: Weet wat jy voel, sodat jy weet hoe om dit te bestuur.

Klein suksesse, lekker dinge en goeie mense

Foto ter illustrasie: Doen dinge wat vir jou lekker is saam met mense vir wie jy lief is. Foto: Unsplash

Jy hoef nie die Camino ten bate van liefdadigheid te gaan stap om selfbevrediging te ervaar nie.

Du Plooy raai mense aan om holisties na hulself om te sien.

“Vat ’n stuk papier en trek ’n kruis in die middel van daardie papier vir vier kwadrante: Biologies of fisiek, sielkundig, sosiaal en ook geestelik of spiritueel. Neem dan voorraadopname van waar jy staan in elkeen van daardie kwadrante van jou funksionering. By fisieke welstand kyk jy na goed soos dieet en oefening. By sosiaal kyk jy na jou verhoudinge. Spiritueel beteken nie noodwendig godsdienstigheid nie. Dit kan ook iets soos mindfullness-oefeninge wees,” sê hy.

“Begin dan met klein doelwitte om aan een aspek op ’n slag te werk.”

Maak ’n lys van dinge wat jy graag doen. Dit kan die lekker vroegoggendkoffie wees voordat jy werk toe gaan. Of die WhatsApp-boodskap aan jou vriend met wie jy lanklaas kontak gehad het.
Dewald Louw

Moet jouself ook nie oorskat nie, maan hy.

“As jy na jou dieet wil kyk, maar sukkel om suiker uit te sny, besluit om vandeesweek net twee keer een lepel suiker minder in jou koffie te gooi, of hoe dit ook al sy. Of as jy besluit om aan jou geestelike kant te werk, begin dan om een aand Bybelstudie te hou. Hou by werkbare doelwitte.”

Louw stem saam.

“Wanneer jy oorweldig voel, bestuur jou verwagtinge en stel makliker en meer realistiese doelwitte. Dit is nie nou die tyd om deur nog meer mislukkings in die gesig gestaar te word nie,” sê hy.

“Maak ’n lys van dinge wat jy graag doen. Dit kan die lekker vroegoggendkoffie wees voordat jy werk toe gaan. Of die WhatsApp-boodskap aan jou vriend met wie jy lanklaas kontak gehad het.”

Dié klein aktiwiteite kan oor ’n lang tydperk ’n groot positiewe momentum begin opbou en jou gemoed verbeter, sê Louw.

“Ons het die afgelope jaar moontlik begin verleer hoe om te sosialiseer en dalk te gemaklik begin raak met ons eie geselskap. Ons moet egter versigtig wees om onsself nie heeltemal af te sonder nie,” waarsku hy.

“Ons het mense nodig om soms uit ons eie kop te kom en oor ander onderwerpe te gesels. Dit gesê, wanneer jy lewensvoos voel, is dit belangrik om baie mooi na jouself te kyk. Dit kan beteken jy gee jouself ’n manikuur, jy woon dalk ’n aanlyn kerkdiens by of jy tel die kitaar op wat al jare stof opgaar.”

Maar as al jou pogings nie help om jou gemoed te verbeter nie, moet jy professionele hulp inwin, aldus Du Plooy.

• Moenie jouself met ander vergelyk nie

Foto ter illustrasie: Maak tyd vir jouself en maak tyd vir die dinge wat weer jou ‘emosionele tenk’ volmaak. Foto: Unsplash

Om jouself heeltyd daaraan te herinner dat Taylor Swift gedurende die inperking haar Folklore-album uitgegee het of dat William Shakespeare en Isaac Newton van hul beste werk in afsondering gedurende die Swart Plaag gelewer het, is nie juis selfmotivering nie.

“Moet jouself nooit met ander vergelyk nie. Vergelyk jouself net met gister se weergawe van jouself,” sê Louw.

“Dit is normaal om in ander raak te sien wat jy graag wil wees. Maar ons moenie die inligting gebruik om onsself af te skiet of sleg te sê nie. Ons almal het goeie en slegte eienskappe en niemand is volmaak nie. In my jare van psigoterapie het ek nog nooit iemand ontmoet sonder uitdagings of probleme nie.”

Mense moet leer om empatie met hulself te hê sonder om die slagoffer te speel.

Louw voel ook sterk oor grense stel “vir onsself en ander mense”.

“Ons stel grense om onsself te beskerm en omdat ons ons eie behoeftes en gevoelens respekteer. Ander mag nie altyd saamstem met jou prioriteite nie, maar wees versigtig om altyd ander se behoeftes bo jou eie te stel.”

Eweneens moet ons empatie hê vir ander se grense en aanvaar dat ons naastes ook soms tyd vir hulself nodig het, sê Louw.

Hy voel mense moet leer om empatie met hulself te hê sonder om die slagoffer te speel.

• Hanteer die 3de vlaag en entstof só

Jy hoef nie die Camino ten bate van liefdadigheid te gaan stap om selfbevrediging te ervaar nie. Begin deur net een of twee klein dingetjies van jou daaglikse prioriteitslys af te merk. Foto: Unsplash

Suid-Afrika is, wat entstof betref, in ’n meer benarde situasie as die meeste ontwikkelde lande, want ons onsekerheid hieroor kry nie end nie.

“As mense hanteer ons nie onsekerheid goed nie,” sê Louw.

“Ons brein sorteer inligting in kategorieë en wanneer ons nuwe situasies ervaar, weet ons brein nie in watter kategorie die nuwe inligting gesorteer moet word nie. Dit veroorsaak onsekerheid en angs omdat ons maklik buite beheer voel.”

Ons kan onseker voel, maar steeds voortgaan met ons daaglikse roetine.
Dewald Louw

Volgens hom is dit belangrik om te onthou dat onsekerheid nie noodwendig beteken ons is in gevaar nie.

“Ons kan onseker voel, maar steeds voortgaan met ons daaglikse roetine. Ek sien wel dat Suid-Afrikaners baie veerkragtig is as jy ons die afgelope jaar met Europeërs en die Britte vergelyk. Ons is gewoond aan konstante veranderinge en harde werk. Vir ander Eerstewêreldlande waar die lewe gewoonlik gemakliker is, was die pandemie amper ondraaglik,” sê Louw.

“Vir nou, moet ons dit dag vir dag neem en fokus op die klein positiewe veranderinge wat ons kan help om elke dag draagliker te maak en kop bo water te hou.”

Neem deel aan die gesprek! Vertel vir ons in 50 woorde watter uitdagings jy by die werk ervaar. Stuur jou terugvoering na mystem@netwerk24.com met die onderwerp: "Hoe Suid-Afrikaners voel". Onthou om jou naam, van en kontakbesonderhede by die e-pos te voeg of noem anders dat jy anoniem wil bly. Die terugvoering kan moontlik deel word van 'n artikel oor hoe Suid-Afrikaners in die werkplek voel.

Meer oor:  Covid-19-Pandemie  |  Emosies  |  Vrees  |  Onsekerheid  |  Angs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.