Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Parktown Boys: ‘Kom ons arresteer hierdie monster’

In September 2018 is Collan Rex, die voormalige waterpolo-afrigter by Parktown Boys’ High, skuldig bevind aan onder meer 144 aanklagte van seksuele aanranding. Hier volg die voorwoord van Brutal School Ties, waarin Sam Cowen oor dié skool se ‘kultuur van geweld en inisiasie, versluier in ’n kode van stilte’ skryf.

Reeds aan die begin van die hofverrigtinge het Collan Rex skuld beken op verskeie aanklagte van seksuele aanranding. Hy is later tot 23 jaar tronkstraf gevonnis in die Suid-Gautengse hooggeregshof. Foto: Foto24

Dit was ’n someraand vroeg in November 2016 en soos dikwels daardie tyd van die jaar in Johannesburg was ’n donderstorm aan die broei.

By Druce Hall, die koshuis by Parktown Boys’ High, het seuns rondgemaal in die eetkamer, in die binneplaas en in die televisie- en sitkamerarea. Dit was ’n gewone Donderdagaand, die laaste koshuisaand in die skoolweek. Teen hierdie tyd die volgende dag sou die meeste seuns TV kyk of sokker speel in die tuin van hul eie huis.

Die 16-jarige koshuisganger Jonah* was bekommerd. Hy het sy ma se motor gesien in die parkeerterrein, maar hy het haar nog nie gewaar nie. Sy gedagtes was op hol. Was hy in die moeilikheid? Was daar iets verkeerd? Sy het nie gebel om te sê sy kom nie, en hy was angstig.

Collan Rex, een van die koshuisvaders, het buite by Jonah kom staan. Hoewel hy in beheer was van welsyn en spesiale verrigtinge by die koshuis, was hy jonk en prettig en die seuns het maklik by hom aanklank gevind. Hy het homself eerder as ’n vriend vir die seuns gesien as ’n wyse gryse, en hulle het dieselfde oor hom gevoel. Hy het anderpad gekyk as hulle sports gemaak het in plaas daarvan om hul huiswerk te doen gedurende studietyd. Hy was ook Jonah se waterpolo-afrigter en hulle het baie goed gekliek.

“Is jy oukei?” het Collan gevra.

Jonah was nie. “My ma se kar is hier en sy is by die Bosserts.”

Collan Rex, die voormalige waterpolo-afrigter by Parktown Boys’ High, buite die hof waar hy skuldig bevind is aan 144 aanklagte van seksuele aanranding en 12 van gewone aanranding. Foto: Foto24

Mariolette en Chris Bossert was in beheer van die koshuis, hy as direkteur en sy as matrone. Sy was ook die nie-amptelike koshuisma wat daar was vir olikheid en warmsjokolade en simpatie wanneer dit nodig was. Die seuns was gek oor haar.

“Wil jy hê ek moet gaan hoor wat aangaan?” het Collan gevra. “Ek is seker dis niks, maar ek kan vir jou uitvind as jy wil?”

Jonah het geknik. Collan het sy weg gebaan na die Bosserts se huis. Hy het aan die deur geklop en Mariolette het oopgemaak. Die twee het kortliks gepraat en hy het teruggekom na waar Jonah angstig gewag het.

“Sy sê dis oukei, hulle is net in ’n vergadering,” het hy vir Jonah probeer gerusstel. Jonah het ontspan.

“Dis seker niks,” het Collan gesê voordat hy terug is na die koshuis.

‘Hy doen dit met ons almal’

Dit was geheel en al nie niks nie. Vroeër die aand het die 16-jarige Ben* die Bosserts kom spreek. Ben het ’n probleem gehad. Hy het gesoek na ’n sak vol waterpolo-pette wat weg was sedert Saterdag. Die span het gespeel teen die Afrikaanse Hoër Seunskool, in die volksmond bekend as Affies, en die volgende dag het die seuns uitgevind die pette is weg.

Ben was seker dit was in die gemeenskaplike gebied by Foundation House toe die span teruggekeer het, maar nou was die pette skoonveld. Die hoofwaterpolo-afrigter het hom beveel om dit onmiddellik op te spoor. Ben het voorgestel dat hulle na die geslotekring-televisie se beeldmateriaal van dié dag kyk om te kyk wat van die pette geword het.

Wat hy daar op die grootskerm gesien het, het sy bloed laat ys.

Chris Bossert het dit dus opgeroep op die grootskermtelevisie in die sitkamer. Hy het voortgegaan met sy nasienwerk terwyl sy vrou, Mariolette, in die kombuis doenig was. Die egpaar het geweet om so baie beeldmateriaal te kyk sou erg vervelig wees, dus het hulle dit net skramsweg dopgehou, seker daarvan dat Ben daarop sou konsentreer.

Nie een van hulle het geweet presies hoe lank die beeldmateriaal gespeel het voordat Ben ’n verskrikte geluid gemaak het nie. Chris het eerste opgekyk. Wat hy daar op die grootskerm gesien het, het sy bloed laat ys. Daar was verskeie seuns in die kamer, uitgestrek op die rusbanke terwyl hulle op hul fone speel en gesels. Op ’n lang L-vormige bank het ’n seun, Jonah, in sy onderklere gelê, sy bene op Collan se skoot terwyl Collan sy tepels knyp.

Mariolette het ingehardloop vanuit die kombuis. Die drie van hulle het vir ’n paar minute aangehou kyk voordat Chris die kasset gestop het en vir Ben gesê het om terug te gaan koshuis toe en niks hieroor te sê totdat hulle met die seun se ma gepraat het nie.

“Dis nog niks,” het Ben gesê. “Hy doen dit met ons almal, die heeltyd. En nie net dít nie.” Mariolette het naar gevoel. Dit was nagmerrie-materiaal.

Die nagmerrie hou net aan

Nadat hulle vir Ben teruggestuur het koshuis toe, het Mariolette Jonah se ma, Sharon, gebel en gevra dat sy onmiddellik koshuis toe kom.

Sharon was angstig – wat kon tog verkeerd wees? Wat kon so erg wees dat hulle nie met haar oor die telefoon daaroor kon praat nie? Sy sou gou uitvind.

’n Polisiewa het voor die koshuis stilgehou. Bo in hul kamers het twee van die seuns gesien hoe verskeie polisiemanne na die Bosserts se huis stap. Niemand het geweet hoekom hulle daar is nie. Bo het Collan met sy kamermaat gesels, totaal onbewus van wat net meters verder gebeur. Die Bosserts het vir die polisie die beeldmateriaal gewys. Mariolette se hande het gebewe.

Dit het aangegaan en aangegaan; later het ander seuns betrokke geraak; die nagmerrie het aan- en aan- en aangegaan.

‘Wat het ek gedoen?’

Die polisiemanne was met afgryse vervul. “Kom ons neem hierdie monster in hegtenis,” het offisier Tabane* gesê.

Jy weet presiés wat jy gedoen het.

Collan het op sy bed gelê toe die deur oopgaan en Chris inkom met ’n vreemde uitdrukking op sy gesig. Collan het onmiddellik geweet iets is verkeerd.

“Trek vir jou ’n langbroek aan en kry wat jy ook al nodig het, en dan kom jy,” het Chris gesê. Op pad uit het hulle vir Mariolette gesien. Sy het gehuil.

“Wat het ek gedoen?” het Collan gevra.

“Jy weet presiés wat jy gedoen het,” het sy huilend gesê.

Collan het langs die polisiewa gestaan en rook terwyl Chris en die polisieman binne gebly het om te besluit wat hul volgende stap moes wees.

Hierdie hemp, wat verkoop is deur die winkel Big Blue, is van die rakke verwyder ná ’n herrie daaroor. Dit verwys grappenderwys na die seksuele aanranding deur twee waterpolo-afrigters, Collan Rex en Fiona Viotti. Foto: Facebook

Die twee seuns het steeds afgekyk vanaf die boonste venster. Hulle moes al ure gelede aan die slaap gewees het. Hulle moes die volgende oggend eksamen skryf – maar hulle sou hierdie vir geen geld ter wêreld misloop nie. Uiteindelik het Collan agterin die polisiewa geklim, die amptenare het die deur agter hom toegemaak en hulle het weggery. Hy het dit toe nog nie geweet nie, maar dit sou die laaste keer wees dat hy ooit weer vir Parktown Boys sou sien.

* Skuilname is gebruik.

• Brutal School Ties, The Parktown Boys’ Tragedy, het pas by Melinda Ferguson Books (NB-uitgewers) verskyn.

Meer oor:  Collan Rex  |  Parktown Boys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.