Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Parlement in Kaap is oudmodiese, koloniale idee

Die verskuiwing van die parlement van Kaapstad na Tshwane sal nie net uitgawes besnoei nie, maar ook ’n einde aan uitgediende koloniale gebruike maak, skryf Pieter Labuschagne.

Die Suid-Afrikaanse parlementsgebou in Kaapstad. Is dit tyd dat hy noord na Tshwane moet skuif? Foto: Getty Images

Die moontlike verskuiwing van die parlement vanaf Kaapstad na Pretoria/Tshwane is dalk nie so ’n ondeurdagte plan nie.

Die historiese redes waarom Kaapstad as standplaas gekies is, het verdwyn en daar is polities, en selfs op lang termyn ekonomiese voordele vir só ’n verskuiwing.

Dit sal ook ’n argitektoniese geleentheid bied om die plasing van politieke partye in die wetgewende vergadering te verbeter.

Skuif die parlement, is die wetgewende en uitvoerende setel in een stad.

Thula Nxesi, minister van openbare werke, het in antwoord op ’n vraag in die parlement aangedui dat daar reeds na moontlike standplase gekyk is indien besluit sou word om die parlement na Tshwane te verskuif.

Die moontlike verskuiwing van die parlement sal beteken dat die wetgewende en uitvoerende setel in een stad is; iets wat die geval in ander lande is.

Daar is hoofsaaklik drie faktore wat belangrik is wanneer die moontlike verskuiwing van die parlement oorweeg word.

Dit sal ’n grondwetlike verandering beteken en sal gepaardgaan met hoë kostes terwyl daar weer na die historiese redes vir die vestiging van die parlement in Kaapstad gekyk sal moet word.

Grondwetlike verandering

Artikel 42(6) van die Grondwet bepaal dat die parlement in Kaapstad geleë is en dat net ’n parlementêre wet, in ooreenstemming met artikel 76(1) en (5), ’n verskuiwing kan magtig. Artikel 76(1) verduidelik die bykomende prosedure; naamlik die verwysing van die wet na die Raad van Provinsies.

Artikel 76(5) sit die verskillende prosedures en die vereiste tweederdemeerderheid vir die beoogde grondwetwysigings uiteen.

Die probleem van die kostes

Die verskuiwing van die parlement van Kaapstad na Tshwane sal geweldig duur wees. Daar word bereken dat die totale koste van ’n skuif sowat R7 miljard kan beloop – ’n astronomiese bedrag vir ’n staatskas met ’n begrotingstekort.

Daar moet egter nie uit die oog verloor word nie dat dit ’n eenmalige uitgawe is.

Die huidige lopende kostes om ampsdraers en beamptes tussen Pretoria en Kaapstad te vervoer beloop reeds sowat R500 tot R750 miljoen per jaar. Dié bedrag word elke jaar uitgegee en styg jaarliks. Dit sluit boonop net regstreekse kostes in en nie bykomende verskuilde uitgawes nie.

Die koste van die verskuiwing kan ook oor twee of drie begrotings versprei word.

Die waarde van die huidige parlement, amptelike wonings soos Tuynhuys en huisvesting vir parlementslede in Akasiapark is etlike honderd miljoene rand werd.

Dié bates kan verkoop word om die koste van die verskuiwing te help delg.

Die koste van die verskuiwing kan ook oor twee of drie begrotings versprei word wat die korttermyn-impak op die staatskas sal verminder.

Historiese redes

Die Suid-Afrikaanse parlementsgebou op ’n poskaartfoto wat uit die vroeë jare van die 20ste eeu dateer. Foto: Argief

Die verspreiding van die drie afdelings van die regering – uitvoerende, wetgewende en regsprekende gesag – in drie stede dateer uit ’n kompromie wat in 1908 op die Nasionale Konvensie aangegaan is.

Die twee voormalige Boererepublieke (Transvaal en die Vrystaat) en die twee voormalige Britse kolonies (Kaapland en Natal) se verteenwoordigers het elk maksimum voordele probeer beding.

Die vier voormalige state wou nie sonder meer hul outonomie en status in die nuwe unie prysgee nie en dit het tot kompromieë op vele terreine gelei.

In die demokratiese era ná 1994 is die land in nege provinsies opgedeel, wat die staatkundige/politieke status quo drasties gewysig het.

Die kompromie wat oor die hoofstad aangegaan is, was dat drie provinsies se hoofstede elk ’n hoofsetel van gesag sou kry: Kaapstad die wetgewende gesag, Pretoria die uitvoerende gesag en Bloemfontein die regsprekende gesag.

Dit was ’n historiese/politieke kompromie wat meer as ’n eeu gelede aangegaan is.

Dié staatkundige reëling het vir die unie (1910-1960) en later die Republiek van Suid-Afrika (1961-1994) gegeld toe die land uit net vier provinsies bestaan het.

In die demokratiese era ná 1994 is die land in nege provinsies opgedeel, wat die staatkundige/politieke status quo drasties gewysig het.

Die nuwe nege provinsies het die historiese rasionaal vir die oorspronklike plasing van die setels van gesag in verskillende provinsies opgehef. Daar bestaan nie meer 'n rasionele regverdiging daarvoor nie.

Tyd vir ’n nuwe begin?

Die manier waarop sitplekke in die Suid-Afrikaanse parlement toegewys word, is nie juis bevorderlik vir gesprekke wat konsensus ten doel het nie. Foto: Gallo Images

Een van die mees verstommende aspekte van die huidige politieke dinamika op regeringsvlak in Suider-Afrika is dat eertydse koloniale praktyke steeds behou word ondanks ’n sterk anti-koloniale gevoel.

Zimbabwe het $155 500 spandeer op gepoeierde pruike vir regslui wat van Brittanje gekoop is – dít in ’n land met buitelandse skuld van $10 miljard en ’n tekort aan buitelands valuta.

Dit het waarnemers tereg verstom gelaat.

Baie demokrasieë in Afrika het steeds Westerse parlementêre praktyke soos ’n ampstaf en ander rituele.

Die dra van pruike en ander parlementêre praktyke is so koloniaal en Westers soos komkommertoebroodjies en tee teen laatmiddag in Engeland.

In baie lande in Suider-Afrika is die Westminster- parlementêre stelsel net so oorgeneem sonder dat daar krities oor die versoenbaarheid van dié regeringsvorm met plaaslike gebruike gedink is.

Die debatte tussen die regering en die opposisie is meestal fel, konfronterend en jaag die gemoedere op.

In die meeste Afrikalande het die oorgang van die vroeë staat na die moderne staat nie evolusionêr plaasgevind nie. Die Westminster-stelsel is oorgeneem en dit verskil drasties van die meeste tradisionele of vroeë Afrika-state, waar besluite sterker op grond van konsultasie en kompromieë geneem is.

Dié tradisionele wyse van besluitneming verskil sterk van die uitlokkende, aanvallende en amper konfronterende Westminster-styl.

Die Westminster-stelsel se antagonistiese verhouding tussen die regering en die opposisie word argitektonies en ruimtelik in die uitleg van ons wetgewende vergadering vasgevang.

Dit skei die regering van die opposisie en dié twee groepe neem in banke oorkant mekaar stelling in.

Dié plasing beïnvloed die debatte en dinamika tussen die groepe, wat op konfrontasie en regstreekse teenstand gegrond is.

Die debatte tussen die regering en die opposisie is meestal fel, konfronterend en jaag die gemoedere op.

Soos ’n skoolsaal. Russiese parlementslede luister na ’n spreker. Foto: Getty Images

Die Westminster-stelsel met sy mededingende ruimte het voordele, want die regering word deur debatte ontbloot en sy optrede word aan die kaak gestel.

Die aanslag is basies een van konfrontasie, en versoening en kompromieë word nie regstreeks nagestreef nie. Die argitektoniese uitleg van die parlement institusionaliseer en lê klem op die gapings of verskille tussen die regering en die opponerende partye.

Die besluit om ’n Westminster-regeringstelsel ná 1994 sonder kritiese denke en die nodige aanpassings te gebruik dui op gebrekkige insig.

Die tradisionele stelsel het veel meer akkommoderende potensiaal as die Westminster-styl .

Die historiese en sosio-politieke proses van besluitneming en die oplossing van probleme in vroeë- of tradisionele Afrika-state het baie sterker elemente van versoening, kompromieë en konsensus bevat.

Die tradisionele stelsel het veel meer akkommoderende potensiaal as die Westminster-styl met sy regstreekse verbale aanvalle wat net verdeel en nie konflik oplos nie.

Dit is ’n bewese feit dat dikwels veel meer in die Westminster-stelsel bereik word deur in die wandelgange oor verskille te praat.

Die uitleg van ’n nuwe parlement

Die argitektoniese uitleg van die binnekant van wetgewende vergaderings en die regstreekse verband met die onderliggende ideologieë is baie interessant.

Pieter Labuschagne

In die voormalige Sowjetunie, China en ander lande met outoritêre regeringstelsels neem die sekretaris-generaal en ander senior regeringslui plekke op ’n verhoog in.

Die parlementslede sit voor hulle in reguit banke, byna soos in ’n skoolsaal.

Die boodskap wat met dié uitleg duidelik gemaak word, is dat die sekretaris-generaal en die senior regeringslui outoritêre beheer oor die lede van die parlement het. Dit wys ook dat die bevolking se demokratiese insette nie hoog geag word nie.

In demokratiese regeringstelsels, soos in die Westminster-stelsel, word met die argitektuur ’n mededingende ruimte vir politieke verskille geskep.

In die Amerikaanse presidensiële stelsel, met sy sterker klem op die skeiding van owerheidsgesag, is die uitvoerende gesag (president en sy raadgewers/kabinet) institusioneel en ruimtelik van die parlement (Senaat en Huis van Verteenwoordigers) geskei.

In Europese parlemente word ruimtelik en argitektonies meer klem op versoening en middelpuntsoekende aspekte in politieke diskoers geplaas. Die parlementslede se sitplekke is dikwels in die vorm van ’n hoefyster of semi-sirkel gerangskik. Die sitplekke is nie konfronterend teenoor mekaar nie.

Dit dui ruimtelik en argitektonies op ’n sterker konsensus-soekende en middelpuntsoekende stelsel.

Hoe moet ’n nuwe parlement lyk?

Indien besluit sou word om wel ’n nuwe parlementsgebou in Tshwane op te rig, sal dit goed wees om van die sterk Westminster-ingesteldheid af te wyk.

Die soeke na oplossing en kompromieë en die aanslag van die partye kan heelwat by die korrekte plasing van sitplekke in die parlement baat.

In plaas van banke wat teenoor mekaar staan, kan die sitplekke hoefystervorming of selfs sirkelvormig gerangskik word.

Dit sal nie net weer ’n kwessie van 'ons' versus 'hulle' wees nie.

Sodoende sal konsensus en die soeke na oplossings baie sterker binne ’n ruimtelike verband beklemtoon word.

Dit sal nie net weer ’n kwessie van “ons” versus “hulle” wees nie; eerder die verteenwoordigers van die bevolking wat gesamentlik op ’n grondslag van konsultering na oplossings vir die land se probleme soek.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Pieter Labuschagne  |  Tshwane  |  Kaapstad  |  Pretoria  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.