Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wat’s jou storie?
‘Pastoor’ Danie grootdoop

In die klein kamertjie agter die verhoog van die groot Kopanong-Kovsiekerk praat die “broers” van Spoegwolf oor lief, leed en lirieke terwyl ’n bottel perskemampoer soos ’n nagmaalritueel in die rondte gestuur word.

Die vertoning wat Donderdagaand as deel van die Vrystaat Kunstefees in die Kopanong-Kovsiekerk plaasgevind het, is verby en hul wolfie-ondersteuners se toejuiging hang nog voelbaar in die lug.

Danie du Toit, sanger en kitaarspeler van Spoegwolf, sing tussen die skare in die stampvol Kopanong-Kovsiekerk met die groep se optrede Donderdag op die Vrystaat Kunstefees.Foto’s: Conrad Bornman

Ineengevleg in Spoegwolf is Danie (hoofsanger en kitaar), Albert van der Merwe (baskitaar, sanger en “rapper”), Chris von Wielligh (klavier en kitaar) en Moskou du Toit (tromme, stem en braai).

Spoegwolf se rock-pad het al lank voor die uitreiking van hul eerste album in 2012 begin.

Danie vertel dat sy oom hom as kind wou leer om te hardloop, wat nie gewerk het nie. Daarna het hy probeer om hom te leer om te veg; dié poging het ook misluk. Moedeloos het sy oom ’n laaste keer probeer en vir hom gesê: “Danie, ek gaan jou leer om groter en langer as enige man te wees. Ek gaan jou leer om musiek te maak.”

Die “broers” se lang en interessante pad begin in die Paarl – die “baard van die Boland” soos hulle dit noem – waar hulle grootgeword het en steeds woon.

Danie en Moskou het in ’n musikale en kunstige huis grootgeword.

Albert en Danie se paadjies het gekruis toe Danie hom as opstandige agtjarige op die grasveld by die Hoër Jongenskool Paarl gewaar het.

“My naam is Danie, maar jy kan my Wolf noem,” het Danie hom vir die eerste keer gegroet. “Ek is Albert, maar jy kan my Peper noem,” het Albert geantwoord.

Ná skool daardie dag het Danie en Albert hul eerste musiekgroep begin. Reeds van die eerste dag was dit ’n wegholsukses.

Chris het hom ook by Ysterkoei, Albert en Danie se eerste groep, aangesluit. En op ’n vakansie in die Transkei word die wilde, wonderlike Spoegwolf gebore.

Wanneer ’n historikus, sjef, ingenieur en ’n advertensiekopie-skrywer bymekaar gemeng word, word ’n kleurvolle en tydlose voorstelling van Afrikaanse kuns – soos nog nooit tevore nie – ervaar.

Danie du Toit, sanger- en kitaarspeler van Spoegwolf, aan die woord in die Kopanong-Kovsiekerk met die Vrystaatse Kunstefees.

“Ons lewe in ’n klein land, met ’n klein taal, maar ons verkies dit so,” sê Danie. “Afrikaans is ons taal, dis hoe ons onsself uitdruk en dis hoe ons kuns maak.”

Dít is die doelwit van dié rock-groep: Hulle verlang nie na wêreldroem as hulle dit in ’n ander taal sal moet doen nie.

“As ’n mampoerstoker nou ewe skielik besluit hy gaan nie meer perskemampoer maak nie, maar kambucha-tee, is hy nie meer ’n mampoerstoker nie,” verduidelik Danie. “Afrikaanse musiek is soos mampoer en dit is beperk dit tot ’n kleiner groep mense, maar ons is mampoerstokers en dis hoe dit sal bly.”

Net soos Bolandse witblits word Spoegwolf se albums sterker met elke keer wat dit gestook word. Die wolfies sluk heelhartig en raak dronk op die lirieke en ondertone van die boodskap wat elke liedjie bied.

Hul musiek is soveel meer as net musiek, dis kuns. Oud en jonk is in vervoering oor hul werk.

“ ’n Liedjie is ’n klomp abstrakte beelde en ’n mens gooi ’n baie breë net uit. Die magic van dit is dat enigiemand op sy eie manier daarin vasgevang kan word. Die mense hoor wat hulle moet hoor,” sê Danie.

Deesdae staan die musiek wat Danie saam met sy “broers” skep, kop en skouers uit. Die kleurvolle lirieke waarvan Danie die skilder is, is sy manier om herinneringe op te roep.

“Kleur is naas reuk die beste manier om dit te doen. Kleur is ’n baie vivid manier om te verf. Albert sê altyd hy droom in kleure en as ’n mens in kleure kan droom, kan ’n mens daarin skryf ook,” vertel Danie.

Die geestelike elemente in die musiek verwys na oomblikke in die lewe wat elke mens ervaar en waarmee elkeen hom kan vereenselwig. “My geloof was nog altyd ’n groot tema in my lewe. ’n Mens wonder daaroor en worstel daarmee en daarom sal dit outomaties in die liedjies openbaar word.”

Elke jong of ou wolfie maak die lirieke op hul eie situasie van toepassing. “ ’n Sewentigjarige vrou luister na die musiek en sien lewenservaring raak, omdat sy self lewenservaring het,” sê Danie.

Elke Wolfie bely met volharding só sy eie belydenisaflegging aan “pastoor” Danie en die gereformeerde rooi, geel, groen en blou “band”.

Die mampoer word al hoe sterker en ná die uitreiking van hul topverkoperalbum Koma in Februarie vanjaar, beoog hulle om in Februarie 2020 hul vyfde album, See, aan die wolfies bekend te maak.

Hulle het ’n huis met ’n mooi tuin gekoop, en pleks daarvan dat boemelaars daar bly, omskep hulle die huis in ’n studio waar See opgeneem gaan word.

“Spoegwolf is nie net ons vier nie,” sê “pastoor” Danie aan sy “gemeente” tydens die vertoning in die Kovsiekerk. “Dis nie net ek, Albert, Moskou en Chris nie. Nee, Spoegwolf het nog ’n lid.

“Spoegwolf is ek, Albert, Moskou, Chris en JY!”

Meer oor:  Vrystaat Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.