Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Patricia aan Ruda: ‘Ek vra vir ewig vrae’

Sy het in die dae van apartheid baie vrae gevra, maar het nooit daarmee opgehou nie en doen dit tot vandag nog, het Patricia de Lille aan Ruda Landman gesê in dié uittreksel uit Tell Me Your Story.

Patricia de Lille is die uitvoerende burgemeester van Kaapstad. Haar storie beliggaam ’n sentrale string in die weefsel van die storie van Suid-Afrika oor die afgelope halfeeu.

Dit begin met waardigheid in die aangesig van ekstreme ongeregtigheid; dit beweeg dan na woede en haat, en dan na die stadige transformasie van individue en organisasies, en dit maak dit moontlik om uit te reik oor die afgrond en dit bewerkstellig die bymekaarkoms van onwaarskynlike vennote om iets nuuts te bou. Ons het in Februarie 2016 in Kaapstad gepraat.

Ruda: Beaufort-Wes in die 1950’s – kan jy die prentjie skets?

Patricia: Ek dink steeds dis een van die mooiste dorpe in die land. Ek mis dikwels die oop vlaktes – jy kon kyk so ver as wat die oog kon sien. Maar 1951 is ook toe die verdeling gebeur het. Toe mense die potloodtoets moes doen. My pa en sy familie, en my ma se familie, hulle moes almal daardeur gaan.

Ruda: Mense mag dit dalk nie onthou nie. Waarna verwys jy?

Patricia: Dit was ’n toets om jou ras te bepaal. Hulle het ’n potlood gevat en dit in jou hare gesit en dan moes jy op een been staan en jou kop skud. My pa het altyd daaroor grappies gemaak, want hy het baie dun, fyn hare gehad. En wat gebeur het, is dat twee van my ma se broers wit verklaar is, een is swart verklaar en my ma is as kleurling verklaar, van gemengde ras. My pa ook.

As die potlood in jou hare gebly het, is jy swart verklaar.

Ruda: Alles op die basis van die potlood wat uitval of nie?

Patricia: As die potlood in jou hare gebly het, is jy swart verklaar. Dan het jy onmiddellik ’n klein kaartjie genaamd ’n dompas gekry en jy moes elke maand belasting betaal om in die gebied te bly. Ons het almal in die lokasie by Beaufort-Wes gewoon. Dis waar ek gebore is. In daardie dae was daar nie hospitale nie; die vroedvroue het na die huise gekom.

Toe begin hulle die mense verdeel. Hulle het Rusdene gebou vir die bruin mense. Die swart mense moes in die lokasie bly. En dan het hulle ’n soort middelklas-gebied gehad genaamd Nuweland. Omdat my pa ’n onderwyser was, het ons ’n huis gekoop in Nuweland.

Ek was politiek bewus vanaf ’n baie jong ouderdom. My pa het dikwels gepraat oor regverdigheid, of geregtigheid – wat reg is en wat verkeerd is. En in 1961, toe Suid-Afrika ’n republiek geword het, het hy gesê hy gaan nie daai dag skool toe nie. Toe vra ek: “Hoekom nie?” Ek het baie vrae gevra. Selfs vandag nog vra ek vir ewig vrae.

Patricia de Lille sê sy het al van kleintyd begin om vrae te vra en het nog nooit daarmee opgehou nie. Foto: Adrian de Kock

Ruda: Hoe oud was jy?

Patricia: Ek dink ek was nege, miskien agt. My pa het gesê hy gaan nie skool toe nie en ek het gevra hoekom nie en hy het gesê: “Want wat hulle vandag doen, is verkeerd. Hulle kan mos nie onse land weggee nie.”

So ek het gesê: “Wel, pappa, as jy nie skool toe gaan nie, dan gaan ek ook nie.” Hy’t gesê: “As jy nie skool toe gaan nie, sal jy nie jou klein vlaggie kry nie en jou . . .” Ons het iets gekry wat lyk soos ’n pennie (vir Republiekdag).

Ruda: Ja, dit het soos ’n muntstuk gelyk.

Patricia: Soos ’n muntstuk. Ek het gesê: “Ek gee nie om nie, ek bly tuis.” En dis eers baie jare later wanneer jy besef dat as jou pa gesê het iets is verkeerd, het jy geglo dis verkeerd.

Patricia de Lille het ’n vakbondlid geword omdat sy nie die onregverdige behandeling van werkers kon verduur nie. Foto: Lerato Maduna

Ruda: Jy het begin werk by ’n verffabriek en jy het ’n vakbondleier geword. Vertel my daarvan.

Patricia: Wat ek nie kon vat nie was om te sien hoe mense elke dag misbruik is. Een keer, op die 15de Desember, toe ons gesluit het vir die vakansie, het die voorman in die fabriek iets georganiseer vir die werkers. Hy het drie van die ses-bottel flesse gekoop – jy weet die soort wat jy vashou aan die handvatsel? Dit was hierdie groot bottel wyn en dit het daar gestaan op die warm sement met daardie klein polistireenkoppies, en soos wat die werkers hul geld gekry het, het elkeen ’n dop gekry en toe’s hulle weg. Dis wat hulle georganiseer het vir die einde van die jaar.

“Ek was in die laboratorium waar ek deur my venster gekyk het, en ek het gedink ouens, dis nie reg nie. Ek het daar uitgestap – ek was vir ’n jaar lank nie in daai job nie – en ek het vir die voorman gesê: “Jy kan nie vir mense warm goed gee om te drink nie. Sou jy warm wyn drink?”

Vakbonde was die enigste wettige organisasies in daardie jare. Al die politieke partye is verban.

Hy’t na my gekyk met groot, ronde oë. Toe besluit ek ek gaan nie meer stilbly op hierdie plek nie. En toe gaan soek ek vir ’n vakbond en toe kry ek die Suid-Afrikaanse Chemiese Unie, en toe was dit ’n stryd, want jy moes 50 persent plus een van die werkers kry om aan te sluit. Dit het my sowat vier maande geneem.

“En dis hoe ek regverdigheid na die werkers gebring het. Toe word ek ’n werkersverteenwoordiger (shop steward). Dit was baie werk, dit het my weggeneem van my gewone werk. Maar ek dink dis waar die grondslag gelê is vir (my sin vir) regverdigheid, en later toe ek in die politiek in gegaan het.

Ruda: Inderdaad. Jy’t regte voetsoolvlak ervaring gekry van organisasie.

Patricia: Maar jy weet, vakbonde was die enigste wettige organisasies in daardie jare. Al die politieke partye is verban. Baie NRO’s is verban. Die media . . . daar was geen vryheid nie. So as jy daai tyd aan die unies behoort het, was dit die enigste plek waar jy ’n stem kon gee aan al die onderdrukte woede binne-in jou.

* Tell Me Your Story deur Ruda Landman word Tafelberg uitgegee en kos R285.

Meer oor:  Patricia De Lille  |  Ruda Landman  |  Apartheid  |  Vakbonde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.