Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Peiling wys kiesers stem vir EFF oor grond

Byna driekwart van EFF-kiesers het in 'n meningspeiling tydens vanjaar se verkiesing saamgestem dat “die herverdeling van grond” hul besluit om te stem beïnvloed het, skryf Carin Runcinan en Marcel Paret.

Suid-Afrikaners wat welsyntoelae kry, is meer geneig om vir die ANC te stem as vir enige ander party. Foto: EPA-EFE

In Mei vanjaar het Suid-Afrikaners na die stembusse gegaan om in die sesde nasionale en provinsiale verkiesing in die demokratiese era te stem. Die verkiesing was veral vir die ANC ’n toets van hoe sterk hy is nadat sy kiesersteun oor die afgelope dekade afgeneem het.

Die ANC se swakste vertoning in ’n verkiesing tot op hede het die patroon van agteruitgang vir die party bevestig.

Die EFF, wat in Julie 2013 gestig is deur die geskorste voormalige ANC-Jeugligaleier, Julius Malema, wat dit beskryf as ’n verlinkse politieke party, het wesenlike groei in sy steun gehad. Dit terwyl die steun aan die amptelike opposisie, die DA, ’n liberale party in die breë, ’n afgeneem het.

Maar wie het vir hierdie partye gestem en hoekom?

Die peiling het meestal gefokus op townships en informele nedersettings, waarvan die inwoners meestal arm en swart is.

Om hierdie vraag te antwoord het die Centre for Social Change by die Universiteit van Johannesburg op verkiesingsdag ’n peiling gedoen onder 5 000 kiesers pas nadat hulle gestem het. Dit is buite 23 stemlokale in agt van Suid-Afrika se nege provinsies, waarvan die meeste in Gauteng was, die ekonomiese middelpunt in die land, gedoen. Die peiling het meestal gefokus op townships en informele nedersettings, waarvan die inwoners meestal arm en swart is; 91% van respondente was swart Afrikane, en 22% het gewoon in informele huise of hutte.

Soortgelyke peilings is ook op die dae van die nasionale en provinsiale verkiesing in 2014 en die plaaslike regeringsverkiesing in 2016 gedoen.

In die peiling is ’n reeks demografiese vrae gevra – soos ouderdom, geslag, ras, etnisiteit en of die persoon werk – sowel as vrae oor deelname aan protesoptogte en vir wie respondente gestem het en hoekom.

Die peiling was nie verteenwoordigend van die hele land nie. Maar die gebiede wat gekies is, bied ’n deurslaggewende insig in die historiese hartlande van steun aan die regerende ANC.

Wie stem vir watter party?

Die ANC het veral sterk steun gekry van Zoeloes terwyl pres. Jacob Zuma aan bewind was. Hier werf pres. Cyril Ramaphosa stemme in KwaZulu-Natal met oudpres. Zuma se gesig op die plakkaat agter hom. Foto: Argief

In die peiling is deelnemers gevra oor alle politieke partye, maar ons het gekonsentreer op die drie grootste politieke partye: die ANC, die DA en die EFF.

Namate die ANC al hoe minder kiesersteun kry, bied ons peiling ’n mate van insig in die patrone wat toenemende mededinging by die stembus in Suid-Afrika onderlê: Ouderdom, geslag, etnisiteit, die ontvang van regeringstoelae en deelname aan protesaksies het almal beduidend ooreengestem met kiesers se keuse van ’n party.

Ons ontleding toon dat die ANC en die DA die grootste steun onder ouer kiesers het, terwyl die EFF soos verwag die grootste steun onder jonger kiesers geniet.

In ooreenstemming met ons vorige peilings het ons gevind dat vroue meer geneig is om vir die ANC te stem as mans. Byna twee derdes van vroue (64%) het vir die ANC gestem in vergelyking met net 55% van die mans.

Byna die helfte van alle DA-kiesers wat deelgeneem het, het voltyds gewerk, vergeleke met net ’n derde van dié wat vir die ANC en EFF gestem het.

Byna die helfte van alle DA-kiesers wat deelgeneem het, het voltyds gewerk, vergeleke met net ’n derde van dié wat vir die ANC en EFF gestem het.

Die data het ook op interessante etniese verskille gedui. Xhosasprekers was meer geneig om vir die ANC te stem terwyl Sepedi-sprekers meer geneig was om vir die EFF te stem.

In vorige peilings het ons gevind dat die ANC, onder pres. Jacob Zuma se bewind, veral sterk steun onder Zoeloesprekers geniet het. Dit was ook waarskynlik dat hulle, benewens die EFF en die DA, vir opposisiepartye sou stem.

Die bevindings het ook onthul dat diegene wat gesê het dat hulle in die laaste vyf jaar aan die een of ander protesaksie deelgeneem het, meer geneig was om vir ’n opposisieparty te stem.

Hoekom stem mense?

Sowat 17% van DA-kiesers het verduidelik hulle het gaan stem om opposisie in die verkiesing te verhoog en om druk op die regerende party te plaas. Hier werf die DA-leier, Mmusi Maimane, stemme voor die verkiesing. Foto: Veight Mokune

Die peiling het ’n reeks van ses vrae ingesluit waarin respondente gevra is om die redes aan te dui hoekom hulle kom stem het en die oorwegings aan te vul met “baie”, “bietjie” of “glad nie”. Die twee belangrikste redes was “want dis my verantwoordelikheid om te stem” en “om die ekonomie te verbeter”, met 90% en 87% van die respondente, onderskeidelik, wat gesê het hierdie faktore beïnvloed hulle “baie”.

Dit was nie verbasend nie dat verskillende redes kiesers beïnvloed het wat verskillende partye gesteun het. Byna twee derdes van ANC-kiesers, vergeleke met slegs die helfte van DA-kiesers, het gesê die vooruitsig van voordele van die regering het hul besluit om te stem beïnvloed.

In teenstelling hiermee het byna driekwart van die EFF-kiesers saamgestem dat “die herverdeling van grond” hul besluit om te stem beïnvloed het, vergeleke met minder as die helfte van DA-kiesers.

Hoekom kiesers ’n spesifieke party kies

’n Vyfde (20%) van EFF-kiesers het hul keuse vir wie hulle wil stem, verduidelik aan die hand van die party se beleid. Dit kan met die beloftes in die EFF se verkiesingsmanifes oor die herverdeling van grond te doen hê. Foto: Felix Dlangamandla

In die peiling is mense ook gevra om te verduidelik hoekom hulle vir ’n spesifieke party gestem het. Persoonlike identifikasie, waaronder redes wat op ’n sin vir vertroue, lojaliteit of ’n persoonlike affiniteit met ’n party gegrond is, het die meeste onder ANC-kiesers voorgekom.

Die DA- en EFF-kiesers was dié wat die meeste ’n begeerte vir “verandering” uitgedruk het as ’n invloed op hul keuse vir wie om te stem. Daar moet egter ook vermeld word dat ’n groot persentasie van die ANC-kiesers ook “verandering” as ’n motiverende faktor genoem het as rede vir hul besluit om vir die ANC te stem.

Ontvangers van toelae is statisties meer geneig is om vir die ANC te stem.

’n Vyfde (20%) van die EFF-kiesers het hul keuse verduidelik aan die hand van die party se beleid. Dit kan te doen hê met die beloftes in die EFF se verkiesingsmanifes oor die herverdeling van grond. Ons het bevind dat die herverdeling van grond ’n sterk motiveerder was vir EFF-ondersteuners om te gaan stem.

Intussen het 17% van die DA-kiesers verduidelik dat hulle gaan stem het om mededinging in die verkiesing te verhoog en om druk te plaas op die regerende party.

Ons peiling het ook insigte opgelewer of voordele soos welsynstoelae en regeringsbehuising ’n rol in kiesers se keuses gespeel het. Ons bevindings het gewys dat ontvangers van toelae statisties meer geneig is om vir die ANC te stem. Die feit dat jy ’n huis van die regering gekry het, het egter nie statisties ’n beduidende verhouding met of jy vir die party gaan stem nie.

Suid-Afrikaanse stembus-politiek

Die verskuiwingslyne wat in die peiling geïdentifiseer is, mag dalk verdiep – tot dié mate dat politieke partye dit in hul verkiesingsveldtogte benadruk.

Terselfdertyd belig die opvallendheid van faktore soos toelae en die herverdeling van grond dat partybeleid en doeltreffendheid van die regering ook saak maak.

Namate mededinging in verkiesings al meer word in Suid-Afrika, sal dit nuttig wees om die relatiewe betekenis van en interaksie tussen identiteite, beleidsvoorkeure en die doeltreffendheid van die regering te monitor.

* Runciman is 'n medeprofessor aan The Centre for Social Change by die Universiteit van Johannesburg en Paret is 'n medeprofessor in die departement van sosiologie aan die Universiteit van Utah. Die artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Jacob Zuma  |  Julius Malema  |  Gauteng  |  Verkiesing 2019  |  Maatskaplike Toelaes  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.