Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Pendoring groei en bloei ná 21 jaar

Pendoring is vanjaar 21 jaar oud. Die mondigwording van die prestige-prys vir uithaler-reklame – uit huis uit Afrikaans maar nou met die vlerke gesprei om ook reklame in ander inheemse tale te bekroon – word op 28 Oktober by Vodacom World, Midrand, gevier; op die presiese kolletjie waar die eerste treetjie op 1 September 1995 gegee is.

Op Melkbos sal ek gewis daardie Vrydagaand in vreugde ’n glasie klink. Ek is seker oudkollega Philip van Rensburg sal dit in Sunset Beach ook doen. Die loodskomiteetjie van Nasionale Koerante (die ander lid, Naas du Preez, is oorlede) mag maar trots wees op die boompie wat ons geplant het, meen ek. Dat dit ná 21 jaar steeds groei en bloei, getuig seker dat die wortels gesond gevestig is.

Eer en dank aan die res van die span boompieplanters – dr. Frits Kok en Giep van Zyl van die ATKV, reklamekenner De Waal Venter, ontwerper Ian Bekker en andere – en eer en dank aan al diegene wat die boompie in latere jare natgelei en sorgsaam vertroetel het. Dit is ’n groot gros besielde mense.

Wat dalk al in vele kringe vergeet is, is in watter swak grond en onheilsame klimaat daardie boompie in die 90’s geplant is. Die atmosfeer van die tyd word goed opgesom deur ’n Engelse reklamebaas wat ná ’n paar Skotse watertjies nogal by ’n Nasionale Koerante-okkasie in die Jakkalsebessiekamp in die Krugerwildtuin pront teenoor sy gashere verklaar het: “Afrikaans is history”. Ewe onvriendelike uitsprake van eendersdenkende wysneuse was tiekie die bos.

Die Afrikaanse koerant kon die dreigende stormwolke vir sy broodnodige advertensies sien aanrol. Hy kon inderdaad voel soos Mark Twain ná ’n premature doodsberig: “The news of my death is (greatly, voeg sommige verkeerdelik by) exaggerated.” In die tyd het ’n spotprentjie van my in die bedryfspers verskyn wat nou nog teen ’n muur in my studeerkamer hang. Ek sit, koerant in die hand, en blaf in die telefoon: “I wish to report a mistake. The Afrikaans press is not dead!”

Die aanleiding was ’n toespraak by ’n geleentheid van Beeld, susterkoerant van Volksblad, waarin ek bruisend verklaar het: “Vir die doempofete sê ek vanaand: Trek uit u begrafnisklere. Gooi weg u kransies. Laat die vonkelwynproppe klap dat ons partytjie kan hou!”

Sê is een ding. Siniese reklamebase oortuig, is ’n ander. Hoe bewys ’n mens aan die skeptici met vers en kapittel jy is ver van jou laaste asem uitblaas? Jy kan die een of ander langtermyn-avontuur aanpak wat jou lewenskragtigheid illustreer. Dit is hoe Pendoring ontstaan het – as aksie om Afrikaanse reklame, die lewensbrood van ons koerante, te stimuleer.

Die gelukkige naam met sy ryke simboliek was, ironies genoeg, eintlik ’n tweede keuse. Die eerste keuse was die Goue Protea. Dit het gesneuwel omdat ons daarmee voorgespring is. Die ervare De Waal Venter, wat as raadgewer nadergetrek is, het met die vindingryke Pendoring vorendag gekom. Sy inspirasie was die boek Pendoring en Kie van As van Straaten, wat pas verskyn het. Die naam impliseer ook, uiters gepas, “skerp Afrikaanse reklame”. Daaroor was De Waal passievol.

Die eerste sooi is gespit, as’t ware, in Maart 1993 op ’n klein eerste vergadering in die ou Beeld-gebou in Doornfontein Johannesburg. Die register van teenwoordiges was: Hennie van Deventer (uitvoerende hoof: koerante van Naspers), Naas du Preez (hoof: bemarking van koerante) en Philip van Rensburg (ontwikkelingsbestuurder). Al drie was, terloops, oud-Volksbladmanne. Al drie was in verskillende eras nuusredakteurs. Naas is later weer daarheen terug as bestuurder.

Die vraag op die tafel: Hoe kan ons Afrikaanse advertensies bevorder? Die idée van ’n nuwe prys vir goeie reklame in Afrikaans is opgewonde omhels. Die scenario was dat die ATKV se bestaande Veertjie-toekenning plek maak vir ’n prys wat aan uitnemendheid oor ’n breër front erkenning sou gee. (Veertjie het net kopie vereer terwyl ons idée was om ook uitleg, klinkreëls, TV, radio en selfs produksie in te sluit).

Die ATKV is uit die staanspoor ten volle betrek. Direkteur Frits Kok, altyd gretig op soek na nuwe weë om Afrikaans te bevorder, was dit tot sy krediet dadelik met my eens oor die verdienste van die idee. Die ATKV het ’n gedugte vennoot geword.

Voor die einde van 1993 was die bal lekker aan die rol, hoofsaaklik weens die ywer en entoesiasme van Philip van Rensburg. Die eerste konsep van die Goue Protea (soos dit toe nog geheet het) was op die tafel; my goeie kollega Salie de Swardt (uitvoerende hoof: tydskrifte) het sy afdeling se aansienlike gewig ingegooi, en M-Net het saam met Koerante en Tydskrifte die hoofborge geword. Radio Suid-Afrika het die uitsaaiborg geword. In 1994 het De Kat en Dagbreek Trust ook aan boord gekom.

Die gerekende Ian Bekker van Lindsay-Smithers (latere ontwerper van die nuwe landswapen) het die netjiese logo ontwerp. Sy stylvolle pendoring is vandag nog in gebruik. Aan Giep van Zyl van die ATKV is die taak opgedra om “beeldjies” van die logo te maak wat aan die wenners oorhandig kon word. Die resultaat was bo verwagting. Ek is spyt ek het nie een “verduister” as ’n soewenier nie.

Vir reklame is veral Nasionale Koerante se nuusbrief Front Page ingespan. Die veldtog het nie sonder kritiek verloop nie. Front Page het ’n hele pakkie snedige briewe ontvang van Engelssprekendes in die bedryf wat neerhalend teenoor Afrikaans en skepties oor ons planne was. Ons het vasgebyt en deurgedruk.

Geloofwaardigheid is vir so ’n nuwe prys natuurlik van deurslaggewende belang. Veral De Waal Venter het ’n groot rol gespeel om ’n uiters bekwame groep beoordelaars saam te stel. Een lid was ’n Nederlandse advertensieghoeroe van formaat. Inskrywings het ingestroom. Die getal en gehalte het alle verwagtinge van die Pendoring-komitee oortref.

Op 24 Junie 1995 wen Suid-Afrika die Rugby-wêreldbeker op Ellispark. Twee maande later, op 1 September 1995, maak Pendoring sy glansryke buiging. Die eerste beeldjies kry baas op ’n glansgeleentheid by Vodacom se elegante nuwe gebou en teater in Midrand.

Nou-ja, ek het weliswaar nie ’n beeldjie gegaps as soewenier nie. In my woonkamer in Sabiepark neffens die Kruger-wildtuin was egter ’n hele Pendoring-uitstalling: erde wynglase en koffiebekers met die Pendoring-logo op, asook ’n klein erde karba’tjie met lemoenlikeur, wat tradisioneel op prysaande aan gaste uitgedeel is. ’n Jaar of wat gelede het ’n voor-op-die-wa veldlikkewaan hom in my boshuis tuisgemaak en verwoesting aangerig. Van die erdeware het, helaas, maar min heel gebly.

Waaraan die likkewaan nie kon skade aanrig nie, is die gevoel van genoegdoening dat ek en my kollegas by Nasionale Koerante met die stigting van Pendoring 21 jaar gelede vir Afrikaans, die Afrikaanse media en Afrikaanse reklame iets van blywende waarde help skep het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.