Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Persvryheid: Die beste entstof is inligting

Wêreldpersvryheidsdag word vandag (3 Mei) dwarsoor die planeet gevier. Prof. Lizette Rabe skryf hoekom dit ook vir jóú belangrik is.

Mense fynkam verlede jaar ’n koerant om meer oor die staat van inperking te wete te kom. Foto: Gallo Images

Die ware betekenis van mediavryheid is pas beklemtoon, en dit uit ’n onwaarskynlike oord. Nie net het pres. Cyril Ramaphosa voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping die media se “patriotiese” en “fenomenale” rol in die blootlegging van staatskaping geloof nie, maar die span van adjunkhoofregter Raymond Zondo het dit onderstreep deur te sê die media-ondersoeke “het in ’n groot mate die werk van die kommissie gefasiliteer”.

Daar is sowaar nie ’n groter pluimpie vir die media nie – of ’n groter bewys nie dat mediavryheid dié pilaar is wat ’n demokrasie verseker. Daarom ook dat ons as publiek Wêreldpersvryheidsdag moet vier, want dis presies waaroor mediavryheid gaan: om die magtiges verantwoordbaar te hou.

Dis boonop ’n spesiale geleentheid vanjaar – dis 30 jaar ná die Windhoek-Verklaring van 3 Mei 1991 ná ’n konferensie oor persvryheid in die Namibiese hoofstad. Unesco het daarna dié datum as Wêreldpersvryheidsdag verklaar om die onontbeerlikheid van persvryheid – of dan mediavryheid in vandag se digitale wêreld – te beklemtoon.

Mediavryheid word bedreig in meer as 130 van die 180 lande wat die groep Verslaggewers Sonder Grense (RSF) vanjaar ondersoek het.

Die tema vanjaar, “die joernalistiek as openbare bate”, is veral in die tyd van ’n pandemie belangrik, want inligting bemagtig; daarom dat gesê word inligting is jou “beste entstof”.

Die slegte nuus is dat terwyl inligting jou “beste entstof” is sodat jy ingeligte besluite kan neem, mediavryheid bedreig word in meer as 130 van die 180 lande wat die groep Verslaggewers Sonder Grense (RSF) vanjaar ondersoek het.

Daarom ook moet vanjaar se tema van die joernalistiek as openbare bate juis dien as wekroep om die belangrikheid van die media vir ons gewone mense te beklemtoon, sê Unesco. Met die inploffing van tradisionele drukmedia, en met digitale nuusmedia wat nog sy voete moet vind, is dit van “dringende belang”, want ’n vrye media het ’n invloed “op ons gesondheid, ons menseregte, demokrasieë en volhoubare ontwikkeling”.

Vanjaar se indeks dui aan dat die joernalistiek “totaal geblokkeer” of “ernstig bedreig” is in 73 lande. In nog 59 lande word dit “ingeperk”. Saam is dit amper driekwart van al die lande wat geëvalueer is.

Waar staan Suid-Afrika?

pers

Waar staan Suid-Afrika? Dis een van die goeie nuus-stories in ’n tyd van hoofsaaklik slegte nuus: Danksy ons Grondwet se Handves van Menseregte word vryheid van spraak en media beskerm en kan die regering nie sommer daaraan karring nie.

Suid-Afrika is vanjaar op plek 32 uit die 180 lande; een laer as verlede jaar. Toe die Persvryheidsindeks in 2002 deur RSF begin is, was ons op plek 26. Die jaar daarna was dit 21, ons beste nóg. Ons slegste jaar was in 2012, op 52, toe daar allerlei bedreigings teen die media was. Vanjaar word mediavryheid beskryf as “gewaarborg, maar broos”. Ons is gegroepeer onder dié lande waar mediavryheid as “taamlik goed” beskryf word. In slegs amper 7% van lande is dit “goed”; in die ander lande “problematies”, “sleg”, of “uiters sleg”.

RSF skryf dat vanjaar se inligting dui op ’n globale “dramatiese verslegting” van mense se toegang tot inligting. Daar is ook al hoe meer struikelblokke vir joernaliste, terwyl die pandemie reeds ’n vernietigende uitwerking op die sakemodelle van mediahuise gehad het.

Dis juis professionele joernalistiek op hoofstroommedia-platforms wat danksy ’n veelheid van stemme waninligting en 'infodemies' kan bekamp.

Die pandemie is ook gebruik as rede om toegang tot inligting te blok, met die ironie dat inligting juis die beste “entstof” is. Hoe meer ingelig burgers is, hoe beter die besluite wat hulle kan neem. Die feit dat die 2021 Edelman Trust-barometer boonop bevind het dat die publiek die media toenemend wantrou, is óók problematies. Altesame 59% van respondente in 28 lande het gesê dat joernaliste die publiek doelbewus mislei, wat natuurlik die agenda van diegene wat graag die hoofstroommedia “fake media” noem, pas. Maar dis juis professionele joernalistiek op hoofstroommedia-platforms, hetsy digitaal of drukmedia, wat danksy ’n veelheid van stemme waninligting en “infodemies” kan bekamp.

Dis presies hoekom Christophe Deloire, RSF-sekretaris-generaal, sê dat joernalistiek die “beste entstof teen waninligting” is. Maar dis ook waarom hoofstroommedia gedwarsboom word deur politieke, ekonomiese, tegnologiese en selfs kulturele faktore.

Prof. Lizette Rabe Foto: Jaco Marais

Die presidente van Brasilië (op 111) en Venezuela (op 148) het byvoorbeeld albei medies onbewese Covid-19-medikasies bevorder. In ons buurland Zimbabwe (130) is die ondersoekende joernalis Hopewell Chin’ono gearresteer nadat hy Covid-19-bedrog in hospitale onthul het. In Egipte (166) is die publikasie van pandemiestatistiek wat nie deur die regering uitgereik is nie, verbied.

Dis natuurlik geen verrassing nie dat die top-vier posisies dié van die Skandinawiese lande Noorweë, Finland, Swede en Denemarke is – soos die afgelope klompie jare. Daar was egter nog nooit so min lande waar mediavryheid as “goed” beskryf kon word nie – skaars 7%, of 12 van 180 lande.

Die VSA, op 44, is saam met Suid-Afrika in die groep van “taamlik goed”, ondanks die feit dat in Donald Trump se laaste jaar ’n rekord-getal joernaliste – 400 – aangerand en 130 mediawerkers gearresteer is.

Wat Suid-Afrika betref, was RSF se vertrekpunt, soos altyd, die Grondwet van 1996 wat mediavryheid verskans. Ondersoekende joernalistiek is “goed gevestig”, hoewel wette uit die apartheidsera wat steeds nie geskrap is nie, “enige tyd” teen die media ingespan sou kon word.

Want natuurlik, in ’n land met ’n dominerende eenparty-regering, kan ’n mens wel vra hoe diep die demokrasie dan is. Want, o ja, voeg die verslag by, die Staatsveiligheidsagentskap spioeneer op joernaliste en tap hul fone. En, o ja, joernaliste is onderhewig aan intimidasieveldtogte. Om nie te praat van kuberboelies nie.

Dis natuurlik veral vroulike joernaliste wat die teiken is van sulke veldtogte waarin hulle bespot, verneder, beledig en selfs gedreig word.

Ferial Haffajee, veteraan-joernalis, oudredakteur van die Mail&Guardian en oudvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum, het al só deurgeloop dat sy haarself as “roadkill” van sulke boelieveldtogte beskou. In voorvalle van kuber-misogenie is sy uitgebeeld as van ’n prostituut tot ’n koei. Hulle kon sowaar nie meer stereotipies seksisties raak nie, het sy geskryf.

Die impak van die pandemie

Mense betoog in November verlede jaar teen planne van die SAUK om joernaliste af te dank. Foto: Gallo Images

En dan, natuurlik: Die impak van die pandemie op die mediabedryf. In Suid-Afrika is honderde mediaposte afgeskaf en drukpublikasies is óf toegemaak óf hul frekwensie is verminder.

Die Windhoek-Verklaring van 1991 het destyds vir die “ontwikkeling van ’n vrye, onafhanklike en pluralistiese pers” gevra. Vanjaar fokus Unesco – ook met ’n konferensie die afgelope aantal dae in Windhoek – op die ekonomiese volhoubaarheid van die nuusmedia. Nog ’n fokus is maniere om internetmaatskappye meer deursigtig te maak. Ook moet media- en inligtingsgeletterdheid die publiek bemagtig om joernalistiek as ’n lewensnoodsaaklike “openbare bate” te eis én te verdedig. Die “uitwissing” van plaaslike nuusmedia, ’n krisis wat deur Covid-19 vererger is, was ook op die agenda.

Hou asseblief daardie potlode skerp.

Slotsom: In ons era van digitale media is dit eintlik nóg belangriker dat die reg op inligting as openbare bate beskerm word. Dus, aan my joernalistiekkamerade: hou asseblief daardie potlode skerp (en dankie aan almal van julle).

Aan jou as leser: Koester jou vryheid om inligting te mag soek, deel en ontvang. Dié vryheid is die enigste buffer teen ’n situasie waarin geen individu vry kan wees nie. En soos RSF se leuse lui: “Moenie wag om ontneem te word van mediavryheid voordat jy dit moet verdedig nie!”

• Prof. Rabe is voorsitter van die departement joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch en skrywer van A Luta Continua – A History of Media Freedom in South Africa (AfricanSUNMedia, 2020).

Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

• Op 10 Mei word ’n paneelbespreking oor mediavryheid by die departement aangebied waaraan Netwerk24 se hoofredakteur, Henriëtte Loubser, ook deelneem (sien Events - Joernalistiek: Paneelgesprek vir Wêreldpersvryheidsdag . . . (sun.ac.za) vir meer inligting).

• Bronne:

Lees Unesco-artikels hier.

Lees Persvryheidsindeks van Verslaggwers Sonder Grense hier

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.