Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Pessiekte is mens se konstante reisgenoot

Die uitbreking van die siekte wat veroorsaak word deur die nuwe koronavirus, Covid-19, en die internasionale impak daarvan noop die internasionale gemeenskap om opnuut oor pandemies soos hierdie te besin, skryf Jo-Ansie van Wyk.

Ten spyte van sy ekonomiese sukses, is China weer eens die ontstaanskern van ’n wêreldwye pandemie. Foto: Getty

Pessiektes en pandemies blyk een van die konstante reisgenote van die mensdom te wees.

Bybelse verwysings na plae, peste en pandemies is volop. Die Griekse geskiedkundige Herodotus het die Egiptiese plae rondom 1570 tot 1550 v.C. dateer.

Die lotgevalle van gemeenskappe, state en streke word dikwels deur gesondheidsvraagstukke bepaal. Veranderende klimaatstoestande, verstedeliking, armoede, swak maatskaplike en higiëniese toestande, gepaardgaande met swak regering en konflik, lei dikwels tot grootskaalse politieke herorganisering en mediese vooruitgang.

Tydens die oorlog tussen Athene en Sparta het die Atheense Plaag van 430 v.C. uitgebreek. Athene het ’n derde van die bevolking net weens die plaag verloor.

Maatskaplike verval tydens die Eerste Wêreldoorlog het die verspreiding van griep (influensa) of Spaanse griep bespoedig en die lewe van sowat 50 miljoen mense wêreldwyd geëis.

Egiptiese graan wat per skip na Europa uitgevoer is, het ook die rotte soontoe vervoer wat in 541 n.C. die sogenaamde Justiniaanse Plaag veroorsaak het. Die pessiekte is na Justinianus I, die keiser van die Oos-Romeinse Ryk, genoem omdat hy dit self opgedoen het. Justinianus het oorleef, maar 25 miljoen mense in sy ryk het nie.

Tydens die mede-regent-regering van die Romeinse keiser Markus Aurelius Antonius saam met Lucius Verus het die pokke-epidemie in 165 uitgebreek. Dit het eers in 180 uitgewoed nadat ongeveer 5 miljoen mense gesterf het. Die sogenaamde Antoniaanse Plaag, wat na Markus Aurelius Antonius vernoem is, het vermoedelik in Mesopotamië (in hedendaagse Irak) uitgebreek en is deur terugkerende Romeinse soldate ná die beleg van Seleukia in die ryk versprei.

Die Builepes, Die Pes of die Swart Dood wat deur die bakterie Yer­sinia pestis veroorsaak is en wat in die 14de eeu (1347 tot 1351) in Europa uitgebreek het, het sowat die helfte van die Europese bevolking uitgewis. Pandemies het dikwels ook via ontdekkings- en handelsroetes soos die Syroete versprei, waar bevolkings met lae of geen weerstand dikwels geraak is. So is die Asteke in die hedendaagse Mexiko in die 17de eeu deur Spaanse conquistadors met pokke besmet en berekenings dui daarop dat 3,5 miljoen mense in die eerste jaar van die epidemie gesterf het.

Die 20ste eeuse toename in die interkontinentale beweeglikheid van die mensdom het pandemies soos MIV/vigs, Ears (2003), H1N1, Zika en Ebola spoedig in ’n internasionale krisis laat ontaard.

Kundiges reken dat dit steeds moeilik is om die uitbreking en verspreiding van aansteeklike siektes te voorspel. Wetenskaplikes krap steeds kop oor die verspreiding van siektes tussen dier en mens.

Geskiedkundige epidemies, soos bogenoemde voorbeelde, het egter ook ’n bydrae tot wetenskaplike vooruitgang in onder meer epidemiologie en beter mediese praktyke en beleidsrigtings gelewer.

grafika

Die Europese cholera-pandemie van die 1830’s word beskou as die eerste pandemie wat wetenskaplik bestudeer en bestuur is. Die Franse regering het byvoorbeeld wetenskaplikes na geraakte gebiede in Pole en Rusland gestuur, kwarantyngeriewe gebou en gesondheidsbestuur verbeter.

Desnieteenstaande het cholera wel op 29 Maart 1832 in Parys uitgebreek, met ongeveer 1 000 aangetekende gevalle in die eerste twee weke.

Die groot menslike tol en die wêreldwye verspreiding van die Covid-19-virus (soos wat die nuwe koronavirus pas deur die Wêreldgesondheidsorganisasie herdoop is), waarvan die uitbreking reeds op 31 Desember 2019 in die openbaar aangekondig is, het talle aspekte van nasionale en internasionale gesondheidspolitiek blootgelê.

Ons kyk vervolgens na enkele aspekte.

Nuwe siektes, meer siektes sonder grense

Die Covid-19-virus het bevestig dat ons toenemend in ’n wêreld van siektes sonder grense leef. Omstredenheid en wanopvattings, wat deur samesweringsteorieë aangewakker word, heers rondom die Covid-19-virus terwyl besmettingsgetalle en sterftes toeneem.

Waar MIV/vigs as die groot pandemie van die 20ste eeu beskou kan word, kan die Covid-19-virus as die grootste 21ste eeuse pandemie tot dusver beskou word.

Dit is ook een van ’n handvol pandemies wat sedert die stigting van die Wêreldgesondheidsorganisasie as ’n internasionale gesondheidsnoodtoestand beskou word. Die ander is varkgriep (2009), polio (2014), Ebola (2014 en 2019) en Zika (2016).

grafika

Insigte oor China

’n Gespierde draak met twee koppe

Een van die duidelikste aspekte van die Covid-19-virus is die insigte wat dit in die Chinese politiek en samelewing oplewer. Wêreldwyd gooi China sy lyf rond met toenemende teenwoordigheid in Afrika, sy trans-kontinentale idee, die Gordel en Pad-inisiatief (nog ’n handelsroete), en ’n groter gebalde vuis wat sy militêre mag verteenwoordig.

China het die afgelope twee dekades in baie opsigte verander. Dit bly egter nog ’n hardhandige staat wat universele menseregtenorme fnuik.

Hoewel dele van die Chinese bevolking bogemiddelde welvaart geniet, is die meeste Chinese steeds ekonomies gemarginaliseerd en armoedig. Die draak het dus twee koppe: armoede en welvaart en internasionale spierkrag, maar hardhandige huisreëls.

Propaganda en gekrenkte nasionale eer

Alle state streef daarna om internasionale prestige en status te geniet. Ten spyte van sy ekonomiese sukses, is China weer eens die ontstaanskern van ’n wêreldwye pandemie.

Die Chinese regering het aanvanklik die uitbraak ontken en die dood van een van die fluitjieblasers word beskou as een van die omstrede optredes van die Chinese regering om sy waardigheid te behou. Internasionale druk van state waarvan hul burgers besmet is en as draers beskou word, het moontlik China se nasionale eer gekrenk as ’n samelewing waar eer en agting so hoog aangeslaan word.

Die hantering van die vraagstuk deur die Chinese media (wat hoofsaaklik aan die regering behoort en dus ook aan die regering onderworpe is) is ook insiggewend.

Ekonomiese impak en tegnologiese vernuf

Vooruitskattings van die Chinese ekonomie vir 2020 blyk dit eens te wees dat die Covid-19-virus ’n wesentlike invloed gaan hê. Die Ears-epidemie van 2003 het die Chinese ekonomie met 2% laat inkrimp.

Sedert die Chinese nuwe jaar is dele van die ekonomies aktiewe Chinese bevolking onder huisarres, fabrieke is gesluit, en vervaardiging en uitvoere word beperk.

Hierdie week het die nuusagentskap Al Jazeera berig dat Chinese megamaatskappye in verskeie sektore reeds by die regering om hulp aangeklop het om die impak van die pandemie te buffer. Enkele voorbeelde sluit Meituan-Dianping (voedsel), Xiaomi Corp (slimfone), DiDi Chuxing Technology Co (vervoer), Megvii Technology Inc (gesigsherkenningstegnologie) en Qihoo 360 Technology Co (kuberveiligheid) in.

Maatskappye wat op een of ander wyse by die bekamping van die virus en die gesondheidsektor betrokke is, het ook reeds om regeringshulp aangeklop. Xiaomi Corp is byvoorbeeld die vierde grootste slimfoonvervaardiger ter wêreld en het ’n staatslening ter waarde van vyf miljard yuan ($716 miljoen) aangevra. ’n Bedrag van $573 miljoen is deur Meituan-Dianping, ’n voedselafleweringsonderneming, versoek. DiDi Chuxing het $7,2 miljoen en Qihoo $143,3 miljoen in lenings aangevra om mediese produkte aan te koop en apps te ontwikkel om die verspreiding en monitering van die virus te volg. Megvii het aansoek gedoen vir 100 miljoen yuan om gesigsherkenningstegnologie te ontwikkel wat die akkuraatheid om gemaskerde persone te identifiseer insluit. Dié maatskappy is op die Amerikaanse swartlys geplaas weens sy beweerde betrokkenheid by menseregteskendings van die Chinese regering.

Al Jazeera het voorts berig dat die plaaslike kantoor van die staat se belangrikste ekonomiese beplanningsagentskap, die nasionale ontwikkelings- en hervormingskommissie, reeds met ’n opname begin het om maatskappye vir lenings te identifiseer.

Die krisis het egter ook vernuftigheid inspireer. Xinhua, hoewel ’n regeringsnuusagentskap, het die afgelope week berig oor die veerkragtigheid van die Chinese bevolking. Daar is onder meer berig oor die bloeiende sogenaamde homebody economy. Dit verwys na die toename in aanlyn dienste in sektore soos voedsel, gebruiksartikels en opleiding en onderrig omdat groot dele van die bevolking tuis vasgekeer is en openbare voedselmarkte gesluit is.

JD Fresh, ’n varsprodukteverskaffer, het ’n toename van 215% in aankope sedert die Chinese Nuwejaar. ’n Varsprodukte-app, MissFresh, het ’n toename van 300% in bestellings ervaar. Aanlyn opleidings- en opvoedingsgeleenthede het ook drasties toegeneem. Volgens Xinhua het meer as 20 aanlyn opleidingsagentskappe gratis kursusse bekend gestel sedert die virusuitbreking, waaraan meer as 2 miljoen Chinese deelneem.

Die mediese sektor het ook veranderings ondergaan. Die land se nasionale gesondheidskommissie het aanlyn mediese konsultasies vir die voorkoming en beheer van die virus aangekondig. Aanlyn platforms soos Alibaba en JD.com bied gratis konsultasies deur dokters aan. Alibaba het berig dat hy binne die eerste 24 uur van die beskikbaarheid van die diens byna 400 000 besoekers gehad het.

Die Xi-kultus

Chinese media-agentskappe het veral ook baie oor die betrokkenheid van die Chinese president en hoofsekretaris van die Chinese Kommunistiese Party (CKP), Xi Jinping, berig.

Xi word reeds erken as een van die groot Chinese denkers en in 2019 is sy denkrigting in die Chinese grondwet opgeneem. Hy word geloof vir sy binnelandse vernuwing en opbou en sterk buitelandse ambisie. Laasgenoemde sluit voorbeelde soos die Gordel en Pad-inisiatief, die modernisering van die Chinese vloot en leër, aansprake op die Suid-Chinese See en oorsese militêre basisse in.

Berigte oor Xi fokus hoofsaaklik op sy stellings en uitsprake oor die paraatheid, veerkragtigheid en oorlewingsvermoë van die Chinese bevolking. Xinhua beskryf hom só: “Xi is die bevelvoerder in die volksoorlog teen die epidemie” en berig ook “Xi beloof om die volksoorlog teen die unieke koronavirus te wen”.

Xi beskryf Wuhan, waar die virus uitgebreek het, as ’n “heldhaftige stad”. Verwysings na “Xi die Bevelvoerder” kom gereeld voor wanneer na sy hantering van die epidemie verwys word.

Xinhua berig Wuhan het 34 000 staatsamptenare en CKP-lede in 1 100 gemeenskappe ontplooi vir die “volksoorlog” om die virus te bekamp. ’n Verdere 16 700 amptenare van onder meer staatsmaatskappye sowel as nog 17 700 CKP-lede is ontplooi.

China en moderniteit

Hoewel onsekerheid heers oor die oorsprong van Covid-19, is daar aanduidings dat dit moontlik ’n seekosmark in die stad Wuhan kan wees. Wilde diere word onwettig op dié mark verhandel.

Jo-Ansie van Wyk

’n Vermoede bestaan dat besmette diere soos ietermagôs die virus kon oorgedra het. Ietermagôs, wat wydverspreid in Suid-Afrika voorkom en waarmee onwettig met Asiatiese lande handel gedryf word, is ’n delikatesse in Asiatiese kos en word ook medisinaal gebruik. Ander diere soos slange en vlermuise kan ook moontlike oorspronklike bronne wees.

Daar word dikwels in Engels na ’n “disease” (siekte) as ’n “dis-ease” verwys. Die Covid-19 virus ontbloot ’n paar ongemaklikhede binne die internasionale politiek en bied enkele insigte in die Chinese staat, sy weerbaarheid en sy bevolking.

Siektes het in die verlede oor die mensdom se lot beskik en sal dit in die toekoms weer doen. Voorkoming, bekamping en aanmelding is enkele van die maniere om die wêreldwye uitwerking van pandemies aan te pak. Dit is nog te vroeg om te bepaal in watter mate Covid-19 ’n ware waterskeiding in China gaan wees.

  • Prof. Van Wyk is ’n hoogleraar in internasionale politiek aan Unisa. Haar belangstellings sluit die internasionale politiek van gesondheid in. Sy doen tans navorsing oor die internasionale politiek van radio-farmaseutiese produkte.
Meer oor:  Jo-Ansie Van Wyk  |  China  |  Covid-19-Virus  |  Gesondheid  |  Koronavirus  |  Siekte  |  Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.