Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Peuter met gedrag en jy peuter met ekonomiese gevaar

Die ekonomiese gedragsalgoritmes van mense is drasties aangetas gedurende die staat van inperking en die regering kan gerus na sy Ekonomiese Teorie van Menslike Gedragsalgoritmes kyk met die oog op herstrukturering ná Covid-19, skryf Rhynie Greeff.

Net toe mense weer daaraan gewoond geraak het om drankwinkel toe te mag gaan, is die verkoop van alkohol weer in Suid-Afrika verbied. Foto: Gallo Images

As mededingingsekonoom is dit vir my ooglopend dat staatsbeheer wêreldwyd deur virusinperkings versterk is.

Met bultende spiere van magsbeheer pronk ons regering oor hoe hy post-Covid-19 die tempo van radikale ekonomiese transformasie gaan bepaal. Ek dink egter die tempo van ekonomiese transformasie gaan deur ander ritmes bepaal word. Dis ritmes wat besigheidsblinde amptenare nie eens met GPS-koördinate in braille sal vind nie – algoritmes.

Wat is algoritmes?

Dis algemene kennis dat ons op algoritmes dobber in digitale dokplekke soos Google, Twitter, Facebook, Zoom en Skype.

Algoritmes is mos daardie ultramoderne vaaghede wat regerings gaan dwing om hul spreekwoordelike administratiewe wasgoedpennetjies uit te haal vir die meer aanlyn ekonomie ná die virus.

’n Algoritme het drie elemente: ’n volgorde van goed gedefinieerde instruksies met ’n einde en suksesvolle oplossing.

Foutjie, outjies. Algoritmes is meer as 1 100 jaar oud.

Dit is ontwikkel deur ’n negende eeuse wiskundige wat in die Groot Biblioteek van Bagdad gewerk het – Moehammad ibn Musa al-Khwarizmi (uitgespreek as algarismi). Sy tegniek het algorismus in Latyn geword. Algebra, daai goed waarmee so baie skoliere bra sukkel, is vernoem na al-Khwarizmi se boek Al-jabr (uitgespreek as al-gaber).

So wat is hierdie antieke ding? ’n Algoritme het drie elemente: ’n volgorde van goed gedefinieerde instruksies met ’n einde en suksesvolle oplossing.

Teorie van algoritmes van menslike gedrag

Ja, daar is algoritmes in geprogrammeerde stappe na suksesvolle rekenaaroplossings. ’n Rekenaar is egter vir my net ’n verlenging van die menslike brein.

Daarom sien ek ook algoritmes van menslike gedrag.

Daagliks gebruik ons onbewustelik persoonlike algoritmes.

Tannie Sus, jou koekresep het algoritmies gedefinieerde stappe. Slaan ’n stap oor en jou koek flop.

Algoritmes is in ons kop of op papier. Dis nie net digitaal nie.

Die mense wat by jou kom kuier, tannie Sus, gebruik algoritmes op pad. As hulle ’n stap op die roete miskyk of oorslaan, verdwaal hulle.

Algoritmes is in ons kop of op papier. Dis nie net digitaal nie.

Selfs al maak jy ’n gordyn oop of toe moet jy goed gedefinieerde stappe volg vir ’n suksesvolle resultaat.

Ek het my teorie van gedragsalgoritmes getoets met my vriend Philip Welman wat ’n doktorsgraad in wiskundige statistiek het. Hy stem saam.

Wat doen gedragsalgoritmes?

Een van die lewensbelangrike plekke in enige ekonomie is produkte se rakruimte, want rakruimte het met gedragsalgoritmes te doen.Foto: Gallo Images

Elke ekonomie ter wêreld, insluitende Suid-Afrika, is ’n selfaangedrewe miernes van ontelbare daaglikse algoritmes van menslike gedrag. Al hierdie atomistiese prosesse, stappe, uiteindes en plekke van produktiwiteit bepaal hoe die ekonomie, soos ’n koek, flop of floreer.

In elke ekonomie is daar welvaartverbruikers (die bevolking) met hul individuele gedragsalgoritmes. Daar is welvaartskeppers met húl gedragsalgoritmes (entrepreneurs, beleggers, innoverende werkers). Dan is daar welvaartverdelers (regerings) met húl gedragsalgoritmes om die algemene belang te dien, uitbuiting te keer asook finansieel en maatskaplik te help waar nodig.

Wat gebeur as gedragsalgoritmes bots? Wat as dié van die regering dié van welvaartverbruikers en welvaartskeppers verander?

Internasionaal het onvoorbedagte regerings vanjaar ekonomiese gedragsalgoritmes van welvaartverbruikers en welvaartskeppers drasties aangetas.

So het Suid-Afrikaanse regeringsbesluitnemers, salig onbewus van wat hul drakoniese inperkingsbevele doen, die gedragsalgoritmes van ons welvaartverbruikers en welvaartskeppers byna vernietigend verander met nuwe, swak gedefinieerde instruksies, omgeruilde stappe, uitgewiste stappe en verlore ekonomiese plekke.

Tussen wisselvallige instruksies van ons irrasionele bevelsraad was daar ’n kort venster waarin Kanonkop met goeie voetwerk oorsese inlysting en rakruimte kon behou.

Een van die lewensbelangrike plekke in enige ekonomie is produkte se rakruimte, want rakruimte het met gedragsalgoritmes te doen. Die begrip rakruimte het ongelukkig geen ruimte in die woordeskat van rompslompbeheerders nie ten spyte daarvan dat hulle persoonlik rakruimte ervaar.

Tannie Nkomekstopsuipery en ander Covid-19-beheerders kan, soos jy en ek, ’n trollie in die plaaslike supermark stoot na die presiese ry en rak waar hul gunstelingtamatiesous altyd staan. Produkte het plekke. Jy kan ’n kloutjie uitsteek, die produk van die rak in die trollie plaas, maar jy moet darem ook die kloutjie by die oor sit. My boodskap aan die bevelsraad: Rakruimte bepaal produktiwiteit.

Neem, byvoorbeeld, ons wynuitvoerders wat gely het onder onsinnige staatsbesluite gedurende die inperkingstyd.

Johann en Paul Krige, mede-eienaars van die Kanonkop-wynlandgoed, vertel my dat hulle op “inlystings” werk by groot oorsese kettingsupermarkte. As jou wynuitvoer oorsee ingelys is, is jou produkte op die rak en hulle verkoop.

Dit vat maklik 18 tot 24 maande om met wynproeë, onderhandelinge en spesifikasies ingelys te word. Jy wil dus nie uitgelys word nie. As jy eers van die rak verdwyn, is dit moeilik om terug te kom. Substitute neem jou plek. Hierdie substitusie is in my oë die veranderde gedragsalgoritmes van kopers.

Die Kriges sê oorsese kettingkopers het begin twyfel of wyn weens regeringsdiktate later in 2020 van Suid-Afrika gelewer sou word en begin praat oor kansellering van inlysting.

Tussen wisselvallige instruksies van ons irrasionele bevelsraad was daar ’n kort venster waarin Kanonkop met goeie voetwerk oorsese inlysting en rakruimte kon behou.

En, sug, op 13 Julie 2020 stel die regering die drankverbod weer in.

Daar is ’n totale gebrek aan begrip van die een persoon wat die staat eintlik sentraal sien in radikale ekonomiese transformasie – die werker.Foto: Gallo Images

Vernietigingsaksies op wyn sowel as sigarette het bewys ons regering verstaan nie rakruimte en gedrag nie.

Ons bevelsraad het wettige sigarette se rakruimte doodgeblus en met onwettige sigarette by onwettige rakruimte in die strate naby taxi-staanplekke en die agterdeure van spazawinkels vervang.

Met gebrekkige sakevernuf het die staat belastingontduiking as nuwe gedragsalgoritme vasgemaak. En wat gaan skelms en eienaars van klein winkels se gedragsalgoritmes by uiteindelike wettiging wees? Ek dink ’n persentasie onwettige gedrag sal aanbly. Die staat het kopers en smokkelaars nuwe gedragsalgoritmes gegee wat stram gaan bly wanneer wettige sigarette weer toegelaat word.

Ek sien ’n totale gebrek aan begrip van die een persoon wat die staat eintlik sentraal sien in radikale ekonomiese transformasie – die werker.

Kleinsake-eienaars sal wil verhoed dat iets Mafia-agtig met winkel of familie “gebeur”. Gewoond aan onwettige smaak sal baie kopers waarskynlik, wanneer onwettige sigaretpryse later val (soos wat dit sal), by die goedkoper smokkelproduk bly.

Die regering se getorring met gedragsalgoritmes gaan egter baie wyer as die rakruimte van wyn en sigarette. Ek sien ’n totale gebrek aan begrip van die een persoon wat die staat eintlik sentraal sien in radikale ekonomiese transformasie – die werker.

’n Werker se pos is sy of haar persoonlike ruimte, ’n tipe produktiewe rakruimte. Dis iets wat gemaskerde mompelministers nie verstaan nie.

In die ekonomie is daar substitute vir alles – ook vir werkers. Tegnologie en gewysigde gedragsalgoritmes by werkgewers kan werknemers se poste vernietig. Die Industriële Revolusie was ’n proses van werkersubstitusie toe een operateur van ’n nuwe stoomaangedrewe masjien skielik die werk van ’n menigte handwerkers kon doen. Werkloosheid het gestyg. Mense moes in nuwe rigtings heropgelei word.

Rhynie Greeff

In 2020 is ons staat die ekwivalent van die Industriële Revolusie-masjien, want die staat het eintlik werkloosheid geskep met verskillende vlakke van sluiting van die ekonomie, die ontmoediging van fisieke gedrag en die aanmoediging van ekonomiese aanlyn gedrag. Sakebedrywighede het begin sluit of gedragsverandering ondergaan soos met toerisme, restaurante, kleinhandel en kantoorruimte. Tans moedig staatsinperking nuwe gedragsalgoritmes aan by werkgewers om minder voltydse en meer uitgekontrakteerde mense te gebruik met fleksietyd en mense werk van die huis af. Die jongste drankverbod gaan nou nuwe gedragsalgoritmes veroorsaak wat miljoene werkersposte afmaai in die dranksektor, toerisme, hotelle en restaurante.

Ons welvaartverdelende regering praat nou van ’n gedragsalgoritme om private pensioenfondse vir radikale ekonomiese transformasie via infrastruktuurprojekte te kaap.

Dit kan tydelik gedeeltelik werk skep, maar kom langtermynwerk nie van welvaartskepping nie? Van die hoogste opbrengs, laagste koste en die meeste doeltreffendheid nie?

Pensioenfondsbeleggings moet eerder gekanaliseer word na hoër opbrengs en meer produktiewe welvaartskepping as na sentraal beplande, outokratiese diktate.

Dis soos in Zimbabwe toe die regering met grondvergrype voedselprodusente se gedragsalgoritmes vervang het met nuwe grondeienaars wie se gedragsalgoritmes nie voedsel kon produseer nie. Die ekonomie is vernietig.

Die meer produktiewe ekonomiese transformasie van Suid-Afrika post-Covid-19 gaan gevorm word deur die selfaangedrewe gedragsalgoritmes van welvaartskeppers en werkers om nuwe rigtings in te slaan. Outokratiese, welvaartverdelende gedragsalgoritmes van amptenare gaan nie die ekonomie laat opbloei nie.

Regerings móét gedragsalgoritmes verstaan.

* Greeff se Ekonomiese Teorie van Menslike Gedragsalgoritmes is gegrond op sy spesialisasie in die ekonomie van mededinging, waarin hy ’n doktorsgraad het.

Meer oor:  Rhynie Greeff  |  Drankverkope  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.