Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Philip, die man langs Elizabeth

Prins Philip, hertog van Edinburg, in lewe die langslewende nasaat van die legendariese koningin Victoria, is oorlede. Hy was 99 jaar oud en sou in Junie sy 100ste verjaarsdag gevier het. 

Gebore Griek

Prins Philip, wat vir homself ’n paadjie in die koninklike kollig oopgekap het toe sy vrou op 25-jarige ouderdom die troon bestyg het, is in 1921 in Griekeland gebore.

Hy moes ’n belowende loopbaan in die Britse vloot vaarwel toeroep toe Elizabeth koningin word, maar is die een mens vir wie die koningin nog altyd net Elizabeth was, of cabbage of sausage, sy troetelname vir haar.

Sy grootwordjare

Philip is op 10 Junie 1921 op die Griekse eiland Corfu gebore as prins Philip van Griekeland en Denemarke. Hy was die vyfde kind van prins Andrew van Griekeland en prinses Alice van Battenberg. Hy het vier ouer susters gehad.

Die jong Philip, prins van Griekeland en Denemarke, in 1921. Foto: Getty Images
Prins Philip se ouers: prins Andrew van Griekeland en Denemarkte en prinses Alice van Battenberg. Foto: Getty Images

Hy is as baba in ’n vrugteboks uit Griekeland gesmokkel toe die Griekse monargie op 22 September 1922 omvergegooi is.

Die gesin het hulle in Parys, Frankryk, gevestig, waar Philip vlot leer Frans praat het.

In 1931 het Philip se lewe ’n wending geneem. Sy ma, Alice, wat doof gebore is, het ’n senu-ineenstorting gehad en is in ’n sanatorium opgeneem.

Sy pierewaaier-pa het nie kans gesien om die tienjarige Philip alleen groot te maak nie en het na die suide van Frankryk verkas. Philip is in die sorg van sy ma se familie – die Milford Havens en Mountbattens – gelaat, en moes na Brittanje verhuis.

Hy het albei sy ouers vir amper vyf jaar nie gesien nie. Al vier sy susters het met Duitse adellikes getrou en na Duitsland verhuis. Die jong Philip was basies sonder ’n tuiste. George Mountbatten, die markies van Milford Haven, het ingetree om aan die jong Philip ’n huis te bied.

Op ’n vraag oor dié jare in sy lewe, het Philip in ’n onderhoud bloot geantwoord: “Dit het gebeur. Die gesin het opgebreek. My ma was siek, my susters was getroud, my pa was in die suide van Frankryk. Ek moes net aangaan. Jy gaan aan. ’n Mens doen dit net.”

Prins Philip (heel links) het op skool aan ’n teaterproduksie van 'Macbeth' deelgeneem. Die foto is in 1937 geneem. Foto: Getty Images

Nog ’n tragedie

Philip het skoolvakansies by familielede gekuier, onder andere ook by sy susters in Duitsland.

Op 16-jarige ouderdom, as leerling aan die kosskool Gordonstoun in Skotland, het hy die tragiese nuus ontvang dat sy ouer suster, Cecile, haar man, groothertog Georg van Hesse, en hul twee jong seuns, asook Cecile se skoonma, in ’n vliegongeluk dood is. Cecile was ook swanger.

Op hul begrafnis in Darmstadt het die 16-jarige Philip vir die eerste keer in jare sy ma en pa gesien.

Hy was op die begrafnis omring van Nazi-embleme. Cecile en haar man was Nazi’s. Sy jongste suster, Sophie, se man, prins Christoph van Hesse, was ook ’n ingeskrewe lid van die party.

Tydens die volg van die begrafnisstoet deur Darmstadt het lord Louis Mountbatten, Philip se oom, agter hom gestap. Dickie, soos hy onder sy familie bekend gestaan het, sou binnekort ’n groot rol in Philip se lewe speel.

Die verliefde paartjie se verlowing is amptelik op 10 Julie 1947 aangekondig. Foto: Getty Images

Die Mountbattens

’n Jaar ná Cecile se dood, in 1937, is sy oom George dood. Lord Mountbatten het in dié stadium die rol van pa en vertroueling vir Philip begin speel. Later jare sou Mountbatten weer vir prins Charles, Philip en Elizabeth se eersteling, ’n mentor wees.

Mountbatten het, soos die res van die koninklike familie, in 1917 en weens die anti-Duitse sentiment in Engeland met die Eerste Wêreldoorlog in volle gang, sy Duitse titels laat vaar en die van Battenburg verengels in Mountbatten.

Die koningsgesin het weer hul naam van Sakse-Coburg en Gotha verander in Windsor.

Philip Mountbatten het ná skool sy oom se voetspore in die Britse vloot gevolg. Hy het in 1940 sy opleiding as kadet voltooi en is as die beste kadet aangewys.

Lord ‘Kupido’

Lord Mountbatten was ook die een wat die jong Mountbatten aan die 13-jarige prinses Elizabeth voorgestel het.

Die koninklike familie, koning George VI, koningin Elizabeth en hul twee prinsesse, Elizabeth en Margaret, het op 22 Julie 1939 die vlootkollege in Dartmouth besoek. Lord Mountbatten het Philip as chaperone vir die twee prinsesse ontplooi, terwyl hul ouers deur die vlootkollege getoer het.

Elizabeth het tydens dié besoek haar hart op die lang, blonde seeman verloor. Die twee het begin om vir mekaar briewe te skryf.

Prins Philip en die destydse prinses Elizabeth het op 24 November 1947 hul eerste aand as getroudes deurgebring op Broadlands, landgoed van lord Louis Mountbatten, Philip se oom. Foto: Getty Images
Met die viering van hul diamant-herdenking het prins Philip en die koningin weer op Broadlands ’n foto laat neem, by dieselfde boom waar hulle tydens hul wittebrood vir ’n foto poseer het. Foto: Getty Images

Die sprokieshuwelik

Elizabeth was 20 toe Philip koning George gevra het of hy met sy dogter kan trou. Die koning het ingestem, maar gevra dat die amptelike verlowing eers ná Elizabeth se mondigwording geskied.

Elizabeth het haar mondigwording op 21 April 1947 in Kaapstad gevier.

Teen Maart 1947 het Philip reeds afstand gedoen van sy Griekse en Deense koninklike titels, en hy was ook ’n genaturaliseerde Britse burger.

Die verliefde paartjie se verlowing is op 10 Julie 1947 aangekondig. Philip het ook van kerk verander. As Griekse prins is hy in die Grieks Ortodokse kerk gedoop, maar vir sy huwelik moes hy ’n Anglikaan word.

Die dag voor hul troue is die titel Sy Koninklike Hoogheid aan Philip toegeken, en op 20 November 1947, hul troudag, ook die hertogdom van Edinburg.

Sy eie paadjie

Die eerste kleurfoto van prinses Anne is in 1951 geneem. Anne is in haar ma se arm, en ouboet Charles in sy pa se arms. Foto: Getty Images

Philip en Elizabeth se lewe as pasgetroudes was amper idillies. Van hul gelukkigste dae was op Malta, waar Philip diens gedoen het as ’n vlootoffisier en die jong Elizabeth self kos gemaak, motor bestuur en haar eie inkopies gedoen het.

Maar hul lewe as ’n jong gesin het in 1952 ’n wending geneem toe hulle tydens ’n koninklike toer in Kenia die nuus kry dat Elizabeth se pa, koning George VI, onverwags dood is. Philip was die een wat dié nuus aan Elizabeth moes oordra.

In die jare daarna was Philip Elizabeth se ruggraat, die een wat na gesinsake omgesien het, terwyl sy haar aandag aan landsake moes wy.

Hy het aktief en fiks gebly deur polo te speel, het seiljagvaart geniet en ’n belangstelling in karretjiery (carriage driving) ontwikkel.

Hy was ook die eerste van die koninklikes wat die monarg se persoonlike wonings, soos Sandringham, omgewingsvriendelik gemaak het.

Philip het ook die Prins Philip-toekennings ingestel, ’n stigting wat aan tieners en jong volwassenes geleenthede bied om hulself te verbeter. 

Siektes en kwale

Prins Philip was in sy negentigs steeds fier en fiks. Veral in die laaste paar jaar wat hy nog in die openbare oog was, het hy die koningin tydens openbare geleenthede al hoe meer fisiek ondersteun, soos om haar hand vas te hou wanneer hulle by trappe afstap. ’n Hand op haar arm, sy hand op haar rug.

Met die viering van die koningin se diamantjubileum in 2012 het Philip siek geword en hy is gehospitaliseer nadat hy in gietende reën saam met die koningin op die Spirit of Chartwell aan ’n erevaart op die Teems deelgeneem het ter ere van sy vrou.

By die viering voor Buckinghampaleis was dit vreemd om die koningin sonder Philip aan haar sy te sien.

Voet in die mond

Philip, wat ’n reputasie gehad het as ’n ietwat moeilike man, was gereeld in die nuus oor sy aweregse kommentare. Hy het self eenkeer in ’n onderhoud opgemerk: Dontopedalogy is the science of opening your mouth and putting your foot in it, a science which I have practised for a good many years.

In November 2015 help prins Philip die koningin om van ’n trappie af te klim op Malta, waar hulle ’n byeenkoms van die Statebond bygewoon het. Foto: Getty Images

Rots en vertroueling

Ondanks sy uitlatings was Philip vir Elizabeth ’n eggenoot, vir hul vier kinders ’n pa, vir sy kleinkinders ’n oupa en vir sy agterkleinkinders ’n oupagrootjie.

Met Diana, prinses van Wallis, se dood in 1997, was hy die een wat saam met prins William en prins Harry, asook Diana se broer, graaf Charles Spencer, en prins Charles, agter haar begrafnisstoet gestap het. Alles om sy kleinseuns te ondersteun.

Anne, sy en Elizabeth se enigste dogter, is die naaste aan haar pa wat temperament betref. Sy verhouding met hul oudste, Charles, was deur die jare soms troebelagtig, maar in die laaste paar jaar het dit baie verbeter. Philip was veral dankbaar vir Charles se hand in die skouspelagtige huldiging van die koningin se negentigste verjaarsdag in 2016 by Windsor-kasteel.

’n Dankseggingsdiens is op 24 November 2016 in Westminster-abdy gehou ter ere van die 60ste bestaansjaar van die Hertog van Edingburg-toekennings. Foto: Getty Images

’n Tuiste

Van links is prinses Anne, prins Charles, prins Edward, prins Andrew, die koningin en prins Philip. Foto: Getty Images

By Elizabeth het Philip ’n tuiste gevind. ’n Huis. Toe hy vroeër jare in ’n onderhoud gevra is watter taal hy by die huis praat, het Philip bot geantwoord: “Wat bedoel jy met ‘by die huis'? ”

Philip het dit nie altyd maklik gehad om die Britse publiek se guns te wen nie. Sy aweregse sêgoed was gereeld voorbladnuus.

Hy kon dalk destyds, toe sy en Elizabeth se kinders gebore is, die enigste man ter wêreld gewees het wie se kinders nie sy van dra nie, maar dié oorsig het Elizabeth later jare reggestel.

Haar en Philip se kinders is Mountbatten-Windsors. ’n Eerbewys aan ’n man wat in ’n vrugteboks uit Griekeland moes vlug, sy vlootloopbaan moes prysgee en vir 69 jaar altyd daardie een treetjie agter sy vrou moes loop. Maar in gees was hulle langs mekaar.

Bykomende bronne: Wikipedia, Young Prince Philip: His Turbulent Early Life deur Philip Eade, The Queen’s Speech: An Intimate Portrait of the Queen in Her Own Words deur Ingrid Seward; Our Queen deur Robert Hardman, The Diamond Queen deur Andrew Marr; Ever the Diplomat deur sir Sherard Cowper-Coles en www.royal.guv.uk.

Meer oor:  Prins Philip  |  Londen  |  Koninklikes  |  Lewe  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.