Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Philip en Elizabeth: Liefde en gerugte van ontrouheid

’n Blik wat deur al die dekades dieselfde gebly het. Koningin Elizabeth en prins Philip by die perdeskou in Windsor. Foto: Getty Images
Dit is ’n verhaal so reg uit ’n sprokie. ’n 13-jarige prinses ontmoet ’n blondekop-vlootoffisier en het daarna oë vir niemand anders nie.

Hoewel hy ’n prins van Denemarke en Griekeland is – en net soos sy ’n agter-agter-kleinkind van koningin Victoria – het hy 15 pennies op sy naam die dag toe hulle trou. Tog het die huwelik van die destydse prinses Elizabeth en Philip Mountbatten die toets van tyd én gerugte van ontrouheid deurstaan.

Al was daar gerugte, kon niemand tot nog toe bewys dat Philip sy huweliksbeloftes aan Elizabeth verbreek het nie. Die feit dat Philip ’n voorliefde vir jonger (en mooi) vroue gehad het, het natuurlik nie gehelp dat die gerugte van ontrouheid verdwyn nie.

In die eerste paar seisoene van The Crown – ’n gedramatiseerde weergawe van Elizabeth se lewe, waar feite dikwels die knie voor dramatiese effek buig – is daar daarop gesinspeel dat hy wel verhoudings gehad het.

Elizabeth het Philip as agtjarige ontmoet en later weer toe sy 13 jaar oud was. Hy was toe 18.

Die groot liefde

Prinses Elizabeth en prins Philip by die troue van Patricia Mountbatten en lord Brabourne op 26 Oktober 1946. Hulle was albei deel van die gevolg. Foto: Getty Images
Die stralende paartjie met die amptelike aankondiging van hul verlowing. Foto: Getty Images
Die blik tussen die twee wat oor die jare nooit verander het nie. Prinses Elizabeth en prins Philip is op 20 November 1947 getroud. Foto: Getty Images

In 1946 het hul romanse vlamgevat, maar haar ouers het gevoel sy moet eers ná haar mondigwording verloof raak. Op 9 Julie 1947 is hul verlowing amptelik aangekondig met ’n stralende Elizabeth aan Philip se sy.

Hul troue op 20 November 1947 was ’n heuglike dag ná die swaarkry van die Tweede Wêreldoorlog. As jong getroudes het hulle gehoop om ’n hele paar jaar vir hulself te hê voordat Elizabeth die kroon en septer sou moes opneem.

Die “normaalste” tyd van hul lewe was toe Philip as vlootoffisier in Malta gesetel was. Hul eerste twee kinders, prins Charles en prinses Anne, is in onderskeidelik 1948 en 1950 gebore.

Dië foto is met die destydse prinses Elizabeth se 24ste verjaarsdag op Malta geneem waar prins Philip as vlootoffisier gesetel was. Foto: Getty Images

Koning George VI se dood op 6 Februarie 1952 op 56 het egter alle planne vir ’n “normale” lewe geblus. Elizabeth was 25 toe sy koningin word.

Dit was Philip wat Elizabeth moes inlig oor haar pa se dood toe hulle op ’n Statebondstoer in Kenia was. En dit is Philip wat al op derduisende afsprake saam met haar moes luister hoe sy toesprake hou, kyk hoe sy linte knip, bome plant en geselsies met mense aanknoop. Hy kon haar ook aanjaag as sy volgens hom te lank klets.

Die paartjie in 1973 tydens ’n besoek aan die BBC. Philip het al sy vrou aangejaag as sy volgens hom te lank met mense gesels. Foto: Getty Images

Die toer en die skinderstories

Daar was tye dat Philip afgeskeep moes gevoel het, veral toe Elizabeth as jong koningin die leisels oorgeneem het.

Daar was in die vroeë jare van hul huwelik heelwat gissings oor hul verhouding toe Philip vyf maande lank alleen op ’n toer na Statebondslande was. Hulle kon slegs per telegram en briewe korrespondeer en kon per geleentheid telefonies met mekaar praat.

Hoewel daar in The Crown gesinspeel word dat Philip veral op dié toer verskeie buite-egtelike verhoudings gehad het, is daar geen bewyse daarvan nie. Sy regterhand, luitenant-kommandeur Michael Parker, se vrou hét hom egter om ’n egskeiding gedagvaar terwyl hy saam met Philip op dié toer was.

Die koninklike biograaf Ingrid Seward sê dié toer was ’n katastrofe ten opsigte van die koningshuis se openbare betrekkinge met gissings oor Philip se indiskresies wat selfs in die Amerikaanse media opgeduik het.

Die koningin moes ook gereeld langs die poloveld staan om haar man – hy was ’n uitstekende polospeler – dop te hou. Op dié geleentheid op 22 Junie 1953 het sy ook ’n trofee aan hom oorhandig omdat hy in die wenspan gespeel het. Foto: Getty Images

Philip was diep seergemaak deur dié beweringe, het Seward geskryf, maar ondanks die paleis se ontkenning van onmin in die huwelik het die bespiegelinge nog jare lank voortgeduur, “al was daar nie ’n aks se bewyse van sy sogenaamde affairs nie”.

Die 1960’s was ’n ander tyd en wêreld. In aristokratiese kringe was huweliksontrouheid nou nie juis iets wat ’n wenkbrou sou laat lig of ’n pinkie meer regop sou laat staan as mense oor ’n koppie Earl Grey-tee en komkommertoebroodjies daaroor gefluister het nie. Philip se oom, lord Louis Mountbatten, en sy vrou, Edwina, se sekskapades is welbekend.

In The Mountbattens: Their Lives and Loves, skryf die Britse historikus Andrew Lownie byvoorbeeld die Mountbattens het besluit op ’n oop huwelik omdat hulle bang was vir die skande indien hulle sou skei.

Egskeidings was in daardie jare taboe – veral in koninklike kringe. Volgens Lownie het Mountbatten self gesê: “Ek en Edwina het ons hele getroude lewe deur in ander mense se bed geklim.”

Prins Philip en die destydse prinses Elizabeth op 21 Oktober 1950 met die doop van hul enigste dogter, prinses Anne. Foto: Getty Images

Onthou ook, egskeiding was ’n taboe in die Britse koninklike familie. Elizabeth se pa het op die troon gekom omdat sy broer, Edward, met ’n geskeide vrou wou trou en dit onaanvaarbaar was.

Prinses Margaret se egskeiding van Tony Armstrong-Jones het ook opslae gemaak.

So as Philip dan en wan in die bed gespring het van enige van ’n slagorde vroue wie se name deur die jare genoem is, is dit met absolute diskresie gedoen.

Die koninklike biograaf Sarah Bradford het in haar boek Queen Elizabeth II: Her Life in Our Times geskryf Philip het wel affairs gehad, maar het verkies om dit te doen met vroue wat nie in die openbare oog is nie.

“Hy was nooit een wat agter aktrises aangehardloop het nie. Sy belangstellings is heeltemal anders. Die vroue agter wie hy aan is, was altyd jonger as hy, gewoonlik beeldskoon en hoogs aristokraties.”

Ek betwyfel dit ten sterkste. Nee, ek is nie seker nie.
Sacha, die hertogin van Abercorn op die vraag of prins Philip affairs gehad het.

Een van die vroue wie se naam al genoem is, Sacha, die hertogin van Abercorn (sy is in 2018 dood), het aan die skrywer Gyles Brandreth gesê sy en Philip het passievolle vriendskap gehad, maar sy het nooit saam met hom in die bed geklim nie.

“Hy het ’n speelmaat nodig en iemand om sy intellektuele belangstellings mee te deel,” het Sacha aan Brandreth gesê.

Brandreth, ’n vriend van Philip, skryf in sy boek Philip & Elizabeth: Portrait of a Marriage Sacha het op die vraag of sy dink Philip het by enige van sy ander “speelmaats” geslaap, gesê: “Ek betwyfel dit ten sterkste. Nee, ek is nie seker nie.”

Nog ’n vrou, die danseres Pat Kirkwood, het gerugte ontken dat sy en Philip ’n verhouding gehad het nadat hulle in 1948 ontmoet het toe Elizabeth agt maande swanger met prins Charles was. Kirkwood en Philip het die aand van hul ontmoeting gaan uiteet en daarna in een van Londen se nagklubs gaan dans.

Die tonge het geklap.

Sy was vies omdat die paleis nie beweringe ontken het dat sy en Philip ’n verhouding het nie. Hulle het mekaar ses keer gesien en daarna gekorrespondeer. Dié briewe is ná Kirkwood se dood aan die skrywer Michael Thornton besorg met die opdrag dat die briewe ná Philip se dood aan sy amptelike biograaf oorhanding moet word. Thornton het in ’n onderhoud gesê die korrespondensie dui op twee mense wat bekommerd was oor die mediastorm waarin hulle beland het.

Die paartjie het ná hul troue op Philip se oom se landgoed, Broadlands, wittebrood gehou. Foto: Getty Images
Die paartjie het vir die viering van hul 60ste huweliksherdenking spesiaal na Broadlands gereis om onder dieselfde boom waar hul wittebroodsfoto’s geneem is te poseer. Foto: Getty Images

As daar affairs was, was die lippe van nie net die vroue nie, maar ook van hul familie en vriende gesnoer wat moontlik van so iets geweet het.

Philip het in 1992 self kommentaar op al die gerugte gelewer.

“Het jy al ooit daaraan gedink dat ek die afgelope 40 jaar nêrens heen kon gaan sonder dat ’n polisieman my vergesel het nie? So hoe die duiwel dink jy sou ek so iets kon doen?”

Prins Philip en koningin Elizabeth sit knus onder ’n kombersie in September 2015 by die Braemar-spele in die Skotse dorpie Braemar, naby die Balmoral-landgoed. Foto: Getty Images

Al sou Philip nou en dan uit die koninklike katel gekantel het, was sy getrouheid aan sy “cabbage” soos hy liefderyk na Elizabeth verwys het, onwrikbaar. Hy het insae in al haar toesprake gehad, behalwe die een waarin sy sy lof besing het met hul 50ste huweliksherdenking in 1997.

“Hy was eenvoudig deur al die jare my krag en my rots.” – Aanvullende bronne: The Daily Express, British Heritage

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.