Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Piet se brief aan sy ‘kindertjies’

Die musieklegende Piet Botha (63) was nie net vir hulle ’n pa nie; hy was vir álmal ’n pa, sê sy dogters aan Murray La Vita.

Piya, Robynne en Jessica saam met hul geliefde pa Piet Botha.

Op een van daardie beeldskone Kaapse vroegwinterdae – windstil en vol sonskyn – sit drie jong vroue met blink groen oë in ’n huis in die Strand en praat oor hul pa.

Die gesprek met Jessica (32), Robynne (25) en Piya (26) vind plaas om ’n tafel in Jessica se huis. Bo die tafel hang ’n diskobal. En op die tafel lê ’n pak “sour worms”; ’n lekkerny waarvoor die Botha-susters se pa so lief was, maar wat hy in sy laaste dae nie kon eet nie.

Piet is Sondag hier naby dood in die huis wat hy met sy lewensmaat Ricci Viviers gedeel het.

Robynne sê wat vir hulle spesiaal is, is dat almal “net sulke mooi goed gesê het toe hulle die nuus [van Piet se dood] gekry het”.

“Nie net van sy musiek wat ons weet ongelooflike musiek is nie, maar ook oor wie hy is as ’n mens . . . Dat mense besef watse vrygewige en liefdevolle mens hy was. Hy was dié vrygewigste mens op aarde. Ek dink hy het omtrent meer geld weggegee as wat hy verdien het in sy lewe.”

Fooitjies vir almal

Verlede jaar in Piet se huis. Foto: Jessica Botha

Hulle vertel hoe hy vir almal groot fooitjies gegee het.

Robynne sê hy was glad nie materialisties nie en dit is een van die belangrikste lesse wat hulle by hom geleer het.

“Daar was daai Felice Brothers song wat hy so gelike het waar hulle sing: ‘Tip at least everyone/Tip your way into heaven’s gate.’”

Piet het in Februarie die eerste keer siek geword.

Hy het ’n ongelóóflike lewe gehad en alles gedoen en gesien en hy was vry om te doen waarvoor hy lief was.

“En toe die 17de Maart kry ons die diagnose . . . Die dokter het basies net vir hom gesê: ‘Daar is ’n gewas op jou pankreas en dit lyk na pankreaskanker. Maar ons het eers in April uitgevind dat dit die meer ernstige pankreaskanker is,” sê Robynne.

“Hy was weens die behandeling by tye baie deurmekaar. So, ’n deel van hom het verstaan wat die dokter sê wat lewensverwagting betref en hoe ernstig dit is, maar ek dink nie hy het dit ooit heeltemal aanvaar nie.”

Jessica: “Sy eerste woorde toe die dokter sê daar is ’n tumor, was: ‘Well, at least I had a good run.’”

Robynne: “Wat ons gesê het toe ons uitvind hy is so siek, is hy kon vir 40 jaar ’n prokureur gewees het en in ’n kantoor gesit het en ’n jaar voor sy aftrede uitgevind het hy het terminale kanker, en hy hét nie. Hy het ’n ongelóóflike lewe gehad en alles gedoen en gesien en hy was vry om te doen waarvoor hy lief was.”

Dankbaar dat hy tuis sterf

Piet en Robynne

“Hy het by die huis gesterf. Ek en my ma was nog die middag by hom. Hy was nog ’n bietjie deurmekaar, maar hy was rustig en het relatief goed gelyk. En toe het dinge net baie skielik gedraai . . . Sy organe het maar net ingegee en sy hart het gaan staan.”

Hy het op die bed gelê en met Ricci gesels. En toe “is dit net verby”.

Jessica sê hy het van die begin af vir hulle gesê hy wil nie in ’n hospitaal doodgaan nie.

“So, ons is baie dankbaar daarvoor dat hy by die huis was.”

Piya: “Ons is gewaarsku dat die tyd min is. Maar ons het nie gedink dit is só erg nie.”

Robynne: “Ons het gedink ons het nog ’n jaar-en-’n-half – ten minste. Hý het gesê hy sal nog so vyf jaar vat.” Hulle lag. “Hy was nie gelukkig met die paar maande nie. Hy het gesê hy sal nog so vyf jaar vat, dan’s hy happy.”

Piya, wat in Pretoria woon, sê:

“Ek het pas ’n nuwe job gekry en ek wou hom nog vertel . . .”

Jessica: “Hy’t geweet; ek het hom vertel.”

Piya: “Ek weet, but I was planning on video calling him . . .” Haar oë skiet vol trane. “Sésuur Sondag. . . Dit wys jou – daar is nooit genoeg tyd nie. Kyk, Robynne het my Saterdag laat weet dit gaan nie goed nie. Sy het my gebel en gesê: ‘Sus, daddy gaan báie vinnig baie agteruit; ek wil nie dat jy skrik nie; ek wil jou net laat weet.’”

Ons het nie gedink dit gaan so gou wees nie.

Sy sou die naweek van 22 Junie kom kuier het.

“En ek sê vir haar: ‘Is drie weke nie te lank nie?’”

Jessica: “Ons het nie gedink dit gaan so gou wees nie.”

Piya: “Nou sê ek: ‘Het hy nie darem net vir ons ’n briefie gelos nie?’ Vivian [Robynne en Jessica se ma] sê toe: ‘Nee, maar hy het vir julle ’n leeftyd se briewe gelos.’

“En ek sê: ‘Ja, maar ons het dit alles klaar gelees!’ Die susters lag. ‘Ons ken dit uit ons koppe uit.’ En dis een ding wat ek dink mense moet weet: Piet is sy musiek. Ons het ons pa leer ken deur sy musiek. Hy wat nie gepráát het of sy gevoelens gedéél het of hier langs jou kom sit het en sê: ‘O, ek is só lief vir jou’ nie. No, that wasn’t him.”

Wonderlike nalatenskap

Piet het altyd dié foto van hom en sy dogters in sy kitaartas gedra.

Jessica: “Ons het geweet hy is baie lief vir ons, maar ons moes hom leer om die woorde te sê: ‘Ek is lief vir jou.’”

Piya: “Sy liefde was in sy musiek. You can not take that away. Ek meen, ons ken sy musiek vandat Jack Hammer begin het.” Robynne: “Ons ken seker al die lirieke uit ons kop uit; ons al drie.”

Piya: “En weet jy wat? What a beautiful way to get to know one’s dad.”

Robynne: “En wat ’n wonderlike nalatenskap. Piya sê nou die dag ons is nie soos ander mense wat ’n voicemail moet bel om hulle pa se stem te hoor nie; ons het ál die onderhoude wat hy ooit gedoen het, ons het al sy musiek; ons het sy stem vir ewig.

“Ek dink veral aan sy laaste album Middernagtrein het hy mos ’n liedjie waarin hy sê:

‘Hier’s ’n brief vir my kindertjies

Baie dankie vir al die geduld

Ek weet dit was nie altyd maklik nie

Maar ten minste het julle alles geleer

van die highway.’”

Geen kleinkind

Piet en Piya.

Waaroor hulle dalk die hartseerste is, is “die een ding wat ons hom nooit gegee het nie,’n kleinkind”, sê Piya.

Robynne: “Dit is vir ons baie hartseer, want hy was ’n ongelóóflike pa en hy sou ’n ongelóóflike oupa gewees het. So baie mense ken hom as Piet Botha die generaal en die godfather van rock and roll. Hy was ’n groot figuur en hy kon nogal intimiderend gewees het, jy weet hy was ’n groot man en sy hele persona en alles, maar vir ons was hy net ’n daddy. Ons kon hom om ons pinkies gedraai het.”

Piya lag en sê: “Ons het hom nie daddy genoem nie, ons het hom diddy genoem.”

En dit het nooit gevoel asof ons hom met enigiemand deel nie want hy het soveel tyd en soveel liefde vir ons gehad.

Robynne: “Hy was ons alles en hy was die béste pa waarvoor ons ooit kon vra. Baie mense sê ons moes hom deel met soveel mense, en ons móés . . . Selfs toe hy siek geword het. Dis nie iets waardeur ons op ons éie kon werk nie want hy het nie net aan ons behoort nie.”

Piya: “Maar ons is dankbaar vir daardie ander mense met wie ons hom moes deel.”

Robynne: “En dit het nooit gevoel asof ons hom met enigiemand deel nie want hy het soveel tyd en soveel liefde vir ons gehad.”

‘My pa is ’n rock star’

Piet en Jessica.

Piya: “En ons was tróts! Mán, ons was trots.”

Robynne: “Ja, daar was niks soos om hom op ’n stage te sien en om te sien hoe lief die mense vir hom is en om te weet wat se impak hy het . . . Dis beter as om ’n pa te hê wat ’n prokureur of ’n estate agent of iets is.”

Piya: “En wat jou forseer in lewensdinge waarvoor jy nie reg is nie. He always gave us the space.”

Robynne: “Ek onthou toe ek klein was en dan het jy nou ’n career day by die skool en dan moet jy nou sê wat doen jou pa; jy weet: ‘My pa is ’n dokter. My pa is dit.’ En dan het ek altyd gesê: ‘My pa is ’n rock star.’”

Hulle lag uitbundig.

“Dit was die beste ding ooit om te sê my pa is ’n rock star.”

Sy bly stil.

“Boonop alles wat hy was, was hy vir ons net die béste pa – vol liefde en aanvaarding; ons kon nooit enigiets verkeerd doen nie . . . Hy was nie net vir ons ’n pa nie; hy was vir al die upcoming bands . . . Hy was vir almal ’n pa. Ons is gelukkig dat hy ons pa was.”

Jessica: “Maar dis die ding – hy het genoeg liefde gehad om te deel.”

Meer oor:  Jack Hammer  |  Piet Botha
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.