Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Pik Botha – 'n lewe op die wêreldverhoog

Pik Botha was Suid-Afrika se minister van buitelandse sake van 1977 tot 1994. Foto: Alet Pretorius

Sarel van der Walt vertel oor dié kleurryke politikus wat deur sommige mense verpes en deur andere geloof is.

In haar omvangryke biografie oor Botha, Pik Botha en sy tyd, skryf Theresa Papenfus Pik Botha se storie is deel van dié van Suid-Afrika.

Botha het in die sowat 30 jaar voordat die eerste demokratiese verkiesing in die land gehou is, diep spore in die Suid-Afrikaanse geskiedenis getrap.

Van ’n jong advokaat in die hofsaal van die Wêreldhof in Den Haag, Nederland, in 1965, as ambassadeur by die Verenigde Nasies (VN) in New York, sy betrokkenheid by die jare lange onderhandelinge oor die onafhanklikheid van Rhodesië (Zimbabwe), die eertydse Suidwes-Afrika (Namibië), as parlementslid van die Nasionale Party, en as lid van die kabinette van John Vorster, PW Botha, F.W. de Klerk en uiteindelik Nelson Mandela, het Roelof Frederik Botha sy stempel afgedruk.

Vir baie was Pik Botha ’n volksheld. Vir ander eerder ’n verraaier, manteldraaier en opportunis.

Veral die konserwatiewes het niks van hom gehou nie. Hulle het hom Pik Swart genoem.

Hy is ook beskryf as ’n kunstenaar, skrywer, filosoof, digter en romantikus wat gemaklik was in die geselskap van wêreldleiers.

Daar is baie geskinder oor sy liefde vir vroue en drank.

In die laaste jare was hy ook ’n groot aanhanger van die wêreldbekende Britse fisikus prof. Stephen Hawking en het graag gefilosofeer oor wat ná die dood gebeur.

Die ou orde: Van links is genl. Magnus Malan, Pik Botha, PW Botha en Mangosuthu Buthelezi, tóé hoofman van KwaZulu. Foto: Argief

Van Wêreldhof tot minister van buitelandse sake

Hoewel Botha, wat op 27 April 1932 in die Paul Kruger-gedenkhospitaal in Rustenburg in Noordwes gebore is, as ambassadeur by die VN en as minister van buitelandse sake, die Nasionale Party (NP)-regering se apartheidsbeleid moes verdedig, sal hy onthou word as een van die sleutelspelers wat die NP gehelp het om van koers te verander en apartheid te beëindig.

Sy uitlatings dat hy nie vir ’n apartheidsbordjie in ’n hysbak sou sterf nie, en die land in die toekoms ’n swart president sou kry, het hom destyds in groot moeilikheid laat beland.

Oudpres. FW de Klerk, wat die ANC op 2 Februarie 1990 ontban het, het aan Papenfus gesê Botha was ’n “wegbereider en ’n sleutelfiguur” in die aanloop tot dié geskiedkundige dag.

Botha, ’n oud-rasieleier by Tukkies, het hom by die departement van buitelandse sake aangesluit nadat hy sy LLB-graad verwerf het.

In 1956 is hy na die Suid-Afrikaanse missie in Stockholm, Swede, uitgeplaas voordat hy in 1960 na die Suid-Afrikaanse ambassade in Keulen, in die eertydse Wes-Duitsland oorgeplaas is.

Botha het tussen 1963 en 1965 op die voorgrond getree toe hy as ’n jong advokaat deel was van Suid-Afrika se regspan wat by die Wêreldhof in Den Haag opgetree het oor Suid-Afrika se reg om Suidwes-Afrika te administreer.

Suid-Afrika het die saak gewen.

In 1970 het Botha die politiek betree en is as NP-lid vir die kiesafdeling Wonderboom, in die noorde van Pretoria, parlement toe.

In 1975 het hy Suid-Afrika se ambassadeur in die VSA en by die VN geword.

In dié tyd het Suid-Afrika televisie gekry en ons het gereeld ’n veglustige Pik Botha in die VN-raadsaal in New York in aksie gesien.

In dié tyd het die wêreld ook van hom kennis geneem.

In 1977 het John Vorster hom as minister van buitelandse sake aangestel en hy het LV vir die kiesafdeling Westdene in die weste van Johannesburg geword. Hy sou dié kiesafdeling tot en met 1994 verteenwoordig.

Pik Botha omhels Margot, weduwee van genl. Magnus Malan, op die voormalige minister van verdediging se begrafnis. Foto: Liza van Deventer

Minister in Mandela se kabinet

Botha het in sy nuwe amp al hoe meer betrokke geraak by die onderhandelinge oor Rhodesië en Suidwes-Afrika. Vir baie mense was Pik Botha en die woorde “resolusie 435 van die Verenigde Nasies oor Suidwes-Afrika” sinoniem.

Ons het dié woorde byna elke dag op die radio en televisie oor sy lippe hoor kom.

Toe PW Botha in 1978 by John Vorster oorgeneem het as eerste minister, het Pik Botha minister van buitelandse sake gebly.

In dié tyd het hy onder meer ’n sleutelrol gespeel in die ondertekening van die geskiedkundige Nkomati-verdrag in 1984 tussen Suid-Afrika en Mosambiek.

Die volgende jaar het hy vir PW Botha ’n belanghebbende toespraak geskryf oor stappe wat sou lei tot die uiteindelike vrylating van Nelson Mandela.

PW Botha het Pik Botha se toespraak verwerp en sy eie Rubicon-toespraak gelewer wat wêreldwyd baie negatief ontvang is.

FW de Klerk het hom later ook as minister van buitelandse sake behou en hy het tot en met die eerste demokratiese verkiesing in 1994 as Suid-Afrika se voorste diplomaat gedien.

Ná dié verkiesing het hy in oudpres. Nelson Mandela se kabinet as minister van minerale- en energiesake gedien.

Botha het uit die politiek getree toe die NP in 1996 uit die regering van nasionale eenheid getree het.

Pik Botha nadat hy met ’n Kongolese prys vereer is. Foto: Felix Dlangamandla

Nie presidentsmateriaal nie

Pik Botha het twee keer aan die verkiesing om die leierskap van die NP deelgeneem.

Die eerste keer was in 1978 toe Vorster uitgetree het. Hoewel Botha nie ’n groot kans op ’n oorwinning gehad het nie, het hy stemme weggelok by dr. Connie Mulder en PW Botha het gewen.

Botha het in ook 1989 ná PW Botha se uittrede aan die leierskapsverkiesing van die NP deelgeneem teen FW de Klerk en Barend du Plessis, maar hy is in die eerste ronde reeds uitgeskakel.

De Klerk het president geword.

Du Plessis, ’n goeie vriend van Botha, het aan Papenfus gesê dis Pik Botha, wat in 1992 Transvaalse leier van die NP geword het, se eie skuld dat hy nooit president geword het nie.

“Pik het geen aandag aan die manne in die koukus gegee nie. Sy vriende het hom gewaarsku. Maar hy wou nie luister nie,” sê Du Plessis.

De Klerk meen Botha het nie die eienskappe van ’n staatshoof gehad nie.

“Ek was oortuig dat hy nie oor die eienskappe – insluitend emosionele stabiliteit – beskik het om die land te lei nie.”

Hoewel Botha vir baie mense die “liefling van die volk” was, het nie almal ooghare vir hom gehad nie.

Adv. Tom Langley, destyds die Konserwatiewe Party se woordvoeder oor buitelandse sake, het hom “Die Pikkewyn” genoem.

Botha se bynaam op skool (Hoër Volkskool in Potchefstroom) was “Pikkewyn”.

“Pik Botha is géén onderhandelaar nie.

“Hy kan nie punt vir punt debatteer nie. In só ’n situasie is hy vinnig in ’n hoek.”

Langley het gesê Botha was ’n “showman”.

Lt.genl. Hein du Toit, ’n voormalige hoof van militêre intelligensie, het Botha beskryf as ’n “verskriklike aandagsoeker en heeltemal onbetroubaar”. “ ’n Grootbek met min om die lyf.”

Wyle genl. Magnus Malan, voormalige minister van verdediging wat lank ’n kabinetskollega van Botha was, het volgens Papenfus met ’n glimlag gesê: “Pik soek centre stage. Hy wil die bruid op elke troue wees, die lyk op elke begrafnis.”

Pik Botha groet wyle Winnie Madikizela-Mandela by die bekendstelling van’n dokumentêre rolprent oor die einde van apartheid. Foto: Argief

’n Nuwe benadering en vrede in Namibië

Maar daar was ander wat net die hoogste respek vir hom gehad het.

Chester Crocker, ’n voormalige Amerikaanse adjunkminister van buitelandse sake vir Afrika, wat oor baie jare lank gereeld tydens die onderhandelinge oor Angola en Namibië met Botha te make gekry het, sê Botha was ’n man van vele fasette.

“Op ’n manier het sy persoonlikheid ons altyd getref as groter as lewensgroot,” sê Crocker.

Hy sê een van die maatstawwe vir ’n leier is die gehalte van die mense om hom. “Pik Botha is bygestaan deur ’n reeks hoogsbekwame, skerpsinnige luitenante en assistente.”

Onder hulle was drr. Brand Fourie en Neil van Heerden.

Dr. Boutros-Boutros-Ghali, ’n voormalige sekretaris-generaal van die VN, meen Botha se bydrae het Suid-Afrika destyds ’n groot rolspeler op die Afrika-toneel gemaak.

“Ek was nogal beïndruk deur sy eerlikheid, moed en politieke wil om die verskillende probleme aan te pak wat sy land beleef het.”

Genl. Jannie Geldenhuys, wat eers as bevelvoerende generaal van die kommandement Suidwes-Afrika en die SWA gebiedsmag, en later as weermaghoof, ten nouste met Botha saamgewerk het in die vredesproses in Namibië en Angola, noem Botha in sy boek Dié wat gewen het, ’n superdiplomaat de lux.

“Hy is ’n man wat op sy voete dink. Hy is buigsaam. Hy is onvoorspelbaar. Hy kom met verrassings. Hy verras ook sy eie mense.”

Geldenhuys vertel tydens onderhandelinge tussen Suid-Afrika, die VSA en Angola in Lusaka, Zambië, het Botha die klimaat vooraf “gelees” en op ’n nuwe benadering besluit.

“Ek het nie daarvan geweet nie. Toe die werklike konferensie begin teken ek prentjies in my notaboek, want ek weet mos wat Pik Botha gaan sê.

“Maar hy trek daar weg met sy dik akoestiese stem en ontvoer die gehoor op ’n spannende geskiedenistoer.

“Hy betower hulle. Hy vertel boeiend en driftig en met tergende tussenposes hoe die Suid-Afrikaanse republieke die aanslag van groot Brittanje, die magtigste wêreldmoondheid van die tyd, drie jaar lank vanaf 1899 tot 1902 getrotseer het. En so aan.”

“Die res van die konferensie is geskiedenis. ’n Ooreenkoms is suksesvol bereik,” skryf Geldenhuys.

Parlement was vir hom vervelig

Wyle Danie Hough, eerstydse administrateur-generaal van Suidwes-Afrika en die laaste administrateur van Transvaal, was ’n goeie vriend van Botha.

Hulle het gereeld laatnag om ’n bosveldvuur op Hough se plaas langs die Limpoporivier gefilosofeer.

“Ek bedoel dit in die beste sin van die word: Tot ’n mate is hy ’n toneelspeler, hy kan ’n gehoor lees, ’n situasie opsom en dan met lyftaal, teatrale gebare en stemtoon mense aan sy kant kry.”

Prof. Marinus Wiecher, staats- en volkeregkenner en voormalige rektor van Unisa, skryf in die voorwoord van Papenfus se boek “vir Pik Botha wat die groot raadsale van die wêreld gewoond was, was die parlement taamlik vervelig”.

“Dit het hom, die stormram van die party (die NP), nie weerhou om kaalvuis op die verkiesingsverhoë oral oor, tot in die uithoeke van die land, te klim en te deklameer nie. Om die stemvee bewus te maak van die aardskuddende veranderinge wat net sou moes kom.”

Botha se eerste vrou, Helena, met wie hy 43 jaar getroud was, is in 1996 dood. Hy is in 1998 met Ina Joubert getroud.

Botha het Papenfus se biografie nooit gemagtig nie, maar ook nie teengestaan nie. Eintlik was hy baie trots op die boek.

Toe dié joernalis jare gelede as Media24 se korrespondent in Londen die geleentheid gekry het om ’n onderhoud te doen met lord Peter Carrington, die eertydse Britse minister van buitelandse sake wat ’n sleutelrol in die onderhandelinge oor die onafhanklikwording van Zimbabwe gespeel het, het ek Botha in Petoria gebel vir agtergrondinligting.

Botha het soos gewoonlik lekker gesels. Teen die einde van die gesprek het Botha gesê: “Man, terwyl jy daar by die lord is, sê vir hom daar word ’n boek oor my geskryf. Vra hom of hy bereid is om iets oor my te sê?”

Toe ek dié versoek tydens die onderhoud met Carrington by sy huis in South Kensington aan die lord oorgedra het, het hy net kortaf gesê: “No!”

Dalk som Dirk Mudge, die voormalige DTA-leier in Namibië, Botha se loopbaan die beste op: “Pik het die kuns van politieke oorlewing goed bemeester.”

* Van der Walt is ’n politieke joernalis van Netwerk24.

Meer oor:  Pik Botha  |  Huldeblyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.