Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Plaasaanvalle: ‘As ek hier woon sal hulle my doodmaak’

Om te boer teen die Lesotho-grens in die Oos-Vrystaat is nie vir sissies nie. Willemien Brümmer het met grensboere hier – wit én swart – gepraat oor ’n lewe wat konstant onder beleg is.

Jenet van Niekerk en haar dogter Nannie is van die grootste kommersiële boere in Ficksburg. Hul plaas Mooiplaas is egter soos ’n oorlogsone. Foto: Mlungisi Louw

“Jy slaap steeds met jou lig aan, nê? Jy hou glad nie van die donker nie.”

Jenet van Niekerk raak saggies aan haar jongste dogter, Nannie (30), se arm. In die tuin van haar historiese sandsteenhuis op die spogplaas Morning Star buite Ficksburg koer die lemoenduiwe en die geelvinke. Dit lyk soos die paradys hier aan die voet van die Maluti-berge, met sy landskap gebaai in geel en groen en hemelblou.

Maar sowat 2,3 km vanaf haar voorstoep lê nog een van die Van Niekerk-plase, Mooiplaas – ’n oase wat sedertdien in ’n oorlogsone verander het. Soos baie van die grensplase hier is die inwoners konstant onder beleg.

Dis maar ’n rolprent wat oor en oor speel in jou kop wanneer jy jou oë toemaak.
Arend Corbett

Padlangs is Mooiplaas sowat 15 kilometer vanaf die Lesotho-grens. Tussen die grens en die plaashuis is ’n berg waar rampokkers soms vir ’n week op die loer lê om elke beweging van die inwoners te bestudeer. Daarna kan hulle ongesiens terugglip na die Bergkoninkryk.

Arend Corbett, ’n plaasbestuurder wat op 2 November 2017 saam met ’n werker, Tsotsetsi Lenyara, hier aangeval is, sê hulle kry steeds weekliks dreigoproepe. “Almal dink as ’n plaasaanval klaar afgeloop het is dit verby, maar ons kry steeds dreigemente van die mense af. Hulle sê hulle is nog nie klaar nie. Hulle gaan terugkom.”

Hy’s 28 en word in Oktober vir die eerste keer pa, maar vir Arend sal niks ooit weer dieselfde wees nie. “Jy herstel nooit van so iets nie, tensy jy die tyd kan terugdraai en dit kon verhoed het. Dis maar ’n rolprent wat oor en oor speel in jou kop wanneer jy jou oë toemaak.”

‘Genoeg is genoeg’

Die eerste aanval op Mooiplaas is in Julie 2015. Nannie, wat die familieboerdery se beesafdeling bestuur, woon alleen in die sandsteenhuis.

“Dit was glad nie in ons raamwerk om te dink so iets kon gebeur nie,” vertel Jenet, een van die grootste kommersiële boere in die omgewing. “Die huis was baie goed beveilig. Hy het diefwering gehad en ysterhekke en die hele plaas was omhein met ’n geëlektrifiseerde heining.”

Halfeen toe word ek nou weer wakker en ek hoor iemand karring aan die kombuis se veiligheidshek.
Nannie van Niekerk

Die trane sit vlak terwyl Nannie vertel.

Eers skrik sy om 11 nm die nag wakker toe sy dink sy hoor haar kat in die kombuis rondkrap. “Halfeen toe word ek nou weer wakker en ek hoor iemand karring aan die kombuis se veiligheidshek. Ek hoor toe hoe ’n groep mans Sotho praat en ek hoor daar is iemand by die deur.”

Sy sluit haarself in haar slaapkamer toe en roep oor die radio om hulp terwyl die mans haar kamerdeur oopskop.

Haar blou oë blink. “Hulle het toe darem nie . . . Ag, hulle het my net teen die muur gestamp en toe weer opgetrek en toe sê hulle in Engels: ‘The keys’.”

Toe hulle nie die bakkie aan die gang kry nie, kom haal hulle haar om te kom help, en toe stamp hulle haar uit die voertuig en vat die pad.

Die Van Niekerks bring verdere beveiliging aan by Mooiplaas, maar toe breek ’n groep mans ’n tweede keer in en steel alles waarop hulle hul hande kan lê.

Toe die sekerheidswag kort daarna vyf of ses mans binne die geëlektrifiseerde heining opmerk, besluit Nannie genoeg is genoeg.

Haar ma sug. “Nannie geniet die plaas, sy geniet die boerdery, maar toe besef ons net daar kan nie ’n derde keer wees nie en toe huur ons vir haar ’n woonstel in die dorp.”

Arend
Arend Corbett en sy vrou Sanette. Arend is in November 2017 op Mooiplaas buite Ficksburg aangeval.Foto: Facebook.

‘Hulle het hom probeer doodmaak’

Nog is dit het einde niet. In Mei 2016 begin Arend Corbett vir die Van Niekerks werk as plaasbestuurder en hy trek in Nannie se huis in op Mooiplaas. ’n Jaar later trou hy met sy fisioterapeut-vrou, Sanette, en toe volg die een voorval ná die ander.

Hy is deur sy kop geskiet. Die koeël is by sy slaap in en toe af deur sy wangbeen en by sy voortand is dit weer uit.

Op 2 November ry Arend en Tsotsetsi om 16:45 by die elektroniese hek in op Mooiplaas met ’n nuwe ysterhek agterop die bakkie wat hulle wil installeer vir ekstra veiligheid. Toe hy uitklim, staan daar vyf swaar gewapende mans buite sy bakkie. Hulle beveel hom in Sotho om op die grond te gaan lê en te pleit vir sy lewe. Binne ’n breukdeel van ’n sekonde besluit hy om te baklei. “Die een aanvaller het hom toe aangeval en Tsotsetsi het probeer keer. Hy is in sy been gesteek met ’n mes en Arend het verwoed begin baklei met die ander ouens,” vertel Jenet.

Sy sug. “Kortom: Hy is deur sy kop geskiet. Die koeël is by sy slaap in en toe af deur sy wangbeen en by sy voortand is dit weer uit.”

Hy is ook met ’n knopkierie oor die kop geslaan, van agter met ’n ysterstaaf geslaan en in sy ribbekas gesteek met ’n mes. “Hulle het hom probeer dóódmaak,” beklemtoon Jenet. “Maar hy het op ’n manier die geweer afgeneem en toe probeer skiet, maar die wapen kon nie afvuur nie. Dis toe dat die mans weghardloop en hy oor die radio roep hy en Tsotsetsi is aangeval.”

Toe Nannie binne minute daar kom, kry sy vir Arend in sy bakkie waar hy om sy lewe veg.

“Hy het verskriklik gelyk. Erg gebloei en so,” onthou sy. “Ek het toe reeds geweet hulp is op pad en ek het net probeer om sy wonde toe te hou.”

Haar ma val in. “Die mond-en-kaak chirurg van Bethlehem het gesê Nannie het Arend se lewe gered. As sy vir Arend laat lê het, sou hy dit beslis nie gemaak het nie.”

Ná die aanval bring die Van Niekerks nog lemmetjiesdraad en buiteligte aan, maar volgens Jenet is Arend “emosioneel op ’n slegte plek”. “Hy het met niemand oor die aanval gepraat nie en hy het hom onttrek van alles en almal. Ná ’n ruk het sy vrou net na my gekom en gesê hulle het probeer, maar hulle kon nie weer daai gemoedsrus kry nie. Hulle gaan trek.”

Arend, Sanette en Tsotsetsi woon nou in ander Oos-Vrystaatse dorpe van waar hulle elke dag werk toe pendel. Arend sukkel steeds met post-traumatiese stres en sy sinusholtes en tandvleis is verwoes. Vir maklik ses maande ná die aanval kon hy net slaap wanneer Sanette wakker was – en dan vir hoogstens twee ure op ’n slag.

Tog tel die Van Niekerks hul seëninge. Om ’n grensboer te wees is nie vir sissies nie. “Ek voel net die Here is altyd daar,” sê Jenet. “Nannie se lewe is wonderbaarlik beskerm en met Arend was dit net ongelooflik. Hy is fris gebou, maar hy is nie ’n bitter groot man nie en hy het met vyf mans met ernstige wapens baklei.”

Só lyk dit vanaf die plaas Sandstone Estates. Voor is die droë loop van die Caledonrivier en agter is Lesotho. Foto: Mlungisi Louw

In die ‘Wille Weste’

Dis nie net Mooiplaas wat onder beleg is nie. Daar is onlangs berig groot kommer heers onder landbouleiers dat armoede in Lesotho, tesame met swak grensbeheer, al hoe meer tot plaasaanvalle en ander misdaad in die Vrystaat kan lei.

Dr. Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis by Vrystaat Landbou, vertel sy verstaan dat die boere langs die grens “gatvol raak”. “Hulle (misdadigers) gaan deur die Caledonrivier, dis droog, daar is niks, geen versperring nie. Die weermag patrolleer, maar hulle het te min mense wat die grens patrolleer.”

Hulle kan nie langs die rivier ry nie, want daar is nie ’n pad nie en op sommige plekke is dit so bergagtig dat jy nie eens met ’n vierwielmotorfiets daar kan kom nie.

Hulle het nie eens respek vir die weermag nie en die weermag het semi-outomatiese wapens by hulle!
Dr. Jane Buys, Vrystaat Landbou

Sy sug. “Die onus raak al hoe meer op die boerderygemeenskap om hulleself te verdedig.”

Sy vertel daar was in Desember en Januarie vier voorvalle langs die grens toe Lesotho-burgers op die weermag geskiet het. “Hulle het nie eens respek vir die weermag nie en die weermag het semi-outomatiese wapens by hulle! Wat doen ’n boer wat nie eens so bewapen is soos die weermag nie?”

Inwoners van Lesotho wat oor die droë Caledonrivier na die plaas Sandstone Estates gekom het om mielies te stroop. Foto: Mlungisi Louw

By Sandstone Estates buite Ficksburg, met sy reuseversameling antieke plaasmasjinerie, militêre voertuie en smalspoor-stoomlokomotiewe, is dit soos om die Wille Weste te besoek. Sowat 30 kilometer van dié 8 000 hektaar plaas is teenaan die Caledonrivier en aan die oorkant sien jy die nedersettings binne skree-afstand van die mielielande. Die veiligheidsbestuurder hier, Ezekiel Nduma, vertel hy en sy nege sekerheidswagte het daagliks probleme met onwettige weiding en diefstal. Gesteelde voertuie, wapens, dagga en vee word gereeld hier oor die grens gesmokkel en die inwoners stoot tot so veel as 200 beeste op ’n slag oor die rivier en val die wagte met pangas en stokke en honde aan.

In een nag is Bonsmaras ter waarde van sowat R4 miljoen byvoorbeeld al gesteel (en later teruggekry) toe die wagte aangeval is deur tien mans van Lesotho.

“Selfs nou nog sê die mense (van Lesotho) vir my as hulle my kry gaan hulle my vermoor,” vertel Ezekiel. “Hulle beledig my altyd en hulle sê dinge soos: ‘Jy dink die plaas is joune, dis die Boere se plaas’ en ‘Ons sal jou kry’.”

Raymond Hohls, algemene bestuurder by Sandstone Estates, is ’n voormalige luitenant-kolonel in die weermag. Hier staan hy met sy radio terwyl hy probeer keer dat inwoners van Lesotho mielies stroop. Foto: Mlungisi Louw
By die plaas Sandstone Estates buite Ficksburg gaan dit soms soos in die Wille Weste. Sowat 30 kilometer van dié 8 000 hektaar spogplaas is teenaan die Caledonrivier en mielies word op ’n daaglikse basis gestroop. Hier wys ’n inwoner van Lesotho die mielies wat sy pas gestroop het. Foto: Mlungisi Louw
’n Inwoner van Lesotho en sy seun rus op die plaas Sandstone Estates nadat hulle gevang is terwyl hulle mielies stroop. Foto: Mlungisi Louw

Op pad na die grens is die grondpad versper met klipstapels en rotse. Meteens begin die bakkie teen ’n ysingwekkende helling versnel. Raymond Hohls, die algemene bestuurder by Sandstone en ’n voormalige luitenant-kolonel in die weermag, dwing die bakkie om ’n haarnaalddraai. Teen die berg sien ons oral wit sakke gevul met gesteelde mielies. “Hulle steel so 75 sakke ’n dag,” vertel hy.

Tree jy te hard op, steek hulle jou mielielande aan die brand.
Raymond Hohls, Sandstone Estates

Vroue en kinders van Lesotho spat regoor die mielielande uiteen en ’n man met ’n rooi baret skarrel by ’n boom op.

Raymond kla raadop oor die radio: “Wat gaan ons maak as ons hulle vang? Wat gaan ons bereik?”

Teen die randjies is daar minstens nog 80 mense, wys hy. Hy sug. “Tree jy te hard op, steek hulle jou mielielande aan die brand.”

Van die vroue en kinders is nou al agterop die bakkie gelaai, maar dit pla hulle min. ’n Lakterende vrou, met ’n pasgebore baba aan die ander kant van die grens, word huis toe gestuur. Een van die kinders huil op sy pa, wat intussen uit die boom geklim het, se skoot.

Ná ure word die res van die mense ook huis toe gestuur.

Lawrence se werkers is al sowat vyftien keer op sy plaas aangeval. Hy slaap in die township in Ficksburg en nie op sy plaas nie omdat hy al talle kere met die dood gedreig is. Foto: Mlungisi Louw

Werkers vyftien keer aangeval

By die opkomende boere op die munisipale meentgrond langs die Caledonrivier gaan dit nog woester. “Plaasaanvalle” is hier ’n byna alledaagse verskynsel, maar boere swyg daaroor uit vrees vir weerwraak.

’n Goed geplaaste bron, wat verkies om anoniem te bly vertel: “Vanaand kom haal hy sy beeste hier tussen die bome en dan word hy doodgekap met ’n panga of hulle steek sy huis aan die brand.”

Dalk anders as met die kommersiële boere word dit meestal net as “aanrandings” opgeteken deur die polisie. Dit hang af hóé dit gerapporteer is en wié dit gerapporteer het en wie ’n bohaai daaroor maak . . .

Elke maand word my beeste gesteel. Soms is dit 20, soms is dit 40.
Lawrence Modunga, opkomende boer

Lawrence Modunga boer die afgelope 13 jaar op meer as 400 ha meentgrond wat hy van die munisipaliteit huur teen sowat R45 000 per jaar. Hy slaap lankal nie meer snags in die saamgeflansde kliphuisie waar sy hoenders skrop nie, want hy vrees vir sy lewe.

“Hulle kom van Lesotho af en hulle vat my beeste en my skape. Verlede maand het hulle 21 beeste gesteel en dit kos tussen R12 000 en R15 000 per bees,” vertel hy moedeloos in Sotho. “Elke maand word my beeste gesteel. Soms is dit 20, soms is dit 40.”

Hy wys na ’n wit bakkie wat luier naby die Suid-Afrikaanse kant van die grens. “Daai man is ’n dief-man; hy is nie ’n boer nie. Hy vervoer gesteelde diere van Suid-Afrika na Lesotho en van Lesotho na Suid-Afrika.”

Hy beduie na ’n opslaanhuisie op sy grond met onwettige plakkers vanaf Lesotho. “Daar onder is waar ek altyd geplant het: Aartappels, pampoene, bone, wortels. Ek het ’n heining om my groente opgerig en ek het 120 werkers van Ficksburg gehuur, maar toe kom breek hulle my heining af en kom wei daar met hul beeste en toe is dit tot niet.”

Sy oë is vol trane. “Ek het seker so R1,7 miljoen verloor. Nou is daar niks! Terwyl ek die een was wat met die munisipaliteit ’n kontrak gehad het, het hulle net eenvoudig daar gaan woon. Ek het hulle by die munisipaliteit gaan verkla, maar hulle wou my nie help nie. Die munisipaliteit wil nie die mense afsit nie, want hulle kry geld uit hulle uit. En hulle het ’n aandeel aan die gesteelde beeste wat hier deurkom.”

Lawrence Modunga boer die afgelope 13 jaar op meer as 400 ha meentgrond wat hy van die munisipaliteit huur teenaan die Lesotho-grens buite Ficksburg. Foto: Mlungisi Louw

Net soos Ezekiel, word hy daagliks gedreig. “Hulle kom hier na my werkers en sê ek is nie die eienaar nie. Die grond behoort aan die munisipaliteit en ek moet maar loop. Dis hoekom ek nie hier slaap nie. As ek hier bly sal hulle my doodmaak.”

Een van my werkers het by die dood omgedraai en toe gaan hy terug huis toe na sy mense in Clarens.

Sy werkers wat op die plaas bly, is al meer as vyftien keer aangeval, sê hy. “Iemand het onlangs vir my ’n please call me gestuur en toe jaag ek hiernatoe. Hulle het my werkers in die huis vasgebind en hulle met knopkieries geslaan en toe gaan hulle uit na my diere. My mense het so seergekry dat ek hulle moes hospitaal toe neem.”

Hy skud sy kop stadig. “My werkers moet dikwels hospitaal toe gaan ná die aanvalle en soms kan ek nie betyds hier uitkom nie. Een van my werkers het by die dood omgedraai en toe gaan hy terug huis toe na sy mense in Clarens. Hy het vir my gesê hy kan nie meer vir my werk nie, want hy sal doodgaan op hierdie plek. Sy hele liggaam was opgeswel en hy het vir ’n week in die hospitaal gelê.”

Ook hy is al deur vier mans met gewere gedreig wat vir hom gesê het hy “steur hulle in hul werk”. “Ek het nog nooit so seer gekry dat ek moes hospitaal toe gaan nie, maar my werkers is glad nie meer vry nie. Wanneer hulle ’n kar sien aankom, dink hulle dis die mense wat hulle altyd dreig en dan hardloop hulle weg.”

Anders as baie van die kommersiële boere is dit nie vir hom ’n opsie om te verkoop nie. Die grond is in elk geval nie syne nie.

Indien hy vermoor word op sy grond, sal dit dalk nie eens die koerant haal nie.

“Daar is nie ’n manier dat ek gaan ophou boer nie.” sê hy ferm. “Dis my werk, dis waar ek my geld belê het, dis my diere.”

Hy gaan sit op ’n klip van waar hy kan uitkyk oor Lesotho. “Maar ek is nou siek; ek kry seer. Ek probeer maar net werk skep. Ek is veertig jaar oud en ek het nie ’n ander manier om ’n inkomste te kry behalwe deur te boer nie. Ek het ’n familie en ek wonder altyd hoe hulle gaan oorleef.”

Hy knik asof hy vrede gemaak het met sy lot as grensboer.

“Boerdery is die enigste leefstyl wat ek ken.”

Meer oor:  Willemien Brümmer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.