Wat sê die slagoffers – swart én wit – oor plaasaanvalle, en wat is die kenners se mening? Willemien Brümmer het langer as twee maande navorsing gedoen oor hierdie vlaag wat links en regs algaande verder polariseer.
Party van die slagoffers is rateltaai; hulle beheer hul emosies met 'n ysere wil. Ander herleef die trauma, selfs ná jare, elke dag. Sommige huil alleen – behalwe as hulle ’n politikus se saak kan sterk of ’n belangegroep se statistiek kan steun.
Die mense in die Oos-Vrystaat, langs die Lesotho-grens, lewe voortdurend onder beleg, terwyl die polisie net sommige sake ondersoek. Dit hang af hóé die aanvalle gerapporteer is, wie dit gerapporteer het en wie ’n bohaai daaroor maak.
In hierdie reek artikels kyk Brümmer in diepte na dié aanvalle wat hele gemeenskappe uitmekaarskeur en uniek aan ons wye en droewe land blyk te wees. Wat is fout met die beskikbare statistiek? Hoekom is die aanvalle so wreed en terselfdertyd: Hoekom praat ons nie oor almal se pyn nie? Soos pres. Cyril Ramaphosa in antwoord op ’n parlementêre vraag oor die plaasmoorde gesê het: Die nasie moet nog ’n lang pad met versoening en die gelyke waardering van elke lewe in die land loop.
1. EKSKLUSIEF: Weduwee maak hart oop ná Bonnievale-plaasmoord
Liezel Wessels praat vir die eerste keer met Netwerk24 oor die nag toe sy vir dood agtergelaat is en haar man, Tool Wessels, tereggestel is. Netwerk24 was by haar en haar dogters op hul plaas, Kapteinsdrift, buite Bonnievale.
2. Plaasmoord-weduwee: ‘Dit hou net aan en aan en aan’
Dis byna twee jaar ná die moord op Joubert Conradie van die plaas Uitkyk, maar sy weduwee, Marlene, herleef die trauma elke dag. Sy het gesê die onlangse plaasmoorde en -aanvalle in die Wes-Kaap bly die rowe oopkrap.
3. Geagte president, dís hoekom plaasmoorde tel
Pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede (weer) niks gesê oor plaasaanvalle nie. Brümmer probeer verstaan wat die impak van dié aanvalle is.
4. Plaasmoord: ‘Die meeste van die tyd huil ek alleen’
Mense soos sy is gewoonlik stemloos en gesigloos – behalwe as hulle 'n politikus se saak kan sterk. Hier volg die verhaal van Mmakarabo Pharoe, wat verlede jaar op die plaas Brandenburg verkrag is nadat haar man, 'n plaasbestuurder, wreed vermoor is.
5. Plaasaanvalle: ‘As ek hier woon, sal hulle my doodmaak’
Om te boer teen die Lesotho-grens in die Oos-Vrystaat is nie vir sissies nie. Grensboere hier – wit én swart – praat oor 'n lewe wat deurlopend onder beleg is.
6. Plaasaanvalle: Hoekom swyg ons oor swart lyding?
Die swart slagoffers van plaasaanvalle bly dikwels stemloos en gesigloos. Wanneer gaan ons erken dat alle Suid-Afrikaners se pyn ewe belangrik is?