Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Plaasaanvalle: Hoekom swyg ons oor swart lyding?

Die swart slagoffers van plaasaanvalle bly dikwels stemloos en gesigloos. Wanneer gaan ons erken dat elke Suid-Afrikaner se pyn is ewe belangrik is? vra Willemien Brümmer.

Die Witkruismonument in die Polokwane-distrik van Limpopo waar slagoffers van plaasmoorde gedenk word. Die probleem is dat slegs wit mense hier begrawe word. Foto: Wikipedia
Lita Fourie (regs), beskermvrou van die Witkruismonument en stigter van die Tabita-hulporganisasie vir slagoffers van plaasmoorde met die ou landsvlag tydens ’n opgradering van dié monument. Foto: Verskaf

Die Witkruismonument aan die westelike hang van die Ysterberg in die Polokwane-distrik van Limpopo met sy duisende wit staalkruise het in ons land van lyding al ikoniese status verwerf.

Elk van dié kruise wat jy vanaf die N1 in die namiddagson sien blink, gedenk iemand wat in ’n plaasaanval vermoor is. Elke jaar word nuwes bygevoeg as sigbare protes teen dié moorde wat nou al simbolies geword het van die pyn wat ’n sekere deel van die bevolking grotendeels vir hulself toeëien.

Die probleem met dié monument is natuurlik dat dit statisties onjuis is. Dalk is dit tekenend van wat pres. Cyril Ramaphosa onlangs in die parlement gesê het in reaksie op ’n vraag oor plaasmoorde: Die nasie moet nog ’n lang pad met versoening en die gelyke waardering van elke lewe in die land loop.

Net soos die families van elkeen van die slagoffers wie se name op die kruise aangebring is, het die beskermvrou van dié monument, Lita Fourie, ook ’n skreiende verhaal.

Haar ouers, John en Bina Cross, is op 16 April 2000 wreedaardig op hul plaas naby Gravelotte in Mpumalanga vermoor. Haar pa is in die bad aangehou en die aanvallers het kookwater by sy keel afgegooi voordat hy verskeie keer geskiet is en die bokant van sy kop met ’n aanvalsgeweer weggeblaas is. Haar ma is drie keer met ’n .22 geskiet en toe gelos om dood te bloei.

Lita is allesbehalwe skaam om te erken dat geen kruise vir swart slagoffers hier opgerig word nie.

“Dit is ’n wítkruismonument,” sê sy ferm. “Dit gaan oor swartes wat wit mense vermoor het – ons boere en hul kinders.”

Ek sien nie dat ek ’n wit kruis vir ’n swart mens gaan plant nie. Laat hulle hul eie plek gaan kry!
Lita Fourie, Witkruismonument

Sy erken wel dat daar swart slagoffers is, maar haar verweer is dat dit “swart op swart” is.

“Baie daarvan is basies onder mekaar. Die een skuld die ander een geld of dis hul tradisies. Jy kry ook rooftogte waarin hulle vasgebind of vermoor word, maar dis nie ’n wit mens wat ’n swart mens gaan vermoor nie. Hy het hom nie gemartel en goed nie.

“In 2012 was daar sprake van swart kruise, maar ek het geweier. Ek sien nie dat ek ’n wit kruis vir ’n swart mens gaan plant nie. Laat hulle hul eie plek gaan kry! Begin jul eie monument!”

Besoekers kyk na die name van hul geliefdes en kennisse op die muur van herinnering by Nampopark net buite Bothaville in die Vrystaat. Foto: Mlungisi Louw

Op die Muur van Herinnering of die sogenaamde “muur van trane” in Nampo-park net buite Bothaville in die Vrystaat is reeds 2 634 name op die swart granietpanele aangebring. Hoewel hier nie doelbewus teen ander rasse gediskrimineer word nie, word net 103 mense van kleur hier onthou. Dis sowat 4% van die totaal.

Orgie van geweld

In dié stadium bly die meeste swart slagoffers van plaasmoorde gesigloos en stemloos. Dit is selde dat jy hul stories lees of dat hul naasbestaandes van hul verlies op die voorblaaie van koerante vertel. Jy sien nie foto’s van hoe hulle gemartel is op sosiale media nie en boerdery-organisasies en belangegroepe soos AfriForum val nie oor hul voete om joernaliste met hulle in verbinding te bring nie.

Ek weet. Nadat ek met talle wit slagoffers van plaasmoorde gepraat het, het ek oor ’n tydperk van minstens twee weke verskeie organisasies gekontak om my met swart slagoffers in kontak te bring. Die enigste organisasie wat uit sy pad gegaan het om te help is Vrystaat Landbou. Maar selfs met sy hulp was dit moeilik om kontaknommers te kry omdat baie swart slagoffers nie behoort aan georganiseerde landbou-strukture nie.

Mmakarabo Pharoe buite die sinkhuisie in Ladybrand waar sy woon sedert haar man, ’n plaasbestuurder, verlede jaar op die plaas Brandenburg vermoor is. Foto: Mlungisi Louw

Toe ek uiteindelik met Mmakarabo Pharoe van Ladybrand kennis maak, was haar verhaal net so afgryslik soos die orgie van geweld waarvan jy byna daagliks in die hoofstroom-media lees. Haar man, Tankiso Pharoe, ’n plaasbestuurder op die plaas Brandenburg, is op 19 Maart verlede jaar 24 keer met ’n mes gesteek. Sy voete en hande is aan ’n heining vasgemaak.

Sy durf nie teruggaan na die plaas nie omdat sy vir haar lewe vrees.

Albei aanvallers het Mmakarabo verkrag. Terwyl die eerste haar aan die ergste vorm van vernedering blootgestel het, het sy gesien hoe die tweede ’n mes en sy gesig van haar man se bloed skoonvee voordat hy haar ook verkrag het.

Geen plaas is aan haar agtergelaat ná haar man se dood nie. Al geld wat sy het om haar en haar drie kinders te onderhou is die R1 200 maandelikse toelae wat sy van die staat kry en die 50 kg mieliemeel wat die boer aan wie Brandenburg behoort aan haar skenk. Sy durf nie teruggaan na die plaas nie omdat sy vir haar lewe vrees.

Grafika: Grafika24
Grafika: Grafika24

Die probleem met statistiek

Die probleem is dat die statistiek wat verskillende instansies byhou, dikwels beduidend van mekaar verskil. Nie een se data is werklik betroubaar nie en dis net af en toe dat die syfers volgens ras bygehou word. Kry jy dit wel, is dit soos om appels met pere te vergelyk.

Uit dié analise blyk dit dat 47,1% van die moordslagoffers swart, 41,2% wit, 8,8% bruin en 2,9% “Asiaties” was.
dossier-analise van die polisie

Só blyk dit uit ’n dossier-analise deur die polisie se hoofkantoor oor plaasaanvalle en -moorde in die 2015-’16-boekjaar dat 51,22% van die 451 slagoffers van plaasaanvalle wit was. Byna 44% was swart, sowat 3% “Asiaties” en 2% bruin.

Uit dié analise blyk dit dat 47,1% van die moordslagoffers swart, 41,2% wit, 8,8% bruin en 2,9% “Asiaties” was.

In 2001 het dieselfde span in ’n soortgelyke dossier-analise bevind dat 61,6% van die slagoffers wit, 33,3% swart, 4,4% “Asiaties” en 0,7% bruin was.

Vrystaat Landbou, wat sy syfers gereeld op prioriteitskomiteevergaderings met dié van die polisie verifieer, hou sy syfers by volgens die rolle van die onderskeie slagoffers op plase en kleinhoewes. In die afgelope drie boekjare was daar 174 aanvalle, wat 20 moorde ingesluit het. Onder die slagoffers was 84 produsente (wit boere), nege was opkomende boere en in ses gevalle was beide werkers en produsente aangeval. ’n Volle 72 van die slagoffers was plaaswerkers.

Sewe wit boere, drie opkomende boere en nege werkers is vermoor, terwyl nog iemand wat op ’n plaas gewoon het, gesterf het.

Sedert die begin van die jaar tot 5 Augustus was 17 van die 29 aanvalle op opkomende boere en werkers.

Dr. Johan Burger, senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies. Foto: Craig Nieuwenhuizen

Daar is meer wit kommersiële boere

Een rede hoekom meer wit boere as swart boere nog aangeval word, is dalk omdat daar in dié stadium nog meer wit kommersiële boere is. Dit hang natuurlik af hoe jy boerdery definieer.

Dr. Johan Burger, ’n senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies, sê dis omdat kommersiële landbou histories gesproke meer deur wit boere bedryf is.

Opkomende boere het maar eers in die afgelope 15 tot 20 jaar werklik tot die landboubedryf toegetree.

“In die lig van ontwikkeling, die hele gronddebat en die hele benadering dat swart boere bemagtig moet word om ook kommersieel te boer, sal al meer swart boere tot kommersiële landbou toetree. En met die opkoms van swart boere loop hulle natuurlik dieselfde risiko’s as bestaande kommersiële boere.”

Hy sê dis uiters belangrik om uit te wys dat ander rasse ook slagoffers is. “Dit behoort ’n einde te bring aan die persepsie dat georganiseerde landbou net bekommerd is oor plaasaanvalle omdat die slagoffers wit is.”

Dr Jane Buys, veiligheids-risiko-analis by Vrystaat Landbou.Foto: Kaydene Jordaan

‘Dit hang af wie ’n bohaai maak’

’n Ander probleem is dat baie misdade op plase nooit gerapporteer word nie en dat ons dalk net bewus is van die oortjies van die seekoei.

Dr. Jane Buys, Vrystaat Landbou se veiligheidsrisiko-analis, sê die prentjie ten opsigte van geweldsmisdade wat veral fokus op aanranding met die doel om ernstig te beseer is redelik skeefgetrek, maak nie saak wie die slagoffers is nie.

“Ten opsigte van intimidasie, brandstigting en kwaadwillige beskerming van eiendom wat voorlopers van moontlike plaasaanvalle is, is dit net so skeefgetrek. Die ware prent in terme van die impak en omvang is nie bekend nie en dan kan daar veronderstel word dat jy net die oortjies van die seekoei raaksien. Waar daar ’n redelike georganiseerde landbou-struktuur bestaan en inligting geskakel en deurgegee word, is die waarskynlikheid hoër dat ons nader aan die werklike prentjie kom, maar ons is nog nie daar nie.”

Lawrence Modunga, ’n opkomende boer buite Ficksburg in die Oos-Vrystaat. Sy werkers is al sowat vyftien keer op sy meentgrond aangeval en hy word gereeld gedreig. Foto: Mlungisi Louw

Op ’n onlangse besoek aan Ficksburg in die Oos-Vrystaat het ek die opkomende boer Lawrence Modunga ontmoet, wat reg teen die Lesotho-grens op munisipale grond boer. Plaasaanvalle is hier byna al deel van die lewe, maar veral die opkomende boere swyg uit vrees vir weerwraak. Lawrence slaap lankal nie meer snags in sy saamgeflanste kliphuisie nie, want hy word daagliks gedreig. Sy werkers is al 15 keer aangeval – dikwels so erg dat hulle moes hospitaal toe gaan, maar nie een van dié aanvalle is as plaasaanvalle opgeteken nie.

’n Ingeligte bron hier meen dat die polisie – dalk anders as in die geval van kommersiële boere – dit meestal net as aanrandings opteken. “Dit hang af hoe dit gerapporteer word en wie dit rapporteer en wie ’n bohaai daaroor maak.”

Johan Burger sê as hierdie boere nie aan georganiseerde landboustrukture behoort nie, is daar ’n groot kans dat dié aanvalle “verlore sal gaan”. “As dit ook nie in die media gerapporteer word nie, beteken dit niemand weet van die aanvalle nie.”

Kan jy dink hoe dit gaan lyk as ons in staat is om dit meer volledig te rapporteer?
Dr. Johan Burger, ISS

Sommige van dié boere behoort aan die vereniging vir swart boere, Afasa, maar dié organisasie hou nie sy eie statistiek by nie.

Hy sê georganiseerde landbou kan baie meer doen om die omvang van die probleem baie meer akkuraat te bepaal. “Dis op die oomblik die grootste leemte hier. Die probleem is reeds ernstig genoeg met die onvolledige prentjie wat ons het. Kan jy dink hoe dit gaan lyk as ons in staat is om dit meer volledig te rapporteer?”

Die sanger en aktivis Steve Hofmeyr betoog saam met AfriForum teen plaasmoorde by die Uniegebou in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

AfriForum se statistiek

Die Afrikanerregtegroep AfriForum, wat net soos die (wit) boerderyvereniging TLU SA sy eie data byhou, het eers vanjaar begin om dié statistiek volgens ras aan te dui. Hiervolgens was 76% van die 249 aanvalle op wit slagoffers. Uit die 27 moorde was 18 slagoffers wit, vyf swart, een “Indiër” en drie onbekend.

Die korrektheid van AfriForum se statistiek word egter uit verskeie oorde bevraagteken – juis omdat dit deel van sy mandaat is om – in sy eie woorde – “ ’n spesifieke fokus op die regte van Afrikaners as ’n gemeenskap aan die suidpunt van Afrika” te plaas.

’n Belangrike deel van sy narratief is dat veral wit Afrikaners in ’n hedendaagse Suid-Afrika slagoffers is. Die organisasie tree op in belang van die mense wat sy maandelikse bydraes betaal.

Prof. Elmien du Plessis, medeprofessor in die regte aan die Noordwes-universiteit. Foto: Murray Louw

Prof. Elmien du Plessis, ’n medeprofessor in die regte aan die Noordwes-Universiteit, som dit as volg op: “AfriForum bied ’n tuiste aan Afrikaners wat bang en deurmekaar is in Suid-Afrika; mense wat trots is op hul identiteit en wat ’n behoefte het om aan iets te behoort en dit nie kry in die groter samelewing nie. Die vrees word aangevuur deur dit te laat lyk of dit net wit mense is wat slagoffers van plaasaanvalle is. En dat AfriForum heldhaftig opstaan daarteen. En dan natuurlik die uitnodiging om by AfriForum aan te sluit.”

Dit is navorsing wat gedoen word deur ’n organisasie met ’n spesifieke fokus, waarvan die geldigheid al dan nie, nie getoets word nie.
Prof. Elmien du Plessis

Sy sê die probleem met sy statistiek en metodologie is dat dit nie aan ’n eweknie-evaluasie onderworpe is nie. “Dit is navorsing wat gedoen word deur ’n organisasie met ’n spesifieke fokus, waarvan die geldigheid al dan nie, nie getoets word nie. Ek dink dit is bitter belangrik dat die data beleid moet onderskryf, maar daar moet wetenskaplike metodiek betrokke wees wat objektief getoets kan word.”

Burger stem saam. “Ek het nog nooit eintlik van AfriForum se syfers gebruik gemaak nie, juis oor die probleem dat daar in baie kringe agterdog heers oor watter belange hy dien.”

TLU SA

Hy gebruik wél TLU SA se syfers saam met dié van die polisie, maar dié organisasie erken self dat sy syfers oor aanvalle aansienlik minder betroubaar as sy syfers oor moorde is. TLU SA hou in dié stadium net die moordsyfer by in terme van ras. Hiervolgens was 259 uit die 2 028 moordslagoffers, wat hy tussen 1990 en 2019 aangeteken het, swart. Dis sowat 12,7%.

“Hulle het twee inligtingsbronne,” verduidelik Burger. “Die een is sy lede en die ander bron is die media. So soms sal hy inligting in die media sien en dit dan opvolg en probeer verifieer of dit inderdaad binne die definisie van ’n plaasaanval is. Maar ons weet dat nie alle plaasaanvalle die media haal nie,” sê hy.

Volgens hom is die polisie se syfers waarskynlik veel meer betroubaar omdat hy landwyd verteenwoordig word en polisiekantore in die kleinste dorpies het. “Daar is natuurlik vrae in watter mate hierdie inligting pligsgetrou gerapporteer word. So op die oomblik is daar geen akkurate instrument waarmee die aanvalle gemeet word nie.”

Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum. voer in sy boek, Kill the Boer, aan die “proses van etniese suiwering” moet beskou word as ’n ernstige bedreiging.Foto: AfriForum

Etniese suiwering?

Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, het in sy boek Kill the Boer probeer aandui hoekom die Suid-Afrikaanse regering volgens hom medeverantwoordelik vir die plaasaanvalle in die land is.

Hy voer in sy boek aan dat die “proses van etniese suiwering” beskou moet word as ’n ernstige bedreiging en iets wat voorkom moet word.

Toe ek hom vra hoekom dié organisasie my nie kon help met een nommer vir ’n swart slagoffer van plaasaanvalle nie, het hy gesê: “Ek het nie kontak met die families van swart boere wat vermoor is nie. Ons wil graag kontak maak, maar ons weet nie waar om hulle te kry nie.”

Ek is nie bewus van enige swart boer wat ure lank gemartel is nie.
Ernst Roets, AfriForum

Op die vraag hoekom dit lyk asof net die moorde op wit slagoffers aan die groot klok gehang word, het hy gesê: “Ek weet nie van politici of invloedryke mense wat uitsprake maak oor swart boere wat geblameer moet word vir alles wat fout in Suid-Afrika is nie. Ek is nie bewus van enige swart boer wat ure lank gemartel is nie. Ek is nie bewus van ’n plaasmoord waar daar byvoorbeeld gesê is ‘maak dood die swartes’ nie, maar die teendeel is wel duidelik. Ek dink ons frustrasie is dat daar ’n poging is om te probeer aanvoer dat ras irrelevant is as dit by plaasmoorde kom, maar dit is hoegenaamd nie waar nie.”

‘Dis nie ’n wit, unieke probleem nie’

Du Plessis waarsku dat die gedagte dat plaasmoorde ’n gefokusde aanval op wit mense is, sorg vir ’n narratief van “ons en hulle”. Uiteindelik word ’n organisasie soos AfriForum se pogings om “terug te veg” teen plaasaanvalle teenproduktief.

“Dit word dan ’n selfvervullende profesie. Want as AfriForum homself byvoorbeeld opstel teen die regering, hoe kan die regering aandag gee aan die geldige probleme wat geopper word sonder dat dit lyk asof hy in die hele narratief inspeel? Dit is ’n unieke probleem, maar dit is nie ’n wit, unieke probleem nie.”

Die antwoord lê waarskynlik daarin dat daar meer samewerking tussen alle Suid-Afrikaners teen alle vorms van misdaad moet wees. Dat ons moet erken hoe wreed, selfs uniek, plaasaanvalle is, maar dat niemand se pyn gebruik moet word om ’n spesifieke agenda te bevorder nie.

As die bevolkingsgroepe in die land nie mekaar se pyn en seer gaan raaksien en erken nie, sien ek nie hoe ons gaan oplossings kry nie.
Dan Kriek, AgriSA president

Dan Kriek, AgriSA se president, sê ons gaan net oplossings vind as ons “mekaar raaksien, want hierdie misdadigers kies hul teikens tussen ons almal”. Daar is ook ’n behoefte dat “alle landbou-organisasies – wit en swart – beter met mekaar saamwerk in terme van landelike veiligheid en beter statistiek en misdaad-analise en intelligensie sodat ons die probleem beter kan aanpak,” sê hy.

“As die bevolkingsgroepe in die land nie mekaar se pyn en seer gaan raaksien en erken nie, sien ek nie hoe ons gaan oplossings kry nie.”

Dalk is die punt dat lyding nie iets is wat een groep vir homself kan toeëien nie. Soos die skrywer Marita van der Vyver onlangs op die Woordfees gesê het: “Let’s not compare miseries!”

*Hierdie is die sesde artikel in ’n reeks oor plaasaanvalle waarin met verskeie slagoffers van dié aanvalle – wit én swart – gepraat is.

Meer oor:  Willemien Brümmer  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle  |  Statistiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.