Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'Plaasaanvalle is nie 'n wit ding nie'

Die oorsake vir plaasaanvalle moet dalk eerder in die algemene verval van wet en orde in Suid-Afrika gesoek word as in politieke of ander redes, berig Gert van der Westhuizen.

Wit kruise wat buite Polokwane geplant is om die aandag te vestig op die slagoffers van plaasaanvalle. Foto: Brendan Croft

Statistieke van TLU SA wil dit hê dat plaasaanvalle sedert 2010 skerp toegeneem het. Verlede jaar was daar byvoorbeeld 369 aanvalle en 71 moorde. Tot dusver vanjaar was daar al 321 aanvalle en 61 moorde waarvan hulle weet, het Henry Geldenhuys, voorsitter van TLU se veiligheidskomitee, Donderdag op die Rede-kabel-gespreksreeks op die Aardklop-kunstefees in Potchefstroom gesê.

Dié statistieke sluit volgens Geldenhuys plaaswerkers en hul gesinne, sowel as besoekers aan plase, in.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, wat in die gehoor was, het gesê die gemiddelde moordsyfer wêreldwyd is sewe mense per 100 000. In Suid-Afrika is dit tussen 32 en 33 mense per 100 000 en op Suid-Afrikaanse plase tot soveel as 133 mense per 100 000.

Suid-Afrika het ongelukkig ’n gewelddadige staat geword. Daar is ’n gebrek aan leierskap en die gemeenskap het eintlik leierloos geword.

Kobus Visser, direkteur: korporatiewe skakeling van Agri SA, wat al 25 jaar by landelike veiligheid betrokke is, het gesê boere is wêreldwyd ’n sagte teiken vir misdadigers.

Hulle ly onder veediefstal, betreding, onwettige jag (veral in Australië) en vandalisme wat die vernietiging van plaaswerktuie insluit. Die verskil in Suid-Afrika is die gewelddadige aard van plaasaanvalle.

“As jy honger is, hoekom moet jy ’n persoon doodmaak en martel?” het Visser gevra. Een rede vir die wrede aard van plaasaanvalle, het hy sy eie vraag probeer beantwoord, is dalk omdat plase so afgeleë is. “Jou bure is ver. Die polisie se reaksietyd is pateties en in sommige gevalle reageer hulle nie eens nie. Misdadigers het dus baie tyd. Hul beplanning is ook goed.”

Suid-Afrika ’n gewelddadige staat

Geldenhuys het gesê almal op plase ly onder misdadigers. “Dit is nie ’n wit ding nie.”

Visser het dié stelling beaam. Hy sê volgens syfers van Vrystaat Landbou wat gewoonlik baie akkuraat is, was 35% van die onlangse slagoffers swart werkers of swart boere.

“Dis nie ’n rasding nie,” het Francois Strydom, uitvoerende hoof van Senwes, bygevoeg. “Ons doen onsself skade aan as ons daardie argument opper. Dis nie ’n wit-swart-ding nie. Ons gaan die land verder afbreek as ons dit verkondig. Jy maak nie goed reg deur dit te breek nie.”

Volgens Strydom is misdaad in Suid-Afrika immers nie net beperk tot plaasaanvalle nie.

“Suid-Afrika het ongelukkig ’n gewelddadige staat geword. Daar is ’n gebrek aan leierskap en die gemeenskap het eintlik leierloos geword. Ons het sedert 2010 die totale verval van leierskap in die land gesien. En as mense sien dat jou hoogste leier betrokke is by dinge wat as misdadig beskou kan word en daar word nie teen hom opgetree nie, sal jy totale verval kry.”

Nog ’n berig oor ’n plaasmoord.

In Europa en Amerika probeer die meeste mense binne die reëls en wette van hul lande leef, het Strydom gesê. “Maar in Suid-Afrika probeer die gemeenskap buite die reëls leef.

“Ons kyk hoe ons 80 km/h in ’n 60 km/h-gebied kan ry sonder om gevang te word. Ons kyk hoe ons belasting kan ontduik.”

Sake kan nie so aangaan nie, het Strydom gesê. Almal kan nie net emigreer om van misdaad weg te kom nie en 99,9% van Suid-Afrikaners sal nêrens anders heen kan gaan nie.

“Ons moet die plek regmaak, want ons moet hier bly.”

Absolute onverantwoordelike uitsprake deur politici kan deur misdadige elemente uitgebuit word om boere aan te val

Een manier om dit te doen, is om die voorbeeld van die polisie in die Bronx in New York te volg waar mense vir die geringste oortredings aangekeer en vervolg is. Dit het hoë vlakke van misdaad drasties verlaag.

“Ons moet die stryd teen die misdadigers wen. Ons kan tog nie agter mure van 30 voet hoog met kameras, masjiengewere en wagte bly nie.”

Misdadigers buit politieke retoriek uit

Frans Marx, adjunk-voorsitter van Suidwes Landbou se direksie, het gesê hy is nie so seker dat plaasaanvalle net die werk van misdadigers is nie. Hy glo dit het ’n politieke doel en dat boere só skrikgemaak moet word dat hulle moet padgee van hul plase af.

Groenewald het gesê dit help nie as die president van die land aan mense sê hulle is arm omdat hulle nie grond het nie en dat ongelykheid en armoede die skuld is van die wittes wat die grond gesteel het. Die EFF het 'n hele veldtog rondom grond gevoer met die boodskap dat wittes dit gesteel het, het Groenewald gesê.

“Absolute onverantwoordelike uitsprake deur politici kan deur misdadige elemente uitgebuit word om boere aan te val,” het Visser gesê.

Volgens Geldenhuys word enkele gevalle van swak arbeidsverhoudinge tussen boere en plaaswerkers ook gebruik om ’n wig tussen hulle te dryf. Hy glo egter dat arbeidsverhoudinge op plase in die algemeen goed is in ’n land met van die strengste arbeidswetgewing in die wêreld. Daar is min gevalle van plaasaanvalle waarby werkers betrokke was.

Boere bid in 2015 buite Ventersburg oor onder meer plaasmoorde. Foto: Jana Smit

Daar is eerder verskeie ander redes waarom boere onveilig voel.

Daar is nou nog ’n vakuum in landelike gebiede nadat die kommandostelsel afgeskaf is, het Geldenhuys gesê. Daarby is dit moeilik vir boere om polisie-reserviste te word omdat hulle nie kan bekostig om drie weke lank van hul plase weg te bly vir opleiding nie.

Die reservistestelsel kry in elk geval nie behoorlike staatsondersteuning nie en van behoorlike toerusting is daar nie juis sprake nie. “Reserviste kry nie eens koeëlvaste baadjies nie. Wanneer laas het polisiebeamptes ’n plaas besoek en ’n register onderteken wat bevestig dat hulle daar was?”

Al die deelnemers aan die debat het dit egter duidelik gemaak dat boere glad nie eie reg moet gebruik nie.

Visser meen daar is ’n baie goeie strategie in plek vir landelike veiligheid, maar dat die politieke wil ontbreek om dit uit te voer.

“ ’n Goed ontwikkelde en toegeruste reservistestelsel sal help. Snelreaksie-eenhede is nog nie daargestel nie. Ons het ook ’n intelligensievermoë nodig, want dan kan ons voorkomend eerder as reaktief optree.”

Marx het gesê gemoedere in landbougeledere loop hoog omdat “boere die skuld vir alles kry” terwyl hulle net doen wat hulle veronderstel is om te doen deur goedkoop kos vir die land te produseer.

Dit lei onder meer tot bespiegelings dat boere eie reg kan gebruik as niks aan hul lot gedoen word nie. Geldenhuys het gesê mense in informele nedersettings doen dit reeds omdat hulle geen vertroue in die polisie het nie.

Al die deelnemers aan die debat het dit egter duidelik gemaak dat boere glad nie eie reg moet gebruik nie.

“Dit sal ons in groot chaos dompel,” het Visser gemaan.

Meer oor:  Gert Van Der Westhuizen  |  Potchefstroom  |  Aardklop  |  Boere  |  Misdaad  |  Plaasmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.