Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Plaasmoord: Mense soos sy is gewoonlik gesigloos

WAARSKUWING: Die artikel bevat beskrywings van geweld wat lesers kan ontstel.

Mense soos sy is gewoonlik stemloos en gesigloos – behalwe as hulle ’n politikus se saak kan sterk. Willemien Brümmer vertel die verhaal van Mmkarabo Pharoe, wat verlede jaar op die plaas Brandenburg verkrag is nadat haar man, ’n plaasbestuurder, wreed vermoor is.

Mmakarabo Pharoe, die weduwee van Tankiso Pharoe, ’n plaasbestuurder wat verlede jaar op die plaas Brandenburg buite Ladybrand in die Oos-Vrystaat vermoor is. Sy is tydens die aanval verkrag. Foto: Mlungisi Louw

Haar bruin oë is sonder uitdrukking, asof sy uit noodweer moes vergeet wat verlede jaar op 19 Maart op die plaas Brandenburg net buite Ladybrand gebeur het.

Dis die eerste keer dat sy haar storie aan ’n joernalis vertel. Mense soos sy is gewoonlik stemloos en gesigloos – behalwe as hulle ’n politikus se saak kan sterk of ’n belangegroep se statistiek kan steun.

Waar Mmakarabo Pharoe in die Wimpy op Ladybrand sit, sowat 18 kilometer van die hoofstad van Lesotho, het sy die vorige dag laas geëet. Die Ultimate Meaty Feast voor haar bly onaangeraak, sodat sy dit later die aand met haar drie kinders, Karabo (18), Tlhokomelo (13) en Tladi (9) kan deel.

Die moeilikste nou vir my is dat ek nie geld het nie en dat ek nie werk het nie.

Sedert hulle pa, Tankiso, verlede jaar wreed op dié plaas vermoor is, verwag hulle niks meer nie, hoop hulle niks meer nie.

“Die meeste dae gaan hulle skool toe sonder enige iets in hul mae,” sê sy in Sotho. “Maar dis asof hulle nie meer omgee nie. Soms gee ek vir hulle R2 en hulle eet Simba tjips en hulle is oukei, maar hulle gee nie regtig meer om nie.”

Sy bedek haar gesig met haar hande. Aan haar linkervinger pryk steeds ’n trouring. “Die moeilikste nou vir my is dat ek nie geld het nie en dat ek nie werk het nie.”

Mmakarabo met Tlhokomelo (13) regs en Tladi (9) links. Sedert die moord op die kinders se pa moet hulle dikwels honger skool toe gaan. Foto: Mlungisi Louw

‘My tyd is my tyd’

Ek moes die gebeure van 19 Maart verlede jaar uit verskillende bronne soos ’n legkaart in mekaar pas. Mmakarbo, of “Fransina”, praat ’n “diep” Sotho, vertel die fotograaf, Mlungisi Louw, wat terselfdertyd ook tolk.

Brandenburg, die veeplaas waar sy en Tankiso tydens die moord gewerk het, lê byna teenaan die Caledonrivier en die Lesotho-grens. Oorkant die droë rivierloop kan jy die hutte sien.

Anton van den Berg, die boer aan wie Brandenburg en verskeie ander plase in dié gebied behoort, vertel die diefstal in die gebied het hom al byna geknak. “Hulle knip omtrent elke aand my drade en steel omtrent elke liewe aand my beeste se lek uit hul krippe uit, so dis chaos! Hulle maak jou moedeloos en steel jou in jou maai.”

Ook hy en sy gesin leef in vrees. “Ek het vir myself gesê my tyd is my tyd. As hulle nou voel hulle wil my kom uithaal, kan hulle my langs die land kom vat, maar jy kan jou in jou lewe nooit beveilig dat hulle niks aan jou kan doen nie.”

Tankiso het op sy ander plaas, Exether, grootgeword en het in 2007 saam met Mmakarabo na Brandenburg getrek waar hy die plaas bestuur het. Hulle het alleen op die plaas gebly. Tankiso en Mmakarabo het albei plaaswerk gedoen. Hy het R5 800 per maand verdien en sy R2 900. 

Anton sluk. “Ek het bitter lanklaas so ’n goeie ou ontmoet wat soveel sou doen vir sy werkgewer.”

Hulle het hom doodgemaak omdat hy nie dinge op die plaas wou steel en aan hulle verkoop nie.

Om alleen op ’n grensplaas te boer is nie vir sissies nie. “Ek het glad nie veilig gevoel nie,” vertel Mmakarabo. “Die kinders van Lesotho het oor die grens gekom en kom steel en die grootmense het vir Tankiso gesê hulle gaan hom doodmaak. Hulle het die drade geknip en hul beeste onwettig op Brandenburg laat wei en Tankiso het hulle probeer keer.”

Sy trek haar blou breërandhoed laer oor haar gesig. “Selfs wanneer ons kinders huis toe gekom het van die koshuis was hulle bang.”

Sy praat sagter asof sy nie wil hê die mense by die omliggende tafels moet hoor nie. “Die mense (van Lesotho) sou sê: ‘Julle leef soos witmense en julle het ’n kar. Julle maak asof hierdie plaas julle s’n is.’ Hulle het hom doodgemaak omdat hy nie dinge op die plaas wou steel en aan hulle verkoop nie. Hulle sou kom en eis dat hy diesel en plaasgereedskap vir hulle moes steel.”

Toe Tankiso vir Anton vertel hy word gereeld genader om te help steel, sê Anton vir hom: “Tankiso, moenie probeer dapper wees nie. Bel my enige tyd van die nag dat ons die polisie of die weermag inkry dat ons die ouens gevang kry wat jou so treiter.”

Tankiso antwoord kordaat: “Moenie worry nie Anton, ek is in beheer hier, dis my plaas en ek sal hom met my lewe oppas.”

Tankiso Pharoe voordat hy vermoor is. Hy was ’n groot sokkerentoesias.

‘Wat wil julle nou eintlik hê?’

Die laatmiddag op die dag van 19 Maart ry Tankiso en Mmakarabo met hul wit Opel Corsa dorp toe om papiere by hul slim oudste kind, Karabo, te kry vir ’n beursaansoek. Sy wil onderwys studeer. Vroegaand neem hulle die papiere na die polisie om gewaarmerk te word.

Toe hulle by die plaas uitry sien Tankiso in die truspieël twee mans naby die ingang: Die een dra ’n klapmus en die ander een het ’n kappietop (hoodie) wat sy gesig verhul. Tankiso herken die een met die kappietop as ene “Checha”, wat dikwels op die plaas gekom het wanneer sy koeie daar naby wei en kom vra het vir water of ’n aansteker vir sy sigarette.

“Hy is van Lesotho, maar hy het aan die Suid-Afrikaanse kant gewerk,” sê Mmakarabo.

Om 18:35 is hulle terug by die plaas, vyf minute laat vir hul geliefkoosde sepie Skeem Saam. Tankiso parkeer in die stoorkamer. “Jy sal my in die huis vind,” sê sy vir hom. “Ek sit solank die TV aan.”

Sy sukkel met die sleutel in die voordeur en tot haar verbasing swaai dié deur vanself oop. Sy steek haar hand in en sit die lig agter die voordeur aan. In plaas van ’n plastiekblom, sien sy ’n spitvurk op die tafel binne.

Meteens hardloop Tankiso na haar. “Daar is . . .”

Hy maak nie sy sin klaar nie.

Buite is dit stikdonker. Dit reën. Sy sien dieselfde twee mans wat hulle vroeër by die ingang gesien het by die buitekraan.

“Hardloop!” skree Tankiso.

Manne, wat wil julle nou eintlik hê? As julle iets wil hê sal ek dit vir julle gee.

Die twee mans begin hulle jaag en Tankiso probeer hulle met klippe te verdryf. Die een het ’n mes en die ander ’n knopkierie.

“Ek weet nie wat met Tankiso gebeur het nie, maar die een man het my gegryp en my met sy knopkierie agter my kop geslaan. Dit was te donker om mooi te sien wat aangaan, maar ek het die kierie gegryp en dit weggegooi.”

Toe sy weer vir Tankiso sien, loop hy “soos ’n dronk man”. Die mans bind haar en Tankiso se hande met blou baaltou vas en neem hulle na ’n laagtetjie naby die ander (verlate) huis op die plaas. Op pad vra Tankiso: “Manne, wat wil julle nou eintlik hê? As julle iets wil hê sal ek dit vir julle gee.”

Die mans lag. “Jou tyd is verby,” sê die een. “Toe daar nog tyd was het jy geweier (om te doen wat ons vra).”

Hulle bind Tankiso se voete en hande aan ’n hoekpaal vas en hulle bind haar voete en hande aan mekaar vas waar sy op haar maag lê.

“Hulle het my klaargemaak,” hoor sy vir Tankiso skree.

Mmakarabo buite die sinkhuisie in Uitbreiding 9 in die township buite Ladybrand waar sy woon sedert die moord op haar man. Sy wou nooit weer teruggaan plaas toe nie. Foto: Mlungisi Louw

‘Wat het jy vir ons gekook?’

“Ek kon nie sien nie, maar hulle moes hom met die mes gesteek het. Die mans het weggegaan en so dertig minute later teruggekom. Dis tóé dat Tankiso vir hulle vra: ‘Manne, wat het julle nog nodig?’”

Hulle antwoord: “Die registrasiepapiere vir die kar”. Tankiso dink vinnig: “Maak my vrou los sodat sy vir julle die papiere kan kry.”

Hulle maak haar voete los en loop saam met haar na die hoofhuis. Alles is deurmekaar en op die vloer gesmyt. Sy lei hulle na ’n lêer met die kar se papiere.

“Die een man het my geklap en my teen die muur gegooi. Hy het gesê dis nie die regte papiere nie. Die ander een het my om die bed geneem. Ek het ’n sweetpak aangehad en toe pluk hy die sweetpak af.”

Hy is vol bloed. Dis toe dat ek besef dis Tankiso se bloed.

Haar mond wil die woorde vorm, maar haar tong wil nie. Sy kyk af na haar hande. Skurwe hande wat weet van draad span, hout kap en beeswerk.

“Die man met die klapmus . . . hy verkrag my. Die ander een staan voor die spieëlkas. Hy is vol bloed. Dis toe dat ek besef dis Tankiso se bloed. Ek sien in die spieël hoe hy die mes skoon vee en sy gesig skoon vee. Toe hy klaar die bloed skoongemaak het, loop hy van die spieël af en kom verkrag my ook.”

Toe hy klaar is, skree hy: “Wat het jy vir ons gekook?”

Mmakarabo Pharoe: “Ek is nie vry nie. Ek dink soms as ek snags by my huis aankom sal hulle daar iewers vir my wag.”Foto: Mlungisi Louw

Sonneblomme

Haar oë blink, maar sy huil nie.

“My kruideniersware was in die yskas gepak maar toe hulle dit oopruk, skree hulle: ‘Daar is net kak hier binnekant!’ Hulle het aanhoudend die yskasdeur oopgeruk en toegeklap en kruideniersware rondgegooi. Toe sê hulle: ‘Ons gaan nou na die kar’.”

By die motor smeek sy hulle om haar dogter se papierwerk uit te haal en op die trekker te sit. “Toe hulle die papiere uitgehaal het, het ek gesê ek wil myself buite verlig. Die een het my broek afgetrek, maar toe ek klaar was het hy dit net so gelos. Dit het lank geneem voordat ‘Klapmus’ weer my broek opgetrek het. Ek het gedink hoe kan ek hulle doodmaak, maar toe vra ek vir Klapmus of hy gou die papiere in die stoorkamer vir my sal kry. Hoodie het die kar uitgetrek en dit langs die hoofhuis parkeer.”

Terwyl “Klapmus” in die stoorkamer is, neem sy haar kans waar. Sy hardloop na die hooibale langs die stoorkamer. “Dis tóé dat ek dink moet ek eers teruggaan om vir Tankiso te vind maar ek het besef as ek teruggaan kan hulle my daar kom soek.”

Sy hardloop in ’n veld in vol sonneblomme langs die pad. Drie kilometer verder bereik sy ’n munisipale gebied waar sy hulp kry by ’n vriendin.

Ek het sy naam begin roep, maar toe neem die polisie my weg. Hy was reeds dood.

Die polisie kom dadelik en jaag saam met Mmakarabo na Brandenburg. By die T-aansluiting kry hulle die wit Opel Corsa met sy deure oop, steeds luierend. Die motor het in ’n sloot geval in die reën.

Sy lei die polisie na die plek waar sy vasgebind is. “Ek kon nie dadelik vir Tankiso sien nie, maar toe ons mooi soek het ons hom gevind. Hy was vol bloed. Ek het sy naam begin roep, maar toe neem die polisie my weg. Hy was reeds dood.

Wat sy nie sê nie, is dat sy voete en hande aan ’n heining vasgemaak was. Volgens die polisie was daar 24 meswonde aan sy lyf. Sy liggaam was op sy sy gedraai aan die heining.

“Hulle het vir my gesê ek moet in die polisiekar klim en dis toe ek vir hulle sê ek is verkrag. Hulle het die ambulans gebel en ek het hospitaal toe gegaan. Ek het twee wonde in my rug gehad.”

Sy bly lank stil asof sy nie weet wat om verder te sê nie. Toe sê sy die voor die hand liggende: “Dit was verskriklik. Ek was die een wat by die kinders moes agterbly en ek was nou werkloos.”

Mmakarabo se twee jongste kinders, Tlhokomelo (13) en Tladi (9), op die bed wat sy van die plaas af gebring het. Foto: Mlungisi Louw

‘Ek was bang om terug te gaan’

By die begrafnis val politici oor hul voete om beloftes te maak. Mosiuoa Lekota, die president van Cope, twiet: “Die beskerming van een is die beskerming van almal. Meer moet omtrent plaasmoorde gedoen word.”

Mmakarabo gaan nooit weer terug om op die plaas te gaan woon of werk nie. Sy is te bang. Die boer laat haar besittings haal en laai dit by haar suster op Platberg af.

Sy is ook bang om saam met haar kinders op die stuk grond in Uitbreiding 9 in die township te gaan bly waar Tankiso vroeër vir hulle ’n sinkhuis opgerig het.

“Later was dit nie meer lekker waar ek gebly het nie, want my suster se man was nie meer tevrede dat ek daar bly nie. Daar was niks wat ek daaraan kon doen nie. Ek moes al my meubels op Platberg los. Ek het na die jaart gegaan met ons bed en ’n paar potte en bakke en ’n TV.”

Aanvanklik hou Anton en sy familie aan om haar maandelikse salaris te betaal, maar sy sê in Augustus het die geld opgedroog. Hy help haar om werk te kry op die dorp, maar die betaling by die eerste huis is R300 per week (vir drie halfdae per week) en by die tweede huis werk dinge nie uit nie.

Sy lyk sy oud en moeg, al is sy nog net veertig. “Ek leef nou op toelae-geld. Dis R1 200 per maand vir die drie kinders, maar op 1 Oktober word Karabo 18 en dan sny hulle haar geld en dan kry ek net R800.”

Ek is nie vry nie. Ek dink soms as ek snags by my huis aankom sal hulle daar iewers vir my wag.

Soms is al wat sy het om te oorleef die 50 kilogram mieliemeel wat sy elke maand by Anton kry.

“Partykeer het ek nie eens elektrisiteit om te kook nie. Die kinders sê as hul pa nog hier was, sou ons nie so gesukkel het nie.”

Tankiso Pharoe het voor sy dood aan die boer gesê: “Moenie worry nie Anton, ek is in beheer hier, dis my plaas en ek sal hom met my lewe oppas.”

Sy praat sagter. “Mense praat te veel. Hulle vra hoekom is ek nie ook dood nie? Ek wonder of hulle bedoel ek het die mense gevra om my man te kom doodmaak?”

Nog niemand is aangekeer vir die moord nie. “Die speurder het gesê hulle het nie die reg om vanuit Suid-Afrika te gaan om iemand in Lesotho te arresteer nie. Ek is nie vry nie. Ek dink soms as ek snags by my huis aankom sal hulle daar iewers vir my wag.”

Sy staan op, gereed om weer terug te gaan na Uitbreiding 9 waar sy haar Ultimate Meaty Feast met haar drie kinders gaan deel. Die lewe moet voortgaan, al sal Tankiso nooit ’n wit staalkruis kry by die Witkruismonument aan die voet van die Ysterberg waar die wit slagoffers van plaasmoorde gedenk word nie.

Huil sy ooit?

Sy bly stil, amper asof sy dink dis nie iets wat sy durf waag nie. Nie sy nie, nie Mmakarabo nie.

“Wanneer ek huil wil ek nie hê die kinders moet my sien nie," sê sy oplaas. "Die meeste van die tyd huil ek alleen."

Meer oor:  Willemien Brümmer  |  Plaasaanval  |  Lesotho  |  Plaasmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.