Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Plaasmoord-weduwee: ‘Dit hou net aan en aan en aan'

Dis meer as 19 maande ná die moord op Joubert Conradie van die plaas Uitkyk, maar sy weduwee, Marlene, herleef die trauma elke dag. Sy het aan Willemien Brümmer gesê die onlangse plaasmoorde en -aanvalle in die Wes-Kaap bly die rowe oopkrap.

Marlene Conradie, weduwee van Joubert Conradie, in haar leefvertrek op die plaas Uitkyk in Klapmuts. Sedert die plaasmoord op Joubert moes sy ’n boer en ’n ma en ’n pa word. Foto: Adrian de Kock

“Mamma, die honde is net besig om vir die engele rondom die draad te blaf.”

Dis wat Jana (13) vir haar ma sê wanneer haar ma snags van die honde se geblaf wakker skrik. Dié engele “staan vlerk aan vlerk dig teen die geëlektrifiseerde drade” wat die vier gewapende mans in die vroeë oggendure van Dinsdag 24 Oktober 2017 op die plaas Uitkyk in Klapmuts met wingerdpale opgelig het.

Dié oggend toe Joubert Conradie vir sy vrou, Marlene, gesê het: “Lief, ek is geskiet”, voordat hy onwillekeurig die gesig van plaasmoorde in Suid-Afrika geword het.

Skaars ’n week later het dié skaam weduwee die spilpunt geword van Swart Maandag toe sy verkies het om liefde in ’n tyd van haat te predik.

Vandag is dit meer as 19 maande later, maar Marlene herleef die trauma nog elke dag. Haar porseleinagtige vel lyk steeds asof dit afgeskuur is, so broos is sy.

Ek herleef dit elke dag ’n páár keer, maar ek weet ek moet vir my kinders aangaan.

“Baie keer gaan ek net vir Jana by die skool haal of ek gaan winkel toe en as ek instap by daai deur, sien ek Joubert daar op die kombuisvloer lê.”

Die trane wel op in haar mooi bruin oë. “Ek dink aan sy . . . amper hulpeloosheid waar hy gestaan het voor daai vier mense. Wat deur sy kop moes gegaan het. Ek herleef dit elke dag ’n páár keer, maar ek weet ek moet vir my kinders aangaan.”

Haar geheue flits soos so dikwels terug na die oggend wat die res van haar lewe sou definieer. “Ek en hy het dieselfde oomblik daai geluid gehoor. Dit was ’n dowwe geluid. Ek het wakker geword; hy het wakker geword. Hy het gehardloop; ek het gehardloop seker een minuut agter hom aan en vinnig gaan loer in Jana se kamer. Vyf treë van die kombuis af het ek die skote gehoor en die panic button gedruk en die alarm het afgegaan. Hy het dadelik om die draai gekom en gesê hy is geskiet. Oral was bloed.”

Sy knyp haar oë toe, haar stem fyn. “Ek moes eintlik in hulle vasgehardloop het, maar ek het hulle nooit gesien nie. Hy het een man raakgeskiet en hulle is almal weer uit.”

Sag: “Joubert het al die koeëls vir ons lewens gevat.”

Marlene Conradie: “Mense rondom ons bly geskiet word, bly aangeval word. Dit hou net aan en aan en aan . . .”Foto: Adrian de Kock

‘Mense om ons bly geskiet word’

Die oggend toe ons na Uitkyk sou gaan, stuur Marlene al skuins ná 05:00 haar eerste WhatsApp. Die vorige keer toe ons ontmoet het, was Joubert die eerste boer wat in ’n hele aantal jaar in die groter Stellenbosch-omgewing vermoor is. Die Boland was ’n “land by die see wat my alles kan gee”; ’n poskaart wat die eerste keer met bloed bevlek is.

Sedertdien het die Wes-Kaapse boere deel geword van die statistiek wat byna daagliks in die media gepubliseer word. Daar was sedert 1 Junie reeds meer as 13 plaasaanvalle in dié provinsie. ’n Hele gemeenskap is in rou gedompel in Bonnievale, waar Tool Wessels wreed tereggestel is en sy vrou, Liezel, vir dood agtergelaat is. Op die plaas Louisenhof aan die buitewyke van Stellenbosch word Stefan Smit op 2 Junie deur vier rowers aangeval en vermoor en twee dae later word Christelle van der Westhuizen op die plaas Glen Gall buite Klapmuts aangerand toe vier mans haar en haar kinders oorval het. Dit gebeur sowat agt kilometer van Uitkyk af; om halfsewe die oggend.

Ek is vanmôre só bang . . . só ’n groot bang om terselfdertyd liefde te spreek maar ook om oor te dra dat genoeg nou genoeg is.

Die Afrikanerregtegroep AfriForum kondig begin Junie aan dat die aantal plaasaanvalle in die Wes-Kaap in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar verdubbel het.

Marlene se WhatsApp is net soos dié van die ander boere waarmee ek die afgelope tyd gepraat het – vol huiwering. Byna asof hulle bang is om enigiets te sê: “Ek is vanmôre só bang . . . só ’n groot bang om terselfdertyd liefde te spreek maar ook om oor te dra dat genoeg nou genoeg is.”

’n Paar uur later word ons met Bolandse gasvryheid ontvang. Knetterende vuur en kolwyntjies, maar voor elke venster en deur is diefwering. Die plaasbestuurder het sement gegooi waar die vier aanvallers ingekom het en die elektriese drade rondom die huis is onverbiddelik.

’n Groot portret van Joubert met twee brandende kerse daaronder hang bo die klavier in die voorkamer.

In die tuin is sy as begrawe langs dié van sy ouers wat in die 1950’s die eerste keer op Uitkyk kom boer het: “In liefdevolle herinnering aan ons liefste Joubert en Pappa.”

’n Groot portret van Joubert Conradie hang bo die klavier met twee brandende kerse op die plaas Uitkyk. Wanneer Marlene en haar kinders, Hannes en Jana, sukkel om aan te gaan, kyk hulle na dié foto. Foto: Adrian de Kock

’n Boer en ’n ma en ’n pa

Die 49-jarige Marlene is ’n mooi vrou – sag en oneindig breekbaar. “ ’n Mens bly hartseer, ek bly my kinders jammer kry. Mense rondom ons bly geskiet word, bly aangeval word. Dit hou net aan en aan en aan . . .”

Haar kinders, Hannes (16) en Jana (13), moes oornag grootword. “My kinders het baie sterkte in hulle maar hulle kry swaar. Ons kry almal baie swaar. Dis net die Here se genade wat ’n mens laat aangaan.”

Voor die Dinsdagoggend toe alles verander het, was Marlene ’n gewone ma wat skaam was om te praat voor mense. Sedertdien moes sy ’n boer en ’n ma én ’n pa word.

“Ek leer elke dag. ’n Mens leer soos jy aangaan en ons moet bybly, want hierdie is ’n klein plasie. Dis 30 hektaar, so dis nie dat dit volume het nie. Dis maar ’n moeilike jaar vir die druiwe en vrugte as gevolg van die droogte, so ons vat dit maar dag vir dag.

“Mense is baie behulpsaam en baie ondersteunend. Jy moet maar net vra. Maar dit bly ’n uitdaging. Vir my was seker een van die heel moeilikste dinge om 100% al die besluite te moet neem oor die plaas en oor my en my kinders se lewe en natuurlik oor hoe om veilig te bly.”

Dis hoë engele met die koppe tot dáárso. Hulle staan vlerk aan vlerk sodat daar niks kan inkom van buite af nie.

Ten spyte van die twee Deense honde, Apollo en Buksie, en die labrador, Stella, is sy bang om ná 17:00 op die plaas te gaan stap. “Ek ry nie as ek nie regtig moet ry nie; ek bly verkieslik waar dit veilig is. En ek luister maar vir die geluide in die nag. As die hond één blaf gee, is ek wakker. Of as die houtvloer kraak, is ek wakker.”

Dis dan wanneer Jana vir haar die engele beskryf wat rondom die plaas se drade staan. Sy wys met haar hand doer bo haar kop; ’n diep gelowige vrou. “Dis hoë engele met die koppe tot dáárso. Hulle staan vlerk aan vlerk sodat daar niks kan inkom van buite af nie.”

Sy lag. “Ek glo dit ook darem al eintlik.”

Marlene in ’n wingerd op die plaas Uitkyk saam met haar honde, Apollo en Stella. Sy het ná haar man se dood ’n plaasbestuurder aangestel om haar met die boerdery te help. Foto: Adrian de Kock

‘Sake word toegesmeer’

Die probleem is dat nog nie een van die aanvallers al aangekeer is nie.

“Ek wens daar het al iets gebeur, maar daar het nog niks gebeur nie.”

Dis terrible, dis regtigwaar . . . mense word net doodgemaak en gemartel, en niemand word gevang nie; dit gaan net aan.

Sy skud haar kop. “Dis amper onmoontlik dat niemand nog gevang is nie. Ek meen, hierso was privaat speurders, die Valke was betrokke en ek weet nie hóéveel polisie was hier nie. Dit voel my net die sake word toegesmeer. Dit móét polities wees.

“Daar was ’n bloedspoor, daar is ’n balaklawa in die wingerd gekry en niks nie, dit loop net dood. Dis terrible, dis regtigwaar . . . mense word net doodgemaak en gemartel, en niemand word gevang nie; dit gaan net aan.”

Sy knik. Ja, dit moet die plaaswerkers ook onseker en bang maak. Gesinne wat al van altyd af op die plaas woon. “Ek sal optree in hulle belang, maar hul lewe is ook in gevaar. Enigiemand kan maar by hulle ook inkom en begin skiet.”

En ja, as die moordenaars ooit gevang word, sal sy hulle in die oë wil kyk. “Die Here sal vir my sê wat ek vir hulle moet sê. Ek sal vir hulle wil vra het hulle regtig berou? Dit was ’n uitgewerkte plan, beslis. Hulle het geweet waar om in te klim by Hannes se kamer. Hulle het geweet hy is nie daar nie.”

Die grafsteen waarin Joubert se as begrawe is in die tuin op Uitkyk. Foto: Verskaf
Joubert en Marlene Conradie Foto: Verskaf

‘Hulle kan nie net ons lewens steel nie’

Om aan te hou boer sodat sy die plaas aan die derde generasie Conradies kan oorgee, was een van die moeilikste keuses wat sy in haar lewe moes maak.

“Joubert het so hard gewerk op die plaas. Dis so verkeerd dat hulle net in ’n oomblik kan kom en alles kan steel. Ek voel net dit is soos ’n nalatenskap dat hy kan weet sy kinders is nog hier op die plaas.”

Partykeer gee net die wingerde of ’n mooi sonsondergang haar krag. Maar sy sukkel dikwels om die paradyslike omgewing in te neem. Die stylvolle plaashuis aan die voet van die Simonsberg en die wingerde met hul rooidruif-kultivars: shiraz, cabernet, merlot en cabernet franc.

“Ek stap baie keer hier en dan kyk ek hierso buite op die stoep en dink hoe ons hier gesit het saam met vriende en gebraai het of hoe Joubert met sy glasie wyn gesit het. Só baie keer stap Hannes hier by die hek uit en dan dink ek hierdie kind het nie meer sy pa wat saam met hom kan boer nie.”

Dié brandewynkraffie met die twee glase – een vir Hannes en een vir Joubert – staan in Hannes se kamer net onder die venster waar die inbrekers dié nag toegang tot die plaashuis verkry het. Langs die portret is een van sy kriekettrofeë. Foto: Adrian de Kock

In Hannes se slaapkamer by die venster waardeur die mans geklim het, staan ’n kristalbrandewynkraffie met twee glase – een vir Hannes en een vir Joubert. Dit staan langs een van Joubert se kriekettrofeë. Op sy dag het hy saam met Hansie Cronjé vir Boland gespeel.

Haar oë is mistig. “Ek mis hoe hy vir Hannes vasgedruk het as hulle golf gespeel het. Ek mis dit dat hy vir Jana, elke middag wanneer sy by die huis gekom het, maak nie saak of hy op die trekker gesit het of waarmee hy besig was nie . . . hy het die motor se deur vir haar kom oopmaak en haar vasgedruk wanneer sy uitgeklim het.”

Hannes, Marlene en Jana op Joubert Conradie se roudiens in die NG Kerk Suider-Paarl. Foto: Jaco Marais

‘Dit krap die rowe oop’

Jana, wat haar pa dié Dinsdagoggend in ’n plas bloed gesien lê het, kry die afgelope twee maande angsaanvalle en nagmerries. Net soos Marlene word sy baie siek. Die vorige aand het sy ’n koors van 41° gehad.

Marlene self bly steier oor die swart gat van depressie.

As ek droom is dit gewoonlik sulke harde geluide en alarms wat afgaan en mense wat skree.

Sy sug. “Maar ek kan nie toelaat dat ek inval in die gat nie, want weer eens, wie gaan langs die kant staan by my kinders?”

Sy bly droom van mense wat probeer inbreek. Nag ná nag ná nag. “As ek droom is dit gewoonlik sulke harde geluide en alarms wat afgaan en mense wat skree. Dis altyd soos ’n onbekende iets waarvan ek nie die gesig kan sien nie.”

Wanneer sy snags nie kan slaap nie, gaan sit sy soms sommer op die plek op die kombuisvloer waar Joubert gelê het. In die kombuis wat tevore die hart van die huis was.

Soggens wanneer sy opstaan, bly die hartseer soos ’n onversadigbare dier aan haar knaag. Sy lees nie eintlik meer nie en sukkel met haar konsentrasie.

“Ek skryf alles in ’n boekie neer net om te onthou wat ek deur die dag moet doen. Daar is só baie maniere waarop trauma jou liggaam aantas . . .”

Die meeste van die tyd verkies sy om nie die koerante oop te maak of die nuus te luister nie. “Dis amper asof jy jou kop in die grond druk soos ’n volstruis. Jy wíl nie weet nie.”

Boere kom op Swart Maandag in 2017 langs die Groenpunt-atletiekstadion bymekaar. Dié dag is skaars ’n week ná die dood van Joubert Conradie gehou toe duisende mense landwyd saamgetrek het en swart klere gedra het om respek te betoon aan die boere wat hul lewe weens misdaad in Suid-Afrika verloor het. Foto: Jaco Marais
Die boeregemeenskap van Klapmuts kom bymekaar voor die plaas Uitkyk ná die vorige dag se plaasaanval waarin Joubert Conradie vermoor is. In ’n vreedsame protes teen die moord op Joubert Conradie het die boere hul voertuie vir meer as 600 m vanaf die ingang van die plaas in die rigting van Klapmuts in die geel lyn geparkeer. Philip du Toit het namens die boere en die Conradie-gesin ’n gebed gedoen. Foto: Jaco Marais

Tog kan sy dit nie help om te bly hoor van plaasmoorde en -aanvalle nie. “Dit krap die rowe oop. Jy herleef dit weer, baie intens. Jy kry die mense só jammer en jy wens só jy kon help.”

Soms stuur sy net ’n WhatsApp aan die ander weduwees van plaasmoorde; dié vroue wat aan ’n klub sonder naam behoort omdat die onsêbare met hulle gebeur het. “Ek sê ek dink aan jou of ek verstaan. Dis goed om te weet daar is mense wat verstaan.”

Sy kies haar woorde versigtig. “Boere is die sagte teikens op die oomblik. Die maniere hoe hulle doelbewus gemartel word. . . Hoe daai vrou (Liezel Wessels) met kookwater gegooi is, dis mos onmenslik!”

As jy weet hoeveel keer op ’n dag bid ek oop oë terwyl ek bestuur.

Sy lag senuagtig. “Ek voel daar moet oplossings kom. As die mense in die hoogste gesag in die land nie kan besluite neem nie, dan is dit ’n probleem. Dis ’n probleem as hulle nie eers bereid is om iets daaraan te doen nie.”

Sy maak haar keel skoon.

“As jy weet hoeveel keer op ’n dag bid ek oop oë terwyl ek bestuur. Dis nie net ’n formele gebed ‘liewe Jesus, help ons voor ek gaan slaap of wanneer ek opstaan’ nie. Ons moet net daaraan vashou, want as ons gaan toelaat dat ons deur haat opgevreet word, dan bly daar niks van ons oor nie.”

Het sy nog hoop?

Sy bly lank stil. Só lank dat jy nie seker is of sy gaan antwoord nie. Dit lyk asof die antwoord byna onmenslike sterkte van haar vereis.

Toe knik sy; haar wange rosig. “Ek glo met my hele hart daar is hoop aan die ander kant, ja.”

*Dit is die tweede artikel in 'n reeks van drie oor plaasmoorde.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.