Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Amerikaanse safari:
Plaasmoorde: Ontkenning is die mens se grootste vyand
Die regering se afmaak van plaasmoorde as net ‘gewone misdaad’ laat die waarskuwingsligte flikker, skryf Pieter Groenewald.  

Waldimar Pelser maak verlede week in sy rubriek die opmerking dat plaasmoorde in Suid-Afrika nie as ’n “volksmoord” beskryf kan word nie. Alhoewel dié uitspraak tegnies korrek is, is die kwessie veel meer genuanseerd as wat Pelser voorgee.

Volgens die polisie was daar vanaf 1996 tot einde Maart vanjaar 12 806 plaasaanvalle waarin 1 747 mense gesterf het. Uit die nuutste syfers blyk dit dat daar in die ses boekjare sedert 2012 altesame 3 059 plaasaanvalle was (teen ’n gemiddelde van 509,8 per jaar) waarin 338 mense dood is (’n gemiddelde van 56,3 per jaar).

Is dit normaal?

Die regering skram weg van uitsprake oor plaasmoorde en het in 2007 besluit om nie meer statistieke van plaasmoorde en plaasaanvalle bekend te maak nie. Op my vrae waarom die statistieke nie gegee word nie, was die antwoord dat dit maar soos enige ander moord is.

Vanjaar het die nuwe minister van polisie, Bheki Cele, vir die eerste keer sedert 2007 geantwoord op my vraag in die parlement oor plaasaanvalle en -moorde en die nuutste statistieke gegee.

Die misdaad wat deur mense in Suid-Afrika die meeste gevrees word, is rooftogte by woonhuise. Dit is te verstane, want by ’n rooftog word daar altyd een of ander wapen gebruik en bedreig dit jou en jou gesin se lewe.

As ons na die wreedheid en marteling in plaasmoorde kyk, is dit duidelik dat dit nie net gewone misdaad is nie.

Is plaasmoorde soos enige ander moord – soos wat daar graag deur die regering gesê word?

Daar moet onthou word dat elke plaasaanval eintlik soos ’n rooftog by ’n woonhuis is. Die moordsyfer op boere is amper vyf keer meer as die gewone moordsyfer in Suid-Afrika. Dit bewys dat boere geteiken word.

Prof. Rudolph Zinn, ’n lektor in polisiepraktyk by Unisa, het bevind dat die gemiddelde getal aanvallers in plaasaanvalle agt is, teenoor vier by huisrooftogte in dorpe en stede.

As ons na die wreedheid en marteling in plaasmoorde kyk, is dit duidelik dat dit nie net gewone misdaad is nie.

Dit kan nie gewone misdaad wees indien mense gemartel word totdat hulle sterf nie; waar ’n vrou ure aaneen verkrag word terwyl haar man gedwing word om dit te aanskou; waar mense se koppe vergruis word en hulle aan die brand gesteek word; kookwater in die slagoffer se keel afgegooi word; met warm strykysters gebrand word of waar ’n elektriese boor gebruik word om gate in ’n vrou se voete te boor nie.

Suid-Afrika is ’n gewelddadige land met ’n moordsyfer van 34 per 100 000 van die bevolking. Die wêreldgemiddelde is maar 7 per 100 000. Die moordsyfer vir polisielede in Suid-Afrika is 53 per 100 000. Vir boere is dit 153 per 100 000. Hiervolgens is dit amper drie keer gevaarliker om te boer as om ’n polisielid te wees.

In die polisieverslag oor plaasaanvalle in 2003 is bevind dat die kanse vir ’n boer om in ’n plaasaanval beseer te word twee keer meer is, en om te sterf drie keer meer is as iemand in ’n transitorooftog.

Tog verklaar die waarnemende hoof van die Valke verlede jaar in die polisiekomitee dat transitorooftogte nou as voorkeurmisdaad hanteer word. Op my vraag waarom plaasmoorde nie ook as voorkeurmisdaad verklaar word nie, gesien in die lig van die polisieverslag, kon sy nie antwoord nie.

Tans is daar ’n besliste verband tussen die toename in plaasmoorde en politieke uitsprake van politieke leiers wat wit mense beskuldig dat hulle die grond gesteel het. Uit die polisieverslag het geblyk dat daar wel ’n politieke motief bestaan by plaasmoorde, maar die presiese persentasie is moeilik om te bepaal.

Die polisieverslag maak die volgende bevinding: “One obvious explanation for the greater violence of farm attacks may be that the attackers act with a different motive than simply robbery, e.g. political or racial.”

Uit ’n onlangse besoek aan België is dit duidelik dat wanneer jy met mense in die buiteland praat oor die wreedheid wat gepaardgaan met plaasmoorde, hulle dit nie anders sien as volksmoord en nie gewone misdaad nie.

’n Kenner van volksmoorde, dr. Gregory Stanton, ’n voormalige president van Genocide Watch wat verslag aan die Amerikaanse regering gelewer het oor die volksmoord in Rwanda, het basies nege fases van volksmoord geïdentifiseer.

Hy identifiseer verskeie stappe en uitsprake in die samelewing wat tekens is van die aanloop tot ’n volksmoord. Dit behels onder meer die klassifikasie van groepe deur te verwys na “ons en hulle”; haatspraak wat uitgespreek word; om lede van ’n groep met insekte te vergelyk (soos kakkerlakke); die regering wat vergrype ontken en die demonisering van ’n groep.

Van hierdie tekens is reeds merkbaar in uitsprake en gebeurtenisse wat in Suid-Afrika plaasvind, en Stanton, wat Suid-Afrika besoek het, verklaar dat ons in ongeveer die vyfde fase beweeg, maar nie by die volksmoordfase is nie.

Wanneer waarskuwingsligte flikker moet ons kennis neem daarvan en dit sal onverantwoordelik wees om nie daarop te reageer nie. Ontkenning kan soms die mens se grootste vyand wees.

Die weiering van die polisie om plaasmoorde as voorkeurmisdaad te hanteer, die sporadiese weerhouding van statistieke oor plaasmoorde en -aanvalle, die wreedheid van die moorde asook die regering se ontkenning van die werklike probleem en dat hulle dit afmaak as net nog gewone misdaad, laat waarskuwingsligte flikker.

Dit is daarom te verstane dat politieke partye soos die Vryheidsfront Plus en burgerlike organisasies soos AfriForum plaasmoorde internasionaliseer, want as Suid-Afrika se regering nie die erns daarvan besef nie, moet daar internasionaal druk op die regering toegepas word om wel op te tree.

  • Dr. Pieter Groenewald is leier van die VF Plus.
Meer oor:  Eiendomsreg  |  Regering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.