Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Plaatje sou nie van dié ANC gehou het

Sy oupagrootjie sou nie trots gewees het op vandag se ANC nie, het ’n nasaat van Sol Plaatje, die eerste sekretaris-generaal van dié party, tydens 'n gesprek by die KKNK gesê.

Dan Plaatje (links) luister Saterdag op Die Burger se Praat Saam-gespreksreeks in Oudtshoorn na Willemien Brümmer. Ivor Price was die gespreksleier. Foto: Jaco Marais

Daar is sekere ANC-lede wat nie die belange van die land en sy mense op die hart dra nie, het Dan Plaatje in Oudtshoorn by Die Burger se Praat Saam-gespreksreeks op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gesê.

“Leierskap in die ANC is ’n ding wat kom en gaan. Hoe gouer dit gebeur, hoe beter. Genoeg is genoeg,” het Plaatje, ’n agterkleinseun van Sol Plaatje, eerste sekretaris-generaal van die South African Native Congress, gesê.

Plaatje en Willemien Brümmer, artikelskrywer van Netwerk24 en agterkleinkind van CJ Langenhoven, het Saterdag by die eerste gespreksreeks gepraat oor die nalatenskap van hul bekende voorsate.

Plaatje, ’n sakeman en voorsitter van die Sol Plaatje-trust, wou nie name noem toe hy gevra is na watter ANC-lede hy verwys as hy oor leierskap praat nie.

“Ek is al klaar in genoeg moeilikheid,” het hy gelag. “Ek dink dit is hoogtyd dat die lorrie maar moet start en hulle moet opklim en ry.”

Die meeste swartmense in die land weet nie eens wie Langenhoven was nie. Die meeste jongmense weet ook nie dat hy 'Die Stem' geskryf het nie.
Willemien Brümmer

Plaatje het gesê sy oupagrootjie sou beslis nie tevrede gewees het met wat politici vandag in die land doen nie.

“My oupagrootjie was nie ’n tweegat-draaijakkals nie. Reg was reg en verkeerd was verkeerd. Hy was ’n man van eer. Destyds was eer baie belangrik vir die ANC.

“Hy was ook ’n trotse mens en op die oomblik is die volk nie juis trots nie; geen wonder daar is so baie betogings nie.”

Dit is baie belangrik om die Setswana-spreuk in gedagte te hou wat sê iemand is net ’n mens deur ander mense. “Ek glo die leierskap – en nou sit ek op ’n primus-stoof – moet besef dit gaan nie net oor brood en botter op hul tafels nie; dit gaan oor die hele volk, wit en swart en almal.”

Plaatje het gesê hy sal nie met die ANC breek nie, hoewel sekere lede van dié party hom nie aanstaan nie.

“As ek jou my stem gee, gee jy my die reg om jou te kritiseer. Meningsverskille skep nie ’n krisis nie. Dit laat ons albei groei. So, die leiers moet meer luister en minder arrogant wees.”

Brümmer het vroeër gesê “oorerwing is ’n komplekse ding” toe sy oor haar oupagrootjie, skrywer van onder meer “Die Stem” gepraat het. Sy het hom beskryf as ’n “diep, diep gekwelde kreatiewe gees” en “briljante mens” wat ’n groot bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans en Afrikaanse letterkunde in veral die eerste twee dekades van die 20ste eeu gelewer het.

Tog het hy ook die sogenaamde Swart Manifes geskryf wat die Nasionale Party in die “Swart Gevaar-verkiesing” van 1929 gebruik het. “Dit was ’n proto-apartheidsokument en deurspek met rassistiese retoriek. Dit is iets waaroor ons as familie voel ons behoort jammer te sê.”

Brümmer het gesê die meeste swartmense in die land weet nie eens wie Langenhoven was nie. Die meeste jongmense weet ook nie dat hy “Die Stem” geskryf het nie.

Ons kyk oor mekaar en mis mekaar,

Sy glo dié lied “het sy tyd gehad en dit is nou verby”; veral omdat dit tot groot ontevredenheid onder ’n groot deel van die bevolking lei.

“ ‘Die Stem’ is nie soos ’n slang wat kan vervel nie en daarmee van sy geskiedenis kan ontsnap nie. Ek dink dit is geskryf in ’n diep nasionalistiese konteks toe daar geglo is aan ’n uitverkore volk. Dit was amper asof hierdie uitverkore volk geglo het dat hulle die Allerhoogste vir hulself gedêps het sodat hulle teen die hele wêreld vry kon wees.

“Dit was nie my oupagrootjie se beste gedig nie ek dink in elk geval nie sy gedigte was sy sterkste werk nie. ‘Die Stem’ is bloot te vol trompetgeskal en ek hou niks van die marsmusiek wat daarby gekomponeer is nie.”

Plaatjie het gesê daar is baie emosie op die spel as “Die Stem” ter sprake kom. “Ek glo nie dit moet in die geskiedenis se vullisblik gegooi word nie. Die simboliek daarvan moet dalk omgedraai word sodat dit meer inklusief is.”

Mense kan ook byvoorbeeld leer om meer as een taal te praat as hulle verhoudings wil verbeter. Dit was juis een van die dinge wat sy oupagrootjie, ook ’n skrywer wat die eerste in Suid-Afrika was wat William Shakespeare se werke in inheemse tale vertaal het, graag wou sien.

“Ons kyk oor mekaar en mis mekaar,” het Plaatje, wat net Afrikaans gepraat het, gesê. “Maar daar is elemente wat ons saambind. Ek is ’n afstammeling van die Barolong en ons kook in swart potte; nes die Afrikaners. Daar is baie minder verskille tussen ons as wat dit op die oog af lyk.”

Meer oor:  Oudtshoorn; Kknk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.