Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Plattelandse probleme wat nie altyd die nuus haal

’n Avontuurlike tog deur die fassinerende Oos-Kaap het Christi van der Westhuizen diep onder die indruk gebring van die omvang van probleme in plaaslike bestuur op die platteland wat meestal nie die hoofstroomnuus haal nie.

’n Onheilspellende waarskuwing by die Chintsa-natuurreservaat. Foto: Christi van der Westhuizen

Apartheid het in 1950 begin en die ANC het in 1923 tot stand gekom.

’n Mens kan wonder oor hierdie “feite” terwyl jy die “Heroe’s Monument” toegewy aan ses helde in Bathurst in die Oos-Kaap besoek. Of die “bouterrein” van die twee (of is dit drie?) liggings van die Nelson Mandela-Museum, wat in Mvezo, Qunu en Mthatha, of moontlik net in Qunu en Mthatha is.

Die Bhunga-“bouterrein” “opereer” in ’n “antieke gebou” wat dateer uit die koloniale tye. Ja, ’n bouterrein kan “opereer”, selfs ín ’n “gebou”, en almal weet kolonialisme was in die antieke tyd. Wáár die Bhunga-bouterrein is, kan ’n mens net raai.

Die Oos-Kaap is een van die fassinerendste provinsies in Suid-Afrika.

Die afdraai vanaf die N2-hoofweg na Mvezo het drie artistieke installasies van klip wat onder meer Mandela as jong mens uitbeeld, maar geen leesbare inligting wat aandui wat jy sou vind indien jy wel daar sou afdraai nie. Gegewe die verwarring in die amptelike publisiteitsmateriaal weet ’n mens nie of dit die “Bhunga-bouterrein” is nie, en wie wil ’n bouterrein besoek, selfs al is dit “antiek”?

Hierdie soort verwarrende, onvolledige of net gewoon verkeerde inligting is waarvan ’n toeris moet probeer kop of stert uitmaak as jy die Oos-Kaap besoek.

Dit is een van die fassinerendste provinsies in Suid-Afrika weens die kombinasie van asemrowende en uiteenlopende natuurlike skoonheid, die vier ekologies-verskillende nasionale parke, die argeologiese erfenis en die ryk en ook traumatiese geskiedenis van die gebied as die eerste koloniale grens waar nege oorloë oor ’n eeu heen almal van die Boere en Britse setlaars tot die Khoi en Xhosa betrek het.

Krisisse met water en riool

Die byna leë Nqwebadam by Graaff-Reinet in Desember verlede jaar. Foto: Lulama Zenzile

Ek en wederhelf het die pad aangepak die afgelope Desember vanaf die Baviaanskloof na die Kamdeboo-Bewaringsgebied, Graaff-Reinet, die Bergkwaggapark, Pos Retief in die Winterberge, Chintsa buite Oos-Londen en laastens Koffiebaai.

’n Heerlike avontuur, wat ons ook diep onder die indruk gebring het van die omvang van probleme in plaaslike bestuur op die platteland wat meestal nie die hoofstroomnuus haal nie.

Die mees verwoestende is die waterkrisis – vanaf die droogte en watertekorte binnelands en aan die kus, tot swak bestuur wat lei tot besoedeling van hierdie noodsaaklike hulpbron.

In Graaff-Reinet sukkel die munisipaliteit glo om al die boorgate werkend te hou. Intussen maak besighede toe.

In Chintsa is die strandmeer hoogs besoedel, glo nadat die plaaslike owerheid ’n nuwe dam ’n entjie van die kus in die Chintsa-rivier gebou het wat nou keer dat die water na die see deurstoot.

Dit is hoe Suid-Afrika se rioolstelsels meestal werk: die rioolwater word soveel moontlik gesuiwer en dan in groter watermassas teruggestort. Maar landwyd werk dié metode al minder, weens swak instandhouding en gebrek aan kapasiteit by rioolwerke.

Die relevante owerhede was klaarblyklik hul hande (maar nie in die strandmeer nie, uiteraard). Chintsa se inwoners is so raadop dat hulle ’n groot kennisgewingbord by die strand opgerig het waarop hulle die Amathole-munisipaliteit en die departemente van water- en omgewingsake noem as die entiteite wat nie ’n vinger wil lig nie.

Minstens 30 kinders het in die besoedelde water rondgeplas die dag wat ons daar was.

In die besige maand van Desember het die sentrum tot in daardie stadium gemiddeld slegs een besoek per dag gehad.

Die Baviaanskloof is ’n Wêrelderfenisgebied, wat ’n mens nie sal weet totdat jy die “Interpretive Centre” ’n klompie kilometers ná die ingang aan die Patensie-kant van die kloof sien nie. Ons ry verby, want die ou geroeste valhek is gesluit en daar is geen teken van lewe nie.

Die volgende dag stel ek tog ondersoek in na die sentrum wat indrukwekkend modern in klip, metaal en glas van die pad gesien kan word. Groot is my verbasing toe ek ’n vrou in uniform sien. En, my hemel, die deur staan oop.

By navraag is sy die een wat verbaas is dat ek gedink het die sentrum is toe. Die valhek is gesluit, want as te veel mense in die parkeerarea met hul karre intrek, sukkel hulle om uit te kom. Nee, daar is nie strepe om te wys waar om te parkeer nie. Daar is parkeerplek oorkant die pad, hoewel geen bord dit aandui nie.

Nodeloos om te sê, in die besige maand van Desember het die sentrum tot in daardie stadium gemiddeld slegs een besoek per dag gehad.

Die sentrum het ’n paar groot inligtingsborde wat geen interpretasie verg nie, maar wel verwarring saai. Volgens die teks het min teken van die vroegste inwoners oorgebly weens ’n gebrek aan beendere. Vier paragrawe later lees jy dat “amper volledige gemummifiseerde menslike oorskot” ontdek is wat 2 000 jaar oud is.

So is daar menslike oorblyfsels, of nie?

Staat se hand nie te sien

Christi van der Westhuizen

Ons gids in Koffiebaai het skool ná graad 8 gelos en wil by die nabygeleë tegniese en beroepsopvoeding en -opleidingskollege (in Engels as “TVET” afgekort) werktuigkunde gaan swot. Maar dit lyk onwaarskynlik by ’n inrigting waar die gras oksel-hoog langs verrinneweerde geboue staan. Die kolleges is landwyd in ’n beroerde toestand.

Intussen lei hy en ’n paar ander jong mense besoekers op die vier uurlange staproete vanaf Koffiebaai tot die Hole in the Wall-nedersetting. Die betrokkenheid van plaaslike inwoners het die roete veilig gemaak, nadat “buitestaanders” (aldus ons gids) in die verlede stappers vir misdaad geteiken het.

Behalwe agterstallige padwerke, is die hand van die staat onopvallend in die geweste. Openbare kleedkamers by die riviermonde in Koffiebaai en Hole in the Wall is deur vandale beskadig en nie herstel nie.

Ons gids ken die pad en die mense daarlangs baie goed. Maar hy weet niks van die dramatiese geologie van die omgewing, of die plantegroei, voëllewe of geskiedenis nie.

Daar is min amptelike kennisgewings te sien, dus val ’n herhalende boodskap op borde langs die pad op: Dit is verbode om informele gidse te gebruik. Geen aanduidings word verskaf van waar amptelike gidse gevind kan word nie.

Ons gids ken die pad en die mense daarlangs baie goed. Maar hy weet niks van die dramatiese geologie van die omgewing, of die plantegroei, voëllewe of geskiedenis nie. En terwyl hy verbied word om vir toeriste veilig die regte pad aan te dui, is daar geen teken dat hy hulp van die owerhede kan verwag om ’n vollediger diens as gids aan te bied nie.

In Kenton-on-Sea, waarin paaie in slaggate disintegreer, teer die inwoners van Conningtonweg nou self “trots” hul straat, soos ’n bordjie aandui. Terwyl staatsinstellings al meer sukkel en so nou en dan met ’n groot vinger dreig, maak Suid-Afrikaners al meer self ’n plan.

* Van der Westhuizen is medeprofessor by die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie (Canrad) aan die Nelson Mandela-Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nelson Mandela  |  Graaff-Reinet  |  Qunu  |  Mthatha  |  Oos-Kaap  |  Bathurst  |  Plaaslike Regering  |  Toeriste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.