Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Plundering wys weer daar is nie vryheid sonder wette

Die plunderaars wat onlangs ’n groot chaos in die land veroorsaak het, behoort vir sosiale kontrakbreuk gedagvaar te word, skryf Pieter Labuschagne.

Vermeende plunderaars in Durban laai hul buit in ’n motor. Foto: Gallo Images

Die mees bisarre kommentaar van een plunderaar, terwyl hy ’n televisiestel wegdra, was: “Ek het nog nooit in my lewe só vry gevoel nie.”

Dié sienswyse weerspieël ’n blatante miskenning van sy mede-landsburgers se eiendomsreg. Plunderaars soos hy het die grondslag van die teorie van die sosiale kontrak met hul optrede ondergrawe.

En die sosiale kontrak behoort juis die onderbou van ’n ordelike en funksionele staat (samelewingsverband) te wees.

In wese kom dié stelling neer op ’n versugting na die tydperk voor die bestaan van die moderne staat, een van onstabiliteit, wanorde en die brutaliteit in ’n natuurstaat.

Waar daar nie wette is nie, kan daar nie vryheid wees nie.
John Locke

Die filosoof John Locke (1632-1704) het geskryf waar daar nie wette is nie, kan daar nie vryheid wees nie.

Locke was een van die grondleggers van die teorie van die sosiale kontrak en het op die filosofie van Thomas Hobbes voortgebou.

’n Sosiale kontrak binne staatsverband is ’n dwingende wedersydse verbintenis tussen die regering en landsburgers. Dit is ’n kontrak tussen die soewereine mag (regering binne die staat) en landsburgers in die vorm van ’n wedersydse erkenning van die noodsaak van ’n beskermende sentrale owerheid teenoor die potensiële skadestelling van mede-landsburgers.

Locke het ’n liberale beskouing gehuldig dat die sentrale owerheid binne ’n staatsverband sy burgers se godgegewe individuele regte van lewe, vryheid en eiendom behoort te beskerm.

Wat is diefstal?

’n Lid van ’n taxi-vereniging verjaag plunderaars by die Chris Hani-winkelsentrum in Vosloorus Foto: Gallo Images

In ooreenstemming met die gedagte van die sosiale kontrak word landsburgers se eiendomsreg beskerm deur die gemene reg en wette wat deur die parlement aanvaar is.

Die wette is die manifestasie van morele standaarde wat as buffer teen die afkeurenswaardige dade van mede-burgers moet dien. Die doel van die wette is om veiligheid en stabiliteit in ’n samelewing te verseker.

Die noodsaak van die wette word vervat in Locke se verklaring dat waar daar nie wette is om eiendomsreg te beskerm nie, “kan daar nie vryheid wees nie”.

Diefstal in die vorm van plundery, is in direkte kontras met eiendomsreg.

Wanneer iemand deel van ’n burgerlike samelewingsverband is, veronderstel dit onderwerping aan die parlementêre wil van die meerderheid. Die parlementêre wil van die meerderheid vind neerslag in die vorm van reëls, regulasie en wette wat landsburgers se regte wedersyds en onderling in ’n geordende samelewing beskerm.

Diefstal in die vorm van plundery, is in direkte kontras met eiendomsreg.

Diefstal is die wederregtelike, opsetlike toeëiening van ’n roerende of onroerende liggaamlike saak wat aan iemand anders behoort. Dit word sonder enige regverdiging in besit geneem en die wettige eienaar word blywend daarvan ontneem.

Die grootskaalse plundering wat plaasvind het, is dus in wese die opheffing van ’n sosiale kontrak, wat eienaarskap met reëls (wette) in die samelewing moet beskerm.

Die handeling negeer dus in die breër verband die status van die regstaat of die oppergesag van die reg in die land.

Vryheid en die samelewing

’n Polisiebeampte in Durban lê beslag op goedere wat vermoedelik in die plundertogte gesteel is. Foto: Gallo Images

Die betrokke plunderaar se versugting dat hy “nog nooit só vry gevoel het nie”, was eerder ’n vreemde soort verligting omdat die juk van beperkende wette (soos eiendomsreg) afgegooi is.

Dit verteenwoordig eintlik die roekelose siening van ’n weersin in die gemene reg en die beperking wat wette op individue plaas. Die plunderaar wil nie onderworpe wees aan die soort beperkinge (wette) en sosiale taboes wat die samelewing in ’n geordenende staat op hom geplaas het nie.

Die individu word deel van ’n geordende samelewing ten einde die beskerming van sy eie lewe, vryheid en goedere (besittings) te kan geniet.

Sy uitspraak oor vryheid is dus die idealisering van ’n soort wanordelike natuurstaat, met geen gemeganiseerde of institusionele beperkinge nie.

Die plunderaar besef egter nie dat die beperking (wette) en taboes juis die “ledegeld” is wat hy moet betaal om deel van ’n geordende samelewing te kan wees nie.

Sonder die wette is daar geen waarborge nie, net die wet van die oerwoud, waar die sterkste sal oorleef en niks veilig is nie.

Locke se Second Treatise of Government (1690) handel onder meer oor watter voorwaardes en met watter opofferings ’n individu deel van 'n samelewing kan wees. Dit is voorwaardes en opoffering, wat hopelik ’n beter lewe en beskerming van sy eie lewe, vryhede en besittings, binne die groter samelewingsverband kan verseker.

Locke skryf dat individue se aansluiting by ’n burgerlike samelewingsverband ’n onderwerping aan die meerderheid is. Die aansluiting veronderstel dat die meerderheid se reëls en wette sal geld, en dat landsburgers in dié wedersydse verhouding ingeperk kan word.

Die individu word deel van ’n geordende samelewing ten einde die beskerming van sy eie lewe, vryheid en goedere (besittings) te kan geniet. Die individu gee sy vryheid prys sodat die geheel van die samelewing voordeel uit die sosiale ooreenkoms (kontrak) sal en kan trek.

’n Vermeende plunderaar in Durban stoot sy buit in ’n winkeltrollie. Foto: Gallo Images

Die wederkerige erkenning en respek van mede-landsburgers se eiendom verseker dat eienaarskap versterk en gerespekteer word. Die oorkoepelende samelewingsreëls (wette) waarborg die eiendomsreg en weerhou die onregmatige besitneming van eiendom, soos met plundery en diefstal.

Volgens Locke het die individu die reg om sy eiendom in sy naam te besit en die reg op die “vrugte” (opbrengs) van sy eiendom.

Die besitreg op goedere plaas ’n wederkerige verpligting op die besitter dat hy die eiendomsreg van ander besitters moet erken. Die besitter moet homself weerhou daarvan om nie die individuele regte van ander skade aan te doen nie.

Die vryheid wat die plunderaar in gedagte gehad het, was beslis nie politieke vryheid nie.

Enigiemand wat eiendomsreg erken, moet besef dat die wederkerige verpligting nie geskei kan word nie. Indien ’n landsburger eiendomsreg opeis, veronderstel dit ’n verpligting om die regte van die teenparty (ander lede van die samelewing) te onderhou.

Sonder dié waarborge van wedersydse verpligting (rakende eiendomsreg en die breë belang wat beskerm moet word) tuimel die boustene van ’n ordelike samelewing inmekaar.

Die vryheid wat die plunderaar in gedagte gehad het, was beslis nie politieke vryheid nie.

Politieke bevryding is reeds met die demokratisering van die land verwesenlik. Die vryheidsgevoel wat die plunderaar ervaar het, is eerder ? selfsugtige eiesoortige interpretasie van ekonomiese vryheid, in stryd met orde en die sosiale kontrak in ’n samelewing.

Ekonomiese vryheid in die Grondwet

Pieter Labuschagne

In die tussentydse Grondwet van 1993 (artikel 26) is spesifiek vir ekonomiese vryheid voorsiening gemaak. In die finale Grondwet, hoofsaaklik om kontensieuse redes, is die ekonomiese vryheid in artikel 22 in meer beperkende formaat opgeneem.

Artikel 22 verwys na die ekonomiese reg om handel te kan dryf en die vryheid om ’n beroep te kan beoefen.

In die groter kapitalistiese en sosialistiese debat was die keuse en bewoording van artikel 22 nodig, maar in wese het dit ’n bevestiging van ’n markgerigte ekonomie gebly.

In die markgerigte ekonomie staan dit elke landsburger vry om handel te dryf en sy of haar beroep te beoefen om welvaart te bekom.

Die plunderaar se vryheid bestaan dus net as hy die vryheid van ’n ander kan aantas of vernietig.

Die ekonomiese vryheid word ook deur artikel 25(1) van die Grondwet beskerm. Artikel 25(1) bepaal dat die eienaar nie van sy eiendom ontneem mag word nie, behalwe onder grondwetlik gespesifiseerde omstandighede.

Wanneer die plunderaar dus die televisiestel, as deel van sy eie interpretasie van vryheid steel, het dit ’n invloed op die reg van die eienaar daarvan om daarmee handel te dryf.

Die plunderaar se vryheid bestaan dus net as hy die vryheid van ’n ander kan aantas of vernietig. In wese benadeel hy ook homself, want die selfsugtige daad hef op langer termyn sy eie eienaarskap in die wettelose samelewing op.

Sy beskouing van vryheid druis reëlreg teen die beginsels van die oppergesag van die reg in en dompel die konstitusionele regstaat in die chaos en wanorde van ’n samelewing toe ’n staat nog nie bestaan het nie.

Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Ekonomie  |  Eiendomsreg  |  Vryheid  |  Plundering  |  Grondwet  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.