Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Poetin wil Weste verdeel met aanslag op liberalisme

’n Aansienlike debat woed die laaste week of wat in die Weste oor ’n uitspraak van pres. Wladimir Poetin dat liberalisme “verouderd” is. Leopold Scholtz kyk na wat die Poetin-uitspraak en die reaksies daarop oor die huidige internasionale situasie sê.

Die “liberale beskouing” het volgens pres. Wladimir Poetin van Rusland sy doel oorleef. Foto: Getty Images

Op die vooraand van die pas afgelope G-20-spitsberaad in Osaka, Japan, het pres. Wladimir Poetin van Rusland ’n onderhoud aan die Londense Financial Times toegestaan wat nogal ’n knuppel in die hoenderhok gegooi het.

Die “liberale beskouing” het sy “doel oorleef” namate die publiek hom teen immigrasie, oop grense en multikulturalisme gekeer het, het hy gesê. Liberale “kan nie eenvoudig alles aan almal voorskryf soos wat hulle oor die laaste paar dekades probeer doen het nie”.

Hy het die Duitse kanselier, Angela Merkel, se besluit in 2015 om meer as ’n miljoen vlugtelinge toe te laat wat aan die massamoorde in die Siriese burgeroorlog ontsnap het, as “ ’n kardinale fout” beskryf.

Die liberale beskouing ... bots met die belange van die oorweldigende meerderheid van die bevolking.
Wladimir Poetin

Daarenteen het hy pres. Donald Trump van Amerika se beleid om onwettige immigrante uit Latyns-Amerika na die VSA te keer geprys: “Die liberale beskouing veronderstel dat niks gedoen hoef te word nie. Dat migrante ongestraf kan moor, plunder en verkrag omdat hul regte as migrante beskerm moet word.”

Hy het bygevoeg: “Die liberale beskouing het verouderd geraak. Dit bots met die belange van die oorweldigende meerderheid van die bevolking.”

Luidens die onderhoudvoerder het Poetin geen melding gemaak van die meer as vyf miljoen mense van die Siriese burgeroorlog gevlug het en die halfmiljoen mense wat in die konflik dood is nie. Hy het Trump wel geprys as “talentvol” en iemand wat “naby aan sy mense is”.

Selfs Boris gryp Poetin voor bors

Die Britse premierskandidaat Boris Johnson meen Poetin is “heeltemal verkeerd. Ons waardes – vryheid, demokrasie, vryheid van spraak – daardie dinge is onsterflik en sál slaag”.Foto: Reuters

Die Poetin-onderhoud het nogal taamlike reaksie, hoofsaaklik negatief, in die Weste uitgelok.

Donald Tusk, die Poolse president van die Europese Unie (EU), het hom skerp aangevat: “Wat ek régtig verouderd vind, is outoritarisme, persoonlikheidskultusse, regering van oligarge” (by implikasie almal trekke van die Russiese politiek). “Selfs al lyk dit soms doeltreffend.”

Volgens Tusk gee sulke tipe opmerkings te kenne dat “vryhede, die regstaat en menseregte verouderd is”.

Selfs Boris Johnson, voorloper in die wedloop om volgende die Britse premier te word, het Poetin gekritiseer en aan ’n groep Tories gesê Poetin is heeltemal verkeerd. “Ons waardes – vryheid, demokrasie, vryheid van spraak – daardie dinge, is onsterflik en sál slaag”.

En sy mededinger om die premierskap, Jeremy Hunt, se kommentaar was: “Dis tog te maklik om die demokrasie swart te smeer as jy tuis niks daarmee uit te waai het nie.”

Litaue se minister van verdediging, Artis Pabriks, het gewys op die bedreiging wat Rusland vir sy landjie en die Weste inhou.

“Wat in die Baltiese omgewing gebeur, kan jy beskou as ’n lakmoestoets vir Russiese hibriede oorlog teen talle ander Westerse lande, betreffende die verkiesings in Amerika of in Frankryk, of met Brexit . . . want hul doel is in die algemeen om hul invloed in die wêreld te vergroot deur die mag van die opponent te verklein.”

Ook pres. Emmanuel Macron van Frankryk het nie op hom laat wag nie. “Illiberale demokrasieë of illiberale regimes kan soms die indruk skep dat hulle doeltreffender as liberale demokrasieë is. Want as ons geen parlement, openbare mening, vrye media het nie, is ons vry van hul beperkings, maar vir watter doel en met wie as arbiter? Ek weet nie van ’n groter skeidsregter as die mense nie, ek ken geen ander algemene doel as die algemene belang nie omdat ons die belange van die mense dien; dít is die liberale demokrasie.”

Trump bly tjoepstil

Pres. Donald Trump van die VSA gesels op die afgelope G20-beraad in Japan met pres. Wladimir Poetin. Trump is tjoepstil oor Poetin se uitlatings oor die liberalisme. Foto: AP

Wat Macron dus hier sê, is dat die korrigerende werking van die volk se stem en die beperkende aard van die demokratiese instellings op kort termyn minder doeltreffend as ’n diktatuur kan lýk, maar dat die voordele daarvan op die duur veel groter as die nadele is.

Daarteenoor was Trump tjoepstil. Hy het in die teenwoordigheid van joernaliste spottenderwys aan Poetin gesê hy moet hom nie by die Amerikaanse verkiesings inmeng nie, en dat hy – Trump – (anders as Poetin) voortdurend met fopnuus te make het.

In die Washington Post het die historikus Anne Applebaum – bekend vir haar ontledings van die kommunistiese diktatuur en die Goelag-konsentrasiekampe – Poetin se uitspraak in verband gebring met Nikita Chroesjtsjof (USSR-leier in die jare 50 en 60) dat “die geskiedenis aan óns kant is”.

Die Weste is aan die sterf, het hy toe gesê, en bygevoeg: “Ons gaan julle begrawe.”

Rusland word gesien as die “derde Rome” ... wie se taak dit is om nasionalisme en Christelike waardes uit te dra.

Poetin se verset teen die liberalisme pas in by sy algemene wêreldbeskouing. As ’n mens sy gepubliseerde toesprake sedert sy bewindsaanvaarding in 1999 lees, val dit op dat sy opvattings naatloos inpas by die Messiaanse houding wat Russiese filosowe sedert die 18de eeu verkondig het.

Dit kom daarop neer dat Rusland op die een of ander manier moreel “suiwer” en die Weste daarteenoor moreel verdorwe is. Rusland word gesien as die “derde Rome” – ná die Romeinse en die Bisantynse Ryk, wie se taak dit is om nasionalisme en Christelike waardes uit te dra. (Ofskoon, as ’n mens Poetin se gewetenlose dade binnenslands en buitelands bekyk, kan jy jou afvra wat nou eintlik so Christelik daaraan is – maar dit daar gelaat.)

Regs-populistiese aanslag op liberalisme

Poetin se aanslag op die liberalisme is deel van sy pogings om die Weste te verdeel en te verswak sodat Rusland in die gevolglike magsvakuum invloedryker kan word.Foto: Getty Images

Poetin se aanslag op die liberalisme hang in elk geval saam met sy strewe om die Weste te verdeel en te verswak sodat sy land in die gevolglike magsvakuum invloedryker kan word. Hy het met sukses by verskeie lande se verkiesings ingemeng.

In ’n verslag van meer as 150 bladsye wat pas uitgereik is, waarsku die Pentagon dat Amerika (lees: Trump) die omvang van die Russiese aggressie kwaai onderskat. Dit sluit in die gebruik van propaganda en fopnuus om die openbare mening in sy guns te beïnvloed.

Luidens die opstellers mis Amerika weens die diep kloof tussen sy burgers die vermoë om die soort dwingende narratief te kry wat hom tot ’n oorwinning in die Koue Oorlog gehelp het.

Dis waar dat Poetin ook in ander opsigte die wind in sy seile het. Regs-populistiese bewegings het oor die hele Europa soos paddastoele opgeskiet, en die meeste van hulle vind hul ideologiese inspirasie minstens gedeeltelik by Poetin.

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk sê hy ken geen “groter skeidsregter as die mense” nie. Foto: Reuters

In sommige lande – ’n mens dink veral aan Hongarye en Pole – is sulke partye selfs aan die bewind. En daar is demokratiese instrumente soos die onafhanklike regbank en die vrye media reeds sterk aan bande gelê, net soos in Rusland self, waar haas geen geluid naas dié van die Poetin-regering meer gehoor kan word nie.

Ook in Amerika beskou Trump-kritici sy kruistog teen die “fop-media” as ’n ondemokratiese benadering wat by Poetin se diktatuur aansluit.

Tog is die liberale demokrasie diep gewortel. In Wes-Europa maak die populistiese regses in verkiesings maar beperk vordering. In Amerika hou die demokratiese instellings nog behoorlik stand.

Nietemin, as die Weste sy liberale waardes, soos beliggaam in die demokrasie, die regstaat, vryheid van spraak, ensovoorts, belangrik vind, sal hy ’n nuwe antwoord op die regs-populistiese aanslag moet vind, een wat ook ’n regverdiger welvaartverspreiding en kulturele identiteit in aanmerking neem.

Maar dis weer ’n verhaal vir ’n ander dag.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig díé van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.