Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Polariteite oor grond
Die grondhervormingsdebat verdeel Suid-Afrikaners in twee kampe. Foto ter illustrasie. Foto: Johan van Wyk

Verskeie vraagstukke en debatte in Suid-Afrika dui op verdeeldheid onder Suid-Afrikaners, waarvan die kwessie oor onteiening sonder vergoeding en grondhervorming maar net onlangse voorbeelde is.

Om te verskil oor iets is niks vreemds nie, maar as verskille bykans onoorkomelik is of onoorkomelik blyk te wees, betree ons die wêreld van dilemmas en polariteite. In dié wêreld is “oplossings” ’n luukse en word die deurlopende bestuur van ’n probleem in werklikheid die oplossing.

In ’n onlangse artikel oor die VUCA-wêreld van onsekerheid waarin ons leef, is uitgewys dat teenstrydighede en komplekse probleme twee van ’n paar verskynsels is wat as normaal in ons omgewing beskou moet word.

In 1992 het Barry Johnson ’n boek geskryf met die titel Polarity Management waarin hy die anatomie van sulke dilemmas verduidelik het en sekere bestuursoplossings aan die hand gedoen het.

Hy het ’n polariteit gedefinieer as ’n verskynsel met twee regte antwoorde, onafhanklik van mekaar. Met dié soort probleme het die reg-of-verkeerd-beskouing plek gemaak vir ’n “dit-én-dat”- oplossing.

’n Ander poging om dié soort probleem te beskryf, was dié van Horst Rittel en Melvin Webber (1973) met die term “wicked problems”. Dit kan beskryf word as onoplosbare probleme eerder as die konvensionele betekenis van die term as “sleg” of “boos”.

Hulle was van mening dat die soort probleme maatskaplike beplanning oorheers met kenmerke soos komplekse omgrensing en verstrengeling van die vraagstuk, ingeboude teenstrydighede, onvolledige ontwikkeling en snel veranderende konteks.

Rykdom en armoede, of dié wat het en dié wat nie het nie, is goeie voorbeelde hiervan.

Aarde nie plat én rond

Polariteitsvraagstukke het ’n baie interessante struktuur, want daar is altyd twee kante aan die saak – en dit is bitter moeilik om albei kante van die probleem raak te sien. Dit herinner baie sterk aan die oorgang tussen paradigmas of denkraamwerke.

Die ewige dilemma tussen die kreasioniste en evolusioniste is hier ’n goeie voorbeeld. Thomas Kuhn (1962) het uitgewys dat wetenskaplike revolusies dieselfde probleme het.

’n Mens kan byvoorbeeld nie gelyktydig glo die aarde is plat én rond nie!

Die aard van antwoorde op polariserende vraagstukke is feitlik altyd onderling uitsluitend en dit dryf opponerende stemme nog verder van mekaar af.

Dit is nie volhoubaar om wydsbeen oor dié soort vraagstukke te staan nie.

Die waarde van Johnson se insig was dat hy polariteite as ’n matriks voorgestel het. Die matriks het twee teenoorstaande pole en elke pool het ’n positiewe en ’n negatiewe kant.

Dit kom daarop neer dat waar jou insig in die oplossing van die probleem ook al gesetel is, dit altyd ’n positiewe én ’n negatiewe kant het.

Ongelukkig ontwikkel mense blindekolle vir die negatiewe kant van hul voorkeuroplossings, maar ook oogklappe vir die meriete van die teenpool of die teenargument.

Verder word twee benaderings tot die hantering van polariserende vraagstukke onderskei: aktiviste wat as veranderingsagente optree en die verdedigers wat die status quo probeer handhaaf.

Kruisvaarders

Die veranderingsagente word die kruisvaarders genoem, soos die deelnemers aan die Kruistogte wat sedert 1095 onderneem is om die “heilige land”, natuurlik sonder veel sukses, te bevry.

Kruisvaarders is tipies daarvan oortuig dat die huidige stand van sake onbevredigend is en verander moet word. Hulle bestudeer in diepte alternatiewe vir die onbevredigende situasie en bemark en propageer die nuwe alternatief met groot entoesiasme.

Kruisvaardertipe-persoonlikhede is dus ware aktiviste. Hulle het egter blindekolle vir die nadele van die veranderinge wat hulle propageer. Hul denke word oorheers deur die visualisering van ’n nuwe orde. Hulle verteenwoordig egter die energie wat nodig is om verandering te stimuleer en te visualiseer. Hulle mobiliseer aktief vir verandering omdat hulle glo hulle kan dinge beter maak.

Teenoor die kruisvaarders staan die tradisievaste en verdedigende denkers en doeners. Anders as die aktiviste beweeg hulle moeilik, omdat hulle die nadele van ’n nuwe situasie duideliker kan sien as die voordele van verskuiwing of verandering.

Hulle verdedig die status quo, al is dit ’n onbevredigende situasie, want, voer hulle aan, dit is immers ’n bekende omgewing.

Waar die aktiviste oogklappe het vir die nadele van ’n nuwe of veranderende situasie, het die verdedigers oogklappe vir die positiewe gevolge van ’n veranderende situasie.

Wat is dan hul waarde?

Hulle waarsku teen oorhaastige optrede, hulle waarsku teen potensiële gevare. Hulle glo dat die behoud van die huidige situasie beter is as die nadele van die alternatief. Hulle bou voort op die geykte weë, die tradisies en gewoontes.

Kruisvaarders en verdedigers praat en dink dus by mekaar verby. Hulle bou ideologiese mure tussen mekaar en begryp nie die meriete van mekaar se optrede of aksies nie. Gesprekke tussen aktiviste en tradisionaliste loop onwillekeurig uit op onbevredigende bekgevegte – gesprekke sonder enige voordeel.

Waar staan ons met gronddebat?

Is ons vasgevang in polariserende denkpatrone of onoplosbare probleme met betrekking tot die grondhervormingsdebat?

Die antwoord is nee. Die kuns lê daarin om die mure of skanse wat polariserende denke opgebou het te verander in brûe waaroor mense kan loop.

Theo Venter

Brugbouers en fasiliteerders is die kritieke spelers in gepolariseerde omgewings omdat hulle die vaardighede het om mense in staat te stel om al vier die blokke van die vraagstuk te kan besoek.

Deur kruisvaarders se oogklappe af te haal vir die negatiewe gevolge van verandering, en verdedigers se blindekolle te verwyder vir die nadele van tradisie of die status quo, word mense bemagtig om oor oplossingsbrûe te kan loop.

Suid-Afrikaners beleef ’n era waarin verskillende rolspelers in die landbousektor met indringende vraagstukke stoei, daar is oplossings wat radikaal vorentoe wil beweeg, daar is stemme wat vra vir aktiewe betrokkenheid en konstruktiewe verandering.

Maar daar is ook stemme wat waarsku, daar is ook siniese stemme wat verandering wil vertraag en wat stoptekens wil plant.

Daar moet keuses ontwikkel word vir die grondhervormingsproblematiek in Suid-Afrika, maar géén verandering is nie ’n oplossing nie. Om verwyte rond te slinger gaan min waarde toevoeg.

Gee die fasiliteerders en die brugbouers kans om die mure van weerstand in brûe te omvorm, luister na die waarskuwende stemme, gee die kruisvaarders ruimte om planne te ontplooi en besoek al vier die blokke van die grondhervormingsproblematiek.

Kom ons probeer hierdie “onoplosbare” probleem bestuur, eerder as wat ons die oorspanne verwagtinge van finale oplossings toelaat.

  • Theo Venter is ’n politieke ontleder verbonde aan die besigheidskool van die Noordwes-Universiteit.
Meer oor:  Theo Venter  |  Grondonteiening  |  Grondbesit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.