Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'Politici, ons is keelvol vir swak munisipaliteite!'

Inwoners van munisipaliteite het ’n kantelpunt bereik waar al hoe meer dreig om belasting te weerhou en self te doen wat gedoen moet word. Dít is hoekom die ANC hierop moet ag slaan in die aanloop tot die verkiesing, skryf prof. David Everatt.

Rioolprobleme in Koster in die Kgetlengrivier-munisipaliteit was een van die redes wat veroorsaak het dat ’n regter in die hooggeregshof in Noordwes beveel het dat die munisipale bestuurder vir 90 dae tronk toe moet gaan. Die vonnis is opgeskort op voorwaarde dat die rioolvuil opgeruim moet word. Foto: Verskaf

Plaaslike regering is besig om ’n metamorfose te ondergaan en alle politieke partye beter wakker skrik. Burgerlike groepe neem beheer oor munisipale funksies, party met die steun van howe, en hulle lewer dienste waar hierdie sfeer misluk het.

Hierdie verskynsel word gedryf deur kiesers wat moeg is van korrupte politici – soos wat byna elke peiling uitwys. ’n Peiling wat einde 2019 gedoen is het toenemende wantroue gewys in politieke partye en politici. Daar was ’n diepgewortelde geloof dat Suid-Afrika in die verkeerde rigting op pad is en meer as 80% van deelnemers het gesê hulle dink korrupsie is aan die toeneem.

Die kantelpunt is hier: Inwoners is amptelik keelvol.

Baie mense het al geweeklaag oor die treurige stand van die plaaslike regering-sfeer, onder meer die gewese ouditeur-generaal, wyle Kimi Makwetu. Hy het in 2018 gewys “gemiddeld sal byna 60% van die staatsinkomste wat in die boeke gewys word nooit in die staat se bankrekening beland nie”, en hy het gewaarsku dat hierdie soort ongebreidelde korrupsie en onbekwaamheid onvermydelik sal lei tot ’n groeiende opstand teen munisipale belasting.

Die gevolg was presies dit – al hoe meer praatjies oor munisipale belasting wat weerhou gaan word en burgers wat toenemend self doen wat gedoen moet word – maar wat die regering skynbaar nie in staat is om te doen nie. Die kantelpunt is hier: Inwoners is amptelik keelvol.

ANC moet pasop!

Inwoners van Koster ruk na die Kgetlengrivier-munisipaliteit se kantore in die dorp op om ‘n memorandum met griewe te oorhandig. Foto: Susan Cilliers

Dit is teen hierdie agtergrond dat Suid-Afrika vanjaar in Augustus munisipale verkiesing sal hou. Binnekort sal kenners in die media begin waarsku oor die lae stempersentasie wat munisipale verkiesings gewoonlik kenmerk. Party sal wys hoe alle partye gewoonlik “gestraf” word in munisipale verkiesings eerder as in nasionale verkiesings, en ander sal praat met die wenners, verloorders en die waarskynlike koalisievennote. Dit sal alles redelik voorspelbaar wees. Party daarvan mag selfs reg wees. Maar iets meer onderaards en interessant is besig om te gebeur.

Daar was die afgelope tyd al hoe meer misnoegdheid met baie plaaslike owerhede. Op party plekke het dit so ver gegaan dat bekommerde burgers suksesvol gevra het dat die munisipaliteit ontbind word en onder administrasie geplaas word, soos wat in 2020 in Makhanda in die Oos-Kaap gebeur het. Op ander plekke het groepe burgers ander maniere gevind om sake in eie hande te neem.  plaas daarvan dat mense net kla, doen hulle dinge self.

Cindy Deutchmann wat al meer as tien jaar in Makhanda woon, het self hand aan die ploeg geslaan toe die munisipale vullisverwyderaars sowat twee maande lank gestaak het. Sy trek die slagspreuk op die venster van die munisipale kantoor in twyfel. Foto: Antoinette Slabbert

Gebeure in die Kgetlengrivier-munisipaliteit in Noordwes, ’n provinsie wat ryk is aan platinum, het gewys presies hoe ernstig die situasie is. In Desember 2020, in wat beskryf is as ’n “verbluffende uitspraak” het ’n regter in die hooggeregshof in Noordwes beveel dat die munisipale bestuurder van die Kgetlengrivier-munisipaliteit vir 90 dae tronk toe moes gaan. Die vonnis is opgeskort op voorwaarde dat die rioolvuil wat stort in die Elands- en Kosterrivier opgeruim moet word. Die regter het ook vir die belastingbetalersvereniging die reg gegee om beheer te neem oor die gebied se rioolwerke en dat hy vergoed moet word deur plaaslike en provinsiale regerings vir sy moeite.

In Graaff-Reinet in die Oos-Kaap het inwoners beswaar aangeteken teen stygings in munisipale belasting omdat hulle gefrustreerd is met die gebreekte rioolstelsel en ander munisipale dienste.

Die inwoners het dadelik die taak oorgeneem om die rioolvuil op te ruim, waarin hulle geslaag het. Die wettigheid hiervan sal op hersiening getoets word en dit mag wel omgekeer word deur ’n hoër hof. Maar die saadjies is gesaai en dit lyk asof die nasionale regering saamstem, want nasionale ministers was respondente in hierdie saak en hulle het nie appèl aangeteken nie. Die regerende ANC moet egter versigtig wees, want die meeste van die plekke waar hierdie dinge gebeur is in ANC-beheerde munisipaliteite.

Neem byvoorbeeld gebeure in Harrismith in die Vrystaat, waar die inwoners dit ook op hulself geneem het om die rioolstelsel reg te maak; of die Umdoni-munisipaliteit in Scottburgh in KwaZulu-Natal, waar inwoners dreig dat hulle gaan ophou belasting betaal. In Graaff-Reinet in die Oos-Kaap het inwoners beswaar aangeteken teen stygings in munisipale belasting omdat hulle gefrustreerd is met die gebreekte rioolstelsel en ander munisipale dienste.

Is ’n bietjie anargie dalk goed?

Voor die St Michael en St George-katedraal in die middel van Makhanda staan ‘n bord wat aandui dat die humanitêre organisasie Gift of the Givers ‘water na die inwoners’ bring Foto: Antoinette Slabbert

Dit kan slegs gekonstrueer word as anargie. En dit mag wel wees. Maar anargie word dikwels gekritiseer en in 'n negatiewe sin gebruik – ’n “verval” na anargie – in plaas daarvan dat dit gesien word as ’n moontlike opwaartse beweging vanuit korrupte en dwang-politiek. Dit beteken iets soos ’n geloof dat alle regering afgeskaf moet word en dat inwoners op ’n vrywillige, samewerkende grondslag, sonder enige dwang, georganiseer moet word.

Dit is iets wat landwyd gebeur – vanaf die weerhouding van munisipale belasting tot dienslewering wat oorgeneem word.

Suid-Afrikaners mag hulself dalk lei vanaf die trog van korrupsie tot iets veel meer interessant, bestrede en gevaarlik vir ’n jong demokrasie. Wanneer ’n hele sfeer van die staat wanfunksioneel is en hy sy mag, funksies en inkomste moet oorgee aan burgerlike groepe weens onbekwaamheid en ampsoortreding, dan is iets ernstig verkeerd. Tog wil politieke partye nog steeds hê kiesers moet hulle vertrou wanneer dit verkiesingstyd is.

Hoekom moet jy belasting betaal?

In Harrismith in die Vrystaat het inwoners self die rioolstelsel reggemaak. Foto: Argief

Die vertroue in alle sfere van regering is naby boomskraap, net soos vertroue in politieke partye. In die laaste peiling deur Ipsos het nie eens ’n derde van die ondersteuners van enige party meer vertroue gehad in hul eie party nie. Kiesers kan nie minder dink van politici nie en dit gaan gepaard met pessimisme: Minder as die helfte van respondente het gevoel die land mik in die regte rigting. Die laaste strooi was waarskynlik toe ons met walging moes toekyk hoe diegene met politieke konneksies geld gesteel het wat veronderstel was om te gaan vir beskermende toerusting in Covid-19-pandemie. Praatjies dat belasting weerhou gaan word, word al hoe meer algemeen. Gemeenskapsgroepe het regsmenings ingewin oor die weerhouding van belasting en hulle deel regsmenings oor die kwessie. Hoekom moet jy betaal as jou geld net “opgevreet” gaan word? Dit word nou gerugsteun deur ’n beslissing van die hooggeregshof in Noordwes. Wie het nou eintlik die regering nodig?

Indien meningspeilers wil weet waarheen Suid-Afrika op pad is, blyk dit dis dalk nodig om politieke partye en hul veldtogte te meet – net soos wat ’n besoek aan die tandarts nodig is – maar hulle mag dalk die punt mis.

Hulle moet eintlik die mening inwin van dié wat nie meer omgee oor die plaaslike sfeer nie, en wat hulself sien as ’n meer legitieme en bekwame deel van die regering se infrastruktuur. En terwyl krane leegloop en beurtkrag voortduur weens korrupsie of onbekwaamheid en geen politikus nog hiervoor in die tronk boet nie – wie is ons om te sê hulle is verkeerd?

• Everard is ’n hoogleraar in stedelike regering aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hierdie stuk het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Graaff-Reinet  |  Makhanda  |  Harrismith  |  Bedrog  |  Beurtkrag  |  Riool  |  Munisipaliteite  |  Korrupsie  |  Plaaslike Regering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.