Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Politieke spanning in SA glad nie vreemd

Die hoë vlakke van politieke spanning in die land is te verwagte en dit kan nog lank met ons wees, skryf Pieter Labuschagne.

’n Ondersteuner van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, wys waar haar lojaliteit lê. Foto: Gallo Images

Die politieke woelinge en gepaardgaande onstabiliteit in die land in die aanloop tot die munisipale verkiesing, wek om verstaanbare redes heelwat kommer.

Daar word dikwels gevra wat die toekomsverwagtinge vir Suid-Afrika in dié onstuimige politieke klimaat is?

Dit kan nie ontken word dat daar hoë vlakke van politieke onrus en spanning in die land is nie, veral wanneer die situasie met dié in gevestigde demokrasieë vergelyk word.

Waarnemers wat in 1994 optimisties geglo het dat vrede en kalmte oor die land sal neerdaal met die koms van demokrasie, het geldige redes om ontnugter te voel.

Dit sal eers slegter moet gaan voordat dit beter kan gaan.

Hoewel dié bekommernisse verstaanbaar is, bly dit egter belangrik om perspektief oor die redes agter die politieke hoogspanning en drama te behou.

Die huidige hoë vlakke van spanning is basies deel van die proses van politieke normalisering wat moet plaasvind binne die konteks van geldende historiese en politieke werklikhede en ontwikkelingstrajekte.

Dit is steeds deel van die nageboortepyne en die newe-effekte van die oorgang van ’n rasse-hegemonie en die apartheidsdiktatuur na ’n inklusiewe demokrasie.

Die cliché geld ongelukkig steeds – dit sal eers slegter moet gaan voordat dit beter kan gaan. Dit neem dekades vir politieke demokratisering en normalisering om lang tydperke van stabiliteit te skep.

Politieke stabiliteit in gevestigde demokrasieë

Oudpres. Nelson Mandela stem in Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing in 1994. Foto: Getty Images

Die wese van politiek is om voortdurend te verander en veranderinge lei gewoonlik tot onstabiliteit en politieke spanning.

Die huidige politieke dinamika in die land is ’n fase van politieke en demokratiese konsolidasie. In 1994 het Suid-Afrika eensklaps van ’n eksklusiewe kwasi-demokrasie in ’n inklusiewe demokrasie verander.

Dié omwenteling het revolusionêr (in ’n baie kort tyd), eerder as evolusionêr op ’n lineêre ontwikkelingslyn plaasgevind.

Daar moet in gedagte gehou word dat gevestigde, ouer demokrasieë soos Brittanje, Frankryk en Duitsland ’n lang historiese, evolusionêre en lineêre ontwikkelingsfase ondergaan het.

Gedurende dié lande se eeuelange vestigingstydperke was die politieke en sosio-ekonomiese onstabiliteit veel meer dinamies en selfs meer gewelddadig as dít wat ons nou ervaar.

Europese staatkundige ontwikkeling en nasiebou het oor eeue heen gestrek – vanaf die 16de eeu toe hoogs gesentraliseerde state tot stand gekom het.

Dié absolutistiese state is deur sterk sentrale en outokratiese beheer gekenmerk. Dit het die grondslag gebied waarop lande deur die verskillende ontwikkelingsfases (nasiebou, demokrasie en herverspreiding) tot gevestigde demokrasieë kon ontwikkel.

Die politieke teoretici Gabriel Almond en G Bingham Powell, het die verskillende lineêre ontwikkelingsfases as staatsbou, nasiebou, demokratisering en herverspreiding geïdentifiseer.

Die evolusionêre ontwikkeling van dié fases het demokrasieë gevestig, gestabiliseer en stewig laat wortel skiet sodat dit politieke skommelings kon weerstaan.

Die situasie in postkoloniale state en Suid-Afrika

Lede van die sogenaamde Radikale Ekonomiese Transformasie-faksie van die ANC betoog ter ondersteuning van Ace Magashule, dié party se sekretaris-generaal. Foto: Gallo Images

Dié evolusionêre Europese ontwikkeling is in skerp teenstelling met die ervaring van postkoloniale state soos Suid-Afrika en lande elders in Afrika.

Daar kry ’n mens heelwat meer revolusionêre as evolusionêre elemente omdat al die fases gelyktydig moes plaasvind.

Die postkoloniale state het nie soos die gevestigde Europese demokrasieë die luukse gehad om oor eeue heen die vier geïdentifiseerde ontwikkelingsfases te ondergaan nie.

Die bou van die staat en nasie, demokratisering en herverspreiding het gevolglik gelyktydig plaasgevind.

In Suid-Afrika het die fase van staatsbou feitlik oornag plaasgevind.

Die nasiebouproses in Suid-Afrika is nog nie voltooi nie met verskillende groepe wat steeds sterk langs rasselyne verdeel is.

Die tuislande is afgeskaf en verskillende gemeenskappe wat nog nooit ’n eenheid gevorm het nie, moes as deel van die fase van nasiebou blitsig binne nuwe staatsgrense onder nuwe simbole soos onder meer die vlag en volkslied verenig.

’n Valse illusie van nasieskap is geskep met die 1995 Wêreldbeker-rugbytoernooi maar dié kort opwelling was meer iets soos ’n patriotisme van 24 uur.

Die nasiebouproses in Suid-Afrika is nog nie voltooi nie met verskillende groepe wat steeds sterk langs rasselyne verdeel is.

Dié verdelingslyne word voortdurend beklemtoon deur onder meer die beleid van swart ekonomiese bemagtiging en ander pogings om rykdom en bronne te versprei.

Die stryd oor die herverdeling van ekonomiese bronne, veral dié oor grond, is veel meer intens as debatte oor ekonomiese herverdeling in gevestigde demokrasieë.

Dit het ’n negatiewe invloed op pogings tot nasiebou omdat dit die groter grondbesitters (meestal wit mense) marginaliseer en verstote laat voel.

Dié plofbare situasie verduidelik tot ’n groot mate die huidige politieke en sosio-ekonomiese onstabiliteit in die land.

Wanneer demokratiese beginsels aangetas word

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, toe hy in Februarie in die hof in Bloemfontein verskyn het. Foto: Gallo Images

Die filosowe Plato en Aristoteles het opgemerk dat politieke veranderinge ook geneig is om in siklusse te beweeg, met die moontlikheid om te eindig waar dit begin het.

Dit beteken dat ’n monargie in ’n tirannie kan verander, dan weer in ’n oligargie (regering deur ’n klein elite) en uiteindelik in ’n demokrasie.

Wanneer die swakste eienskappe van ’n demokrasie, soos korrupsie, die botoon voer, tas dit die beginsels en waardes van die regime en die vorm van die owerheid aan. Dit het ’n negatiewe invloed op die politieke stelsel en ’n demokrasie kan maklik in ’n oligargie of selfs ’n diktatuur verander.

Voor 1990 het ’n rasse-hegemonie die apartheidstaat in die vorm van ’n diktatuur beheer.

As Suid-Afrika se politieke geskiedenis van 1990 tot 2018 in oënskou geneem word, kan dié sikliese verandering van die politieke stelsel en die owerheid duidelik gesien word.

Voor 1990 het ’n rasse-hegemonie die apartheidstaat in die vorm van ’n diktatuur beheer, wat die meerderheidsgroep van swart mense sowel as bruin mense en mense van Asiatiese afkoms polities onderdruk het.

Ná 1994 is ’n inklusiewe demokrasie met sterk demokratiese beginsels en waardes ingestel, maar die demokrasie was steeds kwesbaar.

Oudpres. Jacob Zuma weier om weer voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te verskyn. Foto: Gallo Images

Oudpres. Jacob Zuma se magsoorname het die grondliggende demokratiese waardes afgetakel met korrupsie wat die demokratiese stelsel verlam het.

Dit het tot die ontwikkeling van ’n plunderende oligargie (staatskapers) gelei wat die demokrasie groot skade berokken het.

Die staatskapers wou ’n paar mense (oligargie) bevoordeel en nie almal in die land (demokrasie) nie.

Demokratiese waardes is egter met Zuma se bedanking in 2018 herstel.

Die spanning in die stelsel wat deur die sikliese verandering onder Zuma teweeggebring is, het daartoe bygedra om politieke onsekerheid en onstabiliteit in die Suid-Afrika te skep.

Demokratiese waardes is egter met Zuma se bedanking in 2018 herstel en dit het (hopelik) voorlopig die einde van die plunderende oligargie beteken.

As president kon Cyril Rampahosa intree om demokratiese waardes opnuut te beklemtoon.

Die voortdurende stryd tussen die eertydse oligarge en die demokrate duur egter steeds voort en veroorsaak gereelde spanning, soos nou weer gesien kan word met pogings om Zuma en Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, aan die pen te laat ry vir beweerde korrupsieverwante wandade.

Die abnormale politieke spektrum

Pres. Cyril Ramaphosa het sedert 2018 gehelp om demokratiese waardes opnuut te beklemtoon. Foto: Gallo Images

Historiese politieke faktore is die derde element wat tot die spanning in die politieke stelsel lei.

Die verbanning van swart politieke partye gedurende apartheidsera het tot ’n aweregse konfigurasie van politieke partye gelei.

Die normale vestiging van politieke partye op ’n spektrum van links na regs het nooit werklik plaasgevind nie.

Dit was wel die geval met wit partye, maar die opponerende swart groeperinge is dekades gelede op abnormale wyse in mekaar se arms gedwing ondanks hul ideologiese oortuigings.

Die spanning in die ANC getuig daarvan: die radikales onder Magashule en Zuma kom teenoor die gematigde groep onder Rampahosa te staan.

Wat hou die toekoms in?

Pieter Labuschagne

Suid-Afrikaners sal ongelukkig maar geduldig moet wees – die politieke spanning sal nog vir geruime tyd voortduur.

Die afgelope 30 jaar van demokrasie is in werklikheid maar net ’n vlietende oomblik in die politieke landskap.

• Die vier ontwikkelingsfases is nog steeds nie voltooi nie en sal voortdurende spanning skep.

• Die wegkalwing van demokratiese waardes en beginsels dreig voortdurend om die demokrasie in ’n plunderende elitiese oligargie te omskep. Dit skep bykomende spanning.

• Die derde bron van spanning is die huishoudelike tweestryd binne die regerende ANC tussen die radikales en die demokrate. Dit dreig om tot op nasionale vlak oor te spoel en dra by tot die verhoging van die politieke temperatuur.

Al dié faktore dra ook tot algemene onsekerheid by.

Daar kan maar net gehoop word dat ’n stewige grondslag van demokratiese waardes en beginsels sal keer dat die demokratiese toring verkrummel.

• Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma  |  Apartheid  |  Demokrasie  |  Staatskaping  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.