Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Pous Stouter kan ons meer leer van kleinhandel

Stokoud is deesdae modern. Jy kan meer as een vergete, eeue oue fisieke produk teen lae pryse digitaal opspoor, koop en dit onmiddellik digitaal lees of bestel vir vinnige aflewering. Die stories van die verlede is padtekens na die toekoms, want die toekoms is een van baie groter keusevryheid by kopers, meen Rhynie Greef

aanlyn
Grafika: iStock

Pamela Anderson het een keer gesê dat dit nogal lekker is om ’n blondine te wees want, met lae verwagtings, is dit baie maklik om mense te verras. (Ag, as sekere van ons politieke leiers nou maar ook net vir ’n slag Pamela Andersons kan wees. Sug.)

In my vorige rubriek het ek oor die huidige pous Fransiscus geskryf wat in sy jeug ’n uitsmyter in ’n nagklub in Buenos Aires was. Hy het die lae verwagtings van daardie begindae oortref.

In nog ’n groter verrassing het ek nou ’n ander onhebbelike pous opgespoor naamlik pous Pius II met ’n ampstermyn van 1458 tot 1464. Hierdie ou kon maklik ook pous Stouter I gewees het.

Stout produkte van ses eeue gelede

Voor Pius II met die pouslike hoed op sy kop rondgedrentel het, het hy in sy jeug twee vroue swanger gemaak (een in Skotland, een in Straatsburg). Hy was inderdaad ’n uitstekende jong droogmaker. Ek weet nou nie of sy persoonlike ondervindings met dames hom daartoe gedryf het nie, maar onder sy oorspronklike naam, Enea Silvio Piccolomini van Siena, het hy in sy jonger dae ’n erotiese boek geskryf wat een van die 15de eeu se topverkopers was – Historia de Duobus Amantibus (’n Verhaal van twee verliefdes).

Is dit nou nie interessant nie? Effens skurwe antieke denke wat vergete geraak het, is onmiddellik binne ons bereik as gevolg van ons moderne digitale aankoopmetodes.

Sy verhaal van ’n getroude vrou, Lucretia, se owerspel met ’n losloperman was nou nie juis ’n kerklike geskrif vir skilderwerk in die Sistynse kapel nie. Ek twyfel of Duobus Amantibus vandag ’n uitleenboek kan wees op die 42 kilometer se rakke van die Vatikaan se biblioteek. Dit kan opgetel word in die afdeling vir volwassenes in uitgesoekte Italiaanse biblioteke.

Wat my nou wel ook verras het, is dat jy nie na ’n biblioteek in Siena hoef te gaan om die pouslike Latynse hygroman op te spoor nie. Hierdie “vyftig-skakerings-van-grys” is sommer hier in ons midde want dit is beskikbaar in Suid-Afrika op Takealot.com (R165) en wêreldwyd op Amazon.

Pous Pius II Foto: Wikipedia

Is dit nou nie interessant nie? Effens skurwe antieke denke wat vergete geraak het, is onmiddellik binne ons bereik as gevolg van ons moderne digitale aankoopmetodes.

En pous Stouter I se boek staan nie alleen nie. Op Takealot.com kan jy The Canterbury Tales van Geoffrey Chaucer koop. Dis geskryf in Middel-Engels tussen 1387 en 1400.

Daarin het ek ’n onbeskofte woord in The Miller’s Tale opgespoor by ’n oor-die-tou-getrappery. Dis ’n woord wat nie hier herhaalbaar is nie maar, glo my, baie moderne “skrywers” gebruik dit vandag nog op toiletmure in Engels en Afrikaans. Vergete goed bly steeds by ons.

Wat beteken die beskikbaarheid van hierdie ou publikasies?

Stokoud is modern. Jy kan meer as een vergete, eeue oue fisieke produk teen lae prys digitaal opspoor, koop en dit onmiddellik digitaal lees of bestel vir vinnige aflewering. ’n Koper sal ver moet ry om ’n fisieke boekwinkel te vind wat die boeke van pous Stouter I en Chaucer op die rak aanhou. Keusevryheid is in so ’n rondryery amper afgesny.

Ek sien sulke gewaagde stories van die verlede as padtekens na die toekoms, want die toekoms is een van baie groter keusevryheid by kopers.

Die mark vir kopers verander vinnig.

Die toekoms van fisieke kleinhandel

Duisende fisieke winkels in die VSA en die Brittanje maak nou jaarliks hul deure permanent toe terwyl digitale e-handel sterk groei. In die VSA is Amazon nou blykbaar meer waardevol as al die belangrikste Amerikaanse baksteen-en-sementwinkels saamgetel.

In Suid-Afrika is aanlyn elektroniese aankope nog in sy kleuterfase vergeleke met elders in die wêreld, maar dit groei hier en, met ons status as die land met die sesde meeste winkelsentrums in die wêreld, is die skrif aan die muur. Fisieke winkels en winkelsentrums sal in ons deel van die wêreld moet aanpas.

Waar kan winkels leer van die stout pous en Chaucer? Kyk na behoeftes van toe en nou. Die twee kêrels het behoeftes in antieke tye bevredig as topverkopers. Vandag is hulle nie meer topverkopers nie maar, as enige huidige koper die behoefte het om die boeke te kry, is hulle beskikbaar. Dit gaan oor wat kopers wil hê. En nie net oor boeke nie, maar oor álle verkope.

Ek dink kopers word vandag gemotiveer deur vier dinge:

* Groter keusevryheid.

* Die regte gehalte teen ’n goeie prys.

* ’n Ondervinding.

* Logisties moet die produk gelewer word.

’n Fisiese winkel het maar beperkte voorraad en beperkte keuses vir kopers. Vraag is byna onbeperk. Fisieke winkels moet dus hul keuses verbreed. Ons winkels en sentrums moet hulself red en ek dink hulle kan.

Kopers hou daarvan om aan ’n produk te raak. Die gebrek aan tasbaarheid is ’n negatiewe aspek vir aanlyn verkope. Musikante se musiek word deesdae onpersoonlik afgelaai, maar hulle het aangepas met regstreekse optredes, ontmoetings met bewonderaars, direkte kontak en foto’s met bewonderaars.

Winkelsentrums word pretparke om mense te trek. Sekere winkels het hul eie restaurante vir gemoedelike koperondervinding. Hoekom kan ander in die kleinhandel nie ook dit doen nie?

Waarom kan baksteen-pleister-en-glas-winkels nie ook logisties uitblink nie? Of logisties saamwerk met e-handelspesialiste op sekere vlakke nie?

Gee die fisiek teenwoordige koper dus ’n goeie tasbare en vriendelike ondervinding met kommunikasie en diens. Mense wil nie vereensaam nie. Reik uit met rakende vingers soos in die plafon van die Sistynse kapel of soos ET met sy gloeiende vinger.

Gee egter ook meer keusevryheid met meer produkte wat vinnig en logisties goed gelewer kan word.

E-handelmaatskappye is eintlik logistieke maatskappye met lekker koopkeuses.

Waarom kan baksteen-pleister-en-glas-winkels nie ook logisties uitblink nie? Of logisties saamwerk met e-handelspesialiste op sekere vlakke nie? Baie restaurante se disse kan nou vir jou tuis afgelewer word met ’n selfoontoepassing. Dit kan sekerlik uitbrei na ander maatskappye.

aanlyn
Grafika: iStock

Lewer ’n integrasie van fisieke kleinhandel en e-handel met tegnologie wat kopers help om groter keuse van produkte te sien, te voel en aan te pas voor aankope. Miskien sal opgedateerde nuwe fisieke winkels ontstaan met koperondervinding as basiese uitgangspunt.

Rhynie Greeff

Klante se ondervinding is altyd die belangrikste sneller vir aankope. Dit is ’n besondere prestasie as ses eeue gelede se denke as tasbare keuse verkoop kan word. Dis miskien ’n sleutel vir die toekoms van fisieke kleinhandel.

Oor die eeue het skrywers beweeg van perkamentrolle na fisiek gedrukte bladsye en nou na digitale stories, soos hierdie rubriek, wat soos ’n perkamentrol van bo na onder gelees kan word.

Maar graffiti was ook op mure in antieke tye geskryf.

Graffiti is steeds met ons. Skurf maar aards.

In die kleinhandel is kopers se toekomsbehoeftes aan bevrediging miskien ook steeds so aards en tasbaar soos wat dit in antieke tye was.

Ek dink die toekoms van ons glasvensterwinkels lê in die verlede.

* Dr. Greeff, ’n strategiese konsultant en voormalige diplomaat, het ’n doktorsgraad in handel, gespesialiseerd in die ekonomie van mededinging. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Amazon  |  Suid-Afrika  |  Aanlyn Inkopies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.