Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
President Liegbek

Donald Trump se presidentskap wankel met pogings om hom in ’n staat van beskuldiging te plaas wat nou goed spoed optel. Egmont Sippel skets die president se geskiedenis van leuens.

Pres. Donald Trump: Wetteloos, egoïsties, en oneerlik. Foto’s: Getty Images

Ek is Bart Nel van toe af, en ek is nog hy.

Of noem my Carel Trichardt. Dalk Tony, as jy Al Pacino in Scarface is. “What do you call yourself?” wou die FBI van die dwelmkoning weet. “Antonio Montana. And you? What do you call yourself?”

Hardegat, uitdagend, vol bravade, ’n geitjie met ’n renosterhoring selfs in die aangesig van verdoemenis.

En meestal kom dit vanself. Dinge gebeur. Mense reageer, word gedefinieer.

Uiteindelik is almal presies wie hulle is.

Maar wéét almal wie hulle is, op die manier wat Sokrates en Plato gnothi seauton bedoel het? Ken jouself. Wat is jou kernwaardes? Is hulle gesond? Wéét jy as jy lieg? En hoekom? En of jy vir jouself ook lieg?

In 1981 moes Carlos Reutemann bloot voor Nelson Piquet in Formule Een se laaste Grand Prix van die jaar in Las Vegas eindig om kampioen te word. Agterna is hy gevra hoekom hy nie vir Piquet in ’n muur vasgedruk het toe Piquet besig was om hom verby te steek nie; niemand sou geweet het nie.

“Ek sou geweet het,” het Reutemann geantwoord.

Patologiese leuenaar

Wéét Donald Trump dat hy lieg?

Want hy’s duidelik ’n patologiese, kompulsiewe gewoonteleuenaar. VolgensThe Washington Post het Trump oor die eerste 928 dae van sy presidentskap meer as 12 000 vals of misleidende stellings gemaak.

DJT se liegery is endemies, sy verduistering eindeloos.

Dis amper 13 skewes per dag – elke dag – sonder ophou vir meer as twee-en-’n-half jaar. Die Post het selfs al ’n spesiale kategorie geskep vir leuens wat al minstens 20 keer herhaal is.

En hulle is allermins die enigste tellinghouer. Snopes.com, PolitiFact en FactCheck.org rapporteer ook skokkende syfers oor Trump se omgang met die waarheid.

’n Groot gros van Trump se leuens is boonop maklik weerlegbaar, maar wat waarlik verstom, is sy weiering om te erken as hy verkeerd bewys word.

“As die leuen wat jy vertel groot genoeg is en dikwels genoeg herhaal word, sal mense jou uiteindelik glo.”

Dis ’n siening wat aan Nazi-Duitsland se minister van propaganda, Josef Goebbels, toegedig word, maar Hitler het in 1925 al in Mein Kampf daaroor geskryf.

McGahn en regsverydeling

Trump se aanspraak dat die Mueller-ondersoek ’n “no collusion, no obstruction nothingburger” was, is ’n enorme wanvoorstelling.

Volgens die verslag was daar meer as 125 kontakgevalle tussen operateurs van Trump se presidentsveldtog en die Russe, terwyl Trump ook duidelik regsverydeling gepleeg het, onder meer via ’n opdrag aan sy prokureur Don McGahn om van Mueller ontslae te raak. Donald J. Trump (DJT) word ook geensins verontskuldig omdat McGahn geweier het om dit te doen nie. ’n Poging tot regsverydeling is so goed soos die daad self.

Hier’s Trump se weergawe aan ABC News se George Stephanopoulos: “Ek het nooit voorgestel dat Mueller afgedank moes word nie.”

“Dis nie wat McGahn gesê het nie.”

“Ek gee nie om wat hy sê nie, dit maak nie saak nie.”

Wolodimir Zelenski, Oekraïense president: Hy was voor sy verkiesing ’n TV-grapjas.

In die Stabiele Genie (soos Trump homself noem) se wêreld tel ander se weergawes nie as dit van syne verskil nie. Trump verhef bloot dít wat hy as die waarheid verlang, tot die waarheid self, en klaar.

“Maar hoekom sou McGahn onder eed (teenoor Mueller) lieg?”

“Omdat hy homself as ’n goeie prokureur wil voordoen.”

Dis tekenend van Trump se geestestruktuur dat McGahn nie homself as “goed” sou wou bewys deur die waarheid te vertel nie, maar dat hy sou moes lieg om dit te doen.

Eweneens probeer DJT om homself tot volmaaktheid te lieg. Vir baie jare het dit op sekere maniere gewerk. Per slot van rekening het Trump diegene wat hom teëgegaan het bloot met die mag van geld, status en slinkse prokureurs oorrompel.

As president van die VSA is Trump egter aan twee formidabele nuwe wagters van die openbare belang blootgestel: die Amerikaanse kongres en ’n parate, nimmerslapende nasionale media.

Tog kleef die ou gewoontes. Toe Stephanopoulos daarop hamer dat Trump nie vrae oor regsverydeling aan Mueller wou beantwoord nie, het die president gereageer asof hy met die voorman op een van sy bouprojekte praat: “Look George, you’re being a little wise guy, okay – which is typical for you.”

Einde van die argument.

’n Geskiedenis van leuens

DJT se liegery is endemies, sy verduistering eindeloos.

Hier’s drie van duisende: Trump het al sy aandele enkele dae voor 1987 se beurs-ineenstorting verkoop; in 1989 verklaar hy zero skuld; in 1996 verwed hy, teen 20-1, ’n miljoen dollar op buiteling Evander Holyfield om Mike Tyson te verslaan.

Versinsels, die hele lot; in 1989 het Reuters byvoorbeeld $4 miljard se Trump-skuld aan 70 banke geïdentifiseer.

Volgens Ben Berzin jr. – wat in 1997 probeer het om Trump se skuld van $100 miljoen vir sy bank te herwin – het dit nie gelyk asof “Trump tussen feite en fiksie kan onderskei nie”.

In sy oë is alles omtrent homself volmaak.

By tye het Die Donald sommer skuilname gebruik om vals stories oor homself – almal selfverheerlikend – aan nuusbronne te versprei. Een van die bekendstes was ’n sogenaamde DJT-woordvoerder genaamd John Barron (inderwaarheid Trump self; sy middelnaam is John en sy latere seun heet Barron) wat groot stories oor Trump-rykdomme aan Forbes vertel het, net om ’n hoë posisie op die Forbes 400 se ­lys van Amerika se rykstes los te skoffel.

DJT lieg selfs voortdurend oor sy pa se geboorteplek. In Swede, seg hy. Of New Jersey. Van Sweedse ouers af. In Duitsland. Van Duitse ouers af. Ensovoorts. In werklikheid is Fred Trump in die Bronx gebore.

Volgens Barbara Res, van 1978 tot 1998 ’n visepresident van die Trump-organisasie, het DJT “sulke belaglike leuens aan sy personeel vertel, dat niemand later meer ’n enkele woord geglo het nie”.

Hofsake en morele vesel

Oneerlikheid en bedrog op ’n Trumpiaanse skaal is natuurlik hofmateriaal. In die drie dekades voor sy verkiesing was DJT en sy maatskappye in 3 500 sake betrokke, merendeels met Trump se mentor, die legendaries-boosaardige prokureur Roy Cohn – wat ook as ’n “media-hoer” bekend gestaan het – as fixer.

Michael Cohen, wat nou in die tronk sit, het later hierdie rol oorgeneem. Die res van die mensebende waarmee Trump homself nou nog omring, is ewe verdag. Al wat van hulle vereis word, is blinde lojaliteit.

Dit werk soos die dobbelmasjiene waarmee DJT so lank betrokke was. Jy’s vir Trump, of teen hom. Jy wen of verloor.

Die Trump-Universiteit en -stigting was ewe massiewe bedrogbedrywe. Oor laasgenoemde het die hof bevind dat dit as “tjekboek vir die Trump­familie” gedien het; geld wat vir liefdadigheid geskenk is, het Trump-beursies gevul.

Regsgedinge teen Trump as president is ook legio; hy’s daardie soort mens, dis wie hy is.

In 2016 het die Republikeinse senator Lindsey Graham hom só beskryf: “He’s a race-baiting, xenophobic, religious bigot.” En Mick Mulvaney: “Trump is a disgusting, terrible human being”.

Deesdae is Graham die president se skoothond en aanvalswolf en Mulvaney die Withuis se personeelhoof. Politiek is dikker as bloed, maar Robert de Niro kom uit ’n ander kamp: “Trump is a punk, a dog, a pig, a con, a bs-artist, a fool, a bozo, a mutt and a national disaster.”

De Niro noem DJT vir wat hy is: ’n siek liegmasjien en meer, want Die Donald het duidelik in die kleinhuisie agtergebly toe morele vesel uitgedeel is.

‘The Art of the Deal’ en die Oekraïne

Soos vlieë om perdemis draai omtrent alle Trump-wanvoorstellings om selfverheerliking en finansies.

In die proses is ’n mite van sukses oor hom opgetower wat deur die boek The Art of the Deal versterk is.

Die skimskrywer Tony Schwartz kon homself nog nooit vergewe nie. In ’n onderhoud met The New Yorker tydens Trump se presidentskandidaatsveldtog: “My berou is diep, want ek het ’n vark met lipstiffie versier. Ek glo vas dat dit tot die einde van ons beskawing kan lei as DJT sy kloue op kernwapenkodes kry.”

En wat sou hy sy boek genoem het, as hy dit moes oorskryf?

“Die Sosiopaat,” reken Schwartz.

Richard Nixon lyk na ’n Weense koorseuntjie teenoor Die Donald.

Navorsing vir The Art of the Deal het begin met ’n ondersoek na DJT se kinderjare. Binne minute was Trump ongeduldig en geïrriteerd. Herinneringe aan sy jeug was karig en sommer net so is die onderhoud beëindig – ’n patroon wat die skrywer se vordering week ná week sou striem.

“Trump het géén aandagspan nie,” bevestig Schwartz. “Die enigste onderwerp wat sy fokus kan hou is selfverheerliking.”

Withuis-personeel was byvoorbeeld geskok om te vind dat Trump feitlik nooit dokumente, selfs oor landsveiligheid, lees nie.

“Trump se primêre nuusbron is TV se maklik verteerbare klankprentjies,” seg Schwartz, wat Trump se lewe vir 18 maande meegeleef het. “Sy kennis is skokkend oppervlakkig en hy word deur ’n oorweldigende behoefte aan aandag gedryf. Ek mog selfs op sy telefoongesprekke inluister. Geen een was te privaat vir hom nie.”

Lieg as tweede natuur

Nie meer nie. Trump se presidentskap word nou bedreig deur ’n telefoongesprek met die Oekraïense president wat so skadelik kon en kan wees dat Withuis-prokureurs die transkripsie uit sy normale stoorplek verskuif het na ’n top-sekerheidsrekenaar met uiters geheime kodes.

En Trump? Hy’t die gesprek openbaar gemaak omdat hy niks daarmee verkeerd sien nie. Volgens hom was dit “perfek”.

Dis baansyfer vir Trump. In sy oë is alles omtrent homself volmaak. En as dit nie is nie, lieg hy dit so.

“Dis tweede natuur vir hom,” seg Schwartz. “Hy’t by uitstek die vermoë om homself te oortuig dat wat hy kwytraak, waar is, of soort van waar is, of ten minste waar behoort te wees.

“Trump lieg strategies, sonder gewete. Hy’t opgesmukte smaak, reusagtige obsessies en ’n volslae gebrek aan belangstelling in enigiets buiten geld, mag, selfverheerliking en roem. Sover ek kon vasstel, het hy min tyd vir sy familie en geen goeie vriende nie. Toe Cohn moeilike tye tref, het Trump hom opsygeskuif.”

“Donald pie yswater,” het Cohn kort voor sy dood gesê.

Daar’s ’n les hierin, reken Schwartz. Miljoene wat vir Trump gestem het, sal weldra leer dat DJT nie ’n duit vir hulle omgee nie. Trump se grootste leuen tot dusver was juis dat hy hom oor die werkersklas ontferm. Uit die hoogte van sy presidentstoel is al hierdie mense “great people”. In werklikheid verag Trump fabriekswerkers en handearbeiders bloot as gespuis.

Genghis Khan in ’n Cadillac

Selfs “America first” is ’n leuen, want dit was nog altyd “Trump first”.

DJT sien Amerika bloot as ’n enorme plaas waarvan hy baas is om dit, nes sy sakeryk, na goeddunke te regeer.

Dis hoekom hy dit aanvaarbaar vind om in Mafia-kodetaal op ’n jong, nuwe Oekraïense presidentjie (wat voor sy verkiesing ’n TV-grapjas was) te leun.

Die Amerikaanse kongres, sien, het vroeër vanjaar reeds die verkoop van $400 miljoen se wapentuig aan die Oekraïne goedgekeur – wat nodig is om die Russiese Beer aldaar van die deur af te weer. Aflewering is egter deur Trump vertraag, tot Wolodimir Zelenski ’n bereidwilligheid sou toon om “saam te speel” deur vuil inligting oor Trump se politieke teenstander Joe Biden en dié se seun te vind.

Hierdie “guns” waarvoor Trump gevra het, sal waarskynlik tot ’n staat van beskuldiging lei. Ondersoeke in dier voege is reeds van stapel gestuur en Trump se presidentskap is in die weegskaal, alhoewel ’n stemming in die Republikeins-oorheerste senaat hom moontlik nog kan red.

Intussen baklei Trump en sy troepe terug met wapens waarmee hulle vertroud is: leuens, onwaarhede, halwe waarhede, bewerings, misleidings, verdoeselings, ontkennings, aantygings, aanvalle, innuendo’s, intimidasie en toesmeerdery – of dan alles wat bygedra het om Trump as Amerika se mees korrupte president nog te vestig.

Die man is eenvoudig ’n groteske, walglike rampokker wat beledig, boelie, dreig, bedreig, bedrieg, intimideer, hoereer, plunder en verkrag so ver hy gaan, die klimaat, natuur, planeet, Amerikaanse presidentskap en Engelse taal ingesluit.

Trump is Genghis Khan in ’n Cadillac.

’n Ongekende ongekende

Richard Nixon lyk na ’n Weense koorseuntjie, gemeet teen die Trumpiaanse “grab them by the pussy”- en “shoot migrants in the legs”-monster.

Snaaks genoeg is dit hoekom vele hom ondersteun. Hulle wil ook bandeloos en bo die wet lewe. Trump se roekeloosheid gee hulle ’n skynlisensie daarvoor.

Die ander Donald, genaamd Rumsfeld, het eens gesê: “There are known knowns. Unknown knowns. Known unknowns. And unknown unknowns.”

Vir die res van ons is Trump ’n “known unknown”. Ons weet hy is korrup, maar ons wonder waar die bodem lê.

Vir Trump self is hy ’n “unknown unknown”. Hy ken homself nie. Hy weet nie waar sy perke is nie. Hy kan kwalik tussen feit en fiksie onderskei. En soos die deklassifikasie van sy Oekraïense gesprek bewys, is hy salig onbewus van sy eie korruptheid.

Al wat hy weet, is dat die beskawing lastige perke op sy drang tot vergrype stel en dat hy instinktief daarteen rebelleer, wat hom allermins ’n Bart Nel maak al sou hy, nes Nel, eendag in ’n tronk moes sit.

Nel se rebellie was in die naam van integriteit en oortuiging; Trump s’n is vir ontugtige, selfverterende eiegewin.

Noem hom dan eerder, in die aangesig van verdoemenis, ’n Tony Montana: uitdagend, aggressief en vol bravade; ’n renoster met ’n bulhoring.

Andersyds skets Trump homself altyd as slagoffer; ’n renoster met ’n geitjiehuid. Maar niks hiervan, DJT, is ’n sameswering, ’n heksejag of ’n hoax soos jy beweer nie.

Dis bloot ’n verwerping van jou veragtelike, wettelose, egoïstiese, oneerlike, vratige self.

Meer oor:  Donald Trump  |  Vsa  |  President  |  Leuens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.