Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
President wat altyd rooi sien

Donald J. Trump het reeds die VSA ten goede en kwade vir altyd verander, skryf Jaco Kleynhans.

Tydens die eerste drie jaar van pres. Donald Trump se termyn het meer as 400 van sy personeel sy administrasie verlaat nadat hulle bedank het of deur hom afgedank is.

Verskeie boeke deur voormalige senior raadgewers en beamptes van die Trump-administrasie vertel die verhaal van ’n president wat min mense vertrou en nie maklik deur raadgewers voorgeskryf word nie. Ná byna vier jaar in die Withuis verkies Trump om steeds die stormbul en politieke ontwrigter te wees wat sy eie kop volg.

Kan dit hom ’n tweede termyn in die Withuis kos of is dit juis sy sleutel tot nog ’n verrassende oorwinning?

Met slegs enkele dae oor voor die Amerikaanse verkiesing op 3 November is dit duidelik dat Trump se beste wenstrategie ’n sterk fokus op sy ekonomiese prestasielys, veral tussen 2017 en 2019, en sy meer onlangse buitelandse suksesse behoort te wees. ’n Meerderheid van kiesers het steeds op hierdie twee terreine ’n positiewe beeld van hom. Vir Trump om te wen moet hy kiesers op sy sterkpunte laat fokus en entoesiasme daarvoor aanwakker.

Maar ten spyte daarvan dat sy hele veldtog presies dit probeer regkry, het Trump die afgelope week die teenoorgestelde gedoen.

Maandag tydens ’n verkiesingsaamtrek in die deelstaat Arizona het Trump uitgevaar teen die bekende immunoloog en voorsitter van die nasionale instituut vir allergieë en aansteeklike siektes, dr. Anthony Fauci. Trump het in sy toespraak Fauci se betrokkenheid by die stryd teen die Covid-19-pandemie as “ ’n ramp” beskryf. Trump het verder gegaan deur na wetenskaplike adviseurs, waarskynlik Fauci ingesluit, as idiote te verwys.

Hy verkies om die ontwrigter te wees.

Die probleem hiermee is dat Fauci baie gewild is in die VSA en dat die meeste Amerikaners respek en waardering vir sy bydrae in die stryd teen Covid-19 het. Fauci (79) is nie Trump se vyand nie, juis omdat hy die afgelope maande keer op keer aan Trump se sy gestaan het en politieke uitsprake vermy het terwyl hy probeer het om Trump oor die hantering van die pandemie te adviseer.

Die tweede probleem met Trump se aanval op Fauci was dat Trump juis daardeur die fokus op sy administrasie se hantering van die pandemie plaas. ’n Meerderheid Amerikaanse kiesers is ontevrede met Trump se hantering van die pandemie en dit gaan nie voor die verkiesing verander nie. Terwyl Trump op sy sterkpunte moet fokus, verval hy daagliks in klein gevegte wat klem plaas op sy swakpunte.

Dit bring ons by Dinsdag. Dit is ’n bekende feit dat daar ’n baie slegte verhouding tussen Trump en die Amerikaanse hoofstroommedia bestaan. Nie net Trump is hier skuldig nie, maar die meeste bekende koerante en televisiekanale se eensydige beriggewing en hul strawwe ondervraging van Trump, terwyl Joe Biden met fluweelhandskoene hanteer word, is frustrerend.

Terwyl meer en meer Amerikaners ook nie meer die hoofstroommedia vertrou nie, kan die invloed van die media op enige politieke veldtog nie onderskat word nie. Dinsdag het Trump egter ’n onderhoud met die gerespekteerde aanbieder van 60 Minutes op CBS News, Lesley Stahl, kortgeknip nadat hy hom vir haar vervies het. Weer eens het dit die aandag afgelei van die boodskap wat Trump moes uitkry.

Terwyl Trump tydens die 2016-verkiesingsveldtog reeds ’n slegte verhouding met die media gehad het, het hy baie meer onderhoude toegestaan en baie beter daarin geslaag om sy duidelike fokus op “Amerika eerste” oor te dra. Sy klem op regverdige internasionale handel, ’n onttrekking uit Midde-Oosterse oorloë, die bou van ’n grensmuur tussen die VSA en Mexiko, laer belastingkoerse en minder ekonomiese regulasies het tot sy oorwinning bygedra.

Woensdag het Trump weer die onafhanklike kommissie wat debatte tussen presidentskandidate organiseer, aangeval omdat hulle op kort kennisgewing nuwe reëls vir Donderdagaand se debat aangekondig het en ook besluit het om die temas van die debat te wysig.

Daar is natuurlik baie meer voorbeelde van Trump se woede en uitbarstings. Een fout wat baie joernaliste en kommentators egter maak is om te beweer dat hierdie beledigings en aanvalle nuut is. Trump het reeds tydens die 2016-verkiesingsveldtog so opgetree en het nooit verander nie. Sy Twitterprofiel is ’n album van sy aanvalle op vyande en selfs vriende.

Trump se lewensverhaal bewys dat hy nooit sterk op dissipline, organisatoriese struktuur en fokus ingestel was nie. Sy sakeloopbaan en verskeie mislukte huwelike vertel die verhaal van ’n ontwrigter wat instorm, aanval, soms verloor, maar meestal wen.

Wat Trump se eerste termyn as president egter tot dusver bevestig het, is dat hy verkies om die permanente ontwrigter te wees. Op die internasionale verhoog was hy tot dusver nie bang om ou bondgenote storm te loop, uit internasionale instellings te onttrek en in handelsoorloë betrokke te raak nie. Niks het Trump gekeer om die eerste Amerikaanse president tot nog toe te word wat Noord-Korea besoek het nie. En hy het teen alle raad in, maar met sukses, die meeste bestaande idees oor hoe vrede tussen Israel en Arabiese lande gesluit kan word, uit die pad gevee.

Terwyl hy belastingkoerse verlaag en regulasies verminder het, die meeste Amerikaanse soldate uit Midde-Oosterse oorlogsones onttrek het en die VSA se handelsbande met lande begin heroorweeg het, het hy nooit opgehou om die buitestander wat saam met sy mense kwaad is vir die stelsel, te wees nie.

Toe Trump op 16 Junie 2015 aangekondig het dat hy homself beskikbaar gaan stel as presidentskandidaat vir die Republikeinse Party, is hy deur die media, Republikeine en eintlik die meeste mense in die VSA as ’n politieke ontwrigter beskou.

Hy wou alles waaroor gewone Amerikaners ongelukkig was, takel en regruk. Hoewel dit aanvanklik as aandagsoekery afgemaak is, het Trump se politieke opgang so vinnig gebeur dat die voorste politieke kenners in die VSA onkant betrap is.

Hy het eers gemaklik, sonder ’n dag se ervaring as ’n professionele politikus, ’n hele klomp meer ervare en bekwame kandidate uitgestof om die Republikeine se presidentskandidaat te word. Daarna het hy met ’n chaotiese, swak gefinansierde veldtog almal verras deur Hillary Clinton te verslaan.

Kan dit vanjaar weer gebeur? Die probleem met Trump se persoonlikheid as iemand wat op chaos floreer, is dat Amerikaners se verwagtinge van hom verander het. In 2016 het baie kiesers vir Trump ’n kans gegee omdat hul frustrasie met die gevestigde politieke orde nie deur enige van die twee politieke partye opgelos is nie. Vandag is Trump die baas van die politieke orde. Hoewel hy die buitestander wil wees, is hy dit in praktyk lankal nie meer nie.

Trump se swakpunte is deeglik bekend. Die wanorde in sy administrasie wys iets van sy chaotiese bestuurstyl. Hy het die Covid-19-pandemie swak bestuur en in plaas van om die regering se reaksie met goewerneurs van deelstate te koördineer, het hy in klein gevegte met verskeie goewerneurs betrokke geraak.

Trump het ook nooit daarin geslaag om Amerikaners rondom ’n gedeelde visie vir die toekoms te verenig en onderliggende spanningslyne te hanteer nie. Dit was nooit sy doel nie.

Die Trump-administrasie het egter ook heelwat suksesse op hul kerfstok. Trump het sy belofte aan sy kiesers nagekom om konserwatiewe regters aan te stel. Hy het belasting verlaag en regulasies geskrap. Hy het stappe gedoen om Amerikaanse nywerhede beter te beskerm. Ouers het in baie deelstate die geleentheid gekry om self te besluit na watter skool hul kinders gaan. Groot nuwe infrastruktuurprojekte is onderneem en ’n deel van die grensmuur tussen die VSA en Mexiko is reeds gebou.

Daarmee saam het die Republikeinse Party en sy leiers op verskillende vlakke Trump sedert sy oorwinning in 2016 aanvaar en met hom begin saamwerk. Die party het ’n uitstekende verkiesingstelsel ontwikkel wat insluit ’n moderne kieserdatabasis, gefokusde bemarkingstrategieë en ’n omvattende stelsel om vrywilligers doeltreffend aan te wend.

Meer as 1 miljard dollar is ingesamel om ’n veel beter veldtog as in 2016 moontlik te maak. Oor die afgelope drie jaar het die Republikeinse Party in verskeie deurslaggewende deelstate, insluitende Florida, Noord-Carolina en Pennsilvanië heelwat meer nuwe kiesers as die Demokratiese Party geregistreer.

Ten spyte van die talle voordele van ’n baie beter veldtoginfrastruktuur en ’n verenigde party kon Trump vanaf 2016 tot nou nie hierby aanpas nie.

Hy verkies om steeds die ontwrigter te wees. Indien hy herkies word, gaan boeke geskryf word oor hoe hy ou aannames oor die Amerikaanse politiek vir altyd verander het.

Indien Trump die verkiesing verloor, kan aanvaar word dat hy nie die uitslag sal aanvaar nie.

Soos met die Amerikaanse presidentsverkiesing van 1876 kan dit tot ’n onbesliste verkiesingsuitslag aanleiding gee. Iewers sal ’n oplossing egter gevind moet word. Moet egter nie verwag dat Trump ná die verkiesing sy ontwrigterstatus gaan opsê nie. Indien hy verloor, gaan hy die kultusleier van sy volgelinge word. Indien hy wen, sal hy vir nog vier jaar die ou politieke orde uittoets, ontwrig en herskik.

Donald J. Trump het reeds die VSA ten goede en kwade vir altyd verander.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.