Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Prof. Jansen, u sal gou gedwing word om te bedank'
Die huidige taalbeleid is myns insiens onhoudbaar. Dit skei mense te veel.

In 2012 het ek die tweede semester aan die UV gestudeer en dit was ’n wonderlike ervaring. Ek het vriende gemaak, interessante Afrika-sienings leer ken en ’n nuwe taal – Afrikaans – my eie gemaak. Ek het vir een semester modules in B.Sc. geografie en omgewingsbestuur gevolg wat soortgelyk is aan my kursus, stads- en streekbeplanning, aan die Ryksuniversiteit Groningen in Nederland.

Gedurende die ses maande by Kovsies het ek belangrike oomblikke ervaar wat my vir die res van my lewe sal help vorm.

Vanuit my Nederlandse perspektief word ek verbaas oor hoe sekere sake aan die UV gehanteer word. Wat my verbaas, is dat Lindokuhle Ntuli, die voorsitter van die studenteraad (SR), hom teen Afrikaans uitgespreek het. Hy het gesê dat Afrikaanstalige fasiliteite studente skei. Sy oproep gaan saam met geweldige stemmingmakery teen Afrikaans. Hierdie mate van polarisasie wek kommer. Hy behoort ook die belange van studente wat in Afrikaans lesings volg, te verteenwoordig.

Die huidige taalbeleid is myns insiens onhoudbaar. Dit skei mense te veel. Let wel: Dit is ’n aanklag teen die beperkings van parallelmedium-onderrig en nie teen onderrig in Afrikaans (of Suid-Sotho) nie. Hoewel die universiteit meertalig is, is dit vanuit die oogpunt van studente eentalig. Hierdie persepsie, asook die UV se beleid om slegs in Engels te transformeer, het gelei tot die huidige situasie waarin Afrikaans nie as taal waarin transformasie kan plaasvind, erken word nie. My vraag is waarom transformasie slegs in Engels plaasgevind het en nie óók in Afrikaans nie? Hoekom is bruin en swart studente nie gestimuleer om in Afrikaans lesings te volg nie? In die universiteit se koshuise geld wel die harde 50/50-raskwota, maar transformasie van Afrikaans en transformasie in Afrikaans behoort skielik nie tot die universiteit se take nie.

Parallelmedium-onderrig sal vervang moet word met ’n vorm van dubbelmedium-onderrig. Dubbelmedium-onderrig kan egter net werk as die sprekers van die medium-tale nie mekaar se tale praat nie. Ek wil voorstel dat die UV sy huidige taalbeleid so aanpas dat dit parallelle dubbelmedium-onderrig bied. Met enkelmedium-klasse in Engels en dubbelmedium-klasse in Afrikaans en Suid-Sotho. So word die relatiewe eksklusiwiteit van Afrikaanse klasse deurbreek. Na 20 jaar se universitêre transformasie moet dubbelmedium-klasse – 50% tolking na Afrikaans (vanuit Suid-Sotho) en 50% na Suid-Sotho (vanuit Afrikaans) – haalbaar wees.

Ongelukkig het die debat oor Kovsies se taalbeleid met vals redes begin toe prof. Jansen in sy Maandagbulletin gesê het dat Afrikaanse studente voordeel het bo ander studente omdat daar spesiale Afrikaanse uittreksels van Engelse boeke beskikbaar is.

Geagte prof. Jansen, u is vinnig besig om steun onder dosente en studente van alle agtergronde te verloor. Links-radikale studente wat eintlik nie geïnteresseerd is in die doelwitte van transformasie nie, het transformasie gekaap om hul droom van ’n revolusie te dien. U weet dit.

Daardie studenteleiers maak die versoenende werk van studenteleiers soos Emme-Lancia Faro, Johann Steyn en Modieyi Motholo ongedaan en ruk die mat onder u uit. U sal daarom moet (1) stop met sinnelose harde uitlatings oor sekere groepe; (2) terugkeer na die beginsels van u versoeningsleer; (3) steun soek vir hierdie beginsels (wat radikale en blinde transformasie uitsluit); (4) voorsiening maak vir ’n doeltreffende, regverdige en ope transformasiebeleid; (5) ’n volhoubare meertalige onderrigstelsel implementeer waarby die bates van verskillende tale aan almal toekom; en (6) ’n stelsel van eweredige verteenwoordiging binne die SR invoer, sodat die stemme van minderhede hul plek binne die SR kry.

Geagte prof. Jansen, indien u dit nie doen nie, sal u waarskynlik in die nabye toekoms gedwing word om te bedank as visekanselier en rektor van die UV.

Ongelukkig is dit nie net u eie posisie wat in die gedrang is nie, maar ook die posisie van die universiteit as wetenskaplike instituut. Dit is juis u taak as visekanselier om die chaos wat daaruit kan ontstaan, te voorkom. Dit is die redes hoekom ek ’n beroep op u doen: Gebruik versoening en meertaligheid om transformasie aan Kovsies regverdig en inklusief te laat geskied.

  • Die brief is op 23 Oktober 2015 aan die UV gestuur. Die brief het oorspronklik op LitNet verskyn en die volledige weergawe kan daar gelees word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.