Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Promosie-artikel: Die WAT is 95 jaar jonk

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal het 95 jaar lank relevant gebly deur homself herhaaldelik te herskep. ’n Gewilligheid om te verander, asook geesdrif, geloof in sy saak en verbeeldingrykheid het die WAT jonk en lewenskragtig gehou.

Coenie de Villiers (heel links) en Deon Meyer (heel regs), gaskunstenaars by die bekendstelling van deel XV van die WAT in 2019, saam met personeellede. Deel XVI, wat die letter S afsluit, is in April 2021 bekend gestel.

Die eerste herskepping van die WAT het gevolg op hewige kritiek oor veral die ensiklopediese aard van die woordeboek en die stadige alfabetiese vordering.

In 1989 het die woordeboek vir nege maande tot stilstand gekom terwyl die hele projek herbeplan is. Teoretici is betrek ten einde versoening te bewerkstellig tussen teorie en praktyk. Die woordeboek en die redaksionele werkwyse is herontwerp volgens die jongste internasionale leksikografieteorieë.

Die WAT het ook ’n internasionale leksikografiese gespreksgeleentheid aangebied oor die hantering van sensitiewe leksikografiese items soos rassismes en seksismes. Dit het gelei tot ’n vernuwende hanteringswyse van rassistiese woorde en uitdrukkings in die WAT.

* In 1991 word die WAT die uitgewer van Lexikos, ’n vaktydskrif wat bydraes in Afrikaans, Engels, Duits, Frans en Nederlands publiseer.

* Van 1994 bied die WAT opleidingskursusse in die leksikografie aan. Al nege woordeboekeenhede van Suid-Afrika se ander inheemse tale sou mettertyd kursusse in die leksikografie by die WAT deurloop.

Werksessies oor die gebruik van die Elektroniese WAT in die onderrig van Afrikaans word aan opvoedkundestudente en onderwysers gebied.

* Saam met ’n Sweedse maatskappy is ’n woordeboekskryfprogram ontwikkel wat die WAT aan die voorpunt van rekenaarleksikografie in Suid-Afrika geplaas het.

* Die WAT is ook aanlyn beskikbaar gemaak.

’n Finansiële krisis het gelei tot die tweede herskepping van die WAT.

In 2004 is die staatsubsidie aan die WAT drasties ingekort. Personeelvermindering was onafwendbaar en die WAT moes ’n alternatiewe inkomstestroom vind.

Baie energie en tyd is aan fondswerwing afgestaan. Daar is hard gewerk aan die beeld van die WAT en die breër rol wat die maatskappy in die gemeenskap speel ten einde potensiële donateurs se vertroue te wen.

Gereelde radio-optredes, rubrieke in koerante en enkele televisie-optredes per jaar het die beeld van die WAT gebou.

Die Borg ’n Woord-projek met hoëprofielbeskermvroue en -here soos David Kramer, Charlene Lackay, Dave Pepler, Deon Meyer, Laurika Rauch en tans Dawie Roodt het mense bewus gemaak van die waarde van woorde.

Die jaarlikse nuutskeppingskompetisie tydens die Woordfees en die meer onlangse Afrikaanse handelsnaamkompetisie is ook bewusmakers van die skeppende krag van Afrikaans.

Danksy mense wat lief is vir Afrikaans was die fondswerwingsveldtog van die WAT suksesvol. Met die klein redaksie sou dit in 2018 egter nog 20 jaar duur om die WAT te voltooi.

Die derde herskepping van die WAT het in 2018 plaasgevind toe ’n tienjaarplan vir die voltooiing van die WAT tot by Z aanvaar is.

* Vyf bykomende redaksielede is in Julie 2018 aangestel.

* Al die gestelde doelwitte word tans bereik en slegs 7 en ’n half jaar van die plan bly oor.

* Deel XV en XVI van die WAT het in 2019 en 2021 in ’n rekordtyd verskyn.

Ons rig ’n opregte woord van dank aan ons Ankerdonateurs, naamlik Het Jan Marais Nationale Fonds, die Trust vir Afrikaanse Onderwys, Sanlam, die Universiteit Stellenbosch, die Nancy Steyn-trust, die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad en die Hiemstra-trust.

Groot dank ook aan die Rupert-, Meaker-, Mouton- en Steyngesinne. Ons waardeer elke ander skenking en elke deelnemer aan Borg ’n Woord.

Die strewe van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal is om Afrikaans op ’n positiewe en inspirerende wyse te bevorder en ons lynfunksie is om al die variëteite van Afrikaans soos Standaardafrikaans, Kaaps en Namakwalands ’n tuiste in die woordeboek te bied.

Geluk aan dr. Willem Botha en sy span wat hierdie enorme taak met soveel grasie en ywer afhandel.

Op 95 is daar ’n digitale huppel in die WAT se stap, want Z is binne bereik.

* Verkorte weergawe van prof. Rufus Gouws, ondervoorsitter van die WAT-direksie, se oorsig tydens die WAT se 95ste verjaardagviering.

Help Afrikaans

Borg of koop ’n woord en dra by tot die voltooiing van die WAT. Amper enige Afrikaanse woord kan joune wees.

Ondersteun die Woordeboek van die Afrikaanse Taal deur jou gunstelingwoord vir R100 te borg of eksklusief vir R5 000 te koop.

Een gelukkige deelnemer kan in ’n prystrekking R25 000 losslaan.

Elke deelnemer ontvang ’n sertifikaat met sy of haar naam en woord of woorde, sowel as gratis toegang tot die Elektroniese WAT. Kry volledige besonderhede by www.wat.co.za of stuur ’n e-pos na wat@sun.ac.za.

Meer oor:  Afrikaans  |  Wat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.