Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wat hou die toekoms vir die DA in?

Die kernvraag ná vanjaar se verkiesing is wat die toekoms vir die DA inhou, skryf Pieter Labuschagne. En hy het nie veel hoop vir dié party nie.

’n Opgewonde Mmusi Maimane, leier van die DA, op dié party se laaste saamtrek voor vanjaar se verkiesing in die Dobsonville-stadion in Soweto. Foto: Deaan

Die verwagtinge was groot dat die DA sy nasionale steun tot bo 30% sou opstoot en die meeste stemme in Gauteng sou kry. Nie een van dié twee belangrike mikpunte het gerealiseer nie, inteendeel die DA se landwye steun het met 1,36% gedaal.

Die verdere ná-skok is dat die DA sekerlik die enigste party is wat ná die verkiesing nog verder steun verloor. Dit is asof die DA op selfvernietiging ingestel is met aanhoudende binnegevegte – soos nou weer met Helen Zille. Dié party is ook onwillig om vroeëre blapse te erken, soos die voorval in Schweizer-Reneke waar op opportunistiese wyse probeer is om swart steun te wen sonder dat die party hom eers van die ware feite vergewis het.

Dié blaps is duidelik simptomaties van die DA se gretigheid om strategies verder links op die ideologiese spektrum te beweeg, ten einde swart steun van die ANC af te rokkel. Dié party het in vanjaar se verkiesing probeer om direk met die regerende party mee te ding deur in dieselfde groot ideologiese dam vis te probeer vang.

Die ideologiese (dam) spektrum

Die indeling van politieke partye op ’n ideologiese spektrum is problematies omdat dit die vereenvoudiging van komplekse aspekte behels.

Die links-regs politieke spektrum is ’n metode om politieke partye se idees, standpunte, normatiewe en ideologiese posisie op ’n liniêre wyse voor te stel.

Dit dateer terug tot die Franse Rewolusie van 1789 en die State-Generaal, toe partye posisies links en regs in die saal ingeneem het.

Die partye wat links hul plekke ingeneem het, het ideologies sterker klem op waardes soos vryheid, gelykheid, individuele regte, vooruitgang en verandering gelê. Die partye aan die regterkant het weer meer klem op ideologiese waardes, soos gesag, tradisie en konserwatisme geplaas.

Linkse partye plaas normaalweg sterker klem op die rol van die staat.

Die links-regs verdeling kan verder vereenvoudig word deur die partye se siening van die rol van die staat teenoor die ekonomie te beskou. Die politieke partye links op die liniêre ideologiese spektrum plaas normaalweg sterker klem op die rol van die staat, naamlik staatsinmenging en kollektiwisme (kommunisme) in die ekonomie.

In teenstelling hiermee beklemtoon politieke partye aan die regterkant die kleiner rol van die staat in die ekonomie, met min of beperkte inmenging, outonome markkragte en individualisme.

Dié ideologiese waardes/standpunte op die spektrum lees dus van links na regs as volg: kommunisme, sosialisme, liberalisme, konserwatisme, fascisme.

Dit plaas kommunisme (maksimum staatsinmenging en staatsbesit) egter verkeerdelik op die verste punt van die spektrum weg van fascisme, wat soortgelyke sterk diktatoriale kenmerke het.

As die ideologiese spektrum in ’n sirkel of hoefystervorm voorgestel word, is kommunisme en fascisme naas mekaar, wat ’n beter voorstelling is.

Partye in Suid-Afrika en die politieke spektrum

Julius Malema, leier van die EFF. Sy party het die vermoë om nog verder te groei in die aanloop tot die volgende algemene verkiesing oor vyf jaar. Foto: Argief

Die plasing van die groter politieke partye in Suid-Afrika op ’n ideologiese spektrum is ’n groot uitdaging. Dit is gevolglik beter om die indeling op grond van geselekteerde aspekte, soos grondhervorming en staatsinmenging in die ekonomie, te maak.

Op ’n algemene ideologiese-ekonomiese spektrum lyk die indeling van links na regs só: staatskommunisme (sterk staatsgesentraliseerde beheer), kommunisme, sosialisme, sosiale demokrasie (balans tussen staat en die markte sowel as balans tussen ekonomiese groei en billike herverdeling), liberalisme (geen inmenging in markte en suiwer kapitalisme) en konserwatisme.

Die EFF is op die verste punt aan die linkerkant van dié spektrum omdat hy grootskaalse staatsinmenging en ’n monopolie oor grond, minerale en ander materiële hulpbronne beklemtoon.

Die EFF het geleidelik gegroei vanweë die sosio-ekonomiese mislukkings van die ANC.

Die ANC is regs langs die EFF omdat hy glo aan minder inmenging deur die staat. Die ANC se ekonomiese beleid en siening oor die markte en sosiale programme met ’n groot verskeidenheid toelae en ’n meer voorwaardelike gematigde beleid oor grondhervorming, is eerder 'n gematigde vorm van sosialisme (sosiale-demokrasie).

Die DA – sentrum-regs van die ANC – se posisie op die spektrum word gegrond op sy historiese wortels in die klassieke-liberalisme, met ’n sterk klem op die minimum inmenging deur die staat, vryemarkstelsel en individuele vryhede.

Die meer konserwatiewe partye, soos die VF Plus, met 'n klem op tradisionele waardes en kapitalisme, is heel regs van die DA op die ideologiese spektrum.

Die EFF en DA sedert 2014

Solly Msimanga, die DA se premierskandidaat in Gauteng, werf voor die verkiesing stemme in die Kameeldrift-omgewing. Foto: Deaan Vivier

Die EFF het geleidelik gegroei vanweë die sosio-ekonomiese mislukkings van die ANC. Die EFF het voordeel getrek uit die regering se onvermoë om iets te doen aan die gaping tussen ryk en arm, ekonomiese groei te verbeter en armoede te verminder.

Dié party se klem op staatsinmenging in die ekonomie is beslis nie die oplossing nie, maar as opposisieparty wat op die ‘foute’ en die ‘tekortkominge’ van die regerende party teer, kan die EFF net voordeel trek, sonder om self getoets te word.

Die EFF groei steeds ná sy steun van 10% in vanjaar se verkiesing.

Die DA het sukses in die verkiesing van 2014 behaal omdat hy gesien is as ’n kampvegter vir minderheidsgroepe met betrekking tot aspekte soos ras, taal en individuele regte.

Die DA het veral probeer om sy steun in tradisionele swart woongebiede op te skuif wat ’n groot denksprong en ideologiese skuif beteken het.

Die sukses van dié strategie het die grens tussen die DA en die VF taamlik vloeibaar gemaak met heelwat wit en bruin kiesers wat die DA gesteun het.

Die DA het egter ná die verkiesing besef dat sy groeipotensiaal nie na regs op die ideologiese spektrum geleë was nie. Die party se groei sou eerder uit die swart gemeenskappe moes kom, wat ’n strategiese skuif beteken het.

Dit het ook vereis dat dié swart teikengroep se sosio-ekonomiese behoeftes, en nie meer minderheidsgroepe se behoeftes, voorkeur moes kry.

Die DA het veral probeer om sy steun in tradisionele swart woongebiede op te skuif wat ’n groot denksprong en ideologiese skuif beteken het.

Helen Zille, voormalige DA-leier en oud-premier van die Wes-Kaap. Haar uitsprake oor die DA het dié party ná die verkiesing verdere skade berokken. Foto: Argief

Die DA het ook hard probeer om die beeld van ’n wit liberale party af te skud en afstand probeer kry van sterk wit leiersfigure soos Zille. Leiersfigure uit die swart gemeenskappe is aan die stuur geplaas en beleidsaanpassings het sterker sosialistiese ekonomiese elemente soos rasgegronde sienings en die herverdeling van grond bevat.

Die DA het gevolglik direk met die ANC begin meeding en in sy oorhaastigheid ’n reeks strategiese flaters begaan, soos met die voorval in Schweizer-Reneke toe Luyolo Mphithi, sy jeugleier, ’n twiet uitgestuur het waaroor hy nou jammer is.

In die proses is veral die Afrikaanssprekende konserwatiewe ondersteuners vervreem en selfs kiesers uit die bruin gemeenskappe het die DA die rug toegekeer.

Die DA se nuwe benadering het uiteindelik net negeerbare dividende opgelewer en dié party is duidelik tussen die duiwel en die diep blou see vasgekeer.

Wat wag in 2024?

Die EFF is die enigste party met wesenlike groeipotensiaal in die aanloop tot die verkiesing van 2024. Slaag die regering nie daarin om die land se kern sosio-ekonomiese probleme kragdadig aan te pak nie – soos om die ekonomiese groeikoers dinamies bokant die vlak van 1% te lig en werk te skep – sal die EFF by sy mislukkings baat.

Pieter Labuschagne

Die EFF sal soveel munt moontlik uit die ANC-regering se probleme probeer slaan, veral omdat sy uitgediende ekonomiese beleid van staatsbesit en staatsinmenging nie getoets kan word nie.

Die ANC kan nie meer nie links op die ideologiese spektrum beweeg nie omdat die EFF reeds daar is.

Die ANC sal die situasie net met sterk ekonomiese groei en aggressiewe werkskepping kan omkeer. Die oplossing lê beslis nie in staatsinmenging, staatsmonopolieë en die roekelose herverdeling van grond nie – dit sal net ekonomiese groei en beleggings belemmer.

Vanjaar se verkiesing het gewys dat die DA nie na links op die ideologiese spektrum met die ANC om swart steun kan meeding nie. Die ANC beheer drie belangrike magsmiddele; die toekenning van toelae, historiese statuur as bevrydingsparty en ’n monopolie oor patronaatskappe. Die DA kan ook nie ook meer na regs beweeg nie, want wit en selfs bruin steun het finaal na die VF Plus geskuif.

Die DA gaan uiteindelik die kreeftegang volg, met steunvlakke wat binne vyf tot tien jaar selfs tot onder 10% kan daal.

Die DA kan selfs tot in ’n Wes-Kaapse streeksparty gereduseer word, mits hy nog sy meerderheid in dié provinsie kan behou.

* Pieter Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Helen Zille  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.