Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Helen Zille: Quo vadis die Grondwet?

Die ongelukkige waarheid in Suid-Afrika is dat die drie pilare waarop konstitusionalisme berus – die oppergesag van die reg, ’n kultuur van aanspreeklikheid, en ’n doeltreffende staat – almal in hoësorg lê, sê Helen Zille.

Foto ter illustrasie: istock

Ons het pas ’n sesde verkiesing gehou, sonder ernstige on­reëlmatighede, wat gelei het tot ’n algemene opvatting dat hoewel ons ekonomie haglik is, ons darem ’n stabiele demokrasie het.

Ek is bevrees dat die geskiedenis dít as ’n oppervlakkige oordeel sal bewys. Dit is ’n algemene fout om te dink dat verkiesings ’n bewys van ’n funksionele demokrasie is.

Die kern van ’n konstitusionele demokrasie is nie om mag te verower en uit te oefen nie – dit is die doeltreffendheid van die instellings en konvensies wat die wigte en teenwigte teen magsmisbruik verseker. En dat die staat die burgers dien en hul regte beskerm; nie die heersende faksie van die party wat aan bewind is nie.

In hul boek How Democracies Die waarsku Steven Levitsky en Daniel Ziblatt oor die verkiesingsroete (electoral route) na outoritarisme, en bevat die volgende insig: “Die tragiese paradoks van die verkiesingsroete na outoritarisme is dat die demokrasie se sluipmoordenaars die einste instellings van demokrasie gebruik – geleidelik, subtiel en selfs wettig – om dit te vernietig.” Ek dink ons kan met hierdie sin identifiseer.

Francis Fukuyama, ’n politieke wetenskaplike aan die Stanford-Universiteit, het gaan kyk waarom sekere gemeenskappe stabiele demokrasieë met wydlopende welvaart kan vestig, en ander nie.

Hy sê die oorgang na ’n stabiele, florerende konstitusionele demokrasie vereis ’n gemeenskap met drie eienskappe, naamlik ’n respek vir die oppergesag van die reg, ’n doeltreffende staat en ’n kultuur van aanspreeklikheid.

Kom ons kyk hoe ons vaar teen dié maatstaf:

1 Oppergesag van die reg. Die stryd teen apartheid is gekenmerk deur oortredings van die destydse wette, dikwels as ’n saak van eer.

Maar, ons het al geleer dat sodra respek vir die reg weggekalwe is, dit moeilik is om te herwin, selfs onder ’n nuwe en wettige grondwet.

Tans kan gesien word hoe wyd die reg geminag word, nie net in ons geweldmisdaadsyfer nie, maar wat uitspeel as protespolitiek – die brand van vragmotors, treine, infrastruktuur, selfs mense.

Die agteruitgaan van die doeltreffendheid van die strafregstelsel het sake aansienlik vererger.

Ewe problematies is die dikwels beperkte begrip van konstitusionalisme en die oppergesag van die reg onder van die land se leiers.

Dit is glashelder verpersoonlik deur oudpres. Jacob Zuma, wat ’n paar keer aan my gesê het: “Ek kan nie verstaan waarom regters my kan aansê wat om te doen nie. Ek is verkies. Hulle is nie.”

Sy begrip van die rol van staatsinstellings was dat dit die party aan bewind sal dien, eerder as wat dit die regte van mense sal beskerm.

Onder Zuma het ons geleer hoe demokrasie sterf aan die hand van die manier wat Ziblatt en Levitsky beskryf het. Hy is herverkies met ’n groot meerderheid, selfs nadat sy korrupsie en minagting vir die Grondwet baie duidelik was. Hoe is dit moontlik?

Ek beweeg nou op moeilike terrein, maar ek glo werklik dat ons met die oorgang na demokrasie nie genoeg aandag geskenk het aan die korrekte belyning tussen konstitusionalisme en tradisionele regeringstelsels in ons gemeenskap nie.

2 Kultuur van aanspreeklikheid. Ek weet min oor hoe aanspreeklikheid in tradisionele regeringstelsels werk. Maar ek sien ’n stelsel waar mense in die eerste plek verantwoordbaar is aan ’n leier eerder as andersom. Begunstiging is ’n groot deel hiervan.

In baie wyke sal jy ’n raadslid kry in beheer van sy “koninkryk” – hy sê wie in diens geneem word vir projekte, wie voorkeur moet kry op behuisingswaglyste en wie hul hutte op watter stuk grond mag bou.

Ek glo ons ignoreer die gaping tussen tradisionele aanspreeklikheidstelsels en konstitusionalisme tot ons eie risiko.

3 ’n Doeltreffende staat. Die konsep van ’n doeltreffende, onafhanklike staat is grondliggend tot ’n funksionele, konstitusionele demokrasie.

Die Staatsdienswet van 1994 het gelui dat “in enige aanstelling of die vul van enige pos in die staats- diens . . . sal net die kwalifikasies, opleidingsvlak, meriete, doeltreffendheid en geskiktheid van die persone . . . in aanmerking geneem word”.

Dít het egter nie die nasionale demokratiese revolusie gepas nie, wat vereis het dat ’n voorhoede die party beheer, die party die staat beheer, en die staat die ekonomie beheer. Dit is die presiese antitese van konstitusionalisme.

Die sorgwekkendste verskil tussen die tussentydse en finale Grondwet was die veranderende funksie van die Staatsdienskommissie se voorganger.

In Junie 1997 het die ANC wysigings aan die Staatsdienswet voorgestel om meriete as die oorheersende beginsels van aanstellings af te skaf. Die Staatsdienskommissie se streng vereistes vir toepaslike vaardighede en kwalifikasies vir poste is ook oorbodig verklaar.

In die witskrif oor regstellende aksie in die staatsdiens, wat in 1998 aanvaar is, is breë verteenwoordiging herdefinieer na demografiese verteenwoordiging, waar rasse verteenwoordigend moes wees in verhouding tot hul getalle in Suid-Afrika as geheel.

Terselfdertyd het die ANC sy beleid van kaderontplooiing formeel aangeneem, wat mettertyd blootgelê is as ’n vyeblaar – aanvanklik vir korrupsie en later vir ’n volskaalse misdadige staat.

In daardie tyd het ek The Criminalisation of the State in Africa gelees, waarin die trajek uiteengesit is wat voor ons begin ontvou het.

Die siklus begin met die sentralisering van mag in die politieke kern, gevolg deur baantjies vir boeties in staatsdiensaanstellings (bekend as kaderontplooiing), wat die staat verander in ’n meganisme van korrupsie en uiteindelik ’n volwaardige misdadige staat.

Die ongelukkige waarheid is dat die oppergesag van die reg, die kultuur van aanspreeklikheid en ’n doeltreffende staat almal in hoësorg lê. En as dit die drie pilare is waarop konstitusionalisme berus, vaar ons maar power.

In die daaglikse lewe blyk dít uit die ineenstorting van dienslewering, openbare wetteloosheid en geweld, politieke bedreigings van eiendomsregte sowel as die onafhanklikheid van die Reserwebank, om ’n paar op te noem.

Sondebokminderhede

’n Groot neiging wat deesdae kop uitsteek, is politieke leiers wat wegskram van verantwoordelikheid deur ’n sondebok te identifiseer.

Onder Zuma se bewind is die skuld voor die deur van “witmonopoliekapitaal” geplaas. Tans wentel die retoriek om wit bevoorregting en witheid – mense hoor dit is die rede waarom hulle arm is.

Sondebokminderhede het baie gevaarlike historiese voorgangers. Almal weet waarop dit afstuur.

Die groot risiko van dié narratief, grootliks maar nie uitsluitlik nie deur die EFF bedryf, is dat die meerderheid mense beskou word as permanente slagoffers van kolonialisme en apartheid, wie se geboortereg (versinnebeeld deur die grond) deur wit mense gesteel is.

Vir diegene wat dit glo, verteenwoordig die Grondwet ’n Faustiese pakt wat oudpres. Nelson Mandela met sy veroweraars gesluit het.

Die skeidslyn loop dus tussen diegene wat glo dat die Grondwet ons pad na die toekoms bepaal, teenoor dié wat die Grondwet sien as ’n simbool van ’n uitverkoopte struggle, wat herleef moet word.

Die besluite wat pres. Cyril Ramaphosa teen dié agtergrond moet maak, is gewigtig.

Sal hy van rasgebaseerde nasionaliste in sy geledere ontslae raak en vorentoe beur om die droom van ’n verenigde Suid-Afrika vir almal onder die Grondwet te vervul, of sal hy deurlopend toegewings maak aan die ver-linkses om die ANC te verenig?

Sal hy op hierdie manier Suid-Afrika langs die verkiesingsroete stuur om ons Grondwet te sloop?

Ons gemeenskaplike rol is om ’n kritieke massa te bou ter verdediging van die Grondwet, as ’n skans teen hulle wat dit wil sloop.

  • Hierdie is ’n verkorte en vertaalde weergawe van Zille se toespraak vroeër die maand by die viering van die 20ste bestaansjaar van die FW de Klerk-stigting. Lees ook die toesprake van onder andere oudpres. FW de Klerk en lord Robin Renwick by dieselfde geleentheid by fwdeklerk.org.
  • Zille is onder meer die voormalige DA-leier en premier van die Wes-Kaap.
Meer oor:  Grondwet  |  Staatsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.