Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Raaisel oor Kim Jong-oen lei tot gissings oor toekoms

Wat is waar van die gerugte dat die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-oen, ernstig siek is? En as hy inderdaad sy einde nader, wat beteken dit vir die internasionale politiek? Leopold Scholtz tas in die duister op soek na ’n antwoord.

Waar is hy? Die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-oen, is op 11 April laas in die openbaar gesien. Foto: Reuters

Die storie is eerste deur ’n webwerf met die naam Daily NK gebreek. Dié webwerf, wat eintlik net bekend is onder spesialiste wat Noord-Korea dophou, word bedryf deur mense wat uit die Noorde na die Suide oorgeloop het. Dis logies om te aanvaar dat hulle kan weet waarvan hulle praat.

Op grond van anonieme bronne in Noord-Korea het Daily NK berig dat Kim (36) op 12 April ’n hartoperasie ondergaan het. Dié korterige mannetjie (1,6 m lank) is baie oorgewig (glo 136 kg) en rook soos ’n skoorsteen. Sowel sy oupa as sy pa, die diktators Kim Il-Soeng en Kim Jong-il, is dood aan hartprobleme, wat moontlike geloofwaardigheid aan die berigte oor ’n hartoperasie kan verleen.

Daar word ook gegis dat die koronavirus hom neergevel het.

Wat beslis waar is, is dat Kim reeds sedert 11 April nie meer in die openbaar gesien is nie. En, heel opvallend, hy het nie sy opwagting gemaak by die openbare viering van sy oupa se verjaardag op 15 April nie.

Veral laasgenoemde kan ’n aanduiding wees. Kim Il-soeng word beskou as die vader van die land, net ’n millimeter duskant goddelike status, en sy verjaardag is jaarliks ’n ekskuus vir groot parades met duisende soldate, tenks, kanonne en missiele wat verby die jong Kim marsjeer.

Pres. Donald Trump van Amerika het slegs gesê sy regering hou die situasie noukeurig dop en dat hy Kim alles van die beste toewens.

Dis nie die eerste keer dat Kim uit die openbare oog verdwyn nie. Dit het ook in 2014 gebeur, toe agterna geblyk het dat hy aan sy voete geopereer is – sy voete kon eenvoudig nie sy massiewe gewig verduur nie.

In die Weste sirkuleer dus nou knaende gerugte dat Kim “ernstig siek” of selfs “breindood” is en kunsmatig aan die lewe gehou word.

Amptelik sê die regerings van Suid-Korea, China en Amerika, wat almal meestal goed ingelig is, dat hulle geen inligting oor Kim se gesondheid het nie.

Pres. Donald Trump van Amerika het slegs gesê sy regering hou die situasie noukeurig dop en dat hy Kim alles van die beste toewens.

Al waarvan ’n mens dus seker kan wees, is dat niémand regtig iets weet nie. Waarom dan só ’n ophef in die media?

Die gevaar van kernwapens

Pres. Donald Trump van die VSA saam met die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-oen, op een van hul afsprake. Foto: Getty Images

Die feit is eenvoudig dat Noord-Korea ’n wilde kaart in die internasionale politieke kaartspel is. Nie alleen is Kim ’n totalitêre en wrede diktator nie; nie alleen is hy onvoorspelbaar nie; met sy besit van kernwapens is hy buitengewoon gevaarlik.

Dié gevaar besorg allereers die leiers van die lande in sy onmiddellike omgewing – Suid-Korea, Japan, China – slapelose nagte, maar sy tegnici ontwikkel missiele wat in teorie selfs die weskus van Amerika met kernwapens in puin kan lê. Dit beteken stede soos Seattle, Portland, Los Angeles, San Francisco en San Diego.

Om dié rede het die hele wêreld met positiewe belangstelling toegekyk toe Trump in 2018 voelers na Kim uitgesteek het om ’n modus vivendi te bereik. Dit het op drie persoonlike samesprekings – in Singapoer, Hanoi en langs die grens tussen Noord- en Suid-Korea – uitgeloop.

Maar ofskoon niemand Trump kan blameer vir sy poging om ’n potensiële dodelike gevaar deur gesprekvoering te neutraliseer nie, het hy sy eie onderhandelingsvermoëns teenoor die veel jonger Kim skromelik oorskat. Kim was vriendelik, maar het geen millimeter gewyk nie, en geeneen van die drie geleenthede het hoegenaamd enigiets opgelewer nie.

Die besit van kernwapens, so lyk dit, is eerder ’n troefkaart wat agter die hand gehou word.

Om die waarheid te sê, die Noord-Koreaanse program om sy missiele te ontwikkel het voortgegaan asof niks gebeur het nie. Selfs te midde van die gerugte oor Kim se siekte het die land vandeesweek weer toetsmissiele gelanseer.

As dit, soos talle waarnemers sê, daarop dui dat Kim en sy regering se oorkoepelende doel is om hul eie politieke oorlewing deur die besit van kernwapens en missiele te waarborg, kan jy ook aanvaar dat hulle daardie wapens nie sommer in ’n bevlieging sal gebruik nie.

As die bewindhebbers in Pjongjang ’n kernbom-aanval op Suid-Korea of Japan – of, nog erger, Amerika – probeer loods, wéét hulle dat Washington só verwoestend sal terugslaan dat driekwart van die land saam met die diktatuur sal ophou bestaan.

Die besit van kernwapens, so lyk dit, is eerder ’n troefkaart wat agter die hand gehou word. Die grommende boodskap is: “Ek is boosaardig en gevaarlik; moenie nonsens met my soek nie!”

Wat kan verander?

Kim Jong-oen, leier van Noord-Korea, en sy suster, Kim Jo-jong. Foto: AP

Maar wat nou as Kim van die toneel verdwyn? Sal dit sake verander?

Wel, omdat Noord-Korea so ’n hermeties afgeslote land is, moet ’n mens noodwendig gis, en die gissings nogal op onvoldoende kennis grond. Dit is egter logies om te aanvaar dat nie veel na buite sal verander nie.

Die logiese opvolger vir Kim is sy suster, Kim Jo-jong. Sy was ’n tyd lank uit die grasie, waarskynlik omdat sy tydens die diktator se berade met Trump te veel aandag op haar gevestig het – ’n gevaarlike ding in ’n diktatuur.

Maar die laaste weke het sy weer in die openbaar aan Ouboet se sy opgeduik. So is foto’s versprei van waar die twee op spierwit perde op die heilige berg Paektoe ry (die foto’s wys uiteraard nie hoe die swaar oorgewig Kim Jong-oen op die arme perd se rug kom nie).

Mense kyk Dinsdag op ’n stasie in Seoel, Suid-Korea, na ’n televisie-uitsending wat oor Kim Jong-oen, Noord-Korea se leier, gehandel het. Foto: Getty Images

Indien Kim Jong-oen weer gesond word, en indien hy vermoed dat sy suster ’n bedreiging vir hom inhou, sal hy nie aarsel om haar uit die weg te ruim nie. Hy het dit juis gedoen met sy broer, Kim Jong-nam, wat hy in Februarie 2017 op die lughawe van Kuala Lumpur met gif laat vermoor het.

Daarteenoor staan dat Kim Jo-jong die enigste ander regstreekse afstammeling van Kim Il-soeng is wat die bewind kan oorneem. Haar afkoms is “suiwer”, wat dit vir enige ander hooggeplaaste Noord-Koreaan uiters moeilik sal maak om haar te verwyder.

Kim Jo-jong was luidens berigte die persoon wat haar broer oorreed het om met Trump te praat.

Sy kan dalk wel as simboliese leier geduld word, met iemand anders wat agter die skerms die toutjies trek.

Kim Jo-jong was luidens berigte die persoon wat haar broer oorreed het om met Trump te praat. Indien sy by hom sou oorneem, sal die gesprekke na verwagting voortgaan.

Maar as Trump dink dat hy daardie slanke vrou met die mooi gesiggie met sy sjarme sal kan oorrompel, maak hy ’n fout. Agter die skoonheid gaan die aard van ’n meedoënlose krokodil skuil.

Overgezet zijnde: As Kim wegval, kan baie verander. Of niks.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Donald Trump  |  Kim Jong-Oen  |  Suid-Korea  |  China  |  Amerika  |  Japan  |  Noord-Korea  |  Kernwapens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.