Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ramaphosa: ‘Die groot leier waarop SA gewag het’
Ivor Price, gespreksleier, Phillip de Wet en prof Mohammad Karaan is die deelnemers aan die derde gesprek in Die Burger se Praat Saam-gespreksreeks. Foto: Jaco Marais

Is pres. Cyril Ramaphosa die groot leier waarop Suid-Afrika gewag het of is hy bloot ’n ANC-voorsanger? Murray La Vita doen verslag.

Sal Ramaphosa Projek Suid-Afrika kan lei en vorentoe neem?

Dít is wat Ivor Price, gespreksleier, van prof. Mohammad Karaan, dekaan van die fakulteit agriwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch en lid van die nasionale beplanningskommissie en medeskrywer van die nasionale ontwikkelingsplan, wou weet.

Karaan was een van die deelnemers aan Die Burger se Praat Saam-gespreksreeks in Netwerk24 se Feeskafee by die KKNK op Oudtshoorn.

“Ek dink so, ja. Ek het tien jaar saam met hom gewerk in die nasionale beplanningskommissie toe hy ondervoorsitter was. Hy was baie betrokke by die skryf van die plan. Ek het geen twyfel dat hy die groot leier is waarop Suid-Afrika gewag het nie en hy is goed voorbereid daarop. Maar mense moet net bietjie geduldig wees; hulle moenie te haastig wees met Ramaphosa nie, want hy is ’n prosesmens,” sê Karaan.

Ramaphosa is ’n man met ’n langtermynvisie vir wie die proses belangriker is as die produkte. Hy is ’n aartskompromis.

Ramaphosa is ’n man met ’n langtermynvisie vir wie die proses belangriker is as die produkte. Hy is ’n aartskompromis.

“Ek dink dis eintlik sy kuns dat hy twee uiteenlopende wêrelde of standpunte bymekaar kan bring deur ’n goeie proses. Maar die probleem met die proses is dat hy nie groot skuiwe kan maak nie totdat hy sy krag in die verkiesing wys nie; hy moet ’n goeie verkiesing hê waarin die ANC sy meerderheid kan vergroot.”

Price het daarop gewys die realiteit is dat Ramaphosa oud.pres. Jacob Zuma se adjunk was. Is hy nie dus medepligtig aan die toestand waarin die land vandag is nie, wou hy by Philip de Wet, ondersoekende joernalis, skrywer en assistentredakteur van Business Insider, weet.

“Daai frase ‘groot leier’ maak my bang . . . Nou het ons al ons hoop op Ramaphosa gesit in ’n land waar ons sien dat identiteitspolitiek en persoonlikheidspolitiek al hoe belangriker raak. Dis nooit ’n goeie idee om ’n enkele mens te vat en te sê: ‘Jý moet alles regmaak nie’,” aldus De Wet.

“Die president van Suid-Afrika is ’n leier; hy is nie die ou wat die land regeer nie. Die Grondwet sê vir ons sy werk is om seker te maak dat die Grondwet nagekom word, die land lei en alles doen wat goed is vir die land. En dan moet hy ander mense aanstel om dinge te doen – die nasionale vervolgingsgesag, die ministers; en dan het jy nóg ’n laag tegnokrate onder hulle in die staatsdepartemente wat die land regeer.

“Nou sit ons hier en ons sê Cyril Ramaphosa is hier en die era van korrupsie is verby, maar al wat hy is, is ’n voorsanger. Nie dat dit ’n slegte ding is nie; hy kan baie goed doen en geloof is baie belangrik in politiek en in ekonomie . . . Wanneer Moody’s ons kredietgradering op dieselfde vlak hou, is dit omdat hulle geloof het in ons as ’n land en in sy leierskap.

“Ons moet asseblief nie verwag dat Cyril dit alles eiehandig gaan kan doen nie.”

Hy is ’n staatsman

Volgens Karaan is die verskil tussen Ramaphosa en sy twee voorgangers dat hy ’n staatsman en nie ’n blote politikus is nie.

“’n Politikus dink net aan die volgende verkiesing en ’n staatsman dink aan die volgende generasie. Dis wat Mandela gedoen het en dis wat Cyril óók sal doen. Die nasionale ontwikkelingsplan waarvan hy mede-outeur was, se hele inslag is die skep van ’n volgende generasie Suid-Afrika.”

Karaan meen Ramaphosa moet drie dinge regkry om daardie staatsman te wees – hy moet die party, die staatsdiens en die ekonomie regruk.

Karaan meen Ramaphosa moet drie dinge regkry om daardie staatsman te wees – hy moet die party, die staatsdiens en die ekonomie regruk.

“As jy daai drie reggekry het, is daar een goue draadjie wat deur alles loop en wat die hoofresultaat is van daardie werk, en dít is jy moet die nasie bou. En dis hoekom hy soggens loop en mense saamvat en sulke tipe dinge. Hy gaan die Mandela-manier-van-doen voortsit.”

Hy het Ramaphosa en Mandela met Jan Smuts vergelyk.

“Hulle het al drie min of meer dieselde resep: ‘Ek moet my land regruk en dan moet ek in die wêreld ’n groot bydrae gaan lewer. Ek meen Cyril dink: ‘Ek moet Suid-Afrika regruk; dan moet ek Afrika help, en daarna moet ek die wêreld gaan help.’”

Op ’n vraag van Price oor wat Zuma Suid-Afrika gekos het, het De Wet gesê Zuma het sowat R1 miljard “in sy sak gesteek”.

“Maar dis nie naastenby die hoeveelheid nie. Wat hy hierdie land byvoorbeeld gekos het in terme van mense wat nie meer hulle belasting betaal nie want hulle dink die land is te korrup. Weer eens: daai idee van geloof. Geloof in ’n land beteken dat meer mense hul belasting betaal.

“Mens kan dit ook sien in die misdaadsyfers. Wanneer die leier gesien word as iemand wat met misdaad wegkom, dink sekere mense hoekom sal ék dan nou wetsgehoorsaam wees. So, Jacob Zuma het ons verskriklik baie gekos en die uitdaging is om daardie skade ongedaan te maak. Maar dit neem tyd en ons het nie baie tyd nie.”

Karaan sê die skade is inderdaad dalk groter as wat ons dink.

Karaan sê die skade is inderdaad dalk groter as wat ons dink.

“Die grootste skade lê daarin dat die meeste senior staatsamptenare soos direkteur-generaals en adjunk-direkteur-generaals, nie bevoeg is om hul werk te doen nie. Maar ek dink Cyril het reeds sy hand gewys deur die aanstellings wat hy gedoen het.”

De Wet meen wat met ons land skeefgeloop het, is dat ons empatie verloor het: ons met mekaar; mense in die staatsdiens het empatie verloor met die mense aan wie hulle dienste moet lewer; politieke partye het ophou dink in terme van nasiebou.

“Ek dink wat Ramaphosa moet regkry, is om ons weer empatie te leer. As die ANC binne die party met meer empatie begin optree; as ons as gewone mense na mekaar kyk met meer empatie en met minder rassehaat wat aangeblaas is deur vals Twitter-rekeninge, is dit dalk genoeg om die skip te begin draai en dan kan dinge dálk vinnig gebeur.”

Grondonteiening

Op ’n vraag van Price oor grondonteiening sê Karaan dit gáán gebeur.

“Maar dit gaan ’n sagter vorm van onteiening wees. Ramaphosa besef as jy dit op die verkeerde manier doen, gaan beleggingsvertroue geskaad word; daar gaan groot werksverliese wees; daar gaan ’n afgradering wees; die landbou gaan kwyn, en die wêreld gaan hul vertroue in ons begin verloor.

“Wat sagte vorms betref, praat die politici al reeds van grond waar daar afwesige eienaars is, waar buitelanders grond besit en dit nie produktief gebruik nie; en die vereistes wat gestel is dat dit nie produksie en voedselsekerheid moet skaad nie, is sterk genoeg dat onteiening nie voor die voet sal plaasvind nie.

“Ek dink wel die politici gaan probeer om voor die verkiesing een of ander stunt te trek om vir veral die swart kiesers te wys: ‘Ons kán. Ons het die mag en ons het dit bewys en julle moet nou vir ons stem.’

“Dit gaan in ’n groot mate ook daaroor of jy die EFF weer kan terugtrek na die ANC toe.”

De Wet en Karaan het verskil oor die rol van Julius Malema in die Suid-Afrikaanse politiek. Hoewel albei meen hy is ’n briljante politikus, meen De Wet hy moet nie in die regering wees nie. Karaan, daarenteen, glo Malema kan ’n toekomstige president van die land wees. Hy het nou sy politieke plafon bereik en kan weer deel word van die ANC as hy “met sy ego vrede maak”.

In reaksie op ’n vraag uit die gehoor, sê Karaan hy is nie bekommerd oor die toekoms van Suid-Afrika nie.

“In ons hele geskiedenis tot nou toe, ongeag die pyn, het die gematigheid en samehorigheid altyd geseëvier.”

Meer oor:  Politiek  |  Kknk  |  Cyril Ramaphosa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.