Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Ramaphosa is ’n houvrou sonder stem’

Pres. Cyril Ramaphosa behoort swart ekonomiese bemagtiging (SEB) te skrap, het Moeletsi Mbeki Maandag op die eerste Woordfeesgesprek op Stellenbosch gesê. Murray La Vita doen verslag.

Die eerste gesprek in die Woordfees se gespreksreeks is Maandag weens gure weer op Stellenbosch in die Kruiskerk gehou. Van links is gespreksleier Tim du Plessis, Prince Mashele, dr. Piet Croucamp en Moeletsi Mbeki. Foto: Jaco Marais

“Hy kan môre opstaan en daardie wette skrap; hy het die meerderheid in die parlement. SEB is een van die grootste struikelblokke vir buitelandse belegging in Suid-Afrika, want as ek my kapitaal in Suid-Afrika kom belê, neem hulle môre 26% daarvan en gee dit aan ’n onproduktiewe vreemdeling,” het Mbeki, politieke ontleder en broer van oudpres. Thabo Mbeki, op ’n vraag van Tim du Plessis, gespreksleier, gesê.

Die onderwerp van die eerste gesprek in die reeks, was: Gaan pres. Cyril Ramaphosa die pyp rook?

“Waarom doen Cyril dit nie? Want hy is ’n begunstigde van SEB,” het Mbeki voorts gesê.

Sy presidentskap is die gevolg van opportunisme en hy is nou Mabuza se houvrou.
Moeletsi Mbeki

Hy het vroeër gesê Ramaphosa is sy presidentskap te danke aan adj.pres. David Mabuza.

“Sy presidentskap is die gevolg van opportunisme en hy is nou Mabuza se houvrou. Hy is dus in ’n baie moeilike posisie. Is hy werklik president? Ek het my bedenkinge. ’n Houvrou is nie die vrou nie en sy het nie ’n stem nie.”

Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder en akademikus aan die Noordwes-Universiteit, meen Ramaphosa is glad nie in Mabuza se sak nie.

“Hy was en is steeds die gewildste kandidaat vir die presidentskap en ek dink geregtigheid het geskied dat hy ten spyte van al die korrupsie leier van die ANC geword het.”

‘Zuma steeds sterkste’

Moeletsi Mbeki: “Vir my is Cyril Ramaphosa ’n toevallige speler in ons samelewing en of hy president is of nie, die ANC sal die verkiesing wen.” Foto: Jaco Marais

Die politieke ontleder Prince Mashele stem saam met Mbeki dat Ramaphosa se posisie in die ANC swak is.

“Hy mag dalk baie gewild wees onder Suid-Afrikaners in die algemeen, maar dit is nie die geval binne die ANC nie. Jacob Zuma is vandag steeds die sterkste leier in die ANC, want hy geniet groot steun in KwaZulu-Natal. “Gewone Suid-Afrikaners is dol op Ramaphosa, want hulle is siek en sat vir korrupsie en hulle hoop hy gaan daarvan werk maak om dit uit te roei. En ek dink hy probeer wel om iets daaraan te doen as jy kyk na die kommissies wat nou besig is met ondersoeke.”

Mbeki meen Ramaphosa sal voortgaan om alle dinge vir alle mense te probeer wees, nie net in die ANC nie, maar in Suid-Afrika as geheel.

“Hy probeer almal tevrede stel en hy gaan waarskynlik niemand tevrede stel nie. Wat sy gewildheid betref: die ANC, soos die DA, het sterk steunbasisse wat onafhanklik staan van wie die president van die partye is.

“Die ANC se sterk steunbasis is die landelike kiesers en dit maak nie saak wie die president is nie, hulle stem vir die ANC.”

Misdadige comrades

Prince Mashele: “Gewone Suid-Afrikaners is dol op Ramaphosa, want hulle is siek en sat vir korrupsie en hulle hoop hy gaan daarvan werk maak om dit uit te roei.” Foto: Jaco Marais

Volgens Mashele doen Ramaphosa presies wat Thabo Mbeki gedoen het toe hy agterkom misdadigers is besig om die ANC oor te neem.

“Wat het Mbeki gedoen? Hy het die Skerpioene geskep. Wie het die Skerpioene in hegtenis geneem? ANC-leiers wat hulle aan misdadige gedrag skuldig gemaak het. Dit is presiés wat Ramaphosa besig is om te doen. Hy is besig om kommissies van ondersoek op die been te bring en hy weet uiteindelik gaan sy misdadige comrades in hegtenis geneem word.

“Hoekom tree Ramaphosa só op? Omdat die ANC geen meganisme het om werk te maak van comrades wat misdadigers is nie. So wat doen jy as president as jy ’n party het wat geen interne meganisme het om met misdaad af te reken nie? Jy gebruik die meganismes van die staat – dít is wat Ramaphosa besig is om te doen.

“Ek dink Ramaphosa is ’n swak leier, maar daar is uiteindelik tekens dat hy die regte ding doen. As jy kyk na die kommissies wat hy aangestel het om ondersoek in te stel na byvoorbeeld SARS en die nasionale vervolgingsgesag, moet jy blind wees om nie te sien hy is besig om ’n spel te speel in die staat nie. Wat hy nou moet doen, is om ’n mandaat te kry in die komende nasionale verkiesing. As hy dít gekry het, gaan hy nog fermer optree teen die ‘rogue’-element in die ANC.

“Kyk na sy aanstelling van Shamila Batohi as die nuwe hoof van die nasionale vervolgingsgesag – ek dink daardie vrou is die volgende Thuli Madonsela.”

As jy Cyril môre verwyder, sal dit geen verskil aan die beleid van die ANC maak nie.
Moeletsi Mbeki

Mbeki meen kommissies van ondersoek verander niks aan die welstand van Suid-Afrikaners wat gebuk gaan onder werkloosheid en armoede nie.

“Dit is die speletjies wat politici speel. Ons behoort ons toe te spits op die welstand van die mense en nie op dié van Cyril Ramaphosa nie.

“Vir my is Cyril Ramaphosa ’n toevallige speler in ons samelewing en of hy president is of nie, die ANC sal die verkiesing wen.”

Hy het later na dr. H.F. Verwoerd verwys.

“Hy was een van die magtigste Suid-Afrikaanse politieke leiers in die twintigste eeu wat die land gevorm het deur apartheid te verfyn. En watter verskil het dit aan Suid-Afrika en die beleid van die Nasionale Party gemaak toe hy vermoor is? Zero.

“So, as jy Cyril môre verwyder, sal dit geen verskil aan die beleid van die ANC maak nie.”

Visblikke-politiek

Piet Croucamp: “sê nou maar Cyril Ramaphosa het opgestaan teen Jacob Zuma; dan was hy uit die prentjie uit.” Foto: Jaco Marais

Du Plessis het Croucamp gepols oor die beskouing dat Ramaphosa as adjunk-president teen die mosies van wantroue in Zuma gestem het en dat hy hom nie nou moet kom heilig hou nie.

“Dit is effens primitiewe visblikke-politiek wat jy kry by atletiekbyeenkomste van kinders. Sê nou maar Cyril Ramaphosa hét opgestaan teen Jacob Zuma; dan was hy uit die prentjie uit.

“Kom ons haal vir Ramaphosa uit die politieke prentjie uit in Suid-Afrika en dan kyk ons waar sou ons nou gewees het. Dan was Nkosazana Dlamini-Zuma of David Mabuza moontlik die president. Dan het jy nog steeds die oorspronklike kabinet gehad; jy het nie vir Shamila Batohi gehad nie; jy het nie die Zondo-kommissie gehad nie – jy het geen kommissie gehad nie.

“En ek kan vir jou sê ons sou nou al deur Moody’s óók afgegradeer gewees het. Die enigste rede waarom hulle ons nié afgradeer nie, is omdat hulle ’n politieke verwagting het dat dit beter kan gaan.

“Ramaphosa speel waarna mense verwys as die long game. Ek dink werklik as ons Ramaphosa uit die prentjie haal, is ons in baie ernstige moeilikheid.”

Die ANC het in ’n doodloopstraat beland en weet hy nie wat om met die ekonomie te doen nie.
Prince Mashele

Mashele meen wat Ramaphosa doen, gaan nie die land verander nie.

“Suid-Afrika se grootste probleem is dat ons massas onopgeleide en werklose swart mense het wat deur ’n disfunksionele onderwysstelsel uitgespoeg is. Dít lê ook aan die hart van rassespanning, want die demagoë soos Julius Malema buit dit uit deur te sê hulle gaan [eiendom] van wit mense wegneem en dit aan dáárdie mense gee.”

Volgens hom het die ANC in ’n doodloopstraat beland en weet hy nie wat om met die ekonomie te doen nie.

“Die kwessie is nie of Ramaphosa ’n paar goeie dinge in die regering doen nie, dit is of hy die héle stelsel gaan verander deur Suid-Afrika se grootste probleem te takel. En die ANC weet nie hoe om dít te doen nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.