Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Rare mens, grote gees

Een van die land se laaste, ouwêreldse fliek-plekaanwysers en ’n groot naam onder die Kaapse klopse word vandag 80 jaar oud, skryf Herman Lategan.

Sedick Moegamat Tassiem buite die Labia-teater. Foto: Edrea du Toit

Sedick Moegamat Tassiem sit oorkant my in die Hussar Grill in Mouillepunt. Vandag eet ons steak terwyl seiljagte op die blou see buite verbyvaar. Die dag ruik na bamboes en die klankbaan is meeue wat roep.

Sedick is een van die Kaap se rare voëltjies, hy sing soos hy gebek is. Daar is geen mens wat soos hy aantrek of lyk nie.

Hy is soos ’n karakter in een van die vele rolprente wat by die Labia-teater vertoon word, waar hy al oor ’n dekade as plekaanwyser werk. Besoekers van oor die wêreld heen het al vir foto’s met hom poseer.

Op sy naamplaatjie staan daar nou ook All Rounder. Dit is wat hy is.

Hy is nie net ’n veteraan van bioskope nie, maar ook van die Kaapse klopse en van ’n musiekgroep. Sedick drink nie alkohol nie. Dit is teen sy geloof.

“Maar vandag sal ek wel ’n klein glasie drink,” sê hy. “Dit is nie aldag dat ek vir middagete uitgeneem word nie.”

Hy kry trane in sy oë. “Ek raak emosioneel, verskoon my asseblief.”

Toe ’n motor hom jare gelede in die middestad omry, het hy beserings aan sy kop opgedoen. Sedertdien vind hy dit moeilik om van sy emosies te reguleer. Hy huil maklik en praat saggies.

As hy ’n dier was, was hy ’n liefdevolle klein pikkewyn, stadig met sy babavlerkies loop hy teen die see.

Ek wens net dat The Golden Strings weer kan begin optree. Ek verlang.

Hy gryp die kelner se hand en druk dit. “So much kindness,” sê hy, en herhaal die sin. Hy vat ’n teugie aan sy glas witwyn. Sy ogies trek toe en hy sug saggies. Hy klap sy tong van die lekkerte.

Toe die biefstuk arriveer rek hy sy oë. Hy sny stadig deur die vleis, klein stukkies. Met elke happie raak hy in vervoering. Dit is asof iemand onsigbare hande op sy hoof lê.

Hy dra een van sy vele uitrustings – ’n sjiek gestreepte grys sweetpak met die woorde International Star daarop. Sy lang hare is swart gekleur en hy dra ’n bypassende grys hoed.

Hy het ’n swart nekdoek en blou handskoene. Sy skoene is so blink soos Aspoestertjie se glasskoentjie. Bibbidi-bobbidi-boo.

Sedick vertel hy het omtrent tien hoede, 50 baadjies en dan nog verskeie skoene, nekdoeke, broeke, sweetpakke, hemde en kleurvolle sokkies. Hierdie items het hy oor dekades heen versamel en pas hulle mooi op.

Hy was getroud maar sy vrou is oorlede. Hul dogter Nazlie woon in Athlone. ’n Ruk terug was hy verlief op ’n vrou wat in die V&A Waterfront werk, maar sy wil nie huisie-huisie speel nie.

Ek moet haar bel, vra hy. Sy moet omgepraat word. “Sy moet my nie verneder nie,” fluister hy.

Ten tyde van hierdie ontmoeting woon Sedick al vir ’n dekade in die Heilsleër naby die V&A Waterfront waar hy soms geboelie word. Dit het opgehou, want hy het teruggetrek na ’n huis in Distrik Ses.

Die sirkel word voltooi. Hy is 80 jaar gelede in Coronationstraat, Walmer Estate, net langs Distrik Ses, gebore. Sy pa was ’n lakpoleerder.

Daar was vier kinders. Hy praat nie juis oor sy familie nie.

In ’n stadium het hulle na ’n groot kamer in Distrik Ses proper getrek, waar hulle vir 12 jaar gewoon het. Hulle was arm, soms was daar nie kos nie.

Dit is hier waar hy op 13 by die Kaapse klopse aangesluit het. Tot vandag toe is hy ’n groot gees onder hulle en verskyn hy amper elke jaar op die voorblaaie van koerante. Hy sing, speel verskeie instrumente en dans voor die dansgroepe wat hy lei.

Sedick was al lid van Die Angeliere, die Fabulous Woodstock Starlights en vele ander. Laas Januarie het hy op die parade opgetree en Pavarotti se weergawe van “It’s Now or Never” gesing.

In die Bo-Kaap staan hy as Boeta Dickie bekend. Hy beweer Rozanne Botha het hom die bynaam Snoekie gegee. Ander verwys na hom as Dicky Bongles.

“Ek speel 12 instrumente en ek was nog nooit by ’n musiekskool nie,” sê hy. Hy speel die tamboeryn so wild dat die hele stad bewe.

Dan die orrel, klavier, kitaar, dromme, viool, trompet en ander. Dit het alles daar in Distrik Ses gebeur, waar hy die bestes geleer het.

Sy heel eerste werk, toe hy nog ’n tiener was, was by die oogkundige dr. Long in die middestad, waar hy as skoonmaker gewerk het en nuwe brille by mense moes gaan aflewer.

Later was hy ’n messelaar, verwer en haarkapper. Dit het hom verveel. Dit is toe dat hy in nagklubs begin optree en lid word van ’n groep met die naam The Golden Strings. Daar was 15 van hulle.

“Met apartheid het ek dit nie so moeilik gehad nie,” sê hy. “Mense het gedink ek is Italiaans! My hare was altyd lank en ek het my eie modestyl gehad.

“Daai dae met die band was goue jare,” sê hy. Hy vee nog ’n traan weg.

“Ons het die wêreld platgereis, amper 27 lande. Spanje was die beste. In Duitsland het ek amper getrou.

“Ons het op daardie groot toerskepe opgetree. Die een se naam was die Esmeralda.

“Lieflik man, lieflik. Ons het goed soos ‘Rock Around the Clock’ en alles van Chuck Berry, Fats Domino en Little Richard gespeel.”

Sy lewe in bioskope het begin in tye toe die orkes nie opgetree het nie. Hulle moes darem ook ’n blaaskans vat.

Daar was die ou Palace in Soutrivier waar hy vir die eerste keer plekaanwyser geword het. Met ’n flits.

Hy was later ’n filmoperateur by die Bijou Cinema, ook in Soutrivier.

Toe The Golden Strings se optredes minder raak, het hy voltyds tot met sy aftrede vir 15 jaar by die Nu Metro V&A Waterfront gewerk.

Vir sit en ginnegaap by die huis was hy nie lus nie en klop toe by die Labia aan, waar hy vandag ’n onwrikbare deel van die magiese wêreld van hierdie bioskoop is.

Sy mees geliefde akteur is John Wayne en hy is net so lief vir die Westerns waarin Wayne verskyn het.

“Ek het almal gesien, alles wat my hart begeer. Ek wens net dat The Golden Strings weer kan begin optree. Soos in die ou dae.

“Ek verlang. Gelukkig is daar nog die klopse.”

Hy vat sy vinger en druk dit op my notaboek.

“Ek is jammer om my vinger te wys,” sê hy.

“Maar skryf dit neer. I have no regrets, but maybe a broken heart.

“Bel asseblief daardie vrou in die V&A Waterfront. Sy wil nie met my praat nie.

“Ek weet ek is oud en sy wil my nie hê nie, maar práát met haar.”

Hy druk weer met sy vinger waar ek die nommer neergeskryf het.

Vir ’n oomblik verbeel ek my ek sien die liefdevolle klein pikkewyn voor my. Hy loop na die water.

Sonder om terug te kyk stap hy die see binne en swem diep in, regdeur die branders.

Hy is tagtig en vry, al is daar weer trane in sy oë.

Meer oor:  Plekaanwyser
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.