Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ras verduidelik nie die uitslag van die verkiesing

Dis verkeerd om te sê kiesers stem bloot op grond van ras, skryf Paul Berkowitz.

In die oë van baie mense was die 2019-verkiesing eintlik maar ’n rasse-sensus, ’n bevestiging dat identiteitspolitiek vir kiesers belangriker is as ideologie. Die werklikheid is aansienlik minder eenvoudig.

Die twee partye wat die grootste wenners by die stembus was, is die EFF en VF Plus. Eersgenoemde beroep hom gereeld op ras in die beskrywing van Suid-Afrika se sosio-ekonomiese probleme, terwyl laasgenoemde se steun oorweldigend van wit Suid-Afrikaners kom van wie baie glo hulle word op grond van ras benadeel.

As jy die EFF en VF Plus se winste vergelyk met die verliese van die ANC en DA, kan ’n mens maklik in die slaggat trap om die verkiesing te beskryf as ’n triomf van rasgegronde identiteit oor ideologie en beleid. Dit is baie oppervlakkig. ’n Paar idees wat met mekaar in verband staan is relevant as ons wil verstaan hoe kiesers met politieke partye identifiseer.

In die eerste plek gaan identiteitspolitiek oor veel meer as net ’n beroep op ras. Tweedens het mense komplekse, veelvlakkige identiteite en hulle gee uiting aan verskillende aspekte daarvan op verskillende maniere afhangende van die konteks. Derdens is daar vooropgestelde idees wat veroorsaak dat ons die “EFF of VF Plus”-effek oordryf. Vierdens maak ons kiesstelsel dit heeltemal rasioneel om kleiner partye te vorm wat enger belange verteenwoordig – maar dit maak ook die ontbinding van daardie partye meer waarskynlik.

Identiteitspolitiek kan verwys na politieke bondgenootskappe wat gevorm word vanweë gedeelde identiteite naas ras: godsdiens, kultuur en etnisiteit is alles voorbeelde van politieke raakpunte. In Suid-Afrika speel ras nog altyd ’n besondere rol. Tog is min partye nog ooit gestig om ’n spesifieke rasgroep te teiken.

Meer partye is al op godsdienstige grondslag gestig (die ACDP, Al Jama-ah, African Transformation Movement en African Muslim Party) of ’n gedeelde taal of agtergrond (United Christian Democratic Party, IVP, African Independent Party en Minority Front).

Kiesers kies op maniere wat ’n streng ras-ontleding fnuik?.?.?.

Om apartheidsera-rasseklassifikasie te gebruik om Suid-Afrika ná apartheid te beskryf, is problematies. Volgens die jongste sensus maak swart Afrikane meer as 80% van die bevolking uit, maar om jou toe te spits op hierdie groep as “die swart stem” gaan altyd ’n stomp en onakkurate analitiese instrument wees.

Dit is natuurlik so dat ’n party soos die EFF of Black First Land First meer as 95% van hul steun van swart Afrikane kry, maar dit is nie dieselfde as om te sê dat 95% van swart Afrikane, of selfs 50%, vir die rasgegronde beleid van dié partye stem nie. Dit is beslis nie die geval dat swart, wit, bruin of Indiërkiesers hul besluite by die stembus as ’n blok maak of almal op dieselfde manier dink en handel nie.

Dit is dalk selfs onbillik om te sê dat elke EFF-kieser regtig aangetrokke is tot die party se rasretoriek, net soos nie elke VF Plus-kieser gemotiveer word deur ’n terugkeer tot die maatskaplike en ekonomiese skeidings wat die lewe voor 1994 gekenmerk het nie. Daar is EFF-kiesers wat eerder deur die ideologie van radikale ekonomiese herverdeling en grondonteiening sonder vergoeding aangedryf word, net soos van hul VF Plus-teenpole gemotiveer mag wees deur ’n begeerte om die ekonomiese status quo te behou of die beleid van regstellende aksie of swart ekonomiese bemagtiging ongedaan te maak.

Ons kyk dikwels na hierdie ekonomiese beleidsbesluite deur die lens van ras, asof dit ’n nulsomspel is waarin een rassegroep verloor terwyl ’n ander wen.

Dit beteken nie dat elke kieser hul ekonomiese of maatskaplike belange op dieselfde manier sien nie.

Die 2019-verkiesingsuitslae is vol voorbeelde van kiesers wat nie op grond van rassekwessies gestem het nie: Die African Security Congress en die Socialist Revolutionary Workers Party se kiesers is deur kwessies in die werkplek verenig; die PAC, APC en Azapo het tot ideologiese standpunte probeer spreek. Daar was godsdienstige partye en partye vir vroue.

Kiesers kies op maniere wat ’n streng ras-ontleding fnuik, asook enige ontleding wat net na een aspek van kiesers se identiteit kyk.

Joodse kiesers het buite verhouding vir die ACDP gestem, want die party steun Israel en Sionisme. Die VF Plus het bruin kiesers gelok in die Noord- en Wes-Kaap wat dalk ook besorg is oor swart ekonomiese bemagtiging en grondonteiening, of wat ook kultureel konserwatief en Afrikaans is soos wit VF Plussers.

Ook in die buiteland is daar hiervan voorbeelde. Die klein minderheid swart Amerikaanse vroue wat konsekwent Republikeins stem, doen dit waarskynlik nie vanweë hul ras of geslag nie, maar om godsdienstige of kulturele redes.

Vir hulle is die Republikeinse Party se standpunt oor aborsie aantrekliker as die Demokrate se beroep op ander aspekte van hul identiteit.

Hierdie voorbeelde wys weer ons identiteit het vele komponente wat nie altyd vir ons ewe belangrik is nie.¦ Berkowitz is die direkteur van EDGIS.

Meer oor:  Rasseverhoudings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.