Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Red my ore van dié sport

Wanneer gaan Suid-Afrikaanse uitsaaiers die brannas-en-tjops-kommentators vervang met mense wat met insig én humor oor sport kan gesels, wonder Marnus Hattingh.

Ons sien hoë-oktaan spel op die veld, so waarom die lae-oktaan kommentators in die ateljee?

Die afgelope maand of wat is ons bederf met groot sport­byeenkomste wat regstreeks op die kassie gebeeldsend is.

Dink maar aan Julie se Tour de France, krieket se reeks om die As verlede maand in Engeland, die huidige Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan en atletiek se tweejaarlikse skouspel, die Wêreldkampioenskapsbyeenkoms, wat pas in Doha, Katar, klaargemaak het.

Almal grootse gebeurtenisse wat dit stil-stil reggekry het om nie net die gereelde ondersteuners na die huisaltaar te lok nie. Ook terloopse kykers sal deesdae oorskakel vir die infobrokkie oor ’n Middeleeuse chateau terwyl die peloton in lycra sweet, of om bier in die hand te sien wie’s die vinnigste mens op aarde.

Goeie regisseurs en kommentators lê aan die kern van hierdie naderlok-sukses. Maar wat is hul geheim? En hoe vergelyk dit met ons eie, tuisgemaakte beeldsendings?

Begroting is koning, kan ’n mens ’n goeie raaiskoot waag. Oorsese uitsaaiers het diep sakke, sodat hulle saam met die betrokke sportowerhede aan idees kan dink om nuwe, interessanter beelde na die wêreld uit te stuur.

Die Tour de France het enige tyd drie helikopters in die lug wat die hele namiddag wat ’n skof gewoonlik duur, uit verskillende hoeke afneem. Daar is terselfdertyd vyf kameramanne op motorfietse regdeur die jaers versprei. En laastens dra sommige fietsryers selfs ’n klein kamera agteraan die saal vasgemaak, vir ’n in-die-bondel-kameraskoot.

Is daar nie opleiding beskikbaar vir sy mense nie?

Dié intieme kamerahoek (wat deesdae ál gewilder raak by regisseurs) het die afgelope week egter juis onder skoot gekom. Vroueatlete in Doha het gekla die klein kameras wat in die wegspringblokke geplaas is (dit kyk reguit op na bo), laat hulle ongemaklik en weerloos voel wanneer hulle orent kom vir die wegspring.

Talle kameras en nuwe hoeke is wel hier om te bly. Want soos tegnologie gevorder het, gaan dit nie lank wees alvorens ’n kamera in die volgende Usain Bolt se frokkie sit nie. Of in Eben Etzebeth se sweetband, en AB de Villiers se kolf.

Twee ander truuks vandag is die spoorkamera langs die atletiekbaan (dit volg die atlete op ’n spoor langs die baan, sentimeters van hul voete af), en die spinnekop-kamera (waar ’n kamera aan ’n kruisspan-kabels geheg is en ’n beweegbare beeld reg van bo af bied).

Maar ook in hierdie geval het tennis- en krieketspelers al oor die visuele indringerigheid van die bewegende kamera bo hul gesigsveld gekla.

Enige kamerahoek is egter net so sterk soos hoe sy regisseur hom kan inspan. In die Tour de France sal ’n “dooie oomblik” tydens die skof onderbreek word met ’n helikopterskoot van ’n chateau. Dit word aangevul met ’n kort geselsbrokkie oor die besienswaardigheid wat vooraf aan die kommentators verskaf word: Wat is die naam, wie het dit gebou, en wat was die rol daarvan. Dit is ’n slim bykomstigheid tot die uitsending wat ’n groot persentasie kykers gelok het wat tradisioneel nie op ’n fietsryprogram sou ingeskakel het nie.

Tydens die reeks om die As het swaar reën in die tweede toets twee dae se spel laat verlore gaan. In Suid-Afrika sou die regisseur dadelik ’n video-opname van die befaamde 434-wedstryd byderhand hê om die dag se “dooie uitsaaityd” mee te vul.

Nie die Britte nie. Hul span het dadelik die kommentaarspan na die ateljee opgeroep, en vir die res van die dag is daar gesels oor tegniese aspekte van die afgelope dae se krieket. Ontledings. Herkouings. Analises van foute wat kolwers en boulers gemaak het. Alles sinvol en bydraend tot die kykervaring.

Die grootste impak hierop naas kamerawerk en wakker regisseurs is kommentators. Die gemene deler onder oorsese produksies is die gehalte van hul kommentators. Selfs al sluit dit daardie liefdeskind van die SA uitsaaier, die oudspeler, in.

By ons plaaslike rugby-uitsendings benut SuperSport twee stemme agter die mikrofoon in die uitsaaihokkie, en ’n persoon langs die veld. Gewoonlik ’n oud-speler. Ongelukkig dink SuperSport enigeen wat goed kon skop of spring op sy dag, sal noodwendig ook ’n goeie kommentator wees.

’n Dekade gelede het SuperSport sy gespreksprogramme se styl meer professioneel gemaak. Onthou die SuperSaturday-oggende van ’n dekade gelede waar ouens in gholfhemde gesit en grappies maak het? Deesdae dra sy aanbieders ’n das, is die (massiewe) ateljee se stemming stemmig en word die jongste tegnologie ingespan vir ontledings. Dit lyk professioneel.

In sport is afrigters meestal die geskikste persone om vir ’n haarfyn ontleding te vra. Hulle werk pal met die analisering van die opponente, en die uitwerk van nuwe planne om die teenstanders ore aan te sit. Dit is waarom Nick Mallett en Jake White sulke goeie (en gewilde) ateljeegaste is.

SuperSport byt egter steeds vas met sy celebs – ’n flambojante oudspeler – as kommentator en ontleder. Maar hiermee is daar baie slaggate. Nie alle spelers kan hulself goed uitdruk nie. Nie almal dink analities oor die spel nie. Die natuurlike vernuf om te kan systap of die maksimum uit jou gim-kontrak te haal, herlei nie noodwendig tot die vermoë om denkend oor die spel te kan gesels nie.

’n Krieketkaptein of losskakel is ’n veilige roep vir ’n speler wat ook strykdeur in sy speeldae takties op die veld moes dink. Maar stutte moes slegs fokus op ’n linkerskouer, en ’n drawwer om nie te versadig vir sy 20 km-sessie aan te meld nie.

Stuart Barnes, oudlosskakel van Engeland, is ’n goeie voorbeeld van ’n oudspeler wat suksesvol die sprong na die mikrofoon kon neem. Die Britse uitsaaiers benut hom tans met vrug by die WB-toernooi as uitsaaier. Hy sien raak wat ’n span probeer doen. Hy verduidelik waarom ’n aanvalsplan straks nie uitgewerk het nie. Maar les bes het hy ook die humorsin en geselsvermoë om tydens ’n ruspose in die spel ’n juweel oor ’n slot se diepe frons ná ’n skewe ingooi van sy haker los te laat: Hy frons so, want hy’s nie seker of die ingooi vir hom of vir sy losskakel bedoel was nie.

Die afgelope twee weke het ons saans ook die Britte se uitsending van die groot atletiek uit Doha ontvang. Ook hier is ’n ankerkommentator ingespan (Stuart Storey), bygestaan deur twee oudatlete (en Dan O’Brien). Die vroulike oudatleet het tipies Brit gesukkel om enige naam wat nie Smith of Jones is nie, korrek uit te spreek. ’n Mens het ruimte vir aksent-uitsprake wat kan wissel (Parys wat nie as Pah-rie uitgespreek hoef te word nie). Maar sy het lettergrepe ingevoeg of weggelaat, wat hinderlik was.

O’Brien, op sy beurt, was die ideale oudspeler-versool-as-kommentator. Hy het op die paviljoen (of selfs op die baan) spelers gaan opsoek en dan ’n regstreekse onderhoud met hulle gevoer. Sy vrae was nie generiese joernalis-vrae soos “Hoe voel jy nou?” nie. Dit was tegniese vrae, soos “Hoe ver het jy jou aanloop langer gemaak?”.

Die Britte se uitsending tydens Formule Een-renne is op net so ’n hoë vlak. Konkrete, tegniese vrae word aan spanbase of renjaers gestel. Bygestaan deur gereelde oorskakelings na ’n spanbaas tydens die ren self. Dit is om die nuus letterlik uit die perd se bek te ontvang.

In skrille kontras volhard SuperSport (moedswillig?) met laeoktaan-aanbieders. Is daar nie opleiding beskikbaar vir sy mense nie? Kyk hy nie na wat beste praktyk oorsee is nie? Ons kameraskote tydens rugby is te naby. Daar is nie genoeg wye skote van die veld nie. Ons benut nie nuwe kamerategnieke by krieket, rugby of atletiek nie. Die enkele fietsryprogram is so wesenlik en professioneel as warm melktert op ’n Sondagmôre na kerk.

’n Mens vermoed daar is veral met die Afrikaanse aanbod ’n moedswillige traagheid om gehalte op te skerp, want “dit is mos waarvan die mense hou”. ’n Tjoppie-en-brandewyn-en-coke-gekuier met analises wat die hoogtepunt bereik van “as die Bokke nog wil wen, moet hulle harder speel.” Dié onderwerp is al deurgetrap in die Afrikaanse media en selfs op kunstefeeste, maar niks verander nie.

Sport op TV is vandag ’n megamiljoen-bedryf. Daar is puik voorbeelde oorsee te sien, regstreeks elke aand. Waarom kan ons aanbiedings nie dieselde gehalte bereik nie? Die Suid-Afrikaanse publiek is dit werd.

  • Marnus Hattingh is ’n sportmal motorskrywer.
Meer oor:  Tour De France  |  Supersport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.