Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Red onderrig in Afrikaans só

Om moedertaalonderrig in die toekoms te verseker, is dit nodig om die volle onderwyspyplyn uit te bou, skryf Theuns Eloff.

Die nuutgestigte Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) wil graag ’n anker en dinamo vir Afrikaanse onderwys in die land word.

Die uitgangspunt van die AON is dat Afrikaanse onderwys as ’n sisteem beskou moet word wat soos ’n pyplyn breed begin by voorskoolse onderwys, dan vloei deur basiese skoolonderrig en eindig by naskoolse onderrig soos universiteite of ander sentrums waar jong mense hulle verder vir ’n beroepslewe kan bekwaam.

As Afrikaans as onderwystaal wil voortbestaan, moet die hele pyplyn behoue bly en goed funksioneer. As daar onderbrekings in die pyplyn kom, sal die hele sisteem skade kry. As daar verstoppings in die pyplyn kom, kan dit nie vloei nie.

Die AON is dus gestig om die sistemiese pyplyn van Afrikaanse onderwys te beskerm en te bevorder. Dit moet ’n anker en ’n dinamo wees: Dit moet sowel beskerm as aandryf.

’n Breë groep Afrikaanse organisasies was by die stigting van die AON betrokke. Dit sluit Fedsas, die SA Onderwysersunie, die ATKV, Helpende Hand se skole-ondersteuningsentrum (SOS), die Afrikaanse Taalraad en die Trust vir Afrikaanse Onderwys in. Die organisasies het besef dat daar vir die voortbestaan van Afrikaanse onderwys ’n parallelle strategie nodig is.

In die eerste plek moet Afrikaans in die openbare skoolstelsel beskerm en bevorder word. En dit moet landwyd gebeur: In die noorde waar die politieke en taaldemografiese druk groot is, maar ook in die suide, waar die grootste konsentrasie Afrikaanse skole – die meeste in plattelandse bruin gemeenskappe – is.

Maar sal daar nog ’n aanvraag vir onderwys in Afrikaans wees?

Tweedens moet tegelyk gekyk word na ’n model vir onafhanklike of private Afrikaanse skole.

Albei hierdie vorme moet aandag kry om die pyplyn van Afrikaanse onderwys te behou en te bevorder. Die AON sal aanvanklik op die eerste strategie fokus.

Daar is amper 25 000 laer- en hoërskole in Suid-Afrika. Hiervan gebruik ongeveer 2 500 (10%) Afrikaans as onderrigtaal – en slegs die helfte hiervan is eentalig Afrikaans. Die res is almal dubbelmedium met Afrikaans en Engels as voertaal.

Baie van dié dubbelmediumskole is onder groot druk om enkeltalig Engels te word, weens die groeiende getal leerlinge wat in Engels onderrig wil word (en ook weens politieke druk en moedswilligheid).

Daar is verder baie min openbare kleuterskole in die land wat Afrikaans gebruik. Soos die meeste ouers van kleuters weet, word die meeste van dié voorskoolse skole op ’n private grondslag bedryf.

Om finansieel te kan oorleef, veral in die stedelike gebiede, kies meer en meer eienaars van kleuterskole om tweetalig of enkeltalig Engels te wees. Hier lê die eerste uitdaging, omdat dit beteken dat die begin van die pyplyn van Afrikaanse onderwys reeds in gevaar is. As daar nie meer Afrikaanse voorskoolse onderwys is nie, sal Afrikaanse laerskole kwyn. En as Afrikaanse laerskole kwyn, sal Afrikaanse hoërskole nie meer genoeg leerlinge hê nie. En sonder ’n stroom Afrikaanse matrikulante sal naskoolse Afrikaanse opleiding doodloop.

Ons syfers toon duidelik onder watter druk die Afrikaanse onderwyspyplyn is.

Daar is waarskynlik slegs sowat 2 000 sulke kleuterskole waar jong kinders in Afrikaans onderrig word.

Fedsas se syfers toon dat daar 1 644 openbare laerskole is waar Afrikaans as onderrigtaal gebruik word waarvan 978 enkeltalig Afrikaans is met minder as 50 Afrikaanse private laerskole. Van hoërskoolvlak en verder verswak die prentjie dramaties. Daar is 566 Afrikaanse hoërskole, waarvan slegs 211 enkeltalig Afrikaans is en minder as 50 Afrikaanse private skole (wat sowel enkel- as dubbelmediumskole insluit). Wat universiteite en tegniese kolleges betref is daar slegs vier: die Universiteit Stellenbosch en Noordwes-Universiteit, die private universiteit Akademia en Solidariteit se ambagskollege Sol-Tech.

Die AON wil dus, in koördinering met ander belanghebbers, sorg dat die Afrikaanse onderwyspyplyn op ’n inklusiewe manier beskerm en sterk gehou word. Die AON gaan aanvanklik en eerstens fokus op openbare skole, maar hulp aan kleuterskole wat Afrikaans is en wil bly, sal ook verskaf word. In hierdie opsig is reeds met van die histories Afrikaanse kerke geskakel om samewerking te soek.

Maar sal daar nog ’n aanvraag vir onderwys in Afrikaans wees? Dis goed en wel dat die pyplyn daar is, maar kan dit gevul word?

Baie Afrikaanssprekende ouers (wit, bruin en swart) dink dat Engels die taal van die toekoms is en dat Engelse onderrig hul kinders die beste kans op sukses in die lewe sal gee. Dit is ’n gevaarlike illusie. Internasionale navorsing bewys dat moedertaalonderrig nie net beter is nie, maar noodsaaklik is vir die kognitiewe ontwikkeling van kinders. Talle Afrikaanssprekendes wat in Afrikaans skoolgegaan en studeer het, het vandag internasionale aansien.

Die AON sal dus, saam met ander, ook ’n rol moet speel om Afrikaanse ouers te bly oortuig van die waarde van gehalte- Afrikaanse onderwys. In hierdie opsig is dit belangrik om Afrikaanssprekendes te leer om nie net individualisties te dink nie, maar sistemies en institusioneel. Die vraag kan nie net wees watter kleuterskool of skool die naaste is nie, maar ook wat is die beste vir my kind en vir die voortbestaan van Afrikaanse onderwys.

Die eis van ouers vir gehalte- Afrikaanse onderwys kan nie gering geskat word nie. Die meeste ouers stel gehalte eerste en is nie tevrede met net Afrikaans nie. Die AON het dus ook ’n taak om skole wat Afrikaanse onderrig wil behou, met die verbetering van gehalte te help.

Waar skole (byvoorbeeld aan die Weskus) nie genoeg wiskundeonderwysers het nie, kan die AON deur die SOS se “wolkskool” help deur bykomende klasse vir­tueel aan te bied. Die voortdurende bywerk van vakkennis van onderwysers (deur byvoorbeeld die werk wat die SAOU doen) is ’n verdere belangrike taak. En die eis vir goeie korporatiewe bestuur by skole mag nooit agterweë gelaat word nie, soos wat die opleiding van beheerliggame deur Fedsas bewys.

Die AON sal ook ’n belangrike taak hê om skole wat onder politieke druk van provinsiale departemente kom, met raad en daad by te staan. Die onlangse gebeure by die Hoërskool Overvaal is ’n goeie voorbeeld. En met die sentrale elektroniese registrasiestelsel wat in Gauteng in werking gestel is wat onderrigtaal eenvoudig ignoreer, is daar die gevaarlike potensiaal om tientalle “Overvaal-situasies” te skep. Die AON sal in hierdie opsig voorkomend en remediërend moet werk.

Die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) sal die AON finansier. Die TAO het onlangs ook ’n advieskomitee en ’n spesialiskonsultantgroep aangestel om die finansiële haalbaarheid van Afrikaanse private of onafhanklike skole te ondersoek.

Die uitgangspunte sal volhoubaarheid, bekostigbaarheid en skaal wees. Die proses sal teen die einde van 2018 op ’n punt wees waar ’n finale besluit geneem sal word oor die vorm van die inisiatief (’n private maatskappy, ’n trust of ’n stigting) en die tydsraamwerk van die implementering daarvan. Die inisiatief is ’n noodsaaklike parallelle strategie vir die behoud en die bevordering van die Afrikaanse onderwyspyplyn.

Die AON is ’n betekenisvolle stap om Afrikaanse onderwys op ’n nierassige wyse te beskerm en te bevorder in ooreenstemming met die grondwetlike regte van alle Suid-Afrikaners. Dit sal as anker én dinamo vir die pyplyn van Afrikaanse onderwys dien.

* Theuns Eloff is die voorsitter van die TAO en tussentydse voorsitter van die AON.

Meer oor:  Taal  |  Onderwys  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.