Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Redding: Huis Windsor...

’n Boorling van Stellenbosch is die enigste een wat die Huis van Windsor nou kan red, skryf Jean Meiring.

Foto: Getty Images

Een prins se dood is sowaar dikwels ’n ander se rosyntjiebrood.

Met die nuus wat vinnig die wêreld vol lê dat die senior lede van die Britse koningshuis al hoe dunner gesaai is, loop ’n rilling by dié rojalis se ruggraat af.

Wat – vra die mense – gaan tog van die befaamde Huis van Windsor word?

Weens beweringe van vuige broekgedrag is Andrew, die eertydse Grand Old Duke of York, nóg bo, nóg onder, nóg in, nóg uit.

Uit die bloute maak Harry en Meghan hul rug gesamentlik styf en draai dit op die niksvermoedende graafskap van Sussex. En wyk uit na die kleurlose Kanada.

Onder die jonger garde is dit net William en Catherine wat as voltydse werkende koninklikes op die operaverhoog oorbly.

Hoe ánders praat ’n jongman met ambisie dan?

Agter hulle is ’n yl en spoedig verouderende Griekse muurkoor, wat bestaan uit Camilla en haar Charles, sy suster, Anne, én sy jonger broer Edward en dié se gemalin, Sophie (laasgenoemde albei 55 somers in hul sokkies).

My rugrilling, liewe leser, dui egter op geen swartgalligheid oor die stand van sake in Londen nie.

Wrintie, nee.

Trouens, daar lê reeds ’n vlugkaartjie na die empaaier se hoofstad in die uwe se naam uitgemaak hier langs my in ’n laai.

British Airways, premium economy.

Hoe anders vlieg ’n mens immers uit die buitenste fraiings van die Gemenebes die Britse hoofstad binne wanneer jy jouself altruïsties en aangevuur deur die openbare belang vir diens gaan aanmeld?

Héél agter in ekonomiese klas – verfrommel en onfraai – is darem té beskeie, terwyl eersteklas juis indruis teen die nuwe etos van besparingsgesindheid en kroonloosheid wat Windsor beet het.

Die rilling wat my tot ’n jellierasie reduseer, dui eerder op die opwinding van ’n voorgevoel wat wáár word. Van die byeenbring van ’n nypende vraag en ’n alte gewillige aanbod.

Die saak staan só: Reeds van kindsbeen af het ek dit in my beendere aangevoel, gewéét, dat ek eendag op ’n mooiweersdag roetinematig op die Buckingham-paleis se stoep sou staan. Met ’n opgehewe hand wat die saamgedromde skare regaal toewuif.

Dis nou ná die rit in die oop praalkoets abdy toe, onder ’n onsienbare tweed-kniekombers, langs ’n mindere burggravin en op ’n see van wapperende rooi-wit-en-blou vlaggies.

Jean Meiring

My gemaak-Engelse aksent het ek vroeg al doodnatuurlik aangeleer en ingeoefen. Verstom was ek immers toe die terugvoering by die eerste redenaarswed­stryd waaraan ek in die laerskool deelgeneem het dít was: ’n Toespraak klink suffel natuurliker in ’n plaaslike Suid-Afrikaanse aksent.

Watwo. Hoe ánders praat ’n jongman met ambisie dan?

Vandaar ook dat ek, sodra ek genoeg Engels en ’n vaste pengreep had, reeds ’n verwoede korrespondensie tussen Mostertsdrif op Stellenbosch en The Mall in Londen van stapel gestuur het.

Die besef dat jy bestem is om ’n koninklike te wees moet immers so spoedig, dikwels en ferm doenlik aan diegene wat aan die stuur van sake staan oorgedra word.

’n Maatemmer is tog sonder twyfel ambisie en rooi fluweel se doofpot.

Wat die liewe ou koninginmoeder, toe reeds iets in die 80, van daardie epistels uit die Boerebakermat gemaak het, weet nugter. As my geheue my nie in die steek laat nie, kon hul inhoud nie maklik as terughoudend of inkennig getipeer word nie.

Nogtans het sy deur ’n amanuensis teruggeskryf – met ’n glimlaggende kiekie aan haar brief geskuifspeld.

So ook die koningin, die hertog van Edinburg (ook ’n foto) en natuurlik Diana, die prinses van Wallis (nogmaals ’n kiekie).

En dít was maar die begin.

Só verbete was die briefskrywery, besef ek nou, dat dit onmoontlik is dat die volgende gesprek nie eendag iewers in ’n koninklike drawing room oor komkommertoebroodjies en flou tee plaasgevind het nie.

Vrouestem 1: “My dear, die raarste, mees, um, entoesiastiese penvriend het hom nou onlangs uit die niet aangemeld. Diep uit die kolonies.”

Vrouestem 2: “Haai, vreemd, tog nie die praatsieke seuntjie uit Suid-Afrika nie?”

Een: “Jonkershoekweg op Stellenbosch?”

Twee: “Die einste ene . . .”

Een: “So mal soos ’n haas.”

Twee: “So reg in ons kraal . . .”

Derhalwe stryk ek eersdaags in die Britse hoofstad neer. Pligshalwe en op ’n reddingsmissie.

Die datum hou ek vir eers duister om die koerante darem nog ’n rukkie langer te pypkan.

Die vrese oor die totnietgaan van die Huis van Windsor is duidelik heel voortydig.

En bróód eet ek nie weer gou in die sweet van my aangesig nie.

Meer oor:  Prins Harry  |  Brittanje  |  Koninklikes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.