Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Regering het nou beheer verloor
Die geweld op kampusse landwyd die laaste tyd kan slegs binne die groter politieke, maatskaplike en ekonomiese raamwerk verstaan word.

Ons moet nie toelaat dat die kampusgeweld veroorsaak dat ons fokus verskuif, weg van die groter prentjie van ’n regering en ’n regerende party wat op alle vlakke van die samelewing beheer verloor nie, skryf Roy Jankielsohn.

Die gewelddadige optogte deur studente op ons kampusse kan nie afsonderlik van die groter politieke, maatskaplike en ekonomiese transformasie in ons samelewing verstaan word nie.

Terwyl die land se tersiêre onderwysinstellings deur groepe studente, gewapen met klippe en vuurhoutjies gyselaar gehou word, moet ons nie voor die versoeking swig om ons fokus van die groter prentjie te verloor nie.

Die breër prentjie is dié van ’n regering en regerende party wat op alle vlakke van die samelewing beheer verloor. Die rede vir die gebrek aan beheer kan toegeskryf word aan die onvermoë van die ANC om homself te transformeer. Die transformasie-retoriek word binne die raamwerk van die na­sionale demokratiese revolusie (NDR) van almal wat ooit ’n ANC T-hemp gedra het, verkondig, maar die ironie is dat die party nie self kan transformeer nie.

Suid-Afrika het reeds in die laat 1980’s in ’n politieke oorgangsfase inbeweeg. Individue soos FW de Klerk het die internasionale en nasionale politieke omgewing raak gelees en die oorgangsproses in die rigting van ’n nuwe politieke bedeling bestuur. Die ANC het die leisels van die NP oorgeneem en aanvanklik voortgegaan om die land in ’n nuwe politieke en sosiale rigting te neem wat ná ’n paar nederlae ekonomiese bonusse opgelewer het. Terselfdertyd was daar egter binne die ANC groepe wat op persoonlike vlak werk gemaak het van Smuts Ngonyama se woorde dat die stryd nie gevoer is om arm te bly nie. ’n Belangrike strategie om die NDR te bevorder, naamlik die kaderbeleid, het die geleentheid geskep om ANC-kaders in beheer van staatsinstellings te plaas om die belange van verskillende ANC-faksies te verteenwoordig en te bevorder. ANC-faksies het vinnig wegbeweeg van transformasie na ’n beter samelewing – na transformasie vir ’n beter persoonlike finansiële bedeling.

Die hoofrede wat hierdie stand van sake moontlik gemaak het, kan toegeskryf word aan die volgende: ’n gebrek aan politieke leierskap in die ANC,) ’n onvermoë van die meerderheid kaders om die radikale NDR-gedrewe retoriek in ontwikkelingsgedrewe denkpatrone te verander, en) ’n hardkoppige onbereidwilligheid om die werklikhede van ’n oorgangsamelewing te verstaan en te bestuur.

Om ’n oorgangsamelewing soos Suid-Afrika te verstaan moet daar besef word dat ons samelewing worstel tussen verbrokkelende tradisionele maatskaplike en politieke strukture, asook waardes en pogings om nuwe demokratiese en moderne strukture en waardes te skep. Dit is moeilik vir individue om in ’n samelewing met ’n smeltpot van tradisionele, oorgangs- en moderne strukture en waardes te funksioneer.

In sy boek Dilemmas of political development skryf Monte Palmer dat oorgangsmense die produkte van grootskaalse veranderings is. Hulle is bewus van die beperkings van tradisionele strukture en waardes, maar bly onseker oor hoe om positiewe verandering te bewerkstellig. Hulle is bewus van die materiële voordele van die moderne wêreld, maar bly onseker oor hul persoonlike vermoëns om dit te behaal. Hulle het toegang tot genoeg inligting om verskille tussen mededingende politieke partye te verstaan, maar het nie die vermoë om die verskeidenheid voordele wat hierdie verskille op persoonlike vlak vir hulle inhou teen mekaar op te weeg nie.

Om ’n samelewing suksesvol deur sy oorgang te neem verg sterk, beginselvaste leierskap, gekoppel aan legitieme maatskaplike en politieke strukture wat kan intree om konflikbestuur op te los. ANC-leiers wil egter die politieke magsbasis van tradisionele groepe behou terwyl hulle legitimiteit onder die meestal stedelike oorgangsamelewing met sterk moderne elemente verloor het. Die NDR-retoriek bly nog polities relevant in tradisionele dele van ons samelewing waar die oorgang stadiger plaasvind, maar het sy politieke aantrekkingskrag onder groepe wat vinnig moderniseer, verloor. Die ANC het nie aangepas by die maatskaplike en ekonomiese modernisering van die burgerlike samelewing nie, en het boonop die geleentheid vir kaders geskep om die onsekerheid en soms chaos wat met ’n oorgangsamelewing gepaardgaan, vir eie gewin te misbruik.

Suid-Afrika moet ter wille van die oorlewing van ons grondwetlike demokrasie sy tradisionele waardestelsels aanpas om binne ’n diverse samelewing nuwe algemeen aanvaarbare waardes te skep. Daar is egter nie binne die ANC die politieke wil of leierskap om Suid-Afrika uit die moeras van botsende waardes wat deur maatskaplike, ekonomiese, politieke, etniese en rassefaktore geskep is, te neem nie. Die ANC besef dit, en daarom het die organisasie en sy leiers in ’n besetenheid van plundery van staatshulpbronne verval.

Suid-Afrika is in ’n tydperk van ongekende onsekerheid wat gekenmerk word deur ’n gebrek aan ’n algemeen aanvaarbare waardestelsel wat individue en groepe se gedrag bepaal. Voeg daarby ’n politieke kultuur waarin regerende kaders eerder ’n “dit is ons beurt om te eet”-houding het as ’n houding van “ons moet regeer”. Binne so ’n bedeling kan ons verwag dat groepe wat groot verwagtinge het en sukkel om die oorgangsamelewing se onvermoë om aan hierdie verwagtinge te voldoen, te verstaan hul frustrasies in klippe en vuurhoutjies uitdruk.

Ons kan geweld nooit goedkeur nie, maar om die konflik wat dit veroorsaak op te los, moet ons die samelewing waarin dit plaasvind, verstaan.

Roy Jankielsohn is leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer.

Meer oor:  Kampusgeweld  |  Regering  |  Verloor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.